’n Spesiale salwing van die Gees?

’n Spesiale salwing van die Gees? – Jan van der Watt

Naomi vra: 

Hoe verklaar ons Handelinge 8:12-17; 9:17; 19:1-10. Ek weet sekere kerke verwys na hierdie as ‘n invulling met die Heilige Gees. Ek stem saam dat niemand tot bekering kan kom behalwe deur die werking van die Heilige Gees nie. Is hier nie tog ‘n verdere ‘verdieping of salwing’ waarvoor ‘n mens moet vra of wat jou toegebid moet word deur ander gelowiges nie? Dit wil vir my lyk of hier wel na iets verwys word wat meer is as bloot ‘n ‘tydperk wat ons nader aan God en die Heilige Gees voel’.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Handelinge handel oor die eerste uitbreidings van die kerk. Die boek is self so saamgestel dat dit wys hoe die Evangelie sistematies in en deur die wêreld versprei het. ‘n Belangrike deurlopende tema in Handelinge is hoe die Evangelie met verskillende tipes religieë en gebruike in kontak gekom het en hoe die Evangelie daaroor geseëvier het. In Hf 8 word daar gewys dat die Heilige Gees sterker is as die magte wat byvoorbeeld in Simon was. Almal het Simon met die krag van God geassosieer, maar tog was die Gees sterker. In Hf 16 word gewys hoe die Evangelie met die filosofieë van die wêreld in konflik kom en wat gebeur. So kan ons voortgaan. Hierin het die Heilige Gees natuurlik ‘n groot rol gespeel. In die geval van Hf 8 het die apostels (leiers) byvoorbeeld die Gees gebring sodat die mense seker kan wees dit is die Heilige Gees wat deel is van die Christelike kerk. In ander gevalle aanvaar mense wel vir Jesus, maar ervaar nie ten volle wat Hy bied nie. As hulle die Gees ontvang, deel hulle ten volle aan wat God bied. As ons dus Handelinge lees moet ons baie bewus wees van die konteks asook die doel van die boek. Die skrywer van Handelinge wil wys hoe die Gees aan die begin in elke situasie die heidens aanvaarde leefwyse en opinies getroef het. Daarom word die Gees op ‘n spesifieke manier beskryf.

Nou is die vraag of ons nie aan ‘n spesiale salwing van die Gees moet dink nie. Paulus en Johannes is die twee groot teoloë, ook as dit by die Gees kom. Paulus ken nie so ‘n spesiale salwing met die Gees wat sekere mense van ander onderskei nie. Paulus het van die gelowiges in Korinte, wat op grond van die spreek in tale gevoel het hulle is belangriker as die ander, sterk vermaan teen so ‘n soort houding. Wat Paulus wel geken het, is dat sekere mense sekere gawes van die Gees kon kry om dan sekere dinge tot voordeel en nut van die gemeente te doen. Dit is ‘n gawe en nie ‘n spesiale ingieting of so iets nie. Kom ons by Johannes wat in Joh 14-16 baie van die Gees praat en ook in 1 Joh 2 praat van die ‘salwing’ wat eintlik ook maar na die Gees se werk en teenwoordigheid verwys. Soos Paulus ken ook hy gladnie so ‘n spesiale ingieting of salwing van die Gees nie. Die Gees is in al die gelowiges en lei almal. Dus: nie Paulus of Johannes, wat die meeste oor die Gees skryf, ken dit wat ons in Handelinge wil inlees nie. As daar wel so iets was soos wat ons in Handelinge wil inlees, moes die groot Gees-teoloë (Paulus en Johannes) tog iets meer daaroor gesê het. Nou het hulle nie. Goeie Bybeluitleg vra van ons om nou weer mooi na Handelinge te gaan kyk – ek dink wat ek hier bo gesê het, kan ons help om die boodskap van Handelinge in perspektief te sien.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Onderrig deur ‘n vrou

Onderrig deur ‘n vrou – Jan van der Watt

Roenell vra:

