Esegiël 15

Esegiël 15 – Marius Nel

Alta vra:

Esegiel 15. Ek het vanoggend die woord van die Here gekry en verstaan nie wat dit beteken nie.

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord

Lees Eseg 15:1-8

15:1-8 Hierdie allegorie* word ingelei deur die woordgebeureformule (vgl by 11:14-15) en bestaan uit twee subperikope (15:2-5 en 15:6-8) wat aanmekaar geskakel word deur die tema hout wat in albei voorkom.

15:2-5 Ons ken die gevoel wanneer ander iets misken wat ons na aan die hart lê. Esegiël kontrasteer wingerdhout met ander hout (vier keer). Die doel is om die nutteloosheid van die wingerdhout na vore te bring.

Vir die Israeliet is dit ‘n skokkende ervaring. Is hulle dan nie gewoond aan die wingerd as beeld van lewe, groei en die Here se genade nie? Dwarsdeur die Ou Testament is die wingerdstok ‘n toonbeeld van verlossing en oorvloedige vreugde (vgl Jes 5:1-7 en Ps 80:9). Tog maak Jesaja 5:1-7 en Jeremia 2:21 melding van die teleurstelling van die Goddelike wynmaker as die wingerdoes slegte druiwe oplewer.

Esegiël gaan verder as enige iemand voor hom deur nie eers melding te maak van die vrugte van die druiwestok nie, maar dadelik te gaan na die destruktiewe funksie van die wingerdhout. Dit kan net vir brandhout gebruik word.

15:5 Jerusalem is reeds geskroei in 597 vC toe koning Jojakin (regeerder van 598 vC tot 597 vC) met die room van die bevolking na Babel weggevoer is.

15:6-8 Dit wat vir ‘n mens kosbaar is, kan deur ander wat nie dieselfde betekenis daaraan heg nie, verwoes word. Die wingerdhout is na net een plek op pad, vuur toe. Die allegorie* beteken dat God die geskroeide wingerdhout nou heeltemal in die vuur vernietig en dat sy oordeel erken word volgens die erkenningsformule (vgl by 2:3-10). Die eerste tekens van genade vir die wingerdstok sal ons by Esegiël 17 teenkom.

Nebukadnesar (koning van Babel) stel toe in Jojakin se plek ‘n koning oor Juda aan. Die naam van hierdie koning was Matanja, maar Nebukadnesar verander sy naam na Sedekia (2 Kon 24:17). Sedekia was vir 11 jaar (597 vC – 586 vC) koning van Juda. Hy was sterk nasionaal en anti-Babelgesind. In 588 vC organiseer hy ‘n opstand met buitelandse hulp. Sedekia se opstand was tot mislukking gedoem omdat die Babiloniërs se oormag te groot was. Sedekia probeer ontvlug, maar word gevang en blind gemaak, en toe as gevangene na Babel gebring (2 Kon 25:4-7; Jer 52:7-11).

[* Allegorie =  Sinnebeeldige voorstelling van ‘n abstrakte begrip, meestal met lewende wesens wat die abstrakte begrippe voorstel. Allos = anders en agoria = sprekende in Grieks. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.]

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




DIE HERSTEL VAN DIE TEMPEL (Esegiël 40:1-43:27)

DIE HERSTEL VAN DIE TEMPEL (Esegiël 40:1-43:27) – Marius Nel

Minnie vra:

Ons is ‘n paar mense wat Bybelstudie doen oor Esegiël en is nou by hoofstuk 40 tot by die laaste hoofstuk. Dit gaan oor die tempel, ek wil hoor of u asb vir my inligting daaroor, spesifiek oor die rol van die tempel, kan gee. Ons werk uit die Bybel en nog ander kommentare maar haak hier vas.

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

 

DIE HERSTEL VAN DIE TEMPEL (40:1-43:27)

40:1-43:27 ‘n Gids bring Esegiël in ‘n visioen na ‘n nuwe tempel. Hy neem hom op ‘n verruklike begeleide toer deur die tempel met sy presiese afmetings.

 

Die nuwe tempel – ‘n visioen (vgl 1:1-3)

Lees Esegiël 40:1-49

Die getal vyf en twintig en veelvoude daarvan word dikwels in Esegiël 40-48 gebruik. Dis bedoel om te verwys na die vyf en twintigste herdenking van die ballingskap, die jaar waarin die profeet die visioene gesien het (40:1). Mate is ook dikwels met die getal vyf en twintig of veelvoude daarvan gegee. Die NAV het dit omgesit in meters, byvoorbeeld twaalf en ‘n half meter (40:13).

40:1-5 Niemand kan ons drome van ons wegneem nie, veral nie as dit sleg gaan nie. Dit is gewoonlik by ons ideale waar ‘n nuwe visie gebore word, ‘n visie wat later met die Here se hulp in realiteit omskep word. Esegiël sien ‘n visioen (vgl 1:1-3) van die nuwe tempel. Dis ‘n man met ‘n meetstok wat hom begelei. Die gids se energieke beweging gee ‘n visuele indruk van die grootse gebou van God. Die hoofklem val op die meetstok wat drie meter lank is. Die tempelvisioen dui op die Here se teenwoordigheid. Die presiese afmetings wil ‘n belewenis gee van die heilige God.

Afmetings word vanaf Esegiël 40-48 in die NAV dinamies ekwivalent omgewerk na meter toe. In die oorspronklike Hebreeus word van “el” gebruik gemaak. Dis gelykstaande aan ‘n halwe meter. Veral by die simboliese waarde van getalle moet hierdie verandering in gedagte gehou word.

