Matteus 24

Matteus 24 – Francois Malan

Japie vra:

Ek lees vanoggend Matt.24. Ek sal baie bly wees as ek n verklaring kan kry oor die hoofstuk. In verse 15-29 ,36, 40+41 praat Jesus oor dinge wat ek nie verstaan nie. Ek het vanoggend vergelykende tekste wat Jesus uit Daniel en Jeremia aanhaal, gaan lees. Ek kom maar net meer  en meer agter dat die Bybel nie mensewerk is nie. Ek sal baie bly wees as iemand dit vir my kan verduidelik

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus 24 is die begin van Jesus se woorde oor die eindtyd (Matteus volg Markus 13 waar die woorde die eerste keer opgeteken is, sit ‘n paar by en laat enkeles uit). Hiermee lewer ek nie kommentaar op die hele hoofstuk 24 nie, maar op die verse wat deur Japie aangedui is.

1 Matteus 24:15-31 handel oor die koms van die Seun van die Mens – oor Jesus se wederkoms.

1.1 Matteus 24:15-22 (Markus 13:14-20) handel oor die ding wat vir God ‘n gruwel is, na aanleiding van Daniël 9:27; 11:31; 12:11, en oor die groot verdrukking’

1.2 Matteus 24:23-28 (Markus 13:21-23) is ‘n waarskuwing teen valse profete.

1.3 Matteus 24:29-31 (Markus 13:24-27) oor die koms van die Seun van die Mens

1.3 Die eerste perikoop, Matteus 24:15-22 sê: die ding wat vir God ‘n gruwel is, staan in die heilige plek (in die heiligdom – Markus sê: waar dit nie behoort nie). Daniël beskryf dit as ‘n parodie op die koning van Seleukiede, Antiogus IV ‘Epifanes’ (die god wat verskyn het), wat homself die ‘Here van die Hemel’ genoem het (Ba-al sjamayim); In Hebreeus het die getroue Israeliete sy naam spottend verander: ‘Here’ (Ba-al) is spottend verander tot ‘gruwel’ (siqqusj) en ‘van die Hemel’ tot ‘wat verwoes’ (mesjomem). Antiogus het Israel in 167 v.Ch. ingeneem en wou hulle kultuur en godsdiens verander om soos die Grieke te lewe. Die Joodse kultuur wou hy verwoes en ook op die altaar in die tempelterrein sy priesters daagliks varke laat offer aan die Griekse god Zeus.

Dit word vir Matteus ‘n beeld van wat Jesus voorspel het, en vervul is toe die Romeinse leërs in 70 n.Chr Jerusalem ingeneem het, al die goud van die tempel afgeskeur het en die tempel ontheilig het. Toe die Romeinse leërs aangekom het na Jerusalem toe, het die Christene daaruit gevlug na die noorde, na Pella oorkant die Jordaan, vanweë hierdie woord van Jesus. In 2 Tes.2:4 pas Paulus die simbool van Daniël se tyd toe op die antichris wat nog kom, as ‘n verdere vervulling van wat in Daniël geskryf is, en in 70 n.C. gebeur het.

Die groot verdrukking waarvan 24:16-22 praat, knoop aan by Dan12:-3 se baie swaar tyd, soos daar nog nooit was nie, maar wat die inleiding is tot die oorwinning van die regverdiges en die opstanding uit die dood in die eindtyd met Jesus se wederkoms (vgl. Joël 2:2). Groot rampe sal alle mense tref. Uit sy genade sal God die verdrukking van die eindtyd verkort ter wille van sy kinders. 1 Timoteus 4:1 sê ons lewe in die eindtyd vanaf die opstanding van Jesus tot sy wederkoms.

1.2 Die tweede perikoop, Matteus 24:23-28 (Markus 13:21-23) is ‘n waarskuwing teen valse profete waarteen Matteus 7:15; 24:5,11 gewaarsku het. Hulle sal hulle voordoen as die Christus en baie mense verlei met hulle prediking van verlossing uit lyding en beloftes van aardse seëninge. Van hulle was daar ‘n hele paar reeds in die eerste eeu, en gaan vandag nog aan (vgl. 1 Tim.4:1-5). Dit wys daarop dat die afbreek van Jerusalem nie die einde is nie. Die wondertekens en grootpratery van die valse profete moet nie verwar word met die wederkoms van Jesus nie. S koms sal skielik onverwags gebeur, op so ‘n wyse dat niemnd dit kan miskyk nie, soos ‘n weerligstraal sigbaar in die lug is. Dit word afgesluit met v28 se spreuk: almal weet daar is ‘n karkas as die aasvoëls saamdrom – so sal almal weet as Christus kom. Paulus bou hierdie gedeelte verder uit in 2 Tes.2:8-12.

1.3 Die derde perikoop, Matteus 24:29-31 (Markus 13:24-27) sê Jesus se wederkoms is verseker, en sluit aan by Dan.7:13-14. In Mt 24:3-14 is gewys op die algemene tekens, in 15-28 na die besondere tekens, in 29-31 na die tekens in die hemelruim, en in 32-35 word die tekens verduidelik.

Met sy koms skud die Seun van die mens selfs sy skepping. Die son en maan verbleek in die heerlikheid van die Here wat kom (Jes.13:9,10; 34:4). Daar is geen vergelyking tussen die skouspel van sy mag en die tekentjies wat die valse christusse in die woestyn of in geheime byeenkomste doen nie. Sy koms verskyn in die hemelruim! Sterre val en God skud die natuurkragte. Die einde van die huidige wêreld breek aan.

Die dissipels het gevra na die teken van Jesus se koms en die einde van die wêreld (24:3). Sy koms is self die teken. Die wolke is tekens van sy goddelike mag. Die volke van die aarde sal verskrik oor sy mag en heerlikheid weeklaag, want Hy kom om hulle te oordeel. Sy kinders sal egter nie weghardloop nie, maar Hy sal hulle bymekaar maak met sy magtige woord, die groot trompet. Uit alle volke van die aarde sal sy engele hulle in die koninkryk in begelei (vgl. 1 Tes.4:16-17) .

Matteus het 5 groot preke van Jesus by Markus se Evangelie ingevoeg:

Mt 5-7 die bergrede oor hoe ‘n gelowige behoort te lewe, wat afgesluit word met 4

waarskuwings 7:13-29,

Mt 10 die uitsendingsrede van die volgelinge om die evangelie te verkondig,

Mt 13 die middel van sy Evangelie, sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemel,

Mt 18 oor die kerk van die Here

Mt 24-25 oor die wederkoms. Die preek word in Mt.24:36-51 afgesluit met vyf wederkomsgelykenisse wat soos volg gestruktureer is:

a Gereed 24:36-44

b Getrou 24:45-51

c Voorbereid 25:1-13

b1 Getrou in diens aan God 25:14-30

a1 Gereed deur diens aan mense 25:31-46

2 In 24:36-44 waarsku Jesus sy dissipels om altyd gereed te wees vir sy koms, omdat Hy op ‘n

onverwagse tyd kom:

2.1 Mt 24:36 Niemand weet wanneer nie, selfs nie die engele en die Seun nie, net die Vader – Filippense 2:6-7 sê Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Homself verneder (letterlik: het Homself leeg gemaak) deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk geword. Daarom praat Hy nie van Homself as die Seun van God nie, maar van die Seun van die mens. Daarby sê 2 Petrus 3:8-9 een dag is vir die Here soos 1000 jaar en 1000 jaar soos een dag. Hy stel nie die vervulling van sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle bekeer – Daarom sal Hy bepaal wanneer die wederkoms is.

2.2 Mt 24:37-39 Onverskillig het die mense in Noag se tyd voortgeleef. Onverhoeds het die sondvloed hulle oorval. Die eindoordeel gaan onverskillige mense onverhoeds vang.

2.3 Mt 24:40-41 Die koms van die Here is ‘n dag van skeiding. Hy neem die man en vrou wat gereed is, saam met Hom (vgl. vers 31). Die onverskilliges word agtergelaat – vir hulle wag die oordeel. Daarom kom die waarskuwing van die volgende vers.

Mt 24:42-44 Soos ‘n huiseienaar sy huis bewaak teen inbrekers, so moet ons altyd waaksaam bly, altyd gereed vir die toekoms wat die Here vir ons oopgemaak het. Teenoor hulle wat versink in die genot en sorge van die teenswoordige tyd, wag ons in spannende verwagting op die koms van die Seun van die mens. Om waaksaam te wees beteken dat ons in gemeenskap met die Here sal leef – Hy het met sy Heilige Gees in ons kom woon (Rom.8:9-11) om ons te lei en die krag te gee om getrou soos kinders van God in liefde vir God en vir mense te leef (vgl. Mt.22:37-39; 25:31-46).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Jakobus-brief

Die Jakobus-brief – Francois Malan

Japie vra: 

Ek wil net weet of Jakobus vir die Jode of Christene geskryf is. 83-vertaling sê dit is aan 12 stamme in verstrooiing geskryf. Wie was dit?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Jakobus (om hom te onderskei van ander Jakobusse, is hy deur die vroeë Christene Jakobus die Regverdige genoem), was ‘n broer van Jesus (vgl. Markus 6:3), en die geestelike leier van die gemeente in Jerusalem (Hand.15:13; 21:18; Gal.1:19; 2:12), nadat die apostels so vervolg is dat ook hulle die stad moes verlaat.