Ek wil graag meer weet oor “teachings” onderrig deur ‘n vrou (met verwysing na die Bybel) en of daar ‘n verskil is tussen “teaching en preaching” onderrig en prediking. Veral onderrig deur ‘n vrou aan mans en dan veral oor dogmatiek en nie net daaglikse onderwerpe soos Christelike siening oor finansiële begroting of algemene onderwerpe nie. Ek kom nou net terug van ‘n “uitreik” aksie na Malawi waar ek ‘n kralewerk opleidingsessie gaan aanbied het aan kerklede van ‘n kerk in Mangochi. Ek is sterk veroordeel omdat ek tydens ‘n Bybelstudie nie net getuig het nie maar wel “geteach” het. Volgens diegene wat my veroordeel is dit ‘n taak slegs vir mans en hulle verwys veral na Timoteus en Titus, maar volgens my kennis is Timoteus in moeilike omstandighede geskryf aan die gemeente van Efese en Paulus wou veral vroue wat uitspattig was verhinder om die aandag af te trek van dit wat by ‘n byeenkoms moes plaasvind. Ek het altyd vir myself Priscilla en Akwila as voorbeelde gesien maar kon aflei dat Priscilla wel kon onderrig gee aan die wat hulle huis besoek het. Is daar ‘n verskil dan tussen onderrig in jou huis aan mense wat jou besoek en onderrig op ‘n sendingveld?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag of vroue mag preek is een van die geskilpunte in die Christendom, soos ook in Suid-Afrika duidelik is. Die Gereformeerde Kerk verbied dit byvoorbeeld, terwyl die NG en Hervormde Kerke dit toelaat. Die Rooms-Katolieke Kerk laat wel gedeeltelike lering deur vroue toe, maar laat hulle nie toe om priesters te word wat die sakramente bedien nie. So, daar is ‘n wye verskeidenheid van opinies. Juis daarom is die praktiese manier waarop mens met die probleem omgaan van soveel belang. As jy in ‘n konteks kom waar mense absoluut teen vroue wat preek is, moet mens dit respekteer as die mense se opinie, veral as jy ‘n besoeker daar is. Deur aan te dring om te preek omdat dit jou opinie is, gaan net moeilikheid maak en daartoe is ‘n Christen nie geroepe nie. Daar is wel ander plekke waar jy jou roeping as vroueprediker sonder teenkanting kan uitleef. Doen dit daar. Dit verhinder ‘n mens natuurlik nie om met die mense oor jou opinie te gesels nie. Sit jou argumente op tafel en bespreek dit. Jy sal agterkom dat die gesprek dikwels gaan oor verskille oor hoe ‘n mens die Bybel moet gebruik. Mense wat die Bybel baie letterlik (fundamentalisties) gebruik sal gewoonlik net vir jou sê: ‘Daar staan in die Bybel vroue moet stilbly, uit en gedaan’. Mense wat die uitsprake egter in hulle oorspronklike konteks lees en probeer verstaan sal meer soepel daaroor praat. Hulle sal probeer verstaan wat Paulus oorspronklik aan sy lesers in hulle situasie wou sê en die boodskap dan op ons situasie vandag probeer toepas. Selfs dan kan daar ook verskil van opinie wees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Huisskoonmaak

Huisskoonmaak – Jan van der Watt

Lititia vra:

Ek verwys na die huisskoonmaak artikel.My dogter is nou 10 jaar oud. Sy het so twee jaar terug alleen begin slaap in haar eie kamer. Dit is nou twee jaar van hel. Sy slaap glad nie deur nie. Party aande slaap sy saam met my en my man op die bed. Partykeer op die grond langs ons bed of in ons badkamer op die vloer. Ek het haar al gevra wat fout is en dan praat sy net van die oom wat haar nie wil uitlos in haar kamer nie. Nou ek kan glad nie sulke goed voel of sien nie en my man glo nie aan die bonatuurlike goed nie. Maar om my kind te help het ek al mense rondom my gaan vra vir raad. Ek het al my huis met olyfolie geseën en sout gegooi. Ek het die Bybel ook al oop op haar bedkassie gelos. Niks help nie. Die naweek was een van ons vriende se ma hier gewees om iets te kom haal. Toe sy hier inkom het sy sommer dadelik na Elani se kamer gegaan en die deur toe gemaak. Sy het ‘n half uur later uitgekom en gesê sy sien goed. Sy het ‘n man, vrou en twee kinders gesien en gevra om uit die huis te gaan, maar hulle het geweier. Wat moet ek nou doen ek is so magteloos. Môre begin die skool en ek sal graag iets wil doen voordat die skool uitkom. Dit begin regtig ons as familie beinvloed. Ons baklei baie wat ons nooit voorheen gedoen het nie. Elkeen is iewers in die huis maar praat glad nie meer met mekaar nie. Boonop alles is my skoonpa ook nou die 11de Desember oorlede. Dit vat verskriklik aan my. Ek moet al sy goed alleen uitsorteer en niemand besef hoe erg dit vir my is nie. Hy was my eie pa gewees. Ek kon alles met hom deel. My regte pa wil ek nie oor praat nie. Ek is nou op antidepressante gesit en slaappille want die dokters het gese ek is baie erg depressed. Dit voel net nie meer of ek lus is vir die lewe nie. op hierdie stadium raak alles net te veel. Partykeer voel dit vir my of ek net ‘n einde aan my lewe wil maak. Ek voel regtig dood en my twee dogters praat nie eers meer met my nie. Hoe kan ek die mense uit my huis uit kry dat ek weer kan vrede in my huis he. Hoe kan ek bid?

Antwoord:

Bybelkennis.co.za is ‘n webblad waar ons oor Bybelse sake probeer inligting deurgee. Ons kan ongelukkig nie berading oor die internet doen nie. Tog het ons baie simpatie en empatie met mense wat deur moeilike tye gaan. Daarom het ons met ‘n baie goeie beradingsinstansie gereël om ons lesers te help, naamlik Coram Deo in Pretoria. Ons stuur e-posse waarin mense vir hulp vra aan hulle deur. Hulle sal help sover hulle kan en hulle vermoëns strek.

