Is God teenwoordig in die alledaagse?

Is God teenwoordig in die alledaagse? – Jan van der Watt

Francois vra:

Die bestaan van kousaliteit in die fisika het vervaag met die begin van die kwantum-fisika – die oorsaak-gevolg verhouding het verdwyn. Hedendaagse teologiese uitsprake wil dit hê dat God nie werklik meer teenwoordig is in die alledaagse nie, bv. dat my getrouheid aan beginsels nie noodwendig lei tot ‘n lewe van vrede nie. Wat is die jongste argument in die verband?

Antwoord:

Prof Jan van der watt antwoord:

Daar is verskillende fasette in die vraag van Francois. Eerstens die idee dat getrouheid aan beginsels na ‘n lewe van vrede lei. Dit is inderdaad ‘n teologie wat op die basis van kousaliteit werk: as ek iets goeds doen, moet God  van sy kant weer vir my iets goeds doen. Die teologie, waarvan daar wel spore in die Ou Testament is, word in die Bybel self kwaai gekritiseer. Job en die Prediker sê beide dat dit nie so maklik is nie. Soms loop dinge verkeerd, al is jy die opregste en eerlikste mens in die wêreld. Neem selfs maar vir Jesus – Hy was sondeloos en Hy is gekruisig. Paulus het alles opgeoffer vir Jesus, maar ten spyte daarvan het dit nie altyd goed met hom gegaan nie. Hy is baie vervolg en gemartel. Openbaring vertel ook hoe die gelowiges wat getrou leef, vervolg en gemartel gaan word (lees bv. hoofstuk 12-13). Ons getrouheid aan die Here is nie om iets te verwerf nie, maar om daarmee te sê dat ons aan Hom behoort. Omdat ons vir Hom liefhet en nie omdat ons ‘n onmiddellike beloning gaan ontvang nie, tree ons getrou op. Die lewe kan ons soms maar sleg behandel, maar ons bly getrou, omdat ons die Here liefhet en Hy vir ons sal sorg.

Die tweede deel van die vraag of God nie meer in die alledaagse lewe teenwoordig is nie. Die antwoord vir Christene is natuurlik eenvoudig. God is oral en dus ook in die alledaagse lewe teenwoordig. Die vraag is egter hoe en waar God teenwoordig is – moet Hy nie sorg dat dit goed gaan met die gelowiges wat goed doen nie. Ons het dikwels verkeerde verwagtings oor die teenwoordigheid van God – ons dink Hy moet soos ‘n towenaar alles wat verkeerd gaan regmaak en buitendien sorg dat daar met ons niks verkeerd gaan nie. Dit is egter nie hoe die Bybel daaroor praat nie. Die Bybel sê wel dat God oral is, maar nie dat Hy sorg dat alles altyd vir jou reg loop nie. Dit werk nie so nie. Die sonde is steeds daar en soms ly ons as gevolg van ons eie sonde. Byvoorbeeld, as jou ouers vir jou sê dat jy nie te veel alkohol moet gebruik nie maar jy doen dit en jy word naar en kry kopseer dan is die slegte gevolge jou skuld, byna soos straf op jou sonde. Jy kan ook ly vanweë ander se sonde. Byvoorbeeld, as iemand te vinnig ry en jy is in die pad, tref die motor jou ook. Maar die troos is dat God met die sonde gaan klaarspeel. In die nuwe Jerusalem gaan die gelowiges vergoed word vir alles wat hulle gely het (Op 21). So word hulle uiteindelik vergoed vir hulle getrouheid.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Bybel en intellektueel minder begaafde lesers

Die Bybel en intellektueel minder begaafde lesers – Jan van der Watt

Gerard vra:

Ek sou graag wou weet of daar iemand is wat n studie gedoen het ‘Hoe om die boodskap van Verlossing te verduidelik aan minder intelektuele begaafde leerders.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ek weet nie van so ‘n studie nie. Wat ek wel kan voorstel is dat van die Bybel vir Dowes gebruik gemaak word. Daar is die moeilike konsepte eenvoudig gestel. As die taal gevolg word, mag dit dalk help.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Steur ‘n Christen hom aan towery?

Steur ‘n Christen hom aan towery? – Jan van der Watt

Marise vra:

Ek het my eie besigheid. Van my swart werknemers het vir my kom se ek word “getoor” en dat ek baie versigtig moet wees. Is hierdie dinge ‘n werklikheid? Moet ek as Christen my daaraan steur. Ek voel ongemaklik en wil my nie oopstel vir so iets nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

‘n Christen hoef nie bang te wees vir towery nie, nie as hy of sy naby die Here leef nie. Die rede is eenvoudig. God het sy Heilige Gees vir ons gegee en geen gees of mag is sterker as die Gees nie. Deur die krag van die Gees kan aanslae dus teengegaan word. En die Gees van God is nie sommer net by ons nie, maar is in ons (1 Korintiërs 3:16). As ons dus naby die Here leef en elke dag uit sy krag leef deur sy wapenrusting aan te trek, hoef ons nie die aanvalle te vrees nie (Efesiërs 6:10-20). Die aanvalle mag daar wees, maar ons hoef nie te vrees nie.

