Verwag die Here dat ons altyd vir bedelaars moet gee?

Verwag die Here dat ons altyd vir bedelaars moet gee? – Kobus Kok

Yolande vra: 

Verwag die Here dat ons altyd vir bedelaars iets moet gee? Y

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Iemand het eenmaal opgemerk dat indien mens vir bedelaars elke dag iets in die hand stop, jy hulle eintlik help om vasgevang te bly in hulle armoede. Die persoon se argument was dat mens eerder vir ‘n bedelaar ‘n visstok moet gee as om vir die bedelaar net elke dag ‘n nuwe vis te gee. Hierdie persoon is natuurlik reg dat vriendelike Christen gewers eintlik die armoede van die bedelaar in stand hou en die bedelaar nie bemagtig nie. Aan die ander kant het Jesus gesê dat Christene gekenmerk moet word deur die wyse waarop hulle gee. Ek het onlangs ‘n baie interessante boek gelees wat deur die geleerde Rodney Stark geskryf is met die titel “The Rise of Christianity”. In sy navorsing oor die saak het hy die vraag ondersoek na die eksponensiële groei van die Christendom in die eerste vier eeue. Die Christen beweging het met 12 mense begin en teen 315 nC was daar letterlik miljoene mense in die Romeinse Ryk wat Christene was, en het Constantyn, die eerste Romeinse Keiser tot bekering gekom en die Christendom die amptelike religie van die Romeinse Ryk gemaak. Hy het ook in sy navorsing bevind dat die antieke geskrifte dikwels melding maak van die omgee en die liefde wat Christene gewys het teenoor hulle eie mense, maar veral ook na die mense wat nie deel was van hulle eie groepie nie. Ja, die eerste Christene het bekend gestaan vir die wyse waarop hulle vir die heidene omgegee het. In die eerste drie eeue was daar naamlik verskeie epidemies wat die ganse wêreld platgeslaan het. Miljoene mense regoor die Romeinse Ryk het gesterf. Die antieke skrywers vertel hoe mense stede verlaat het en die siekes soos gemors langs die strate gelos het. Baie families het die siekes onder hulle net so onversorg gelos. Ironies genoeg het die Christene dit nie gedoen het nie. Hulle het nie net na hulle eie mense omgesien nie, maar ook na die doodsiek heidene opgesien. Baie het in die proses doodgegaan, maar ander se immuun sisteme het volgens Stark juis versterk en hulle in staat gestel om na die siekes te kyk. Dit het ‘n reuse indruk op die heidene gemaak en baie heidene het in die proses tot bekering gekom.

In Gal 6:10 lees ons dat Paulus sê dat Christene altyd goed moet doen aan mekaar, maar veral ook aan die wat buite die geloofsgemeenskap is. Dit was die hart van Jesus, en moet ook die hart van Christene vandag wees.

Wanneer ons egter vir mense gee uit skuldgevoel, dan mis ons die punt van Christus se boodskap. Dan hou ons die arm persoon in die greep van afhanklikheid en van armoede. Indien ons as Christene gee, moet dit wees op so ‘n wyse dat mense versterk en bemagtig word en dat die evangelie in die proses gedien en verkondig kan word. Dikwels het iemand meer nodig as ‘n geldjie op die straathoek – dalk sal belangstelling en woord van bemoediging of motivering meer waarde dra as die R10 wat jy in die persoon se hand stop. Gebruik jou geestelike oordeel.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Is lag in die Heilige Gees Bybels?

Is lag in die Heilige Gees Bybels? – Kobus Kok

Frans vra:

Tydens aanddiens het die prediker gesê die Gees sal julle monde vul met gelag en toe begin baie mense hardop lag. Kry ons so iets in die Bybel en is dit die werking van die Heilige Gees

Antwoord

Dr. Kobus Kok antwoord:

Is lag in die Heilige Gees Bybels?

