Prediker

Prediker – Marius Nel

‘n Leser vra:

Ek is ‘n gereelde luisteraar van Vrydagoggend se program van Radiokansel. Kan jul asb. bespreek hoe mens die boek Prediker moet verstaan en die waarde van wysheidsliteratuur?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

INLEIDEND

PREDIKER AS WYSHEID?

Om die boek Prediker te verstaan, moet ‘n mens eers iets sê oor die tipe literatuur waarmee jy hier te doen het.

‘n Mens lees ‘n gedig anders as wat jy ‘n koerantberig lees, en ‘n storieboek anders as ‘n hofverslag. Vir elkeen van dié literatuursoorte geld ander reëls.

So is die Predikerboek ‘n tipe literatuur wat jy moet lees aan die hand van die reëls wat vir wysheidsliteratuur geld.

Wysheid kry jy in die Bybel in boeke soos Spreuke, Job en sommige van die Psalms. Die doel daarvan is om die leser te vertel wat ‘n mens moet doen en weet om jou lewe suksesvol en gelukkig te maak.

Wysheid in die Hebreeuse taalgebruik verwys na praktiese insig wat ´n mens in staat stel om te weet hoe om op te tree sodat dit almal se belange die beste dien. Die Ou Testament beskryf Josef, Josua, Dawid en Salomo, leiers, regters en raadgewers, die huisvrou en oues van dae as wyses. Wyses is dan ‘n besondere groep mense wat meer as die gewone mate van praktiese lewensinsig besit en dit dikwels ook op skrif stel.

Die mense wat oor wysheid gedink en geskryf het, het geglo dat die skepping en samelewing deur God georden is. Wanneer jy hierdie orde kan ontdek en jou lewe daarvolgens inrig, sal jy gesond en gelukkig wees. Jou verhoudingslewe sal nie ernstige probleme hê nie, ander mense sal van jou hou en selfs die natuur sal jou goedgesind wees.

Wanneer jy jou nie aan dié orde steur nie en doen net wat jy wil, gaan jy moeilikheid optel.

Goeie raad om jou lewe volgens God se orde in te rig kom in die vorm van spreuke voor. Om ‘n paar daarvan as voorbeeld te noem:

My seun, as goddelose mense

jou wil ompraat,

draai jou rug op hulle.

Hulle sal miskien vir jou sê:

“Kom saam met ons!

Kom ons gaan lê iemand voor

en vermoor hom.

Kom ons oorval iemand,

al het hy niks

aan ons gedoen nie.

Ons laat hulle verdwyn

net soos die graf

sy slagoffers insluk.

Ons sal afkom op baie dinge

wat waardevol is.

Ons sal ons huise vol maak

met alles wat ons buit.

Word een van ons!

Dan deel ons in die buit.”

My seun, met hulle

moet jy nie saamgaannie.

Bly ver van die pad

waarop hulle loop (Spreuke 1:10-15).

 

 

My seun, as jy borg staan

vir iemand

of instaan vir die skuld

van iemand wat jy skaars ken;

as jy gevang is deur wat jy sê,

vir jouself ‘n strik gestel het,

dan moet jy gou iets daaraan doen,

my seun!

Jy het beland in die mag

van iemand anders.

Gaan probeer jouself loskry.

Gaan dring by hom aan

om dit nietig te verklaar (Spreuke 6:1-3).

 

Wysheid is eintlik die produk daarvan dat jy jou gesonde verstand gebruik. Dit is wenke hoe om jou lewe so in te rig dat jy suksesvol en gelukkig sal wees. Wat belangrik is, is dat onderliggend aan wysheid die beginsel is dat God alles georden het. Wysheid bestaan daarin dat jy dié orde erken en eerbiedig. Dit kom baie keer voor:

 

Kennis begin met eerbied

vir die Here,

net dwase verag wysheid

en dissipline (Spreuke 1:7).

 

Hy (God) laat hulle wat reg leef,

sukses behaal.

Hy beskerm hulle

wat hulle pad suiwer hou.

Hy beskerm hulle

wat ‘n reguit pad loop.

Hy bewaak die pad

van sy getroue dienaars (Spreuke 2:7-8).