40:6-16 ‘n Visuele ervaring wag nou op Esegiël as hy die man volg deur die poort wat oos gekyk het. Die ooste was vir die antieke mens die rigting waar God vandaan kom. Dit is ook waar die son opkom en ‘n nuwe dag aanbreek. Skouspelagtig skyn die son elke oggend vroeg deur die oospoort wat drie meter breed is – God is hier! Hier waar die ballingskap geen uitsig op die tempel bied nie en daarom ook nie op die teenwoordigheid van God nie, hier waar niks is nie, is God tog teenwoordig.

Alhoewel daar ‘n reusagtige oospoort is, lê die swaartepunt van die tempel na die westekant – in teenstelling met die natuurgodsdienste se klem op die ooste en op die son as godheid. Die oospoort bied slegs ‘n uitsig op die heiligdom in die weste. Die mens se oriëntering moet verander, weg van die vals oriëntasie genoem in 8:16 as aanbidding van die son in die ooste, maar in ‘n radikaal ander rigting, na die heilige God.

40:17-19 Die buitenste voorhof. Nuwe fasette van die pragtige gebou kom na vore: vertrekke en ‘n plaveisel. Nog steeds sit die man sy meetwerk voort. Elke vierkante sentimeter van die gebou word vir God se teenwoordigheid uitgemeet. Die visie kry later fyner detail soos dit saam met God uitgewerk word.

Dit is opvallend dat daar nie ‘n mens in die tempel is nie behalwe die gids wat lei. Hierdie tempel toon groot ooreenkomste met Salomo se tempel wat tydens die val van Jerusalem in 586 vC verwoes is. Maar in teenstelling met die tempels in 1 Konings en Kronieke is hier geen menslike of koninklike hand sigbaar in die werk aan die tempel nie. Die tempel is God se werk. Die nuwe begin, in aansluiting by hoofstuk 33-39, is ‘n begin waar God alleen die inisiatief neem.

40:20-23 Die poort wat noord kyk, is ons volgende bestemming. Hierdie poort stem grootliks ooreen met die oospoort. By die noord-poort is daar drie sykamers. God is orals teenwoordig, ook hier. Sy teenwoordigheid word deur die sewe trappe bevestig. In die presiese afmetings ontdek ons die ordelikheid van God. Sy beplanning is perfek.

40:24-27 By die suidpoort is daar ook sewe trappe wat na die poort lei. Ook hier is God teenwoordig. Hy beskerm van alle kante, van die ooste, die noorde en nou ook die suide. Die reusagtige poorte wil ‘n belewenis gee van die heilige God wat majestueus beweeg in sy heiligdom.

Waar is die westelike poort? kan mens met reg vra. Daar is nie ‘n westelike poort nie. Dit is die ingang wat God gebruik, dit kan nie gebou word nie. God het nie ‘n deurgang nodig nie.

40:28-37 Nou wys die man die binnekante van die verskillende poorte. Eers na die binnekant van die suidpoort. Dan die binnekant van die oospoort. En laastens die binnekant van die noordpoort. Niks ontglip die oog van die beskrywer nie. Ons moet die visuele detail verstaan in die lig van die gebrek aan foto’s en videotoerusting destyds. ‘n Visuele belewenis moes onder woorde gebring word omdat daar nie ‘n ander manier van kommunikasie was nie.

40:38-43 Die toegangsportaal van die noordelike binnepoort. Hier vind die voorbereiding van die offers plaas. Daar is altesaam ag tafels waarop die brandoffer, sondeoffer en skuldoffer afgeslag is. Waar die eerste indrukke geen melding gemaak het van fynere onderskeidings nie, tree die fyner detail nou na vore.

40:44-46 Die priesters wat by die tempel diens doen. Vir die eerste keer maak Esegiël melding van die mense wat by die tempel diens doen. Daar is verskillende take wat die priesters verrig, sommige by die tempel en ander by die altaar, maar al die werk is ewe belangrik. God stel sy heiligdom daar sodat mense daarbinne tot die korrekte voorbereiding en gehoorsaamheid kan kom om die terrein van die Heilige te betree.

40:47-49 Die voorhof. Die finale doel van ‘n reis word hier bereik. Ook hier is presiese afmetings. Die portaal is tien meter lank en ses meter breed. Die syfers vyf-en-twintig, vyftig en honderd speel deurgaans ‘n beduidende rol by die nuwe tempel (vgl by 40:1-5).

 

Die binnekant van die nuwe tempel

Lees Esegiël 41:1-26

41:1-4 Die Allerheiligste. Enige goeie boek of film loop op tot ‘n klimaks. Hier by die Allerheiligste bereik ons dit saam met Esegiël as die man vir die eerste keer vandat hy die nuwe tempel aan Esegiël wys, begin praat (41:4).

41:5-15 Die area wes van die tempel. ‘n Mens kan dit jou maar net indink hoe ‘n pragtige plek die nuwe tempel met sy annekse moes gewees het. Die omgewing om die tempel word beskryf. Ook hier is die getal drie en veelvoude daarvan tiperend. Daar is drie verdiepings, elkeen met dertig kamers. Ook die annekse pas in by die harmonieuse groter geheel. Die kompleks moes ‘n argitektoniese pragstuk gewees het.