Die antwoord is baie eenvoudig. Ja en nee! Die Heilige Gees kan jou laat lag, indien ons lag verstaan as die uitvloeisel van vreugde en blydskap. Maar, mens moet baie versigtig wees om dit nie te verwar met die histeriese lag-episodes waarvan ons soms hoor nie. Ek het sulke eredienste ook al beleef en is werklik oortuig daarvan dat dit nie heeltemal is wat die Bybel daarmee bedoel het nie, veral nadat ek eendag gehoor het dat die pastor tekste aanhaal wat eintlik in die Grieks heeltemal ‘n ander betekenis het as wat hy dit in die erediens gebruik het. Ek sê dit egter versigtig omdat ek ook glo dat God se Gees kan doen wat hy wil en wanneer hy wil (vgl. 1 Kor 12). Ek kan in hierdie artikel egter net wys op die Bybelse teks en die betekenis van oorspronklike woorde in die antieke konteks. Paulus stel dit duidelik in Galasiërs 5:22 dat die vrug van die Gees juis blydskap is. Daar moet egter daarop gelet word dat blydskap hier nie verwar moet word deur histeriese lag episodes nie. Blydskap verwys hier eerder na ‘n leefwyse waarin mens jou geluk in die Here vind. Die Griekse word “gara” word in hierdie kontekste gebruik en dui op ‘n lewenswyse wat deur blydskap en dankbaarheid in die Here gekenmerk word en verwys glad nie na tydelike lag-simptome nie. Die word “lag” kom net ‘n handjievol kere in die Bybel voor en word nie in die kontekste gebruik waar mense in die Heilige Gees aan die lag gaan nie. In die Grieks word die woordjie (egelasen) gebruik vir lag en dit kom byvoorbeeld voor in Gen 17:17 waar Abraham so lekker lag. Hier is al die tekste waarin die word blydskap (gara) voorkom in Paulus se literatuur en u kan dit gerus op u eie tyd bestudeer (AOV staan vir Afrikaanse Ou Vertaling):

(Rom 14:17 AOV) Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.

(Rom 15:13 AOV) En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

(Rom 15:32 AOV) sodat ek met blydskap deur die wil van God by julle kan kom en my saam met julle kan verkwik.

(2Kor 1:24 AOV) nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.

(2Kor 2:3 AOV) En ek het juis dit aan julle geskrywe, dat ek nie by my koms droefheid mag hê deur hulle oor wie ek my moes verbly nie, omdat ek die vertroue in julle almal het dat my blydskap dié van julle almal is.

(2Kor 7:4 AOV) Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle; my roem oor julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking.

(2Kor 7:13 AOV) Daarom is ons getroos oor julle vertroosting en het veral bly geword oor die blydskap van Titus, omdat sy gees deur julle almal verkwik is.

(2Kor 8:2 AOV) dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid.

(Gal 5:22 AOV) Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

(Filippense 1:4 AOV) en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap—

(Filippense 1:25 AOV) En dit vertrou en weet ek dat ek sal bly, ja, saam met julle almal sal bly tot julle bevordering en blydskap in die geloof,

(Php 2:2 AOV) maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.

(Filippense 2:29 AOV) Ontvang hom dan in die Here met alle blydskap en hou sulke manne in eer.

(Filippense 4:1 AOV) Daarom, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Here, geliefdes.

(Kol 1:11 AOV) en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap,

(1Tess 1:6 AOV) En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees,

(1Tess 2:19 AOV) Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?

(1Tess 2:20 AOV) Want julle is ons eer en blydskap.

(1Tim 3:9 AOV) Want watter dank kan ons God vergelde oor julle vir al die blydskap waarmee ons om julle ontwil ons verbly voor onse God,

(2Tim 1:4 AOV) terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met blydskap vervul kan word,

(Filemon 1:7 AOV) Want ons het groot blydskap en troos oor jou liefde, omdat deur jou, broeder, die harte van die heiliges verkwik is.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Is dit sonde om alkohol te gebruik?

Is dit sonde om alkohol te gebruik? – Kobus Kok

Luanette vra: 

Ek wil graag weet is dit sonde vir ‘n Christen om alkohol te gebruik?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord: 

Om alkohol te gebruik kan vir sommige mense sonde wees. Laat ek verduidelik. Paulus stel dit duidelik dat ‘n Christen homself of haarself nooit laat verslaaf nie. Die rede? Indien mens jou laat verslaaf aan iets dan het daardie iets ‘n beheer oor jou lewe. Dit beheer dan jou gedrag, jou verhoudings en jou toekoms. In die geval van alkohol wat misbruik word, kan dit jou lewe verwoes en mense om jou geweldig seer maak. Vir mense wat ‘n probleem het met alkohol is die gebruik van alkohol sonde in die sin dat jy jou laat beheer deur iets wat sondige gedrag en denke kan teweegbring. Indien mens woon saam met iemand vir wie drank ‘n probleem is en jy is onsensitief teenoor daardie persoon, en jou gedrag beïnvloed so ‘n persoon om nie weg van die probleem nie maar juis reguit na die probleem te hardloop, dan is jou optrede sonde. Neem ander mense se geestelike lewe dus in ag en bemeester die kuns om ‘n fasiliteerder van geestelike uitnemendheid te wees. Verder is dit ook belangrik om sensitief te wees vir die groep waarin jy beweeg. So het ek eenmaal in New Orleans by die Baptiste Seminarium navorsing gedoen en verneem dat die studente geskors kon word indien hulle gevang word met drank binne of buite die seminarium. In daardie konteks maak dit sin dat mens heeltemal wegbly van alkohol ter wille van die ander mense in die sisteem.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Vrouedrag in die Kerk

