Groepsdruk

Groepsdruk – Francois Malan

Christa vra:

Ek moet volgende Dinsdag by die Hoerskool “preek”. Die leerlingraad het gevra dat ek oor groepsdruk moet “preek”. Ek het vasgehaak by die wapenrusting van God. Gee asseblief vir my meer tekste bv, was daar groepsdruk in die Bybel, hoe het hulle dit hanteer? Baie dankie dat julle so behulpsaam is, ek kan nie ‘n dag sonder Bybelkennis.

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybel is vol ‘groepsdruk’ wat positief is om die Here te dien, en negatief om van die Here af weg te dryf. Ek noem net enkeles.

Numeri 16 vertel van Korag en sy groep van 250 man se opstand teen die leierskap van Moses en Aäron (16:2,3, 12,13) wat beëindig is toe die Here die grond laat oopskeur het en hulle ingesluk het (16:31-33).

Deur die druk van die manskappe is Saul se beslissing omgedraai om Jonathan, wat eintlik tot die oorwinning oor die Filistyne gelei het, dood te maak omdat hy onwetend teen sy pa se dwase besluit dat niemand iets mag eet nie, wel heuning geëet het (1 Samuel 14:45).

Saul en sy manskappe het egter ná hulle oorwinning oor Amalek, téén die opdrag van die Here, alles wat mooi is vir hulleself gevat (1 Sam.15:16) en toe hy gekonfronteer word, die skuld op die manskappe gelê (15:21). Dit was die laaste strooi wat die Here laat besluit het om sy koningskap van hom af te neem (15:35).

Die Jode wat uit die Griekssprekende wêreld in Jerusalem kom woon het, was nie opgewasse teen die wysheid van Stefanus wat hy van die Heilige Gees ontvang het in sy redenasies met hulle nie. Hulle sweep die volk en die familiehoofde en die skrifgeleerdes op. Hulle gryp hom bring hom met ‘n valse beskuldiging voor die Joodse Raad wat hom uit die stad sleep en stenig (Handelinge 6:8-7:60).

Die Jode van Antiogië en Ikonium kom as groep om die inwoners van Listra na hulle kant toe oor te haal en hulle stenig vir Paulus. Hulle sleep hom buite die stad onder die indruk dat hy dood is (Handelinge 14:19).

Onder aanvoering van die eienaars van die slavin wat Paulus van haar waarsêersgees verlos het, word die skare teen Paulus en Silas opgemaak, sodat hulle sonder verhoor geslaan en in Filippi se tronk gegooi word (Handelinge 16:16-24).

Die Jode wat afgunstig word, omdat so baie mense by Paulus en Silas aangesluit het in Tessalonika, sit ‘n betoging teen Paulus en Silas op tou met die hulp van ‘n klomp nikswerd leeglêers, sodat Paulus en Silas in die nag moes vertrek (Handelinge 17:4-10).

Toe baie mense van Efese die evangelie aanneem en hulle afgodsdiens los, roep Demetrius die silwersmede bymekaar en hulle skreeu dat hulle godin Artemis groot is, sodat die hele stad in oproer kom en na die amfiteater stroom om saam te skreeu. Die stadsklerk kry dit reg om die skare tot bedaring te bring met logiese argumente wat hulle dwaasheid aantoon (Handelinge 19:18-40).

Paulus se raad vir gelowiges wat vervolg word, is om hulle vervolgers te seën en nie te vervloek nie (Romeine 12:14; vgl. ook vv 17-21). Seën beteken dat jy die Here vra om sy guns aan so ‘n persoon te gee. Vervloek beteken om God te vra om sy guns aan so iemand te onttrek – dit moet ‘n gelowige nie doen nie. Die woord van Paulus stem ooreen met Jesus se opdrag in Matteus 5:38-48 wat die Ou Testamentiese vergelding van Deuteronomium 19:21 vervang met ‘Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg (v44), vergelyk ook Lukas 6:27-29.