Die simmetrie met die noordelike, suidelike en oostelike poorte word hier in die weste doelbewus verbreek. Die groepering van geboue lei nie na die middelpunt van die terrein waar ‘n mens dalk die altaar sou verwag nie. Die klem verskuif na die tempel in die weste. Die westelike gebied word geblokkeer deur ‘n verbode area. Dit beteken jy kan God net van aangesig tot aangesig ontmoet, nie van agter nie. Dit is dan die doel van die tempelkompleks, ‘n ontmoeting met die lewende Here.

41:16-26 Muurversierings en interieur van die tempel. Maak ons moderne argitektuur enige voorsiening vir ‘n ontmoeting met die heilige God? Of is die a-religieuse boustyle tekenend van ‘n ervaring van God as afwesig? Binneversierings het die verdere detail van die heilige ontmoetingsplek aangevul. Die fokus is op die altaar in die voorste tempelvertrek. Die man praat weer hier: dit is die tafel wat in die teenwoordigheid van die Here staan (41:22). Die gedeelte begin by die altaar en eindig by die tafel. Die altaar is die versoeningsplek tussen God en Israel. Maar dan word daar beweeg na die tafel waarop mense die toonbrode lê wat die eer van en erkenning vir die Here simboliseer.

 

Die woonplek van die priesters

Lees Esegiël 42:1-20

42:1-14 Die kamergebou aan die noordekant. Die afmetings van die priesterkwartiere is weer die bekende vyf en twintig en vyftig (lett: 50 en 100 el). Esegiël se priesterlike herkoms slaan hier duidelik deur. Hy toon ‘n passie om dit wat heilig is, nie te verontreinig nie, selfs nie deur die priesters se klere nie. As hulle uit die gewyde gebied beweeg, moet hulle die klere uittrek, want dit is ook gewyd. Daar word seker gemaak dat geen onreine hierdie heilige gebied betree nie.

42:15-20 Die mure om die tempelgebied. Die tempel as heilige gebied word hiermee afgesluit. Die afmetings is weer veelvoude van vyf en twintig om aan te sluit by die vyf en twintigste jaar van die ballingskap. Die amp van die priester is belangrik. Hulle moes die heilige bewaak en die heilige van die gewone skei. Die grens tussen die gewyde gebied en die wêreld daarbuite stem woordeliks ooreen met 22:26. Esegiël sien die priesters selfs as beskermers van die heilige God. Daarmee is die toneel gereed vir die heilige God wat nou self in Esegiël 43 te voorskyn kom.

 

Die Here gaan sy heiligdom binne

Lees Esegiël 43:1-12

43:1-12 Die visioen van die terugkoms van die Here. Hierdie visioen (vgl by 1:1-3) stem ooreen met die visioen wat Esegiël gesien het toe hy die verwoesting van die stad moes aankondig en ook met die visioen wat hy aan die Kebarrivier gesien het. Die Here is nie net die God van oordeel nie, maar ook die God van genade – die groot boodskap van Esegiël 40-48. Die Here het destyds (Eseg 11:23) die stad in ‘n oostelike rigting verlaat en nou gaan Hy weer die stad deur die oospoort binnekom.

Die Here doen dit op ‘n koninklike manier. Sy verskyning vind in die teenwoordigheid van die man met die meetstok plaas. Dit is die troonsbestyging van die Here. Hy vestig sy troon, waar Hy vir altyd teenwoordig is tussen die Israeliete. Die gevolg by die kind van God is: skaamte. Die genadige dade van die Here wek skaamte en daarna berou by Israel. Dit is in teenstelling met berou as voorwaarde vir die Here se genade wat ons elders in die Bybel vind. Die reëling in verband met die tempel word ook gegee. Dit is dat die tempel en die top van die berg uitsluitlik aan God gewy is. Die bewakers van hierdie teenwoordigheid van God is die priesters.

 

Die altaar en sy wyding

Lees Esegiël 43:13-27

Die priesters van Sadok is ‘n uitverkore groep in Esegiël 40-48. Hulle is afstammelinge van Sadok, ‘n priester wat Dawid saam met Abjatar (die hoëpriester) by die Jerusalemtempel aangestel het.

Dawid wou samewerking tussen die Kanaäniete en Israeliete kry en het Sadok, ‘n afstammeling van Melgisedek uit die Jebusitiese koningshuis, verbind met die Israelities-Jerusalemse priestertradisie.

Die man met die meetstok meet eers die afmetings van die altaar en wys dan die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok aan as die uitverkorenes wat by die altaar mag kom. ‘n Sondeofferbul moet verbrand word. Dit word gevolg deur ‘n bul en ‘n skaapram  en dan sewe dae lank elke dag ‘n sondeofferbok. Die getal sewe is die Goddelike getal. Dan eers sal die offers van die mense vir die Here aanneemlik wees. Die hand van latere dissipels van Esegiël wat die Sadokitiese priesters goedgesind is, is duidelik in hoofstuk 40-48 sigbaar.

 

DIE HERORGANISERING VAN AANBIDDING (44:1-46:24)

Die oospoort gesluit

Lees Esegiël 44:1-3

44:1-3 Die poort wat moet toe bly, is ‘n duidelike teken van die nuwe begin. Dit is die teken dat God ten gunste van sy mense gekies het. Die oordeel is verby en die koning is gereed om sy troon te bestyg. God het self versoening tussen Hom en die mense bewerkstellig. Die oospoort is toe, want dis net vir God se gebruik. En Hy sal dit nie weer gebruik nie, want Hy sal nie weer sy rug vir die mense draai nie. Hy het self ‘n nuwe begin gemaak. Hy is permanent teenwoordig in sy volk se midde.