Op ‘n ander vlak moet ‘n mens jou nie laat intimideer nie. Daar gebeur maar elke dag slegte goed met ‘n mens en as jy begin glo dit is bose magte of towery wat dit veroorsaak is jy verlore. Jy moet besef wat dan gebeur. Jy maak jouself eintlik broos en bang vir die dinge omdat jy self die dinge wat met jou gebeur interpreteer as komende van die towery of bose af. Beveg sulke gedagtes elke dag met die wete dat God sterker is as al die bose magte en towery. Hou sy hand styf vas.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die ewige lewe

Die ewige lewe – Francois Malan

Catherine  vra:

Ek wil graag die volgende weet: Vir wie is die Ewige Lewe Beskore? Verdien ons die Ewige Lewe? Kan ons goeie dade ons red? Hoekom moes Jesus kom mens word? Die mens en sonde. Ek sal dit waardeer as u op die vrae kan antwoord, Skrifverwysings is ook welkom.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

 

1.1   Vir wie is die ewige lewe beskore?

Elkeen wat in Jesus glo.

Joh. 3:16: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Joh.3:36 Wie in die Seun van God glo het die ewige lewe…

Joh.4:14 ‘ …die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.

Joh.5:24 Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.

Joh.6:47 Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.

Joh.6:54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

Joh.10:27-28  My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Joh.12:25 ‘…wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.

Joh.17:2,3 U het Hom immers die volmag oor die hele aarde gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

 

1.2   Verdien ons die ewige lewe?

Nee! Dit is ‘n gawe van God se genade aan dié wat in Christus Jesus glo as die Seun van God wat vir ons sonde gesterf het en dat ons saam met Hom opgewek is om vir God te lewe deur God en ons medemens lief te hê.

Efesiërs 2:8-10 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Romeine 6:22-23 ‘ …julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

1 Timotheus 1:15-16 Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste (sê Paulus). Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.

 

1.3   Kan ons goeie dade ons red?

Nee. Met ons goeie dade sê ons vir God dankie dat Hy ons klaar vir die ewige lewe gered het deur Jesus se offer aan die kruis, en dat Hy ons aangeneem het as sy kinders vir wie Hy lief is, en in ons werk deur sy woord en sy Gees dat ons Hom en ons medemens sal liefhê.

Daarvoor het Hy met sy Heilige Gees in ons kom woon om ons in staat te stel om die sonde te weerstaan, en te begin om soos sy kinders op die aarde te lewe. Die vrug van die werk van die Gees in ons is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).

Galasiërs 2:16 Ons weet tog dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

Romeine 8:11 Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Romeine 8:15 ‘ …julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader.

 

2. Hoekom moes Jesus kom mens word op aarde?

Om God en sy genade en waarheid aan ons te openbaar, ons van ons sonde te verlos, en van ons kinders van God te maak wat luister na sy woord en vir Hom lewe.

Johannes 1:1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord

was self God. 1:3,4 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding

wat bestaan het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié

lewe was die lig vir die mense. 1:9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan

kom na die wêreld toe. 1:12 almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo,

het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 1:14 Die Woord het mens

geword en onder ons kom woon…die enigste Seun van die Vader, vol genade en

waarheid.1:16-18 Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang…die

genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God ooit

gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het

Hom bekend gemaak.

Johannes 1:29 Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom, Hy sê toe:

‘Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.’

Hebreërs 1:1-3 In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders

gepraat deur die profete, maar in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat

deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam

van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld

van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy

die reiniging van sonde bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van

die Majesteit in die hoë hemel.

Hebreërs 4:14-15 Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele

gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan

hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp,

maar Hy het nie gesondig nie.

 

3. Die mens en sonde

Sonde is ons ongeloof, ons opstand teen God, die oneindige afstand tussen ons en God. Dit is ons ongehoorsaamheid teenoor God, ons verset teen sy genade, dat ons sonder God wil lewe, dat ons ons eie god wil wees deur net vir onsself te lewe.

 

  • Jesaja weet wat sonde is as hy voor God te staan kom. Toe hy ‘n gesig gehad het van die Here op sy troon, het hy uitgeroep ‘Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is, en nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige’ (6:5).
  • Toe Petrus die wonder van die groot visvangs op Jesus se woord sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: ‘Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens’ (Lukas 5:8)
  • Paulus sê vir die gemeentes in en om Efese wat uit die heidendom ontstaan het Vroeër…was julle sonder Christus, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
  • Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus (Efesiërs 2:12-13).
  • Sonde is dat ons al ons vertroue op die mens en sy vermoë stel en nie op God nie, sê Jeremia 17:5:
  • ‘So sê die Here: Daar rus ‘n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai.’
  • Paulus sê in 2 Korintiërs 5:15: Christus het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. Jesus het gesê: As iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem (deur te sterwe aan homself) en My volg (Lukas 9:23).
  • Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Markus 10:43-45).

 

 

Skrywer: Prof Francois Malan