 

Mense wat oor wysheid geskryf het, was oortuig daarvan dat hulle weet hoe jy voorspoedig en gelukkig op aarde kan wees. Jy moet net die regte dinge doen. Die regte dinge verwys na dade wat inskakel by die orde onderliggend aan die skepping.

Jy moet die regte dinge ook op die regte tye doen:

‘n Luiaard ploeg nie

wanneer dit saaityd is nie.

Wanneer hy oestyd na iets soek,

is daar niks om te oes nie (Spreuke 20:4).

 

Dit beteken dat jy jou moet laat lei deur die eise wat omstandighede en tye aan jou stel.

Wysheid het probeer om die orde weer te gee in die vorm van kort spreuke. Die mens beleef die werklikheid nie as ‘n ongeordende warboel van indrukke nie maar kan met behulp van wysheid orde skep en bepaal hoe om reg op te tree. So kan jy wetmatighede ontdek wat jou in staat stel om jou lewe en gedrag te orden, en wat voorspoed en geluk tot gevolg het.

Dié wette geld soos natuurwette: dit is altyd en vir alle mense geldig. En wysheid wil jou leer om daarvolgens te leef:

Wysheid staan

en roep op die straat.

Op stadspleine roep sy hardop.

Sy roep by die plekke

waar mense bymekaarkom.

Sy praat by die ingange

van die stadspoorte.

Haar boodskap is:

“Hoe lank

gaan julle domkoppe

nog bly klou

aan julle domheid?

Hoe lankgaan die spotters

aanhou met hulle gepratery?

Hoe lankgaan die swape

kennis bly verwerp?

As julle reageer

op my berisping,

sal ek my gees

op julle uitstort.

Ek sal my woorde

aan julle bekendmaak” (Spreuke 1:20-23).

Deur te doen wat wysheid jou leer, sal jou lewe suksesvol en voorspoedig wees.

 

Om die Predikerboek te verstaan, moet jy weet dat die skrywer daarvan heelpad ‘n argument met hierdie mense aan die gang het wat glo dat hulle wysheid ontdek het en weet hoe om ‘n sukses van die lewe te maak.

Die skrywer van Job doen iets soortgelyks as die drie (later vier) vriende van Job onderskryf wat wysheidsleraars leer, dat dit altyd goed sal gaan met goeie mense en sleg sal gaan met slegte mense. Daarom vertel hulle vir Job: Dit gaan sleg met jou omdat jy sonde gedoen het! Jy moet jou sonde bely en laat staan, anders sal dit nie weer met jou goed gaan nie.

Job protesteer: Ek het nie sonde gedoen nie! God is onregverdig om my so te behandel. Ek eis dat Hy voor die hof gedaag word.

Dat God goeie mense met goeie dinge beloon en slegte mense vir hulle dade vergeld is deel van wysheidsleraars se onderrig.

Die Prediker doen dieselfde met die ander “ontdekkings” wat wysheid oor die geordendheid van die samelewing ontdek het.

Daarom is dit belangrik om deurgaans in gedagte te hou dat die Prediker in ‘n gesprek met wysheid is. Anders gaan jy nie verstaan waaroor dit in hierdie moeilike boek gaan nie.

Binne die Prediker se boek kom daar dikwels uitsprake voor wat verwarrend is omdat dit lyk asof die skrywer homself weerspreek, soos in Prediker 3:17 en 8:12-13. Daar sal telkemale hierna verwys word in die studie. Vroeër het navorsers gemeen dat sulke spreuke later in die teks bygevoeg is om die teks meer “ortodoks” te maak. Vandag aanvaar meeste navorsers eerder dat dit deur die oorspronklike skrywer neergeskryf is om sy eie siening te kontrasteer met die spreuke wat wysheid geleer het. Om sin te maak van die weerspreking moet ‘n mens dus eintlik by vertaal: Hulle het gesê (en dan die spreuk byvoeg wat in wysheid voorgekom het), maar ek sê (en dan die toevoeging van die skrywer oor die onderwerp byvoeg).

Prediker 12:12-14 kom nie uit die oorspronklike skrywer se pen nie maar is later waarskynlik bygevoeg om die boek bietjie meer in lyn te bring met wat deur Israeliete geglo is.

Omdat Prediker nie saamstem met die wysheid wat in Spreuke en ander gedeeltes van die Bybel voorkom nie, is die vraag dikwels gevra: hoe het dit gekom dat die boek in die Bybel opgeneem is?

Interessant genoeg is die boek van baie vroeg af as gesaghebbend aanvaar. Fragmente daarvan is by die Qumrangrotte ontdek waar sommige Jode van die tweede eeu vC tot die eerste eeu nC hulleself van Jerusalem afgeskei en in ‘n gemeenskap geleef het. Dit beteken dat die boek deur hulle gelees en bestudeer is. As die Jode ná die vernietiging van Jerusalem in 70 nC besluit watter boeke vir hulle leer en lewe gesaghebbend is, kom Prediker in die lys voor.

Later jare was daar Joodse rabbi’s wat gewonder het of dit die regte besluit was omdat Prediker se beskouing oor God, die mens en die dood nie in lyn is met die res van die Joodse Bybel (Ou Testament) nie, maar ook as gevolg van die weersprekings wat in die boek voorkom. Vergelyk byvoorbeeld Prediker 2:2 en 8:15 oor vreugde en plesier, of 4:2 en 9:4 oor die keuse van lewe of dood. Prediker 11:9 se raad bots ook duidelik met dié van Numeri 15:39 terwyl die refrein regdeur die boek, “kyk, alles was sinloos, ‘n gejaag na wind” duidelik nie kan verwys na ‘n mens se toewyding aan die Here nie.

Die vroeë Christene het nie probleme met die boek gehad nie. Van die derde eeu af is tekste wat moeilik verstaan word, allegories geïnterpreteer. So skryf Hieronimus dat Prediker waarde het om Christene te leer om die wêreld te verag terwyl Prediker 2:24 heenwys na die nagmaal.

Die boek se plek in die kanon is waarskynlik aangehelp deurdat dit as die handewerk van Salomo beskryf is. Die latere byvoeging in 12:9-11 ken ook gesag aan die boek toe (kyk na vers 11: “Dit is deur een Herder gegee,” wat dan na God sou verwys).

Die toevoeging in 12:12-14 verwys heel waarskynlik na Prediker se boek en is negatief daaroor. Dit waarsku dat wat eintlik belangrik is, nie is om boeke te skryf en allerhande vrae te stel nie, maar eerder: “Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie. Dit word van alle mense gevra” (vers 13).

 

WIE IS PREDIKER?

Die boek word toegeskryf aan Prediker, in Hebreeuse Qohelet en in Grieks Ekklesiastes, in Prediker 1:1, 2, 12; 7:27; 12:8-10. Die term Qohelet kom nie verder in die Ou Testament voor nie.

Indien die woord verwys na die Hebreeuse qāhāl, “gemeente,” dan beteken dit “‘n lid van die gemeente” of “‘n persoon wat saamroep.” Die betekenis van die woord is egter onseker en enige vertaling hou ´n stukkie raaiwerk in.

Wat veral vertalers laat kopkrap is dat die woord Qohelet ´n aktiewe deelwoord in vroulike vorm is. Gewoonlik word die woord verklaar as dat dit na ´n amp verwys, van iemand wat die taak het om ´n volksvergadering te belê en lei of iemand wat in so ´n vergadering praat en ´n sinvolle bydrae met wysheid lewer.

Dink maar aan die beskrywing oor die skrywer in 12:9-10, wat aandui dat die Prediker nie net baie wys was nie, maar ook kennis aan die volk gegee het, want hy het nagedink, nagevors en spreuke gemaak.

Qohelet word meeste van die tyd sonder ‘n lidwoord gebruik (behalwe in 7:27 en moontlik in 12:8) sodat die term as ‘n eienaam gebruik word. Die woord het waarskynlik ontwikkel van ‘n beskrywing van ‘n amp na ‘n benaming daarvan.

‘n Mens sou dus Qohelet meer getrou aan die bedoeling van die teks kon vertaal met wysheidsleraar of leermeester van die volk, maar die term Prediker is nou so ingeburger dat daar nie ‘n manier is waarop dit vervang kan word nie.

Qohelet was ‘nseun van Dawid en het in Jerusalem as koning regeer (1:1; 1:12). Die skrywer word ook beskryf as besonder wys (1:16), baie ryk (2:4-9) en een wat spreuke geskep het (12:9-10).

Nêrens word die koning spesifiek as Salomo in die boek beskryf nie. ‘n Ou Joodse tradisie hou vol dat dit na Salomo verwys wat die boek as ou man geskryf het. Daar is ´n paar goeie redes hoekom Salomo waarskynlik nie die skrywer was nie.

Hoekom beskryf die boek dan nie die skrywer eksplisiet as Salomo nie? Die boek kon dan begin met: Die woorde van Salomo die seun van Dawid die koning van Jerusalem. Hoekom dan ´n skuilnaam gebruik?

Die sinskonstruksie is baie vreemd wat aandui dat die skrywer as koning oor Jerusalem regeer het. Normaalweg beskryf die Bybel ´n koning in terme van sy grondgebied, Israel of Juda.

Net so vreemd is 1:16 wat praat van al die konings wat voor my in Jerusalem regeer het. Salomo se enigste voorgangers was Dawid en Saul.

Dan bied 1:12 ook ‘n probleem, wat in die NLV vertaal word met Ek, die Prediker, was koning van Israel  in Jerusalem, maar beter vertaal wou wees met Ek was koning gewees van Israel in Jerusalem. Dit dui dan daarop dat die skrywer nie meer koning was nie, iets wat nie waar van Salomo was nie omdat hy tot aan die einde van sy lewe regeer het.

Die skrywer kom voor as iemand wat as leermeester gefrustreerd is met onreg in die regspraak (3:16), die onregverdige optrede van hoë amptenare, insluitende die priesterklas met mag (4:1; 5:7; 10:6), terwyl hy niks daaraan kan doen nie.Indien die skrywer Salomo was, sou dit nie sy manier van optrede wees nie.

´n Laaste rede is dat die taal van Prediker jonk is. Hebreeus het min ontwikkel in die periode wat die Bybelse boeke neergepen is maar tog is daar duidelike verskille aan te dui tussen die taal in Prediker en die res van die Ou Testament. Prediker se taalgebruik sluit eerder by die taal van die Misjna aan. Die Misjna is ´n versameling van Joodse wette wat vir lank mondeling oorgelewer is en sedert die tweede eeu nC op skrif gestel is.

Dit alles dui daarop dat die boek nie deur Salomo geskryf is nie.

Hoekom die boek dan aan die koning toeskryf, wat heel moontlik na Salomo verwys? Want Salomo was bekend as ´n baie wyse man, soos ´n mens kan sien uit (om slegs een voorbeeld te noem) 1 Konings 4:30-31: “God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee, en ook kennis wat soos die sand aan die see nie gemeet kan word nie. Trouens, sy wysheid het dié van die wyse manne van die ooste en dié van Egipte ver oortref. Hy was wyser as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet en Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol.”

Op dié manier lê die skrywer sy woorde in Salomo se mond maar doen tog moeite met opsetlike dubbelsinnigheid om te keer dat sy lesers hom verkeerd verstaan en die boek letterlik aan Salomo toeskryf.

Die skrywer maak van ´n literatuursoort gebruik wat baie in sy dag voorkom waar die skrywer sy woorde in die mond van iemand anders lê maar nie vir een oomblik wil voorgee dat hy sy lesers mislei nie. Uit die teks van pseudepigrafiese geskrifte (letterlik geskrifte wat vals geskryf is) kom dit duidelik na vore dat die persoon as’t ware gesag aan sy woorde verleen deur dit aan iemand te koppel wat in die gryse verlede gesaghebbend daaroor gepraat het.

Prediker 12:9-10 beskryf die leermeester as iemand wat “baie wys”  was en “kennis aan die volk gegee”  het, wat “nagedink, nagevors en spreuke gemaak” het. Hy “het die regte woorde probeer kies, en die waarheid getrou neergeskryf.”