Vrouedrag in die Kerk – Francois Malan

Jacobus vra: 

Ek behoort aan een van die Pinkster Kerke wat baie gekant is dat vroue broeke aantrek en hul hoofde bedek moet word in die eredienste. Kan u asseblief uitbrei en hulp gee op hierdie vraag.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek veronderstel dat die kerk se teenkanting teen vroue wat broeke dra, kom uit die lees van Deuteronomium 22:5, en die voorskrif oor die bedekking van hulle hoofde uit 1 Korintiërs 11:5.

Deutr.22:5 vra dat die uiterlike onderskeid tussen geslagte en soorte wat God ingestel het eerbiedig sal word. Dit dra die stempel van die ou wettiese bedeling van Israel.

Die Hebreeuse woord keli wat deur die oorspronklike skrywer van Deuteronomium gebruik is, dui nie net kleredrag aan nie, maar ook wapens vir oorlog en ander gebruiksvoorwerpe vir die plaas en die huis. Die vroueklere simelot wat die mans nie mag dra nie, verwys weer na die vrou se mantel waarmee sy haar toedraai. Dit beteken dat ‘n vrou nie moet probeer om soos ‘n man te lyk of op te tree nie, en die man nie soos ‘n vrou nie.

Die afsku (Hebreeus: to’ebat) van die Here God, waarvan Deutr.22:5 praat, wys dat die uitruiling van mans en vroue se klere ook te doen het met die gebruike wat by die heidense Kanaäniete voorgekom het, en die Here wil nie hê dat Israel deelneem aan die Kanaäniete se feeste en die gebruike wat hulle daar beoefen nie, wat waarskynlik ook met homoseksuele dade gepaard gegaan het.

In 1 Korintiërs 11 verwys Paulus na die gebruike van sy tyd, toe dit vir ‘n vrou ‘n skande was om haar hare af te sny of af te skeer (v6).

Die aanwysings van Paulus oor optrede in die gemeente se samekoms volg op die beginsels wat hy in 1 Kor 10:23-11:1 gestel het – vgl. bv. vers 32: Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Hier was nou ‘n gebruik van die Jode in die gedrang. ‘n Joodse vrou kon destyds in haar huis kaalkop bly, maar as sy uitgaan moes haar kop bedek wees. Vir ‘n getroude vrou om in die openbaar sonder iets om of op haar kop was ‘n ernstige skande. En so het die eerste gemeentes wat met Joodse gelowiges begin het, die gebruik in die kerk gevolg dat vroue se kop bedek was.

In 1 Kor 11:13 vra Paulus die gemeente om self te oordeel of dit betaamlik is (letterlik: of dit gepas is) vir ‘n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid. ‘Gepas’ sluit aan by die mode van die tyd, of dit in die algemene gebruik pas. En in v16 verwys hy na die gewoonte in Korinte en in ander gemeentes, na die algemene gebruik. Daarom is Paulus teen die vroue wat hulle vryheid in Christus wat hulle van die wet vrygemaak het, misbruik deur aanstoot te gee aan ander gemeentelede en ander gemeentes.

Die gebruike van ons tyd verskil baie van destyds, en dit is nie meer onvanpas vir ‘n vrou om sonder ‘n hoed op straat of in vergaderings te verskyn nie – ook nie met broeke wat vir vroue gemaak is nie.

Christus het ons vry gemaak van ‘n wettiese lewe, waar ons met goeie werke ons verlossing of God se goedkeuring probeer verkry. Hy het die verhouding van ons sondaars met God kom regmaak deur ons sondes alles op Hom te neem, sodat ons in die verhouding van kinders tot ons Vader kan lewe (Romeine 8:14-17). Dit is alles uit God se genade en liefde vir ons (Galasiërs 5:1). Ons groot vraag vandag is of ons ons vryheid in Christus uitleef in liefde vir God en ons medemens, en nie vir ander ‘n struikelblok is nie (vgl. 1 Kor. 10:23-11:1)..

 

Skrywer: Prof Francois Malan