Godslasterlike Gedagtes

Godslasterlike Gedagtes – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Ek kry van tyd tot tyd allerhande godslasterlike gedagtes wat my baie ontstel. Ek kry pastorale berading. Ek is so bang vir verlore gaan. Ek stap noual 4 jaar ‘n pad met God.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is nie duidelik wat die godslasterlike gedagtes is nie. Byvoorbeeld, soms dink mense aan seks en voel dit is verkeerd, terwyl seks een van die gawes is wat God vir ons gegee het. Natuurlik moet dit binne die grense wat God gestel het, gebruik word, maar om daaraan te dink is normaal. Dit moet net goed bestuur word en nie misbruik word nie. Daar kan haat- of wraakgedagtes ook wees wat met vergifnis ‘behandel’ moet word. ‘n Mens moet nie toelaat dat dit soos ‘n kanker in mens invreet nie. Die beste raad wat  mens kan kry is om die negatiewe gedagtes met gebed en positiewe gedagtes te verplaas. Lees maar Fil 4:6-10.

Wat die ‘verlore gaan’ betref. ‘n Mens gaan nie sommer verlore omdat jy verkeerde gedagtes het nie. Redding beteken dat jy in ‘n verhouding met God staan (soos ‘n kind in ‘n verhouding met sy pa of ma staan). As die kind iets slegs dink, beteken dit nie skielik dat die kind nie meer kind is nie. Wat dit wel beteken is dat die kind werk moet maak van die verkeerde gedagtes  – soos wat Chantelle wel doen. . God wil hê ons moet in ‘n positiewe verhouding met Hom staan en daarom wil Hy graag hê dat ons ons verhouding met Hom gesond moet hou. Dinge soos gebed, sondebelydenis en positiewe denke help daarmee. Ons  moet egter oppas dat ons nie ons gewetens te veel belaai met dinge wat ons pla sodat ons later nie meer plek vir positiewe gedagtes het nie. Dit is nie die moeite werd nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die Doop van Kinders

Die Doop van Kinders – Jan van der Watt

Kotie vra:

Ek wil graag uitklaring kry van die volgende asseblief:

1. Deur te doop word ons deel van God se genadeverbond. Wat as ‘n persoon/kind/babatjie doodgaan voor hy/sy gedoop word, gaan die persoon dan outomaties hel toe?

2. As gelowige ouers hulle kinders laat doop, word dit dan outomaties aanvaar dat indien die kind/ers op ‘n baie jong ouderdom sterf, gaan die kind/ers outomaties hemel toe omrede die ouers gelowig is?

3. As ongelowige ouers hulle kinders laat doop, en die kind/ers gaan op ‘n vroeë ouderdom dood, gaan die kind/ers dan hel toe omdat die ouers nie gelowig is nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is heelwat inligting oor die doop op bybelkennis.co.za. Wat hier gesê word is bloot aanvullend. Al drie die vrae het basies te doen met die funksie van die doop – moet iemand gedoop word om gered te word. Die Roomse en Ortodokse kerke verleen baie gewig aan die doop en sê dat die doop ook reddende krag besit. Die Protestantse kerke ontken egter dat die doop reddende krag besit. Die doop is bloot die teken van ‘n situasie wat reeds daar is – byvoorbeeld dat iemand aan God behoort. Dit doop veroorsaak nie dat ons kinders van God word nie, maar is ‘n teken daarvan, nes die trouring nie die huwelik veroorsaak nie, maar ‘n teken daarvan is.

In die lig hiervan inligting oor die drie vrae:

Wat die eerste vraag betref – nee, die baba gaan nie outomaties hel toe omdat hy of sy nie gedoop is nie. (Die Roomse kerk doen wel hul bes om sulke babas te doop – hulle het selfs ‘n gebruik om die baba in die baarmoeder te doop as hulle dink dat daar gevaar is dat die baba by geboorte mag sterf. Dit hang natuurlik daarmee saam dat hulle glo die doop het reddende krag).