WANNEER ONTSTAAN DIE BOEK?

Dit is nie net Prediker wat negatief oor wysheid was nie. Sy raad dat ‘n mens die lewe moet geniet omdat die dood jou verseker gaan inhaal, kom ook voor in wysheidsliteratuur wat in Egipte en ander lande in die ou Nabye Ooste bewaar gebly het. So is daar die “Die Dispuut van ‘n Man met sy ba,” waarin die skrywer vertel hoe ontnugter hy met die lewe geraak het dat hy selfmoord oorweeg het. Sy ba of siel probeer hom oortuig dat die lewe meer werd is as die dood waar niks bestaan nie. Ook “Die Lied van die Harpiste,” wat grafinskripsies insluit waar oor die dood nagedink word, beveel die mens aan om die lewe ten volle te geniet. Die Gilgamesj Epos vertel weer hoe die mens nie daarin slaag om die ewige lewe te verkry nie, en die raad kry om die lewe wat op aarde gegun is ten volle te geniet.

Alhoewel ´n mens nie te veel daarvan kan maak nie, is dit duidelik dat die Hebreeus wat in Prediker voorkom, jonger is as die jongste boeke wat in die Ou Testament opgeneem is, Esra, Nehemia en Maleagi. Aramees het die taal van die boek beïnvloed en daar kom ook twee Persiese leenwoorde voor (“parke” in 2:5 en “die oordeel” in 8:11).

Die boek is dus later as die vyfde eeu vC geskryf, maar voor die tweede eeu vC.

Die boek kon vir twee redes nie later as 200 vC geskryf gewees het nie: Daar kom idees in Die Wysheid van Jesus Ben-Sirag, wat in 180 vC voltooi is, voor wat aan Prediker ontleen is. En afskrifte van Prediker is ook by Qumran gevind waar Jode hulle reeds teen 150 vC gevestig het.

Prediker 3:21 se verwysing, Wie weet of die asem van die mens boontoe gaan en diere se asem afgaan na die aarde toe? dui waarskynlik ook op ‘n later datum omdat die debat of die mens se asem of gees opvaar eers in die Judaïsme van die Hellenistiese periode voorkom, alhoewel die boek self geen Griekse leenwoorde bevat nie.

‘n Presiese datering is egter nie moontlik nie, nes die geval in die ander Wysheidsboeke. Talle navorsers dink aan ´n datum in die derde eeu vC as ontstaanstyd vir die protes teen ouer wysheid wat in Prediker voorkom.

Die boek handel oor aspekte van lewe en dood, wat vir alle tye relevant is.

 

WAAR ONTSTAAN DIE BOEK?

Sommige het gedink dat die boek in Aleksandrië kon ontstaan het, maar verwysings na die tempel en offerdiens (4:17; 5:5; 8:10 – heilige plek verwys ook waarskynlik na die Jerusalemtempel) asook beskrywings van die kultuurwêreld en seisoene wat in die boek gereflekteer word (11:4; 12:2, 6), dui eerder op Palestina as plek van ontstaan.

 

PLEK IN DIE BYBEL

Prediker is in die Hebreeuse kanon deel van die derde groepering wat Geskrifte genoem word, naas die Wet en Profete. Vyf boeke in die Geskrifte, wat bestaan uit die Groot Boeke van Psalms, Job en Spreuke; die Vyf Rolle van die Megillot (of feesrolle), naamlik Hooglied, Rut, Klaagliedere, Prediker en Ester; Daniël wat deels uit verhale en deels uit apokaliptiesevisioene bestaan; en nog ´n weergawe van die geskiedenis (naas Samuel en Konings) in Esra-Nehemia en Kronieke wat die Hebreeuse Bybel laat eindig met die Edik van Kores in 2 Kronieke 36:22-23.

Die volgorde van die Vyf Rolle verskil in onderskeie manuskripte maar wat wel vasstaan, is dat dié vyf boeke in die liturgiese praktyk van Judaïsme verbind is aan spesifieke feeste. Dié feeste se inhoud is mede-bepaal deur wat in die Bybelse boeke staan.

