Kennis – Francois Malan
Gene vra:
Wat bedoel Paulus met “kennis” soos in 1 Timoteus 6 vers 20. Het die kennis te doen met die valse leringe van die valse profete? Verklaar dan ook vers 21. Aan wat sal ons vandag daardie “kennis” kan toeskryf.
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Paulus vra vir Timoteus, wat in die gemeente in Efese werk, om op sy hoede wees vir die valse leer wat lede van die gemeente begin verkondig. Paulus sê hulle praat valslik van hulle leer as ‘kennis’. Hulle dink dit is ware kennis, en wil mense beïndruk met hulle sogenaamde kennis. Paulus noem dit egter goddelose gebabbel (NAV onheilige praatjies; letterlik: leë gepraat, ‘n gepraat sonder enige betekenisvolle inhoud). Hy sê dit is vol innerlike teenstrydighede, met argumente wat mekaar weerspreek (NAV vertaal dit as ‘sinlose’). Daarteenoor moet Timoteus die egte evangelie wat aan hom toevertrou is, goed bewaar.
Die ‘kennis’ behels waarskynlik die verkondig van ‘n wettiese boodskap wat vereis dat mense goeie werke doen om gered te word (1:7-11). Deur hulle vertroue op hulle eie goeie werke word die evangelie van God se vrye genade verduister en God se verlossingswerk uit liefde deur Christus se offer word op die agtergrond geskuif (1:5; 12-17; 2:1-7). In 1:3 noem hy dit valse leerstellings (letterlik: ‘n ander boodskap) wat direk teen die evangelieboodskap is. Dié valse leer moet Timoteus in die gemeente verbied.
Timoteus moet die mense van die valse leer ook aanspreek ook hulle lewenstyl. Hulle lewe volgens mites, dit is verdigsels wat hulle self uitdink, en volgens hulle misbruik van geslagslyste. Die verdigsels waarna Paulus verwys was waarskynlik allegoriese verklarings van die Ou Testament. Allegorieë is sinnebeelde, waarmee hulle met hulle vooropgesette gedagtes betekenisse inlees in die Bybel, wat nie met die woorde van die Ou Testament in hulle verband bedoel is nie. Die geslagslyste verwys na die geslagslyste in die Ou Testament waaraan hulle fantasie verklarings gee. Dit is betekenisse wat hulle met hulle verbeelding inlees in die lyste. Waarskynlik het hulle ook die evangelie se verlossing beperk net tot Jode, en miskien die Joodse aanhangers daarby ingesluit. Daarom beklemtoon Paulus dat die evangelie vir mense van alle volke bedoel is (2:1-7), vir sondaars (1:15), vir alle mense (4:10).
Die valse broers verkondig blykbaar askese om God daarmee te behaag: hulle verbied mense om te trou en om sekere kosse te eet (4:3-5).
Volgens 2 Tim.2:18 verkondig hulle dat die opstanding reeds plaasgevind het. Hulle verwag dus nie meer ‘n liggaamlike opstanding nie, maar het die opstanding vergeestelik, deur te beweer dat as jy lewe soos hulle verkondig, is dit reeds die opstanding. Dan is die opstanding met die wederkoms van Christus nie meer nodig nie. Daarmee loën hulle ook Christus se opstanding, en daarmee ook die kernwaarheid van die evangelie (vgl. 1 Kor.15:12-28).
Vers 21 sluit aan by 1:6, mense wat afgewyk het van liefde uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete, en ‘n opregte geloof – alles dinge wat ons verkry deur ons versoening met God en ons medemens wat Jesus vir ons verwerf het, wat die Heilige Gees in ons kom bewerk. So het hulle van die ware geloof in God en sy verlossing afgewyk, en vertrou op hulle selfverlossing deur goeie werke, wat hulle voorskryf met hulle foutiewe verklarings van die Ou Testament, wat hulle dan as ‘kennis’ voorhou.
Skrywer: Prof Francois Malan