Wat bogenoemde saak betref, net ‘n paar opmerkings.

A) moenie die krag van suggestie vergeet nie. Ek kan onthou dat ek as kind ook soms bang was vir die donker en ook allerhande dinge gesien het (wat geblyk het nie daar te wees nie). (Vandag se kinders in ons traumatiese samelewing het dit nog baie moeiliker omdat die vlakke van vrees in ons land baie hoër is). As iemand toe vir my gesê het dat dit werklik geeste was en sout en olie ens. begin strooi het, sou ek begin glo het in die geeste, en dit sou vir my ‘n realiteit geword het soos wat my familie vir my was. Ek sou dan net banger geword het. ‘n Mens bou dus so ‘n realiteit vir jouself op waarvoor jy dan self bang word.

B) Die geeste wat gesien word in die kamer weet blykbaar nie hoe om by ‘n deur uit te gaan nie, wat hulle is net in die kamer. Waarom is hulle nie ook elders nie? Dit hang tipies saam met suggestie. As jy die hele tyd suggereer daar is ‘n gees in die kamer gaan almal hom daar soek – omdat daar nie gesuggereer word dat die gees buite die kamer is nie, sien jy hom ook nie daar nie.

C) Die patroon van suggestie gaan moeilik afgebreek word en daarvoor is hulp nodig.

D) Almal sukkel soms met slaap – sommige meer as ander. As jy wakker lê en nog bang is ook, kan jou gedagtes wilde draaie met jou loop. Die feit dat die dogter by haar ouers tog aan die slaap raak is bewys dat sy daar sekuur en veilig voel. Die vrees en angs is dan weg en dit speel nie parte met haar gedagtes nie.

E) Onthou dat die Bybel duidelik sê dat die Here en sy Gees sterker is as enige ander geestelike mag. Om die waarheid te sê, die Heilige Gees woon in ons – ons is sy tempels (1 Kor 3:16). Al sou daar geeste rondom ons wees, die sterkste Gees van almal woon in ons.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Aan die ander kant

Aan die ander kant – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ek het na die program op TV gekyk “Aan die ander kant.” Ek kan sien dat daar groot belangstelling is veral as mense iemand na aan hulle verloor het. Die aanbiedster het ook gepraat oor ʼn persoon aan die anderkant wat blykbaar terwyl hy hier op die aarde was net baie gewerk het en nie tyd gebruik het vir sy geestelike lewe nie. Hy het gevra dat sy gesin vir hom moet intree en bid soos daar in die Woord staan “waar 2 of meer saamstem.” Dit maak nie vir my sin nie. As mens nie ʼn verhouding met God hier op aarde gehad het nie, hoe kan daar iets vir jou gedoen word as jy klaar dood is.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag is of ʼn mens vir iemand anders kan intree wat reeds dood is sodat hy dan uiteindelik gered sal kan word al was hy nie ʼn gelowige op aarde nie. Die vraag het twee kante: kan iemand wat nie gelowig was op aarde nie na sy dood deur ons gebede gered word; en kan ons vir dooies intree deur gebed?

Daar is geen aanduiding in die Bybel dat iemand wat nie in die Here geglo het hier op aarde nie deur ons gebede gered kan word nie. As iemand dit beweer, is dit ʼn dwaalleer. In die verhaal van die Ryk man en Lasarus (Lukas ) word daar uitdruklik gesê dat ons ons kans op aarde het om in die Woord en Profete te glo. As die kans verby is, is dit verby.

Daar is egter in die Roomse en Ortodokse kerke die gebruik om tog vir dooies te bid. Dit kom uit 2 Makkabeërs se laaste gedeelte. 2 Makkabeërs is deel van die kanon van die Rooms Katolieke Kerk (hulle kanon verskil van die Protestante s’n deurdat hulle 13 ekstra boeke het waarvan 2 Makkabeërs een is). In 2 Makkabeërs word daar vertel van hoe die Jode teen die vyand geveg het. Die betrokke dag is daar buitengewoon baie Jode dood, hoewel hulle die slag gewen het. Toe die Joodse leiers die dooies ondersoek, kom hulle agter dat die mans ʼn gelukbringer van ʼn plaaslike godin onder hulle klere versteek het. Hulle het dus nie die Here volledig vertrou nie. Daarom is hulle ook dood. Tog was hulle getroue Jode wat eintlik hulle lewens vir God en hulle vaderland gegee het. Die Jode se leier het toe besluit om geld bymekaar te maak en vir die gestorwenes ʼn offer in Jerusalem by die tempel te bring met die versoek dat hulle sonde met die godin vergewe word. Hulle het dit ook gedoen. Daaruit is deur die latere kerk afgelei dat ʼn mens wel vir gestorwenes mag intree (onthou 2 Makkabeërs is deel van die Katolieke Bybel). Daarom kry ʼn mens vergelykbare tradisies in die Roomse en Ortodokse tradisies.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt