Rook
Rook – Kobus Kok en Coen Slabber
‘n Leser vra:
Ek wil graag uitvind. Ek is 29 Jaar oud en rook vandat ek 14 jaar oud was. Ek het 2 pragtige kinders, maar kry deesdae die gevoel dat ek moet ophou rook om eendag my kinders se troue te sien en kleinkinders ens. Ek is oortuig daarvan dat dit die Heilige Gees is wat met my praat. Hoe ek probeer ophou rook het, is dat daar ‘n man was wat baie gerook het. Elke keer as hy aan ‘n sigaret gevat het, het hy gesê: “Duiwel ek gaan nie weer rook tot die volgende sigaret,” maar het al hoe minder gerook tot hy heeltemal opgehou het. Ek het dit probeer maar dis asof ek dit nie kan sê. My vraag is, kan dit moontlik wees dat ek dalk gebind is met ‘n rook demoon dat al bid ek hoe hard en sê vir die Here jammer ek het weer nie geslaag vandag om op te hou rook nie dat dit dalk die rede kan wees? Is daar dalk ‘n gebed wat ek kan opsê dat die Here my sal verlos van bose geeste dat dit vir my makliker kan wees om op te hou rook? Ek weet nie of ek dalk verkeerd bid nie? Ek wil nie doodgaan van rook nie, ek wil ook nie hê my kinders moet rook omrede ek die voorbeeld vir hulle stel om te rook en wil graag oud word indien die Here my spaar om alles te kan sien van hulle.
Antwoord
Hierdie vraag het mediese/fisiese en teologiese/geestelike aspekte. Prof Kobus Kok sal die teologiese/geestelike aspekte hanteer en Dr Coen Slabber die mediese/fisiese aspekte.
Stryd teen rook
Prof. Kobus Kok
Alle fisiese keuses in ons lewe het geestelike implikasies omdat liggaam, siel en gees in die Bybelse konteks ‘n eenheid vorm. Fisiese verslawing en fisiese siektes soos depressie en verslawing, ens., moet nie altyd net “vergeestelik” word ten koste van die mediese aspekte nie. Verslawing het ‘n baie belangrike fisiologiese/fisiese dimensie. Ons moet dus versigtig wees om iets te vinnig aan die werk van ‘n demoon te koppel, terwyl dit in werklikheid ‘n sterk fisiologiese (liggaamlike) oorsprong en gevolg het, wat emosionele en geestelike implikasies inhou. Baie mense “vergeestelik” verslawing of siekte terwyl die oorsaak en oplossing daarvan ook binne die (mediese) fisiologie van die mens lê. Ander mense weer, fokus so op die mediese of fisiese, terwyl hulle die emosionele en geestelike kant van die saak heeltemal onderskat. Myns insiens moet ons fisies, emosioneel en geestelik met kwessies soos verslawing omgaan.
Die blote keuse wat iemand maak om te kies vir die lewe en om gehoorsaam te wees aan God is die regte keuse, en sal verseker tot opbouende, positiewe gevolge in jou lewe lei. Deur op te hou rook in jou geval, waar die Here jou oortuig het dat dit sonde is, ten gunste van die ander kant, naamlik ’n gesonder lewe wat vir God tot eer is, is altyd die regte keuse. Dit beteken egter nie dat dit maklik sal gaan nie. Die eintlike (geestelike) stryd begin nou juis omdat jy teen verslawing kies. Vir ’n baie lang tyd, oor jare heen, het jy in ’n sekere lewensgewoonte/styl verval en jou liggaam en emosies op ’n sekere manier gekondisioneer. Nou is dit nodig dat jy ’n nuwe lewenswyse aanleer. Die fokus is op die leerproses. Dit gebeur nie vir alle mense “woeps-waps” nie. Enige leerproses neem tyd en jou liggaam en emosies sal die stryd moet voer. In die stryd is jy egter nie alleen nie. God is saam met jou in die stryd vir die goeie as jy binne sy wil beweeg. Jy sal in hierdie tyd baie beproewings beleef en sal vir jou voel of die vergrootglas op jou probleem gesit word. Maak vrede met die feit dat dit ’n oorlog is wat jy voer.
Jakobus, die broer van Jesus het eenmaal in Jakobus 1:12 die volgende beloftes gegee: 12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. In 1:2 se Jakobus: My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3 want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. 5 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.
In hierdie lewe het die Here vir ons baie hulpmiddels gegee langs die oorlogspad. Mediese hulp is een hulpmiddel. Alle goeie wysheid behoort uiteindelik aan God en daarom kan ons gerus kersopsteek by die mediese wetenskap wat jare lank navorsing doen oor kwessies soos verslawing. Deesdae is daar middele wat mens kan gebruik om jou te help in jou stryd teen verslawing.