Na die vervolging van die Christene in Jerusalem (Hand.8:1,4), het hierdie Joodse gelowiges in Egipte, Samaria, Sirië, Siprus tot in Rome gaan woon en van Jesus vertel volgens sy opdrag (Hand.1:8). Moontlik was die brief aan so ‘n groep gestuur en is na hulle plek as ‘in die verstrooiing’ verwys, ook met die gedagte dat die brief aan groepe verder aan deurgegee moes word (in Hand.15:22-29 word bv. na ‘n soortgelyke omsendbrief aan gemeentes verwys). Die gemeentes het oorspronklik uit gelowige Jode bestaan wat die evangelie verkondig het aan die nie-Jode, en die nie-Jode is ingesluit as deel van die gemeentes. Daarom word die brief aan Joodse en nie-Joodse gelowiges in een gemeente geskryf (vgl. Hand.11:19-26; Gal. 2:11-14).

In die gemeente(s) aan wie Jakobus skryf was daar blykbaar ‘n minderheid wat na ‘n suiwer godsdiens soek (1:24; 4:4). ‘n Aantal leraars, wat onderling verskil, belemmer egter hierdie strewe (3:14). Party pas aan by die sedelike en ekonomiese gebruike van die stad waar hulle woon. Ander wil die eie aard van die gemeente van Christus bewaar (1:2-12). Jakobus identifiseer hierdie konflik en spreek dit aan. Hy sien die gemeente(s), wat verspreid leef in ‘n begeerlike en aggressiewe omgewing (4:4), verloor hulle geduld (1:3; 5:7), en daarmee ook hulle geloof dat God die God oor alle nasies is (1:5,17). Hulle verkeer in spanning (1:20), praat baie, maar doen min (1:23), hulle wil nie meer opvallend wees in hulle omgewing nie (1:27), en stel meer belang in wat persone in hoë posisies van hulle dink as wat geringer mense van hulle dink (2:2-4). Hulle ontwyk hulle verantwoordelikheid vir sosiale geregtigheid (2:13), is bang om te ly (5:10) en vergeet om hulle te bekommer oor mense in nood (1:27; 5:14,19). Die gelowiges wat God en die medemens liefhet, soos Jesus gesê het, en met wysheid daarin volhard, het die belofte dat hulle lewe sinvol en skeppend sal wees.

Jakobus wys dat die lewe in die wêreld ‘n toets is vir ‘n lewende geloof, deur dit te toets aan wat die Woord van God sê (1:19-27). Dit toets jou geloof se reaksie op partydigheid (2:1-13), en hoe die toets goeie werke tot gevolg het (2:14-26). Die toets van jou geloof bring selfbeheersing (3:1-18); dit wys wat jou reaksie is op twis en tweedrag (4:1-12), op selfversekerde beplanning (4:13-17), of jy verkeerd reageer teenoor onreg (5:1-11), of jy selfsugtig gebruik maak van eedswering (5:12), en toets of jy jou toevlug neem tot gebed (5:13-18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Tiendes – Vraag

Tiendes – Francois Malan

Danie vra: 

Tiendes – wat sê die Bybel? Is my tiende my inkomste of kan ‘n deel van my tiende ook bestaan uit tyd of uitreik of sending of woordverkondiging? Wat van as ek geen inkomste verdien nie – wat is my tiende dan ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die eerste wat ons van die tiende in die Bybel lees is Gen.14:20, waar Abram ‘n tiende van die goed wat hy teruggekry het aan die priester Melgisedek gegee het, nadat Lot en die mense van Sodom weggevoer was en hy hulle teruggebring het. Daarvan lees ons ook in Hebreërs 7:2,4,5,6,8,9. Daarna lees ons in Gen.28:22 van Jakob, wat sonder iets moes vlug en by Bet-el ‘n tiende aan die Here beloof het van alles wat hy in die toekoms sou kry.