Wat vraag 2 betref: volgens 1 Kor 7 lyk dit tog of die baba deur die geloof van die ouer geheilig word. Met ander woord, as jy deel is van God se familie (kind van God is) en jou baba word gebore, sien God die baba as deel van sy familie. Hy vat nie die baba en gooi die baba in die bos buite die familiehuis sodat die baba daar moet groot word nie. Nee, die baba moet binne die gesin van God grootgemaak word. As die persoon later, as hy of sy groter is, besluit om nie in die huis te bly nie en soos die verlore seun (Luk 15) wegloop is dit ‘n ander saak. Uit hierdie redenasie sou mens kon aflei dat die baba nie verlore gaan nie.

Wat die derde vraag betref: Die doop is vir gelowige ouers, nie ongelowige ouers nie. Dit gaan oor ‘n ooreenkoms wat tussen die ouers en God gemaak word en as die ouers nie dink God bestaan nie (nie in Hom glo nie) hoe kan hulle in ‘n verhouding met Hom staan. Konsekwent geredeneer lyk dit dus of die doop deur ongelowige ouers nie geldig is nie, maar mens moet onthou, die genade van God is baie groter as wat ons ooit kan dink.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die Bybelse Nagmaal

Die Bybelse Nagmaal – Jan van der Watt

Elize vra:

Gegroet in die mooi Naam van Jesus! Kan u my dalk help? Ek is op soek na meer inligting oor die Nagmaal. Bybel se Nagmaal, hoe hulle dit in die dae van Jesus gevier het en die kossoorte wat hulle geëet het. Ons selgroep wil graag so ‘n Nagmaal reël en sal dit baie waardeer as u vir ons meer inligting kan gee.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Elize se vraag gaan oor die manier waarop die nagmaal gevier is. Dit lyk of die Christene aanvanklik gereeld saamgekom en saam geëet het (Daar is aanduidings dat dit weeliks gevier is (Hand 20:7, 11; 1 Kor 16:2 of selfs daagliks Hand 2:46-47). By die geleenthede het hulle dan ook aan Jesus teruggedink (lees 1 Kor 10-11, veral hf. 11 in die verband). Dit sou ons die aanvanklike nagmaal kon noem. Daar was ook liefdesmaaltye wat in die vroeë kerk ontwikkel het, waar hulle die arm mense saam met hulle laat eet het sodat hulle ook iets kry om te eet – dit was ‘n tipe barmhartigheidsdiens.

Wat en hoe het hulle geëet? Navorsers sê dat die laaste maaltyd baie soos die Grieks-Romeinse dinees van daardie tyd geëet is. Die eters het op banke wat teen die muur van die kamer gestaan het, gelê. Hulle het waarskynlik skuins op hulle linkerarms gelê en met hulle regterhande geëet. Daarom kon Petrus vir die geliefde dissipel wink om vir Jesus iets te vra. Hy het nader aan Jesus gelê (Joh 13:22-25). Die kos is dan op klein tafeltjies naby die banke bedien.

Die maaltyd het na sononder begin met liedere en gebede wat dit ‘n egte fees gemaak het – sien Eks 12-13 vir die instelling van die fees (sien ook Lev 23:4-8). Die kern van die gebede was die gebed van die pa van die huis en die opsê van die Hallel (Ps 113-118 – sien Mk 14:26

Wat die kos betref:  brood is gebreek en wyn gedrink. Brood was die basiese komponent van feitlik elke maaltyd en was op verskillende maniere gebruik. Gedurende die paasfees is ongesuurde brood gebruik om terug te dink aan die spoed waarmee daar uit Egipte getrek is. Afgesien van die feit dat dit kos was, was dit as lepel gebruik om die sous uit die bakke te skep. Dit was ook as servette gebruik om die sous van jou hande af te vee. Die ‘servet-brood’ is dan op die vloer gegooi (dit is die krummels wat die armes en die honde dan geëet het). Dit is dus ‘n baie goeie teken vir die nagmaal, want maaltye is nie eintlik sonder brood gehou nie. Hulle moes ook iets hê om te drink. Wyn was ook ‘n belangrike deel van die destydse meer formele maaltye. Hulle het die wyn met water verdun (gewoonlik 1 deel wyn met 3 dele water).

Volgens die eerste drie evangelies was dit die paasmaaltyd – die feesmaaltyd wat die Jode elke jaar geëet het om die uittog uit Egipte te vier. Die hoofdis was die paaslam wat geslag en by die feesmaaltyd geëet is. Dit is gebraai – dit was verbied om dit te kook. Daarby is sous van bitter kruie bedien om die swaarkry in Egipte te herdenk (Joh 13:26), asook natuurlik die ongesuurde brode.