Om die Korintiërs te motifeer om geld in te samel vir die armes in Jerusalem, gebruik Paulus die voorbeeld van die gemeentes van Masedonië se oorvloedige vrygewigheid al was hulle baie arm (2 Kor.8:1-9).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die doel van geweld

Die doel van geweld – Francois Malan

Lorinda vra:

Ek gaan `n Bybelstudie aanbied oor wat die doel van geweld is en hoekom keer God dit nie. Ek is op soek na ekstra inligting hieroor en teksverse wat dalk meer lig op hierdie vraag kan gee.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Geweld is die gebruik van krag, maar ook die misbruik van krag. Dit kan fisiese krag wees of die krag van die woord of van optrede. Die Bybel is vol geweld wat God toepas deur die natuurkragte of deur mense se fisiese krag, woord-krag en optrede wat Hy gebruik, veral as straf en tugtiging. Die Bybel het ook baie verhale en woorde van die misbruik van mag deur mense wat dink dat hulle god is as hulle ‘n bietjie krag het en dit teenoor ander mense misbruik om hulle krag wat hulle van God ontvang het om ander te dien, te gebruik om hulle self te laat geld om hulle minderwaardigheid te bedek.

Die tweede skeppingsverhaal van Genesis vertel reeds van God se straf op die mens se oortreding deur soos God te wil wees (3:14-19), dat die mens uit die tuin van Eden uitgedryf word, en die tuin bewaak word met gerubs en ‘n vlammende swaard (3:24). Maar dit is ook uit genade, sodat die mens nie vir altyd in sy sonde sou bly lewe nie (3:22).

In jaloesie en woede slaan Kaïn sy broer dood, word van sy grond af verdryf, maar sy lewe word uit genade beskerm (4:5-15).

Die boosheid van die mensdom maak dat God die mense en diere van die aarde af wegvee en uitwis deur die vloed, maar Noag en sy gesin word uit genade gespaar (6:5-8:22). Die Here verstrooi die mense wat uit Noag voortkom oor die hele aarde, wat weier om sy opdrag uit te voer om die aarde te gaan bewoon, en vir hulle ‘n naam wil maak met ‘n stad wat aan die hemel reik (11:1-9).

Die Here verwoes die gebied en mense en plante in en rondom Sodom en Gomorra met vuur en swael oor hulle sondige lewe wat selfs Lot se besoekers met geweld wil verkrag (19:1-25; vgl. Judas 7), maar Lot word uit genade gespaar.

Josef se broers gooi hom met geweld in ‘n put en verkoop hom as slaaf na Egipte, waar die Here hom gebruik om volkere van honger te red (17,41,42).

Die Egiptenaars laat die Israeliete dwangarbeid verrig (Eks.1), Moses slaan ‘n Egiptenaar dood wat sy mense dwangarbeid laat verrig en moet vlug (Eks.2). Die Here straf Egipte met 10 plae wat uitloop op die dood van hulle eerstelinge (Eks.7-12), verlos sy volk uit slawerny en laat die mag van Egipte in die see verdrink (Eks.14).

Die Leviete slaan 3,000 goue kalf-aanbidders dood in opdrag van Moses (Eks.32).

‘n Vuur van die Here verteer die twee seuns van Aäron wat ongeoorloofde wierook vir die Here aangebied het (Lev.10). Korag, Datan, Abiram, 250 mans en hulle gesinne word lewend deur die aarde ingesluk oor hulle opstand teen Moses, en 14,700 van hulle ondersteuners sterf deur die plaag waarmee die Here hulle protes straf (Num.16). Die Israeliete verslaan die Kanaäniete in die Suidland wat teen hulle kom veg het, en verwoes hulle stede (Num.21). Vgl. die oorwinnings oor Sihon en Og (Num.21; Deutr.2,3). 24,000 Israeliete wat Baäl-Peor, die god van die Midianiete gedien het, word deur die stamhoofde van Israel opgehang in opdrag van die Here (Num.25). Daarna word al die Midianitiese mans, seuns en vrouens wat reeds met mans gemeenskap gehad het, in opdrag van die Here doodgemaak (Num.31). Die boeke Josua en Rigters is vol oorlog en geweld in opdrag van die Here, so ook 1&2 Samuel onder Saul en Dawid, 1&2 Konings onder Salomo en die twee rye konings van Juda en Israel (vgl. ook 2 Kon.2:24 se 24 kinders wat deur die bere verskeur word nadat hulle met Elisa gespot het). 1&2 Kronieke herhaal die geskiedenis met al sy geweld, van Adam tot by die laaste van Juda se konings. In Ester word baie geweld gepleeg teen en deur die Jode (hfs.9).