Daarna word die tiende in baie tekse van Levitikus, Numeri, Deuteronomium, 2 Kronieke, Nehemia en Amos voorgeskryf vir Israel. En dan Maleagi 3:8,10 se beloftes van die Here, dat die vensters van die hemel sal oopgaan as ons ons tiendes gee.

In Matteus 23:23 verwyt Jesus die Fariseërs dat hulle o.a. op die gee van tiendes steun, en nie op wat die swaarste weeg van die wet nie, dit wat belangiker vir God is, soos geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. In Matteus 25:34-40 verduidelik Jesus wat Hy van ons verwag.

Paulus se aanwysings oor die gelowiges se bydraes staan o.a. in 2 Kor.8-9. Hy sê bv. ‘die wat karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teësin of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief (9:6-7). Vir die ouderlinge van Efese herinner hy aan die woord van Jesus ‘Om te gee maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang’ (Hand.20:35).

Ons bring nie meer offers wat op ‘n altaar verbrand word soos die Israeliete nie, maar Paulus sê dat ons hele lewe ‘n offer van dankbaarheid aan God moet wees vir sy genade wat Hy aan ons bewys. In alles wat ons doen: huiswerk soos skottelgoed was, by die werk in ons beroep met eerlike harde werk om mense daarmee te dien, en in ons getuienis en gedrag teenoor mense, ook in die huwelik en grootmaak van die kinders wat die Here aan ons toevertrou het, is ons besig om God te dien. Vgl. Romeine 12:1 ‘Gee julleself aan God as lewende en heilige (= aan God gewyde) offers, wat vir Hom aanneemlik is…’

As ek geen inkomste verdien nie – lees Markus 12:41-44 (Luk.21:1,2).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Is liefde belangriker as geloof en liefde?

Is liefde belangriker as geloof en liefde? – Francois Malan

Yolande vra: 

In Korintiërs sê dit liefde is belangriker as geloof en hoop. Beteken dit dis okay om nie te glo nie, solank jy liefde leef? Ek was al by soveel begrafnisse waar die persoon wat dood is goed gepraat word. Dan sê die predikant X se lewe is gekenmerk deur liefde, maar sê niks oor sy/haar verhouding met Jesus nie. Dis vir my hartseer.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Kor.13:13 sê: ‘en nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

In hoofstuk 13 het dit eintlik gegaan om die genadegawes wat tydelik is en ophou, teenoor die liefde wat vir altyd bly, en tot in ewigheid. Skielik noem Paulus geloof en hoop saam met die liefde, omdat dit die drie dinge is wat ons geestelike lewe opsom:

Geloof = vertroue op God; dat Hy ons vergewe en ons aanneem as sy kinders vir wie Hy sorg; omdat ons in sy Seun Jesus Christus glo, vertrou op sy offer vir ons sondes en op sy opstanding waardeur ons ook die ewige lewe ontvang. Die geloof is egter ‘n gawe van God, wat die Heilige Gees in ons bewerk.

Hoop = die verwagting van die ewige lewe saam met God, wat Christus vir ons waarborg deur sy Gees wat in ons kom woon het. Die Gees is God se waarborg dat ons sy kinders sal bly deur daagliks sy leiding te volg met die krag wat Hy vir ons gee om te lewe.

Liefde = is die verhouding van die Vader en die Seun en die Gees met mekaar (God is liefde, 1 Joh. 4:7-21). God het in ons kom woon met sy Gees, sodat ons ook kan begin liefhê: vir God en vir mekaar, selfs vir ons vyande (Matt.5:43-48), soos die Vader en die Seun en die Gees mekaar liefhet. Uit ons eenheid met mekaar kan die wêreld sien dat God ons liefhet (Joh.17:20-23).

Die spanning van die geloof wat nog nie sien nie, gaan egter ophou as ons by God kom, want dan sal ons Hom ten volle ken soos Hy ons ten volle ken (1 Kor.13:12).

Ook die spanning van die hoop op wat ons nie sien nie (Hebr.11:1), gaan ophou as ons die ewige erfenis van God ontvang in die hemel.

Maar die liefde bly tot in die ewigheid, as die verhouding tussen die mense van die God van liefde, en tussen God en sy kinders – niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus wat die Here oor ons lewe is nie (Rom.8:39).

As Jesus in Matteus 25:34-40 vertel van die oordeelsdag, sê Hy niks oor die geloof in Hom nie, maar praat Hy oor die persoon wat die erfenis van die ewige lewe ontvang se liefdesdade. Dit is die bewys dat ons in Hom glo en op Hom hoop.

 

Skrywer: Prof Francois Malan