 

Die Levitiese priesters

Lees Esegiël 44:4-31

44:4-31 Vir die eerste keer in hoofstuk, 40-48 spreek Esegiël die volk aan. Hy praat teen die uitlanders en teen die Leviete wat die nodige gedoen het vir die volk in die diens van die afgode. Die Leviete mag nie weer diens doen deur aan die gewyde dinge te raak nie (44:11) en kan slegs as wagte diens doen. Die uitsondering is die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok. Dan volg ‘n reeks instruksies oor die
take van priesters, van haarstyl, ‘n verbod om wyn te drink as hy die binneste voorhof binnegaan, huweliksvoorskrifte, ‘n verbod om naby ‘n lyk te kom tot eiendom en kos wat die priesters toekom.

 

Die verdeling van die land

Lees Esegiël 45:1-9

45:1-9 Die priesters, Leviete en regeerder kry grondgebied. ‘n Hele stuk grond word opsygesit in veelvoude van vyf en twintig wat aan die Here gewy word. Die heiligdom met die Allerheiligste staan daar. Die ou Levitiese beginsel was dat die stam Levi geen grondbesit het nie. Waar sou hulle kon bly? Hier word nou daarvoor voorsiening gemaak. Dit word nie hulle eiendom nie, maar is ‘n gewyde gebied met die oog op diens in die heiligdom. God maak voorsiening vir sy dienaars. Hier word duidelik onderskeid tussen priesters en Leviete getref. Ook die regeerder kry sy deel sodat hy regverdig kan regeer en nie sy onderdane hoef te onderdruk nie.

 

Korrekte inhoudsmate en offergawes

Lees Esegiël 45:10-17

45:10-17 Omdat daar geen nasionale inhoudsmate bestaan het nie, kon ‘n mens maklik die mate tot eie voordeel manipuleer. Die Here verwerp hierdie praktyk. Daar word ‘n vaste maatstaf ingestel. Daar is drie offergawes: koring en gars; olie en kleinvee. Dit word aangewend as brandoffers; maaltydoffers en brandoffers om versoening te doen vir sonde.

 

Die groot feeste en offers

Lees Esegiël 45:18-25

45:18-25 Die sondeoffer en paasfees. Sonde is een saak wat deur die eeue in die Here se oë dieselfde gruwel gebly het. Hy soek by mense nie net ‘n sondeofferdier nie, maar die gesindheid om Hom bo selfverheffing en eiebelang te stel. Op die paasfees moet ‘n bul as sondeoffer aangebied word, asook ‘n brandoffer en graanoffer. Ook die regeerder moet sy offers bring. Elkeen moet in noue afhanklikheid van die Here leef.

 

Die regeerder en feesdae

Lees Esegiël 46:1-18

46:1-15 Dit is belangrik dat ons in ons daaglikse program tyd maak vir die Here. Ons behoort Hom as ‘n integrerende deel van ons aktiwiteite te beskou.

46:1-3 Leierskap sonder die noue verbintenis met die Here is tot mislukking gedoem. Die regeerder offer aan die binnekant van die oospoort tydens sabbatdae en nuwemaansfeeste. Die oospoort is die regeerder se kultiese plek. Sabbat en nuwemaansfees is die onderbrekings op die normale kalender wat tyd inruim vir die Here. Ook die regeerder moet dit erken.

46:2 Regeerder. Esegiël gebruik hierdie naam vir die nuwe leier wat Israel in die na-ballingskaptyd sal lei. Hy kom uit Dawid se geslag en word soms die nuwe Dawid genoem. Vergelyk kommentaar by 34:25; 45:7 en 46:1-15.

46:4-12 Eers word die regeerder se voorsiening vir die sabbatsoffer beskryf (46:4-5) en daarna sy verpligting vir die nuwemaansfees (46:6-7). Ook die toegang vir regeerder en burgers op hierdie feesdae word bepaal (46:8-10).

Die regeerder word uitgesonder, maar is tog deel van die gemeenskap (46:10). Met die geskenk wat die regeerder offer as verteenwoordiger van die mense, erken hy die opperheerskappy van die Here. Hy verklaar daarmee sy solidariteit met sy mense. As leidende figuur aanbid hy saam met sy mense en nie apart nie.

46:13-15 Hierdie deel beskryf die regeerder se toegang wanneer hy ‘n vrywillige offer bring (46:12) en die verpligting van die ander burgers met die oog op die daaglikse brandoffer (46:13-15).

Die feit dat die oospoort vir ses werksdae gesluit is, bewys dat die toegang tot die Here nie sommer net aanvaar kan word nie. Mense kan nie willekeurig besluit wanneer hulle wil aanbid nie, maar die genadetoegang is God se inisiatief. Hierdie gedagte is in skrille kontras met die Nuwe Testament waar ons “maklike” toegang tot God het deur Jesus Christus. Ons mag nooit van hierdie voorreg misbruik maak nie. Dan sal ons die Here se Nuwe-Testamentiese toeganklikheid verkeerd verstaan.

46:16-18 Eiendomsreg. Geen magsposisie is ‘n vrypas tot misbruik nie. Selfs die regeerder moet bewus wees daarvan dat sy eiendom ‘n geskenk van die Here is. Daar is ‘n noue verbintenis tussen die geskenk en die Gewer. As die regeerder geskenke as grond gee, kan hy dit nie doen net soos hy wil nie. Hy kan ook nie net links en regs grond wat die Here aan ander geskenk het, wegvat van mense aan wie dit toekom nie.

 

Die kookplekke

Lees Esegiël 46:19-24

46:19-24 As ‘n mens uit die perspektief van die heiligheid van God dink, word jou denke daarvan deurtrek. Selfs die kookplekke van die priesters word daardeur geraak. Daar word die vleis van die skuldoffer en die sondeoffer gaargemaak en die graanoffergeregte ook gebak. Hoekom juis hier? Sodat hulle nie die volk in gevaar stel deur dié gewyde dinge deur die buitenste voorhof te bring nie. Dit is ‘n voorsorgmaatreël.

 

DIE VERDELING VAN DIE LAND (47:1-48:35)

 

Die stroom wat lewe bring vanuit die heiligdom

Lees Esegiël 47:1-12

47:1-12 ‘n Stroom water is in ‘n dor landstreek soos ‘n oase in die woestyn. Mens en dier kom soontoe om hulle dors te les en in die boomryke skadu vrugte te soek en heerlik te rus. Dit is presies die lafenis wat die water wat onder die tempel se drumpel uitloop, veroorsaak. Die water sypel eers enkeldiep, maar gou loop dit sterker tot kniediep. En later was die water ‘n stroom waar die profeet nie kon deur nie.

Waar die stroom van God nie mense se lewe bereik nie, verstar ons tot doodsheid. Die lewende water loop oos na die Dooie See toe om daar lewe te bring. In die soutwater van die Dooie See is geen lewe moontlik nie. Die vars water bring nou egter groei. Dit is wat die Here se teenwoordigheid in ‘n mens se lewe bewerk. Wat voorheen woestyn was, word nou omskep tot ‘n lushof. Weerskante op die wal van die stroom is allerlei vrugtebome. Waar die Here iemand se lewe aanraak, maak stagnasie plek vir progressie en groei. So ‘n mens verryk ander en bring genesing waar hy/sy kom (vgl hoe hierdie gedagtes weer in Op 22:1-2 gebruik word).

 

Grense

Lees Esegiël 47:13-23

47:13-23 Sonder grond kan ‘n mens niks doen nie. Uiteindelik moet ‘n land sy grense hê sodat die vyand nie weer kan binnekom en eiendomsreg vertrap nie. Soos die heiligdom en die gebied daar rondom se grense vasgestel word, so word die grense van die land nou vasgestel. Daar is grense in al vier windrigtings sodat die land ‘n geslote geheel vorm. Nie net vir Israeliete nie, maar ook vir vreemdelinge word daar voorsiening gemaak (47:22). Die eksklusiwiteit (Israel) maak ook voorsiening vir inklusiwiteit (vreemdelinge). Uiteindelik bly die land ‘n geskenk van die Here wat met almal gedeel word. Die foute van die voor-ballingskaptydperk mag nie herhaal word nie. So leer die geskiedenis.

 

Die verdeling van die land

Lees Esegiël 48:1-29

48:1-29 By die Here is almal gelyk. Elkeen kry sy regverdige deel. Hy maak nie onderskeid nie. Die noordelike stamme word genoem in volgorde van noord na suid: Dan, Aser, Naftali, Manasse, Efraim, Ruben en Juda. Die heiligdom van die Here word weer gemeet in veelvoude van vyf en twintig (48:8-10, vgl by Eseg 40:1-5).

Daar word onderskeid tussen die Leviete en die priesters van Sadok gemaak (vgl 45:1-9). Die priesters van Sadok het God se dienswerk getrou gedoen en nie afgedwaal soos die Israeliete nie, soos die Leviete gedoen het nie. Sadok se priesters was gekoppel aan die heiligdom in Jerusalem, die hoofstad van die Suidryk. Esegiël was een van hulle of was hulle goedgesind. Die Leviete van die Noordryk kry in Esegiël  egter die blaam vir die afgodery. Tog kry hulle ook hulle deel. (Elders in die Bybel, bv in Hosea, word die rolle omgekeer. Dalk hang Esegiël se uitgangspunt saam met die situasie dat baie priesters uit die ballingskap teruggekeer het, maar min Leviete.)

Ook die regeerder kry sy deel (48:21-22). Dan volg die stamme wat nog nie aan die beurt gekom het nie: Benjamin, Simeon, Issaskar, Sebulon en Gad. Die noue verhouding tussen die Here en sy volk vind neerslag in die nuwe verdeling van die land met die heiligdom sentraal as die fokuspunt van die stamme daar rondom. Die heiligdom is die herinnering dat die hele land ‘n geskenk van die Here is.

 

Ten slotte: die stad en die poorte

Lees Esegiël 48:30-35

48:30-35 Die uitgange uit die stad. Daar was drie uitgange in drie windrigtings in die stad: vrye toegang vir elke stam na die heiligdom en na die teenwoordigheid van die Here. Dit weerspieël die nuwe verhouding met die Here. Die Here se teenwoordigheid lê die grondslag vir die nuwe toekoms. Hy is op ‘n nuwe manier teenwoordig by sy kinders. As mense die heiligdom aanskou, as hulle die stad sien, as hulle die nuwe gehoorsaamheid van die Here se kinders sien, weerklink die naam van die nuwe stad wêreldwyd: Die Here is daar!