Hooglied is met Paasfees verbind; Rut met die Fees van die Weke; Klaagliedere met die Negende van Av wat die datum is wat die Babiloniërs Jerusalem in 587 vC ingeneem en verwoes het; Prediker met die Loofhuttefees; en Ester met die Fees van Purim.

In die Griekse kanon, waarop ons volgorde van boeke gebaseer is, kom die vyf boeke verspreid in die Ou Testament voor.

Die Nuwe Testament bevat nie ´n enkele aanhaling uit Prediker nie maar dieselfde kan van ander boeke gesê word soos Esra, Nehemia, Ester, Hooglied, Obadja, Nahum en Sefanja. Verskeie tekste eggo wel wat in Prediker voorkom, soos wanneer Matteus 6:7 vergelyk word met Prediker 7:18; Lukas 12:18 met Prediker 2:4; Lukas 12:19 met Prediker 9:7; Lukas 12:20 met Prediker 2:18; 2 Korinitiërs 5:10 en Romeine 2:16 met Prediker 12:14; Romeine 9:16 met Prediker 9:11; 2 Korintiërs 5:1 met Prediker 12:5;Jakobus 1:19 met Prediker 7:9; en Romeine 8:20 met Prediker 1:2; 12:8.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Jesus se Liggaam

Jesus se Liggaam – Marius Nel

Jerrie vra:

My vraag (probleem) dan:

Die voorspelling van die koms van die Messias, as mens, word die mens as volg geskets….

1.  “….Baie mense was ontsteld oor hom, hy was so misvormd dat hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ‘n mens gehad het nie.”  (Jes. 52:14), asook

2.  “….Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie,” (Jes. 53:2)

Volgens my mening dan, sou daar dus ‘n fisieke liggaamsgebrek, of iets dergeliks, in Jesus moes wees

(Miskien moet ek net byvoeg dat die fisiese voorkoms van Jesus, as mens, geen faktor is as dit betrekking het op die geloof in Hom as ons verlosser en Saligmaker nie)

Hierdie vraag van my het betrekking op ‘n persoonlike ervaring/belewenis wat ek gehad het, en is nie belangrik vir my geloofslewe nie.

 

Antwoord

Dr. Marius Nel antwoord:

Ek weet nie of die Skrifgedeelte noodwendig na Jesus se uiterlike voorkoms verwys nie; profesieë moet nie noodwendig letterlik opgeneem word nie. Ek meen dit verwys eerder na die feit dat sy liggaam aan ‘n kruis gebreek is, wat beteken dat Hy die dood van ‘n misdadiger gesterf het. En dat sy volksgenote Hom derhalwe sou verwerp het.

Skrywer: Dr Marius Nel




Hoekom neem God sekere besluite?

Hoekom neem God sekere besluite? – Marius Nel

Willie vra:

Ek verwys na Genesis 15:13&14. God het hier reeds geweet die Israeliete gaan in Egipte eindig en daar verdruk word . Was dit binne Sy raadsbesluit? Het hy Jakob se mense soontoe verskuif om seker te maak hulle meng nie met die heidennasies in Kanaän nie? Was die gevaar dan nie maar daar om met die Egiptenare ook te vermeng nie? Hoekom was dit nodig dat hulle vir so lank as slawe moes dien ?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Die antwoord is: ons weet nie hoekom God besluite neem wat Hy nie aan ons verduidelik nie. Onthou wat Calvyn gesê het: God het aan ons openbaar wat ons moet weet vir ons heil, en die res van kennis oor Hom het ons nie nodig nie.

Skrywer: Dr Marius Nel




HERE en Here

HERE en Here – Marius Nel

Helene vra:

Ek merk op dat in die OAV bv in Dan 9:4 en 7 HERE en Here gebruik word. Sien dit ook in NIV maar dit is nie in die NAV so nie. Waarom die verskil -kom ook voor in die res van die OAV. Sal bly wees as u vir my dit kan verklaar. Seen en dankie.

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

In die OAV is JHWH aangedui as HERE, en Adonai as Here. In die NAV word albei as Here aangedui.

 

Skrywer: Dr Marius Nel