Weet dat die werklike oorwinning reeds begin het toe Hy deur sy Gees jou tot oortuiging gebring het van die noodsaak om vir die lewe te kies. Jy is op die regte pad. Hou daarmee aan en volhard in geloof dat die stryd teen jou verslawing oorwin sal word. Die prys is meer kwaliteit lewe saam met jou kinders en geliefdes op fisiese en geestelike vlak.
Die stryd teen verslawing begin by die maak van ‘n besluit, die vrede-maak met die feit dat genesing ‘n oorlogspad is, en die moed om vas te byt as verslawing in jou oor kom fluister om sy hand te vat. Binnekort sal die son deur die donker wolke begin skyn, en ‘n nuwe dag sal aanbreek waarin jy sal besef dat die oorlog teen jou verslawing oorwin is. Hou moed en veg die goeie geveg ter wille van die lewe en die goedheid wat Hy mildelik aan jou sal skenk.
Die stryd teen rook – Coen Slabber
Daar is geweldig baie geskryf oor rook en jou gesondheid. Daar is veral twee aspekte wat ons leser uitgelig het:
(1) Lewensverwagting; en
(2) Hoe raak ek van die gewoonte ontslae?
- Lewensverwagting
Sy is bekommerd dat sy dalk sal doodgaan voor sy haar kinders se troues of haar kleinkinders gesien het. Hierdie vrees is natuurlik ‘n werklikheid. Wat belangrik is as ons na lewensverwagting kyk, is hoe lank die persoon al rook en hoeveel hy rook. Elke pak sigarette wat gerook word, verkort die lewensverwagting met 28 minute. Strawwe rokers leef gemiddeld 8,8 jaar korter as nie-rokers. As jy op die ouderdom van 40 jaar totaal ophou rook, sal jou lewensverwagting met 4,6 jaar toeneem.
Rook is vandag die grootste oorsaak vir voorkombare sterftes in die wêreld. In 2000 het die Wêreldgesondheidsorganisasie bereken dat ongeveer 1,22 biljoen mense rook. Dit word geskat dat hierdie syfer tans 1,45 biljoen is. Rook tas veral die hart en longe aan – meer hartaanvalle, beroertes en chroniese obstruktiewe lugwegsiektes (emfiseem en chroniese brongitis). Rook bevat 19 bekende karsinogeniese (kankerveroorsakende) substanse. Die algemene kanker is natuurlik longkanker, maar ook kanker van die keel en mond kom meer algemeen voor in rokers.
‘n Baie ernstige probleem is dat die nikotien in tabakrook verslawend is – dit veroorsaak fisiese en sielkundige afhanklikheid. Onttrekking van nikotien maak mense irriteerbaar en bewerig. Hulle mond is droog en hulle kan hartkloppings kry. Dit kan gebeur selfs in persone wat slegs vir ‘n kort tydjie gerook het. Die probleem is dat hierdie sielkundige afhanklikheid tot jare kan neem om te verdwyn.
- Hoe raak ek van die gewoonte ontslae?
Prof Kok het reeds hierna verwys. Dit is interessant dat twee uit elke drie rokers graag wil ophou rook, maar min slaag daarin. Die eerste stap is belangrik: Jy moet besef dat jy ‘n probleem het. Solank as wat jy glo dat rook ‘n skadelose gewoonte is, sal jy nie ophou nie. Wilskrag en vasberadenheid is belangrik. Om op jou eie te probeer ophou rook, is baie moeilik. Daarom het jy die ondersteuning van jou familie en vriende nodig. ‘n Ondersteuningsgroep speel ‘n belangrike rol – almal sit in die selfde bootjie en ondersteun mekaar.
Jy kan ook professionele hulp kry by onder andere die Nasionale Raad teen Rook en die Kankervereniging. [Kyk gerus na hulle webblaaie.]
Nikotienverplasingsterapie is ook ‘n moontlikheid Dit kan in verskeie vorms gebruik word – plakkers op die vel, suigtablette, ens. Die doel van hierdie terapie is om onttrekkingsimptome te verminder. Die dosis word dan geleidelik verminder word.
Opsommend:
- Rook het ‘n baie nadelige uitwerking op die mens se gesondheid en lewensveragting.
- Voordat jy nie erken dat rook nadelig is nie, sal jy nie maklik ophou rook nie.
- Dit is nie maklik om op te hou rook nie. Daarom het jy ondersteuning nodig.
Skrywers: Prof Kobus Kok en Dr Coen Slabber