As die familie almal bymekaar was, is die eerste kelk wyn geskink. Die familiehoof het dan die seën gevra en ook die kelk wyn geseën. Dan is die bitter kruie neergesit en met of sonder die sous geëet. Die ongesuurde brood was volgende gevolg deur die lamsvleis wat voor die hoof van die huis neergesit is. Die tweede ronde wyn is dan geskink. Die ouste seun vra dan aan die hoof van die huis wat die betekenis van die maaltyd is. Die Egipte verhaal is dan vertel waarna Ps 113-114 gesing is. Daarna is die vleis gesny en geëet. Daarna is weer (verskeie male) wyn geskink en Ps 115-118 gesing.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Vulgaat

Die Vulgaat – Coen Slabber

[Hierdie artikel volg op die artikel van die Septuagint. Die twee artikels behoort eintlik saam gelees te word.]

Met verloop van tyd word Latyn belangriker en verplaas Grieks as die algemene spreektaal. Reeds in die tyd van Jesus Christus was Latyn die dominante taal in die westelike dele van die Romeinse Ryk – dele soos Gallië en Noord-Afrika. Die noodsaaklikheid van ‘n Latynse vertaling van die Ou Testament word dringend.

Verskillende Latynse vertalings van die Ou Testament word gemaak. In 160 n.C. gebruik Tertullianus  waarskynlik ‘n Latynse teks. Voor sy dood in 258 n.C. gebruik Siprianus ook ‘n Latynse teks. Hierdie ou Latynse tekste was vertalings van die Septuagint. (Op die webblad is daar ‘n artikel oor die Septuagint.) Ongelukkig is geen van hierdie ou Latynse manuskripte bewaar nie – slegs fragmente is beskikbaar.

In die derde eeu n.C. verplaas Latyn Grieks as onderrigtaal in die Romeinse Ryk. Die kerk besef dat ‘n uniforme, betroubare teks in Latyn nou dringend noodsaaklik is. Pous Damasus I gee in 382 opdrag aan Hieronimus om die Ou Testament te vertaal. Hieronimus was ‘n student van die Latynse, Griekse en Hebreeuse tale. Hieronimus het begin deur eers die vier evangelies in Latyn te vertaal. Hy voltooi hierdie taak in 384 – die jaar waarin Pous Damasus I oorlede is.

Hieronimus begin deur die Septuagint as sy grondteks vir sy vertaling te gebruik. Hy besef egter gou dat dit beter sou wees om eerder die Hebreeuse teks te gebruik. Hierdie teks was nog in Palestina as grondteks gebruik. Tussen 390 en 405 vertaal hy die Ou Testament in Latyn. Hierdie vertaling staan bekend as die Vulgaat. [Dit is afgelei van die Latynse woord vulgare wat verkrygbaar maak beteken.]

Nou het die kerk ‘n probleem: Hieronimus beklemtoon die belang van die Hebreeuse Ou Testament – 39 boeke; die Septuagint het ‘n hele aantal boeke wat nie deel van die Hebreeuse Ou Testament was nie, ingesluit. By die Sinode van Trente aanvaar die Rooms-Katolieke Kerk hierdie boeke wat nie deel van die Hebreeuse Ou Testament was nie as gesagvol. Hulle verduidelik dit deur twee woorde:

(a)   Proto-kanoniek. [Proto is afgelei van die Griekse protos wat eerste beteken.] Hierdie boeke is eerste as gesagvol aanvaar. Hierdie is die 39 boeke wat ons in die Hebreeuse Ou Testament kry.

(b)   Deutero-kanoniek. [Deutero is afgelei van die Griekse deuteros wat tweede beteken.] Hierdie ekstra boeke is dus dié boeke wat tweede as gesagvol aanvaar is.

Vir die Rooms-Katolieke Kerk beteken dit nie dat die een meer gesagvol as die ander is nie – die kerk het net op ‘n latere stadium die deutero-kanonieke boeke aanvaar as gesagvol.

Vir eeue was die Vulgaat die Bybel van die kerk.

Skrywer: Dr Coen Slabber