Calvinisme

Calvinisme – Jan van der Watt

Helene vra: 

Kan u asb kortliks verduidelik wat Calvinisme is. Iemand het onlangs gesê hy is ‘n volgeling van Calvinisme. Ek weet dit is Johannes Calvyn, maar is dit nie weer die agternaloop van ‘n persoon nie? Soos Martin Luther en al diegene weet ek hul het dinge volgens die Skrif probeer verander en duideliker maak.Dit verwar my as iemand sê hy hang ‘n persoon aan. Ons moet tog Christus, God aanhang en nie ‘n persoon nie. Wat van Sola Scriptura? Dis mos waaroor dit gaan. Dit wat God in Sy Woord sê.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jou argumente is heeltemal reg. Ons moet God en God alleen dien. Dit sê die Calvinisme ook. Hulle sê ook veral Sola Scriptura. Ek hoop die volgende verduideliking help ‘n bietjie (al is dit net baie kursories, want ‘n mens kan ‘n hele boek hieroor skryf).

In die sestiende eeu (dws. die vyftienhonderds) het Luther en die edelmanne veral in die noordelke deel van Europa probeer om dinge wat hulle geglo het verkeerd is in die Katolieke kerk reg te stel. Hulle wou nie regtig met die kerk skeur nie. Die omstandighede het egter gemaak dat hulle uiteindelik van die Katolieke Kerk moes skei. Sekere van die Katolieke dinge het nog in die Lutherse Kerk agtergebly, hoewel daar baie nuwe dinge was wat hulle ingevoer het, bv. ‘n ander benadering tot die doop en nagmaal en die Woordbediening.

Calvyn was jonger as Luther en was nie so direk deel van die skeuring met die Katolieke kerk nie. Toe hy op die toneel verskyn het, was die koeël eintlik al deur die kerk. Wat die gelowiges toe nodig gehad het, was boeke wat hulle vertel het wat die nuwe Protestantse kerke glo. Calvyn was een van die sentrale persone wat toe begin het om die leer van die kerk sistematies op te skryf. Hy het eers regte studeer en was dus mooi sistematies in sy benadering. Hy het begin deur te beklemtoon dat God almalgtig en heilig is. Niks en niemand is groter as Hy nie. Toe het hy beklemtoon dat die mens sondig is. Daar is niks goeds in die mens nie. Die mens kan homself dus nie red nie. Deur die uitverkiesing van God word die persoon ‘n kind van God. Dit het Jesus se bloed en redding moontlik kom maak. Uit dankbaarheid vir die redding moet die kinders van God dus baie gehoorsaam wees aan God se wil, ook soos dit in sy wet staan.

So het Calvyn sistematies in sy groot werk, Die Institusie van Calvyn, die leer van die Bybel sistematies beskryf. Die interpretasie van Calvyn is deur baie mense, veral in Holland en dele van Engeland aanvaar. Daarom praat ons van Gereformeerde Kerke en noem die mense hulleself Calviniste. Dit beteken nie hulle aanbid Calvyn of so iets nie, maar hulle aanvaar net die uiteensetting van die leer soos hy dit in sy werke aanvanklik verduidelik het. Die Katolieke sien sekere dinge egter ‘n bietjie anders, terwyl die Lutherane dit ook weer anders sien. John Wesley het ook sekere dinge anders gesien en so het die Wesleyane (Metodiste) begin.

‘n Calvinis is dus nie iemand wat Calvyn vereer nie, maar wat sy uiteensetting van die evangelie as korrek aanvaar.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




God se manlikheid

God se manlikheid – Francois Malan

Saartjie vra:

My man is in twyfel oor God se geslag. Hoewel daar in die Bybel duidelik staan God die Vader beweer hy dat daar tog mense is wat dit betwyfel. Wat sê u?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God bestaan buite die grense van ons verstaan, en ons kan nie ons beperkte idees en belewenisse van vaderskap en manlikheid op God toepas nie.

In Jesaja 55:8-9 sê die Here: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Paulus sê in Romeine 11:34-36: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy veplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Jesus sê in Johannes 4:24: God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.

In die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees is daar nie sprake van manlikheid of seksuele voortbringing nie. Dit is ‘n ewige verhouding wat van ewigheid af bestaan.

In sy woord openbaar God Hom aan ons as die ewige Vader van ons Here (‘regeerder’) Jesus (‘verlosser’) Christus (‘gesalfde’ koning, priester, profeet), en die Heilige Gees wat saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is, wat ewig by ons kom bly om geloof in ons te skep in die ware God, Vader Seun en Gees, en die nuwe skepping wat Christus kom bewerk het in ons lewens uit te werk.

Vanuit die liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees (vgl. 1 Johannes 4:8,16 ‘God is liefde’) sien ons dat ons aardse vaderskap ‘n baie swak beeld van God se vaderskap is, wat ons vaderskap onder kritiek stel en aan ons vaderskap nuwe betekenis en waarde wil gee. God se Vaderskap en liefde vir sy wêreld wat Hy geskep het, het sy geliefde Seun aan ‘n kruis laat sterwe vir ons sonde, sodat ons die ewige lewe kan hê saam met sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het (Johannes 3:16). Dit gee Hy aan dié wat in sy Seun glo deur die werking van sy Heilige Gees.

Vir die gemeente in Korinte sê Paulus in 1 Kor.8:5-6: teenoor die heidene se baie sogenaamde ‘gode’ en ‘here’ is daar vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die gewelf in Genesis 1

Die gewelf in Genesis 1 – Francois Malan

Alicia vra:

In Genesis 1 praat die Bybel van dat God die waters bo die gewelf geskei het van die waters onder die gewelf. Die gewelf is dan mos die hemelruim, die sonnestelsel, met die sterre, planete, son maan ens, met ander woorde die wêreld rondom die aarde self. So, die waters onder die gewelf is dus die see, riviere, damme wolke? Waar is die waters bo die wereld (gewelf) dan? Ek het in verskeie vertalings daardie selfde stuk oor en oor gelees, en in almal praat hul van die waters bo en die waters onder. Verskillende vertalings gebruik ‘n ander woord vir die gewelf, maar daar is in elke veraling, water bo en water onder!

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord in Genesis 1:6-8 vir gewelf of uitspansel is rakiya, afgelei van die werkwoord raka wat ‘uitsprei’ beteken (vandaar ‘uitspansel’) en ook gebruik word van ‘uitklop’ soos ‘n (koper) plaat wat in ‘n halwe bol uitgeklop word (vandaar ‘gewelf’ soos in koepel). Vgl. Ps 19:2; 136:5; 150:1 Job 37:18; Jes.42:5).

Die gewelf maak skeiding tussen die twee groot watermassas: dié daarbo, waar die reën vandaan kom (Genesis 7:11-12; 2 Konings 7:2), en die waters onder die gewelf, wat nie slegs na die see verwys nie, maar ook die water wat in fonteine onder die aarde uitborrel (Gen.49:25).

Die oud-oosterse wêreldbeeld van die skrywers van Genesis het nog nie onmeetlike sonnestelsels op die oog gehad soos ons vandag nie, maar het gedink aan ‘n plat aarde met fondamente en pilare (Job 9:6; 38:4) en die gewelf bo-oor gespan. Die sterre is aan die gewelf gehang, met ‘n son en maan wat teen die gewelf beweeg in hul baan soos teen ’n tent (Ps.19:5-7). Soos die water onder die grond uitborrel uit die oersee, so het die reën uitgeborrel uit die skatkamers van wind, reën en sneeu agter die gewelf, wanneer die vensters van die gewelf oopgemaak word (Maleagi 3:10; Spreuke 8:27,28). Dit is eers later wat ons wêreldbeeld ontwikkel het in ‘n rondebol aarde wat om die son beweeg in een van die menigte sonnestelsels wat ons met die teleskope kan sien, en wolke wat deur die wind oor die see se verdamping gevorm word en laat reën.

Die doel van Genesis is nie om ‘n wetenskaplike beskrywing van die skepping te gee nie, maar as ‘n getuienis oor die krag en wysheid van God en die wonder van sy skepping, om God se genade en krag, wat die skepping onderhou, te verkondig.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die eet van varkvlies

Die eet van varkvlies – Francois Malan

Ida vra:  

Die stuk in die Bybel oor onrein diere – kan u dit verduidelik. Baie keer as mens varkvleis eet sê die mense maar die Bybel se dan jy mag nie varkvleis eet nie – dit is onrein.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In Levitikus 11:7-8 het die Here vir Moses en Aäron gesê:

‘n Vark het weer volledig gesplete kloue, maar hy herkou nie. Hy is vir julle dus ‘n

onrein dier. Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak

nie: hulle is vir julle onrein. Dit word in Deuteronomium 14:8 herhaal.

Israel se omgewing het waarskynlik hiertoe bygedra. In Egipte, waar Israel vir 400 jaar gebly het voor die uittog na Kanaän, is die eet van varkvleis verbied, wat ook met die jare vir Israel ‘n weersin teen varkvleis gegee het. In Sirië was varkvleis deur sommige beskou as heilig en as offerdiere gebruik, terwyl ander dit as onrein beskou het. By die Kanaäniete, by wie Israel ingetrek het, was varke huisdiere wat aan hulle gode as kosbare besittings geoffer is. Daarom word Israel verbied om die Here te dien soos die Kanaäniete hulle afgode dien, en word enige kontak met die afgodsoffers van die Kanaäniete as onrein beskou.

In Jesaja 65:4 word die Jode na die ballingskap in Babel (na 515 v.Chr.) deur die Here verwyt dat hulle Hom beledig deur varkvleis te eet soos die heidene. In Jesaja 66:17 kondig die Here sy straf aan oor mense wat hulle self wy en reinig om varkvleis te gaan eet by die heidense offers. In Jesaja 66:3 word Israel beskuldig dat hulle by die tempel van die Here graanoffers bring maar ook offers van varkbloed soos die heidene.

Tydens die bewind van die Griekse koning Antiogus Epifanes oor Juda teen 167 v.Chr. is Jode gedwing om varkvleis te eet en aan Zeus te offer. Van die Jode is doodgemaak omdat hulle geweier het om varkvleis te eet.

In Matteus 8:30-34 word vertel hoe die duiwels, wat Jesus uit die Griekse Gadareners uitgedryf het, Hom gesmeek het om hulle in die varke te laat invaar, en hoe die hele dorp Hom versoek het om hulle gebied te verlaat. Moontlik was die varke ook bedoel vir offers aan Zeus.

Maar dan kom Jesus en verbreek die hele Joodse sisteem van rein en onrein dinge, en sê vir die menigte:

Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: Niks wat van buite af in ‘n mens

ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ‘n mens uitkom, dit maak hom

onrein’ (Mk 7:14,15).

Vir sy dissipels verduidelik Hy: Begryp julle nie dat niks wat van buite af in die mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan? Daarmee het Hy alle kos rein verklaar. Daarna verwys Hy na ‘n reeks slegte goed wat uit die mens se hart uitkom en die mens onrein maak: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid (vgl. ook Matteus 15:10-20).

Na sy hemelvaart moes Jesus vir Petrus voorberei om die evangelie ook aan die heidene te verkondig deur ‘n gesig van iets soos ‘n groot doek. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. Driemaal kom die opdrag uit die hemel: ‘Kom, Petrus, slag en eet’. Petrus weier en sê vir die Here hy het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie. Die stem sê egter: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie’ (Hand.10:11-16). Dit gebeur drie maal om die belangrike beginsel duidelik te stel sodat dit verstaan en onthou sal word. Alle diere kan geëet word, en die evangelie is bedoel vir alle mense. Ons heiliging en reinheid kom deur ons vereniging met Christus Jesus (1 Kor.1:30).

 

Skrywer: Prof Francois Malan