Daarmee is die reis wat in vier fases aangepak is, voltooi. ‘n Mens bereik jou bestemming wanneer jy besef wie die Here is en jy sy onontbeerlike invloed in jou lewe erken. Die bestemming is die teenwoordigheid van die Here in elke faset van ons lewe. Dan het ‘n mens jou doelwit saam met die Here bereik. Esegiël probeer ons daartoe bring.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Paulus in Athene – die dag waarop onsigbare God sigbaar geword het

Paulus in Athene – die dag waarop onsigbare God sigbaar geword het – Kobus Kok

 

Inleiding

Ek het onlangs die voorreg gehad om op die voetspore van Paulus te loop in Griekeland – imposante plekke te besoek soos Tessalonika, Berea, Philippi, Korinte en natuurlik Athene (besoek http://www.youtube.com/watch?v=LrrSBQLFp74 )

paulus_in_athene1

Was Athene nou ‘n wonderlike ervaring! Op ‘n goeie dag sou Paulus van ver af, terwyl hy nog per boot op weg was na Athene, die indrukwekkende graniet berg voor hom gewaar met die wêreld se mees bekende tempels wat die verbeelding van menigte geskiedskrywers aangegryp het. Dit was hier op die Akropolis van Athene dat die reuse marmer standbeeld van die godin Athena, gewer van oorwinning die hemel ingetroon het. Dit was hier by die Propylea lans die Parthenon waar die wêreld se bekendste en mees invloedryke filosowe soos Sokrates,  Plato en Aristoteles geleef en gewerk het. Dit is hier onder die Akropolis by die Stoa waar die Stoïsynse filosowe mense geleer het en daarvandaan hulle naam sou kry – filosofiese denke wat die wêreld sou verander en waar demokrasie waarin ons vandag leef, ontwikkel het. Woorde soos ekonomie, filosofie, teologie, ens. is hier in Athene geskep.

 

Paulus was op weg na die intellektuele sentrum van die wêreld, na die Akropolis waar die opvolgers van die groot filosowe se hoofkantoor gesetel was. Dit was ook hier waar die Griekse en Romeinse gode vir duisende jare aanbid en vereer was. As Paulus van daar ver onder die Akropolis na bo gekyk het in die rigting van die Parthenon het hy die bekende fries aanskou wat ‘n heidense godsdienstige ritueel uitgebeeld het. Oral om hom langs die pad was daar standbeelde van gode – die God van die see – Poseidon, die God van die onderwêreld, Hades, die god van drank, Dionysus, van helde wat tot gode verklaar is en keisers wat God, Heer en Hoëpriester genoem word.

paulus_in_athene2

Noordwes van die markplein of Agora op die Agoraios Kolonos heuwel waar Paulus baie tyd spandeer het en met mense die evangelie gedeel het was die tempel van Hephaistos (Theseion) die God van metaalwerkers en vakmanne, wat in 449 vC gebou is in die Doriese styl. In die Theseion was daar elke dag offers gebring deur die menigte vakmanne wat in Athene werksaam was. Vandag is hierdie tempel die bes bewaarde antieke Griekse tempel. In Paulus se tyd was Athene die religieuse en intellektuele sentrum van die Grieks-Romeinse wêreld waar die slimste van die slimste en die beste van die bestes gestudeer het.

paulus_in_athene3

Ten spyte van die absolute prag van Athene was Paulus in sy gees diep ontstel. Terwyl Paulus in die Agora gewerk het, onder die reuk van offervleis wat verbrand word en die klanke van diere en verkopers, duiwe en messelaars wat klippe kap het sy gees uitgestyg na bo – na Hom wat bod it alles was. Hoër en groter as die Agora, sterker as die oorwinningsgod Athena, Groter as die hoof-God Zeus wie se tempel ook ‘n klipgooi van die Agora uitgetroon het. Paulus het met almal wie hy teëgekom het gepraat oor Jesus – die Messias wat gesterf het aan ‘n kruis vir ons oortredinge en wat na drie dae uit die dood opgestaan het. Daar was nie baie wat tot bekering sou kom nie, en Paulus het pas herstel van die vervolging wat hy in Filippi beleef het nadat hy en Silas in die tronk gegooi is en 40 houe met ‘n Romeinse sweep moes verduur. Hy was pas uit Filippi toe Hy in Tessalonika ook verdryf word en na Berea moes vlug, net om kort daarna weer te vlug vir die Jode wat hom vanaf Tessalonika vervolg het. Dit is hou hy in Athene aangekom het – as vlugteling, as banneling. Teen daardie tyd het Paulus waarskynlik nog die merke aan sy lyf gedra van die geseling wat hy in Filippi opgedoen het. Terwyl hy in Athene was, skryf Paulus, het hy baie verlang na die jong gemeente in Tessalonika wat pas onder sy leiding tot bekering gekom het – by name Aristargos en Jason wat self later geweldige leiding sou verduur omdat hulle Paulus ondersteun het en die evangelie geglo het.

So tussen die verlange na sy jong gemeente en die herinnering van die marteling en aanhouding wat hy in Filippi beleef het, het Paulus in sy gees net sterker geword. Hy skryf op ‘n stadium dat wanneer hy swak is, dan beleef hy hoe God se krag in en deur hom tot werking kom.

 

Kom ons lees dan nou Handelinge 17 (Ou Afrikaanse Vertaling) wat die verhaal vertel van Paulus in Athene:

Act 17:1 Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was.

Act 17:2  En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte

Act 17:3  en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.

Act 17:4  En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue.

Act 17:5  Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur ‘n volksoploop te bewerk. En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring.

Act 17:6  Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en ‘n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom,

Act 17:7  en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus.

Act 17:8  En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het.

Act 17:9  Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.

Act 17:10  Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.

Act 17:11  En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.

Act 17:12  Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.

Act 17:13  Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep.

Act 17:14  Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly.

Act 17:15  En die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.

Act 17:16  En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.

Act 17:17  Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.

Act 17:18  En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode-omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.

Act 17:19  En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?

Act 17:20  Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.

Act 17:21  Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

Act 17:22  Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.

Act 17:23  Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.

Act 17:24  Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

Act 17:25  Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.

Act 17:26  En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,

Act 17:27  sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;

Act 17:28  want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.

Act 17:29  As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.

Act 17:30  God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,

Act 17:31  omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

Act 17:32  Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.

Act 17:33  En so het Paulus van hulle weggegaan.

Act 17:34  Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en ‘n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.

 

paulus_in_athene4

Die verhaal van Paulus in Athene eindig in Handelinge soos ‘n film wat in die helfte opgehou het. Mens wil so half vra “Wat het uiteindelik gebeur?” Wel, die skrywer van Handelinge sou nooit kon raai wat uiteindelik sou gebeur het nie. Binne ‘n paar honderd jaar nadat die groot filosowe op die Areopagus vir Paulus sou lag en verneder oor sy boodskap, sou ‘n Romeinse Keiser tot bekering kom, Konstantyn. Binne enkele jare het hy alle heidense afgodsdiens verbied en sou hy alle filosofiese skole in Athene sluit. Die Parthenon sou omskep word in ‘n Christelike kerk, die tempel van die god Theseion sou omskep word in ‘n Christelike kerk. Min het die wat daardie dag na Paulus geluister het geweet, en sou niemand kon raai dat toe  Athene uiteindelik hulle onafhanklikheid in die 19de eeu terugwen, dat die vlag van Griekeland elke Vrydag op Paasfees halfmas sou hang en op die Sondag vol-mas sou pryk om die opstanding van Jesus Christus te vier.

Daardie dag terwyl Paulus daar gestaan het en vir die manne van Athene sou vertel van die Messias, het hulle hemelse klanke gehoor maar nie geluister nie. Die hemel het bo hulle oopgebreek, maar hulle het dit nie gesien nie. Handelinge vertel vir ons dat twee mense tot bekering sou kom – Dionisius die Areopagiet en Damaris, ‘n vrou. Nadat Paulus daar weg is het hulle die fakkel verder gevat omdat hulle die hemelse klanke van die hemelse vioolspeler gehoor en erken het. Vandag nog bestaan die kerk van Dionisius in Athene – en kan ons dit gaan besoek.

Die scenario in Athene herinner my aan die verhaal van Joshua Bell.

Stephan Joubert het eenmaal die volgende storie vertel wat my altyd sal bybly:

Teen ‘n asblik het hy daar in die L’Enfant Plaza-treinstasie in Washington, DC, op 12 April 2007 gestaan – die outjie met die T-hemp, jeans en hoedjie.
Vir 45 minute lank in die oggend-spitstyd het hy sy viool gespeel terwyl 1 097 mense haastig op pad werk toe by hom verbygestap het.
Die violis het afgeskop met ‘n stuk van Johann Sebastian Bach. ‘n Middeljarige man het vir ‘n oomblik omgekyk, maar dadelik verder gestap. Terwyl stukke soos Franz Schubert se Ave Maria in die treinstasie weerklink het, het altesame 27 mense sowat $32 in sy vioolkis gegooi.
Die ironie is dat hierdie einste musikant ‘n wêreldberoemde violis is, een van die grootmeesters van ons tyd! Sy naam: Joshua Bell.
Verlede jaar het hy die Avery Fisher-prys ontvang as die beste klassieke musikant in die VSA. Hoe ironies dat iemand wat aand ná aand vol sale betower met sy $3,5 miljoen- Antonio Stradivari-viool, misgekyk is omdat hy heeltemal “uit plek” was.
Joshua Bell se ervaring in daardie moltreinstasie herinner my aan Jesus se aardse optrede. Sy bediening was ook soos ‘n viooluitvoering van die heel beste musiek op ons strate en markpleine.
Tog het baie mense ongestoord by Jesus verbygestap.

 

Hoeveel keer breek die hemelse musiek van God voor jou oop en hoor jy regtig wat God vir jou wil sê? Dikwels staan God se antwoord en wil reg voor ons oë, maar sien ons dit nie. Dikwels wil God ons gebruik om ander mense te help om Sy hemelse klanke te laat weerklink, maar dan plaas ons die viool netjies in ‘n die vioolkis.

Hierdie Kersfees staan ons voor die vraag of ons Hom gaan mis tussen al die persente en die kerskaartjies en of ons hom nuut gaan ontdek en nuut in ons harte gaan laat woon, nuut vir ander mense sal laat klink.

Voor die deur van ‘n nuwe jaar staan die uitdaging of ons hom in 2011 sal erken en sal soek en of ons Sy wil sal erken.

Wat nodig is is die wil om te sien, die wil om te hoor en die wil om te doen. Dikwels roep God ons om net soos Dionysus en Damaris diegene te wees wat die verskil maak – al dink ons dit is klein, want God kan in en deur ons geweldige groot wonderwerke laat gebeur. Die ruïnes van Athene, en die vlag van Griekeland op die Akropolis met die kruis van Jesus wat daarop verewig is, is ‘n getuienis daarvan.

 

Ek sluit af met iets wat Quintus Ennius gesê het:

Byna niemand sien wat reg voor hulle neuse is nie; die meeste staar na die onbereikbare sterre.

Hiermee ‘n skakel na ‘n paar fotos van Athene

 

SKrywer: Dr. Kobus Kok




Die verskillende Afrikaanse Kerke

Die verskillende Afrikaanse Kerke – Kobus Kok

Herman vra:

Hoe verskil die NG,Geref,Hervormde en APK van mekaar? Waarmee verskil die APK van die res?

