Job bid vir sy drie vriende

Job bid vir sy drie vriende – Francois Malan

Johan vra:

Is daar `n verklaring waarom Job vir sy drie vriende gebid het? Moet dit verstaan word dat hy dit uit eie beweging sou doen of in opdrag?Waarom was Elihu nie ingesluit by die gebed wat Job gedoen het en geen verdere vermelding van hom gemaak na hoofstuk 37 nie?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1 Elihu

Die inleiding van Job, hoofstukke 1-2, en die slot, 42:7-17, is in verhaaltrant geskryf oor ‘n persoon wat in die tyd van die aartsvaders (Abraham, Isak en Jakob) geleef het. Die middelste deel, van hoofstuk 3 tot 42:8, is in digvorm geskryf, as ‘n wysheidsgeskrif oor hoe om voor die oë van God reg te lewe as jy ly.

Die skrywer van die boek is onbekend, en ook die tyd wanneer die boek geskryf is. Maar daar word gemeen dat die verhalende dele eerste geskryf is, en dat aan die digterlike deel oor ‘n lang typerk gewerk is, totdat die boek in sy finale vorm saamgestel is. Soos die boek Prediker is Job ook ‘n kritiek op die boek Spreuke se leer van beloning vir die goeie en vergelding vir die kwade, wat deur Job se drie vriende verkondig is.

Na hoofstuk 3, oor die verbitterede Job, volg drie reekse waar Job telkens antwoord op Elifas, dan Bildad en dan Sofar se sienings (4-27), maar Sofar kom nie in die derde reeks aan die woord nie. Na Job se toespraak oor wysheid in 28 en sy klag in 29-31, word die toespraak van Elihu ingeskuif in 32-37, voordat God begin in 38-39 antwoord op Job se klag van 29-31. Na Job se eerste reaksie op God se antwoord (39:36-38) gaan God voort in 40:1-41:25, en die oormoedige Job antwoord in 42:1-6. Normaalweg sou ‘n mens verwag dat God se antwoord in 38-39 direk sou volg op Job se klag in 29-31. In die skema lyk dit of Elihu se toespraak later ingevoeg is, toe die res van die boek reeds bymekaargemaak was, en daarom word Elihu nie in die slotgedeelte genoem nie.

2 Waarom Job vir sy drie vriende gebid het.

Omdat die Here kwaad was vir Job se drie vriende, omdat hulle nie die waarheid oor God gepraat het soos Job nie, omdat hulle siening van God se beloning en vergelding foutief was, was die Here se opdrag aan die drie vriende: ‘Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ‘n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor (letterlik: vir hom alleen sal Ek gunstig ontvang) en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie’ 42:7-8).

Die drie vriende kom toe terug na Job in sy ellende op die ashoop en offer daar by Job die groot brandoffer wat die Here beveel het vir hulle verkeerde voorstelling van God in hulle gesprekke met Job. Hulle sou vir Job verduidelik het waarom hulle dit doen, en dat die Here gesê het dat Job vir hulle moet bid, omdat die Here vir Job alleen gunstig sal ontvang as voorbidder vir hulle sonde.

En dan, nadat Job vir hulle gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander (letterlik: en die Here het Job in guns aangeneem – dit impliseer dat die Here die drie vergewe het). Vers 10 vertel dan hoe die Here Job van die ashoop af teruggebring het in die samelewing (letterlik: sy gevangenskap verander het) nadat hy vir sy vriende gebid het, en dat die Here aan Job twee keer soveel gegee het as wat hy gehad het. Daarin was Job in ‘n sekere sin ‘n voorafskaduwing van Christus wat Homself vir ons as offer vir ons sonde gegee het aan die kruis, en tans vir ons intree by God (Hebr. 7:25,27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Vervloeking

Vervloeking – Francois Malan

Alicia vra:

Ek sukkel om mense te oorreed dat vloeke nog bestaan, dat jyself en ander mense vloeke oor jou en jou geliefdes kan uitspreek, asook bindinge.
Watter menslike voorbeelde, maklike voorbeelde, kan ek gebruik en hoe om die vloeke te breek en vloeke of bindinge te stop.

En dan, Mag ek as Christen ‘n vloek terug stuur van wie af dit kom en hoe doen ek dit?

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In die heidenwêreld word die vloek gebruik as ‘n magiese middel wat toorkrag het, in die geloof dat die vloekwoord self krag het om iemand te benadeel en selfs dood te maak. Die Israeliete van die Ou Testament was omring deur volke wat dit geglo het en gebruik het. Sommige Israeliete het dit ook so geglo.