In Jesaja word die Assiriërs die werktuig van die Here se toorn, en hulle word daarna deur die Here uitgewis oor hulle vernietiging, trots en selfversekerdheid (10).

In Jeremia 25 stel die Here vir Nebukadneser van Babel as aan as sy dienaar om Juda en die nasies van hulle omgewing uit te roei en die room in ballingskap weg te voer. Jeremia word word as verraaier in ‘n put gegooi (37,38) en later teen sy wil na Egipte weggevoer (43).

Die kleiner profete waarsku teen afgodsdiens en ongeloof, en voorspel die straf van die Here wat met geweld sal geskied, maar ook die geweld wat mense teenoor mense pleeg (bv. Israel se geweld: hulle verkoop die swakkes en armes Amos 2:6, pa en seun verkrag dieselfde meisie 2:7, hulle laat nasireërs wyn drink en belet profete om op te tree 2:12; teen gesinsgeweld 3:10,11; teen ryk vroue wat die armes verdruk 4:1, teen die wat die reg vertrap 5:7, teen mense wat die armes vertrap 5:11, 8:4, en verkoop 8:6. Hosea wys op die geweld in die tien stamme van Israel, bv. 4:2,14; 5:6,7; 7:1,5; 9:1; 14:1).

In Matteus 2 maak Herodes die Groote al Betlehem se babaseuntjies dood om die beloofde Gesalfde uit te wis. Johannes die Doper noem die Fariseërs en Sadduseërs slange (3:7), hy word deur Herodes Antipas in die tronk gegooi en sy kop word afgekap (4,14). Jesus sê dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, wat ter wille van Hom beledig, vervolg en valslik beskuldig word, word deur God geseën (5:10,11). Jesus beskou dié wat kwaad word en ander uitskel as moordenaars, ook hulle wat mense uitskel en vir mense kwaad word (5:21-22). As iemand jou klap, draai die ander wang (5:39). As iemand jou dwing om sy goed een kilometer te dra, dra dit vir hom twee kilometer (5:41). Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg (5:44). Vals profete is in werklikheid verskeurende/wrede wolwe (7:15). Die besetenes van Gadara was baie gevaarlik (8:28). Jesus voorspel dat sy volgelinge in die sinagoges gegésel sal word (10:17). Christus het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard; gesinslede sal twis en mekaar doodmaak oor geloof in Christus (10:21,34-36).

Die NAV het Mat.11:12 se geweld en geweldenaars wegvertaal. Dit verwys moontlik na baie mense wat met geweld of militêre mag dít wat húlle as die regering van God op die aarde beskou, wil vestig, of die koninkryk vervolg en beperk. Die koninkryk van God ly onder geweld, en geweldenaars plunder dit. Johannes die Doper word in die teks se verband ingesluit by dié van die koninkryk wat daaronder ly (vgl.7:12 dat mense met hom gemaak het wat hulle wou, en so sal die Seun van die mens ook deur hulle mishandel word. Mt 13:19 sê die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is). Die ooreenstemmende gedeelte in Lukas 16:16 gebruik die woord ‘geweld’ in ‘n ander konteks, nl. van die sending, ‘en elkeen dring daarin’, in die koninkryk in, sonder ‘n hindernis).

In Mat.23:13-36 spreek Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs baie skerp aan. In 23:13 sê Jesus dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs die deur van die koninkryk vir die mense toesluit, en in v33 noem Hy hulle ‘n addergeslag op pad na die hel toe. Mat.25:24 se harde man verwys na iemand wat met geweld optree. 25:41 sê die ongelowiges/onbarmhartiges sal in hel se vuur gewerp word. Jesus word gegésel (27:26) en gekruisig (27:35).

Lukas vertel dat die mense van Nasaret Jesus van die krans wou afgooi (4:29); dat rowers ‘n man op pad na Jerigo halfdood geslaan het (10:30), dat Jesus vir sy dissipels ‘n swaard laat koop om hulle te verdedig op hulle sendings 22:36.

Johannes 2:15 vertel dat Jesus ‘n sweep gemaak het, die handelaars en hulle diere uit die tempelterrein uitgedryf het en hulle tafels omgekeer het omdat hulle die huis van sy Vader ‘n besigheidsplek gemaak het; 8:3 vertel van die skrifgeleerdes en Fariseërs se behandeling van ‘n vrou wat in owerspel betrap is; die blindgeborene wat genees is word uitgeskel en uitgeban uit die sinagoge omdat die Jode deur hulle ongeloof hom nie kon antwoord nie 9:34. Petrus kap die oor van die hoëpriester se slaaf af 18:10, ‘n wag van die hoëpriester klap Jesus 18:22.

Petrus en Johannes word deur die Joodse Raad gedreig omdat hulle Christus verkondig (Hand.4:21). Ananias en Saffira val dood neer omdat hulle leuens vertel (5:5,10). Die hoëpriester en sy ondersteuners is afgunstig op die apostels wat baie mense gesondmaak en stop hulle in die tronk, maar toe die bevelvoeder van die tempelwag hulle gaan haal vir die verhoor doen hulle dit sonder geweld, bang dat die mense hulle onder die klippe sal steek (5:18,26), maar in 5:40 word hulle eers goed geslaan voor hulle los gelaat word. Stefanus word gegryp en voor die Joodse Raad gesleep (6:12) en met klippe doodgegooi omdat hy Christus verkondig (7:58). Saulus laat Christen mans en vroue tronk toe sleep (8:3). Herodes Agrippa mishandel gemeentelede en laat Jakobus met die swaard doodmaak vir hulle geloof (12:1), en sit Petrus in kettings in die tronk (12:6). ‘n Engel van die Here tref Herodes met wurms en hy sterf omdat hy mense toelaat om hom ‘n god te noem (22-23). Vir die ouderlinge van Efese sê Paulus daar sal wrede wolwe in die gemeente inkom wat die gemeente probeer verlei (20:29). Hand.21:35 se geweld is ook wegvertaal: die soldate het Paulus gedra vanweë die geweld van die skare wat hom wou doodmaak.

Die woord vir hooghartig in Rom.1:30 impliseer ‘n houding wat lei tot mishandeling en gewelddade teen ander. 12:14 sê ons moet ons vervolgers seën, 12:17 nie kwaad met kwaad vergeld nie, 12:19 nie wraak neem nie, maar dit aan die oordeel van God oorlaat. 13:4 die owerheid het die reg om die kwaaddoener te straf.

1 Kor 3:3 sê twis kom omdat ons nog wêreldse mense is (vleeslik = selfsugtig). Die woord vir bedrieërs in 1 Kor.6:10 kan ook as geweldenaars vertaal word. So kan vervolgings in 2 Kor 12:10 ook vertaal word as mishandeling wat fisiese geweld insluit, vgl. 2 Kor 11:25 dat die Jode vir Paulus 39 houe met die kats gegee het, hy driemaal lyfstraf gekry het (vgl. Hand.16:23) , een maal met klippe gegooi is omdat hy in Christus glo en Hom verkondig (vgl. Hand.14:19).

Galasiërs 5:19-21 sê rede vir vyandskap, woede, rusies, ens. is die mens se sondige natuur. Efesiërs 4:31 waarsku teen verbittering, opvlieëndheid, woede, vloek en skel, 5:4 ontug en gierigheid plaas jou buite die koninkryk van God. Kolossense 3:5,6,8 sien onsedelikheid, wellus, gierigheid, woede, haat, nyd as aardse dinge wat die straf van God ontvang. 3:19 waarsku mans om nie die lewe vir hulle vrouens bitter te maak nie. 1 Tessalonisense 1:4,6 vertel van die gemeente wat vervolging en lyding moet verduur vir hulle geloof, en dat God die vervolgers sal straf.

1 Tim.3:3 en Titus 1:7 se woord wat vereis dat ‘n ouderling nie ‘n rusiemaker moet wees nie, is eintlik dat hy nie ‘n bakleierige bullebak (boelie) moet wees wat ander dreig en geweld aandoen nie.

In hierdie laaste tye waarin ons lewe sal mense wreed wees omdat hulle God nie ken nie (2 Tim.3:2-3). Die swaar tye van 2 Tim.3:1 is eintlik gewelddadige en gevaarlike tye.

Hebreërs 11:35-36 vertel van gelowiges wat doodgemartel is, lyfstraf en gevangenis beleef het, met klippe doodgegooi is, in stukke gesaag is, met die swaard vermoor is, mishandel was oor hulle geloof in Christus.

Jakobus 3:16 sê gemene dade kom uit naywer en selfsug, 4:1,2 selfsugtige begeertes en jaloesie lei tot moord, rusie en bakleiery, 5:4-6 rykes hou hulle werkers se loon agter en hulle vermoor onskuldiges.

Openbaring 18:21,24 sê Babilon sal met geweld neergegooi word omdat hy skuldig is aan die bloed van die profete, die gelowiges en almal wat op die aarde doodgemaak is. 16:18-21 praat van weerligstrale, ‘n geweldige groot aardbewing, groot haelstene wat op die mense van Babilon en die stede van die nasies val as die Here se straf. 20:10 die duiwel word in die poel van vuur en swael gegooi vir dag en nag pyniging, vgl. ook v15 en 21:8.


En hoekom keer God dit nie?

Hy het die mens as ‘n verantwoordelike wese gemaak, en die opdrag gegee: Jy mag nie doodslaan nie: Eksodus 20:13; 21:12-36; Lev. 24:14-23; Deutr. 5:17; 27:24,25; Matteus 5:21-22; Romeine 13:9-10.

Die mens wat nie gehoorsaam is aan God se woord nie en sy opdrag oortree, word deur die Here gestraf op sy tyd, Deutr.32:35; Hosea 10:10; Spreuke 24:12; Rom.12:19; 2 Tes.1:6-10; 2 Tim.4:14; Hebr.10:30-31.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




God verdeel die mense

God verdeel die mense – Francois Malan

Deon vra: 

Volgens wat ons lees in die Bybel het die Here by Babel die mense verdeel. Soos wat ek dit vertolk was dit “verdeel” in taal en kultuur. As ek dit reg verstaan. Dan is dit verkeerd van ons as mens vandag om dit wat God verander het, geskei het te probeer terug verander deur te sê daar bestaan nie so iets soos verskillende mense en kulture en tale nie. Verstaan mooi ek is nie n rassis nie.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die skrywer van Genesis plaas dikwels twee verhale na mekaar om verskillende tradisies en invalshoeke weer te gee. So is daar twee skeppingsverhale: 1:1-2:3 met as laaste skepping die mens, man en vrou, as God se verteenwoordiger, as beeld van God, deur wie sy aarde bewerk moet word en die diere regeer word, en die skepping loop uit op die instelling van die rusdag (die invalshoek van ‘n priester). Die tweede verhaal, 2:4-24, begin met die skepping van die mens wat die tuin moet bewerk en bewaak en aan elke lewende wese sy naam gee, daarna die skepping van die vrou, hulle ongehoorsaamheid en uitsetting uit die tuin (die invalshoek van ‘n landbouer).

So is daar ook twee verhale na mekaar oor die mense se verspreiding oor die aarde. In hoofstuk 9 word beskryf hoe die mensdom uit die een gesin van Noag ontwikkel het ná die sondvloed: die nageslag van Jafet versprei na die noorde in stamme en nasies elkeen met sy eie taal (v5); die nageslag van Gam versprei na die suide in hulle eie stamme en tale in hulle eie lande en onder hulle eie nasies (v20); die nageslag van Sem versprei in die middel tussen die ander twee, ook met hulle eie stamme en tale, in hulle eie lande en onder hulle eie nasies (v32). Uit die seuns van Noag het die stamme oor die aarde versprei volgens hulle herkoms onder hulle eie nasies (v32). Hulle word bekendgestel as almal familie van mekaar wat die opdrag van God aan die eerste mense vervul ‘wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit’ (1:28). Die opdrag is aan Noag herhaal na die oorstroming van die aarde (9:1).

Genesis 11:1-9 beskryf egter die verspreiding van die mense as God se straf. God het gesê die mense moet oor die aarde versprei, maar hulle probeer bymekaar bly in die stad wat hulle vir hulleself bou. Hulle wil ‘n toring bou wat tot aan God se woning in die hemel raak en vir hulleself so ‘n naam maak. Adam en Eva wou ‘soos God wees’ (3:5,6), hulle eie god wees, so ook die mense van Babel. Die Here bring verwarring in hulle taal sodat die een nie die ander kan verstaan nie, en Hy verstrooi die mense oor die hele aarde, sodat die afstammelinge van Noag nie kan voortgaan met hulle anti-goddelike planne nie. Soos Adam en Eva ongehoorsaam was aan die woord van die Here, lei Babel se mense se poging om onafhanklik van God te word tot God se oordeel, met groot en voortdurende gevolge vir die mensdom.

Die woord babel beteken ‘poort van god’ maar dit word balal verwarring. In plaas van die pronkstuk van die mens se kultuur word Babel die groot simbool van die mens se mislukking, toe hy op sy eie en teen sy Skepper se opdrag begin bou. Daarmee eindig die voorgeskiedenis van die wêreld wat met hoofstuk 1 begin, en waarmee die skrywer verklarings probeer gee vir die mens se toestand.

Dwarsdeur die Bybel word Babilon gesien as die beliggaming van menslike hoogmoed en godloosheid, wat deur die Almagtige God veroordeel word (vgl. die spotlied van Jesaja 14:4,13-15; Jeremia 50-51). In Openbaring 18 is Babel die beeld van menslike trots en boosheid.

Vir Sefanja sê die Here: ‘Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man (letterlik: met een skouer) My sal dien’ (Sef.3:9). Daarmee word ‘n einde aan die taalverwarring in die vooruitsig gestel.

Op die Pinksterdag, met die uitstorting van die Heilige Gees, praat Jesus se dissipels oor die groot dinge wat God gedoen het, en mense uit baie tale hoor dit in hulle eie taal, as ‘n teken dat elkeen wat die Here aanroep gered sal word (Handelinge 2:6-12,21).

Jesus bid vir almal wat tot geloof in Hom kom: ‘dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het’ (Johannes 17:21). En sy nuwe gebod aan almal wat in Hom glo is: ‘julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê’ (Johannes 13:34).

Paulus sê vir die gemeentes in Galasië: ‘Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een’ (Galasiërs 3:26-28).

Openbaring 21:26 voorsien dat die skatte en rykdom van die nasies in die nuwe Jerusalem ingebring sal word.

Die bestaan van volke en nasies word nie in die Bybel ontken nie, maar van die gelowiges word gevra dat hulle mekaar sal liefhê soos Christus ons liefgehad het, ook oor die grense van volk en nasie. Paulus sê: ‘…wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie (1 Korintiërs 10:31-32). Hy voorsien dat Jode en Grieke saam nagmaal gebruik. Dit is ons gemeenskap met die bloed en liggaam van Christus. Al is ons baie lede, is ons een liggaam wat aan Christus behoort (10:16-17), kinders van een Vader, wat deur die Heilige Gees in elke gelowige woon (Efesiërs 4:4-6).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Gebedsverhoring

Gebedsverhoring – Francois Malan

Fia vra:

Wat verhinder dat ons bid? Maak gebed enige verskil in die lewe? Gebedsverhoring – hoeveel kan daaraan toegeskryf word?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1.  Wat verhinder dat ons bid?

Gebed is ‘n gesprek met ons hemelse Vader. In sy omsendbrief wat hy o.a. aan die Efesiërs geskryf het, sê Paulus: in ons verbondenheid met Christus Jesus en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan (Efesiërs 3:12). Vir die gemeente in Filippi sê hy: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle vestand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:6-7).

Vir die gemeente in Tessalonika sê Paulus (1 Tessalonisense 5:16-19): die mense wat in Christus Jesus glo moet lewe ‘soos God van hulle verwag’, dat die wil van God vir ons ten slotte meer aanneemlik word as ons eie. God het deur sy Gees in ons kom woon om ons die krag te gee om te lewe soos Hy wil: naamlik in vreugde, gebed en dankbaarheid. Daarom moet ons nie ‘die Heilige Gees teenstaan nie’ (letterlik: uitblus nie; In Efesiërs 4:30 sê hy ‘En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie).

‘Wees altyd bly’, God verwag van ons om in alle omstandighede bly te wees, selfs onder vervolging soos wat die Tessalonisense gely het (1:6; 2:14) en in rou oor hulle geliefdes wat gesterf het (4:13,18). Ons vreugde is nie afhanklik van ons omstandighede nie, want ons bly voortdurend bly dat God ons aan sy Seun Jesus verbind het en so as sy kinders aangeneem het (Romeine 8:14-17).

‘Bid gedurig’. Die opdrag tot volhardende gebed kom herhaaldelik by Paulus voor (Romeine 12:12; Kolossense 4:2; Efesiërs 6:18; vgl. Jesus se opdrag in Lukas 18:1). Hiermee word gebed uitgebrei oor die hele lewe, en ons hele lewe word geleef in gebed, saam met die Gees van God wat permanent in ons kom woon het. Ons moet van Hom afhanklik word om ons te lei in alles wat ons dink en sê en doen, sodat ons in ‘n voortgaande gespreksgemeenskap met God sal lewe.

‘Wees in alle omstandighede dankbaar’ (vgl. Romeine 8:35-39), in voorspoed en teenspoed. Dank God vir alles wat oor jou pad kom en met jou gebeur. Verrig ook jou daaglikse werk met toewyding aan jou werk om ander mense daarmee te dien as jou dank aan God vir jou lewe wat Hy in sy hand hou en vir jou sorg, ook deur jou werk (vgl. 2 Tessalonisense 3:10 en Matteus 6:11 – ons moet werk en ons brood uit die hand van God vra).

Jesaja 59:2 sê: ‘Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie’ en dan noem hy ‘n lang lys van sondes van die Jode wat teruggekom het uit die ballingskap. Dit is dié sondes wat verhinder dat hulle bid en dat die Here hulle hoor (vgl. ook die lys in Galasiërs 5:21-22).

Wat ons verhinder om te bid is ‘n oneindige lys, alles dinge wat om ons self draai, nie om God nie: ons omstandighede: te besig om te bid in voorspoed, twyfel in teenspoed, die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en begeerte na allerhande dinge en besittings (Markus 4:19); ons selfgesentreerdheid, dat alles wat ons dink en doen om ons self draai: selfgenoegsaam sonder om God se versorging raak te sien of daarom te vra, vertroue op mense en nie op God nie (Psalm 146:3-5), laksheid en luiheid, ens.

As ons God liefhet met ons hele hart sal ons graag met Hom praat. As ons ons naaste liefhet soos onsself sal ons graag vir hom/haar voorbidding by die Here (Matteus 22:37-40). Ons liefdeloosheid verhinder ons om te bid.


2.  Maak gebed enige verskil in die lewe?

Jakobus 4:1-3 sê dat onderlinge stryd en rusies kom van ons selfsugtige begeertes . Ons wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg. Ons is jaloers op ander se goed en kan dit nie in die hande kry nie, en dan maak ons rusie en baklei ons. Ons kry nie omdat ons nie bid nie. En as ons bid ontvang ons nie, omdat ons verkeerd bid. Ons wil net ons selfsugtige begeertes bevredig. As ons begin bid, ook vir ons vyande (Matteus 5:43-48) verander ons wraakgedagtes, jaloesie en lus om rusie te maak en te baklei, en kan ons begin om in vrede te lewe met alle mense sover dit van ons afhang (Romeine 12:18,19).

Volgens Matteus 7:7-11 het Jesus gesê: Vra, en vir julle sal gegee word…hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?’ Jesus nooi sy volgelinge om te vertrou op die getrouheid van hulle hemelse Vader wat hulle sal versorg. Die goeie gawes sluit die daaglikse behoeftes van sy kinders in, en sluit ook die ewige seëninge van sy koninkryk in. In Lukas 11:13 word nog meer gesê: ons Vader in die hemel sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra. Dit beteken dat God self by ons sal wees in alle omstandighede om ons by te staan en te lei.

In Matteus 21:22 sê Jesus: ‘…as julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.’ Die belofte wys na die krag wat beskikbaar is vir Jesus se volgelinge om hulle roeping te vervul om vrug te dra in sy koninkryk.

In Johannes 15:7,8 sê Hy: ‘As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.’ Die mens wat Jesus se woord glo kan seker wees sy gebede word beantwoord, want sy gebede sal beheers wees deur die begeerte om God se koninkryk te dien op aarde (vgl. 14:12-14).

En in Johannes 16:23-24 ‘…Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.’ ‘In my Naam’ beteken twee dinge: dit verwys na dinge wat ons vra vir sy saak en sy heerlikheid, en na die Vader wat in Jesus se Naam gee, op grond van die versoening wat Hy bewerk het en ons verhouding tot Hom. Die belofte rus op wat Jesus doen om God se reddende almag vir ons beskikbaar te maak as ons daarom vra in gebed..


3.  Gebedsverhoring – hoeveel kan daaraan toegeskryf word?

1 Joh.5:14 sê: ‘En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.’ Ons vrymoedigheid om na God te gaan spruit uit ons aktiewe verhouding van ‘n lewe saam met ons Vader. Om te vra na sy wil beteken dat ons wil omgebuig word om sy wil te doen. Gebed is nie ‘n geveg met God nie, maar ‘n reaksie wat ons wil verander om te doen wat Hy wil, nie om sy wil te verander om ons wil te doen nie (vgl. Jesus se worstelstryd met Homself in Getsemane; Matteus 26:39,42,44). Daarvoor het die Heilige Gees in ons kom woon om ons in ons swakheid, dat ons nie weet wat en hoe ons moet bid nie, by te staan. Hy pleit vir ons by God volgens die wil van God, dat ons almeer gelykvormig sal word aan die beeld van Jesus en sy selfopofferende liefde (Romeine 8:26-29).

Jakobus 5:16-18 sê dat die gebed van ‘n gelowige ‘n kragtige uitwerking het, en gebruik die voorbeeld van Elia, ‘n mens soos ons, ‘n mens wat opreg en ernstig gebid het in sy stryd teen die hemeltergende sondes van koning Agab en sy vrou Isebel (1 Konings 17:1) en dit het vir drie jaar nie gereën nie, en toe hy weer bid het die Here dit weer laat reën in die land (1 Konings 18:1,45). Maar die Here kan ook nee sê vir wat ons bid (2 Korintiërs 12:8-9). Jakobus 5:11 verwys na Job se volharding in sy lyding en waarop dit uitgeloop het, met die opmerking: Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

Jesus waarsku teen gebede wat die eer van mense soek en sê: as jy bid, gaan na jou binnekamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon (Matteus 6:5-6).

 

Skrywer: Prof Francois Malan