Antwoord:

Dr Johan van der Merwe antwoord:

Die Nederduitse  Gereformeerde Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika , Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk: Ooreenkomste en verskille.

Al vier hierdie Afrikaanse kerke vind hulle wortels terug in Reformasie van die 16e eeu en staan  daarom bekend as Gereformeerde kerke. Met die koms van Jan Van Riebeeck in 1652, is die eerste kerk van Gereformeerde oorsprong aan die Kaap gevestig. Die eerste gemeente is in 1665 amptelik gestig met die koms van die eerste predikant, ds. Johan van Arkel.  Daar word algemeen aanvaar dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk die kerk is wat deur van Riebeeck hier geplant is alhoewel hierdie standpunt deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika betwis word.  Na die Groot trek van 1834-35 het verdeeldheid egter vinnig op Transvaalse bodem onstaan.  In 1853 is die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika onder leiding van ds. Dirk van der Hoff gestig.  Politieke vrese en ʼn meer liberaal teologiese benadering was die vernaamste redes vir die ontstaan van die kerk. Slegs ʼn paar jaar later is die  Gereformeerde Kerk in Suid Afrika onder leiding van ds. Dirk Postma gestig in 1859.  Weerstand teen die “Evangelische gezangen” was die vernaamste rede vir hierdie wegbreek aksie.  Vir die volgende bykans 130 jaar sou hierdie drie Afrikaanse Gereformeerde Kerke ʼn groot rol in die geskiedenis van Suid Afrika speel.  Al drie die kerke het die apartheidsbeleid van die Nasionale Party Bybels fundeer en was kerke uitsluitlik vir wit Afrikaners, sogenaamde volkskerke.  In 1986 het die Nederduitse Gereformeerde Kerk ʼn nuwe beleidsdokument “Kerk en Samelewing” aanvaar.  Hierdie dokument het die beleid van apartheid veroordeel en kerklidmaatskap oopgestel vir mense van alle rasse.  In reaksie op die verandering van die beleid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het meer as 100 000 lidmate van die kerk weggebreek om in 1987 die Afrikaanse Protestantse Kerk te stig.  Alhoewel daar ook teologiese verskille tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Afrikaanse Protestantse Kerk bestaan, was die hoof rede vir die stigting van die kerk polities van aard.

ʼn Voëlvlug oor die ontstaansgeskiedenis van die 4 kerke toon aan dat daar veel meer ooreenkomste as verskille tussen die verskillende kerke is.

Die volgende ooreenkomste is belangrik:

  • Al vier die kerke gryp terug na dieselfde Gereformeerde wortels en onderskryf die drie Gereformeerde Belydenisskrifte naamlik: die Dordtse Leerreëls, die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis.
  • Al vier die kerke se voertaal is Afrikaans.
  • Al vier die kerke bestaan grotendeels uit wit Afrikaanssprekende lidmate.
  • Al vier die kerke is gegrond op ʼn Sinodaal Presbiteriaanse vorm van kerkregering waar die ampte van leraar, ouderling en diaken onderskei word.

Die volgende verskille kan getipeer word:

  • Op die terrein van die teologie vertoon die Nederduitse Gereformeerde Kerk baie duideliker evangeliese tendense as die ander drie Afrikaanse kerke. Dit is grootliks te wyte aan die invloed van die Skotse predikante en met name Andrew en John Murray wat ʼn sterk piëtistiese invloed op die Nederduitse Gereformeerde Kerk uitgeoefen het. Die groot herlewings wat in 1860 – 1861 in die Kaap plaasgevind het, staan in die teken hiervan. Dit is waarom die sogenaamde “Pinksterbidure” slegs in die Nederduitse Gereformeerde Kerk voorkom.
  • In aansluiting by die teologiese verskille verskil die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika van die ander drie Afrikaanse kerke omdat daar steeds slegs psalms en sogenaamde “skrifberymings” in die kerk gesing word terwyl Gesange saam met die Psalms in die ander kerke gesing word.
  • Politiek het deur die jare ʼn groot rol in al vier die Afrikaanse kerke gespeel. As die grootse van die vier kerke was die Nederduitse Gereformeerde Kerk se wegdraai van die Bybelse ondersteuning van Apartheid in 1986 baie meer dramaties en het dit direk aanleiding gegee tot die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het reeds die Bybelse fundering van Apartheid verwerp en met die gedagte van die kerk as ʼn kerk uitsluitlik vir die Afrikanervolk gebreek. Die Afrikaanse Protestantse Kerk beskou haarself egter steeds as ʼn volkskerk vir slegs blanke Afrikaners.
  • ʼn Laaste beduidende verskil tussen die kerke wentel om die hele saak van die vrou in die amp. In die Nederduitse Gereformeerde Kerk en in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika word vroue tot die amp van predikante, ouderlinge en diakens toegelaat. Die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk laat nie vroue in die amp toe nie.

Alhoewel daar in veel meer detail na die onstaan van die vier kerke gekyk kan word en die verskille fyner genuanseer kan word, vertel bogenoemde kursories die tragiese verhaal van kerklike verdeeldheid en verskeurdheid.  Persoonlike voorkeur en vooroordeel sowel as politieke verskille,  veel meer as teologiese verskille,   het waarskynlik ʼn groot rol gespeel in die onstaan van  vier Afrikaanse  kerke.  Of die verskeurdheid ooit weer herstel sal net die tyd en die omstandighede in Suid Afrika leer.

 

Skrywer: Dr Johan van der Merwe