Maar die gelowige Israeliet het die vloek gesien as iets wat deur God beheer word en waaroor Hy die seggingskap het. In die Ou Testament word baie maal na die vloek verwys, met verskillende Hebreeuse woorde om dit te beskryf;

alah – vloek as dreiging van ongeluk wat oor iemand, oor homself of oor iemand anders stel as hy of sy ‘n misdaad sou pleeg (vgl. bv. 1 Kon.8:31-32)

kalala – die vloekformule waarmee iemand of iets vervloek word (bv. Gen.27:12).

ta-elah – bv. Klaagl.3:64-65 ‘straf hulle Here, volgens wat hulle gedoen het, laat benoudheid hulle oorval, tref hulle met U vloek…’

me-erah – bv. Deutr. 28:20 ‘Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.’

arar – met ‘n vloek bind – vgl. die lang lys in Deutr. 27:16-26, en Gen.3:14,17.

In die Nuwe Testament bring Jesus egter ‘n hele omwenteling van die vloek. In Gal.3:10-14 skryf Paulus dat almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, onder die vloek val (met verwysing na Gen.27:26). Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word soos Deutr.21:23 sê: vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is. Daardeur kan ook ons wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het. So bly God self in ons om ons te beskerm en te lei (vgl. Joh.14:23).

In 1 Kor.16:22 sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy (vgl. ook Gl 1:8,9).

Nee die pad vir ‘n Christen is nie om vloeke heen en weer te stuur nie. In Romeine 12:17-21 sê Paulus: Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe ‘dit is Mý reg om te straf, Ék sal vergeld’, sê die Here. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Dit is dieselfde as wat Jesus gesê het in Matteus 5:43-48 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg – anders is julle maar net soos die heidene. Julle moet soos julle hemelse Vader wees – Hy wat in ons kom woon het deur sy Gees omdat Jesus ons vloek aan die kruis gedra het.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Linkshandig!

Linkshandig! – Francois Malan

Pieter vra:

Graag die volgende vraag. Rigters 20v16. Is daar enige rede hoekom die mense links was? Was dit dalk met die ontwerp van die slingervel gewees?

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

 

Die Hebreeuse teks lees letterlik: ‘in daardie hele leër was daar 700 sterk jongmanne regs gestremd’

‘Regs gestremd’ is die manier om linkshandig in Hebreeus aan te dui. Vgl. ook vir Ehud, die rigter uit die stam Benjamin, wat ook links (letterlik: regs gestremd) was.

Die Israeliete het linkshandigheid beskou as ‘n nadeel, dat jy nie soos almal regs is nie. Maar soos in Ehud se geval was dit ‘n goeie kamoeflering, sodat die wagte om koning Eglon van Moab nie onraad gemerk het, toe hy met sy swaard aan die regterkant onder sy klere vasgemaak in die koning se teenwoordigheid toegelaat is nie (Rigters 3:15-21). In die geveg van die stam Benjamin teen die res van Israel kon die linkshandiges ook ‘n verrassingsaanval loods, omdat hulle vyand nie die klippe uit hulle slingervelle in die linkershand verwag nie.

Uit ‘n leër van 26,700 Benjaminiete, is 700 nie eers 3 uit elke honderd nie (2.6%). Die Griekse vertaling het ‘regs gestremd’ waarskynlik foutief vertaal met ‘dubbelhandig’ (vaardig met albei hande).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Het Jesus ’n bruin vel gehad?

Het Jesus ’n bruin vel gehad? – Kobus Kok

Saartjie vra: 

Ons weet dat Jesus ‘n Jood was, maar ek verneem dat hy ook ‘n Hebreër was. Was hulle donkervellig? Ek lees in Jesaja 53 dat Jesus nie “aansienlik” was nie. Wat kan ek daarvan aflei?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Die blonde Jesus met die waaiende lang hare wat ons in tekenprente sien, en Jesus soos ‘n Switserse of Germaanse model laat lyk, is waarskynlik nie hoe Jesus regtig gelyk het nie. In die tradisie van sommige kringe het Jesus hare soos wol gehad – wat tipies lyk soos die bruin krullerige hare van die Jode. Jesus was immers geneties gesproke, ’n Jood. Baie Jode het bruin velle, ander het ligte velle. Die Jode is Oosters Mediterreense mense, wat beteken dat hulle volgens die nuutste navorsing in molekulêre genetika die genepoel deel van die Palestynse Arabiere, die Turke, die Koerde, die Romeine, die Grieke, die Libanese, ens. Die Jode het in verskillende tydperke met verskillende kulture in kontak gekom en het in die sogenaamde Diaspora oor die hele Mediterreense wêreld en later ook in Europa voorgekom. In onlangse navorsing blyk dit dat onder die Joodse gemeenskappe waarin genetiese toetsing gedoen is die Noord Afrikane, by name die Marokkane, geneties gesproke die beste voorbeeld is van die genepoel van die antieke Joodse gemeenskappe wat waarskynlik dateer uit die tydperk voor die Babiloniese ballingskap (ongeveer 2500 jaar terug). Die meeste Marokkane het donker velle en swart krulhare met bruin oë. Soos ek in die begin gesê het, is dit eintlik ‘n heel irrelevante vraag. Dit maak glad nie saak hoe Jesus gelyk het nie. Dit maak wel saak wat Jesus vir ons oor God kom wys het. Dit is waarop ons met fokus.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok