Verskillende skeppingsverhale – Marius Nel
Erika vra:
In Genesis 1 en Genesis 2 word twee verskillende skeppingsverhale uitgebeeld. Kan u verduidelik asb?
Antwoord:
Dr. Marius Nel antwoord:
Hier is die teologiese antwoord op die vraag:
OERVERHALE (GENESIS 1-11)
Hier begin Israel se teologiese geskiedenis van die wêreld. Dit vorm die komplekse omgewing waarin Israel se geloof en lewe verstaan moet word.
Daar is twee kritiese probleme wat al lankal bespreek word:
1. Israel gebruik materiaal wat hulle elders leen: jy vind hier parallelle tekste wat ouer as die Bybelse teks is en in groot kultiese sentra van politieke wêreldmagte ontstaan het. Hier dien dit as ‘n wyse om Israelitiese bestaan en godsdiens te fundeer, te legitimeer en te orden. Vir lank is na sodanige inligting verwys as “mite” in navolging van Gunkel, waarmee nie na ‘n leuen verwys word nie maar eerder na funderende poëtiese vertellings wat die basiese selfbegrip van ‘n samelewing en sy bestaansrede verduidelik (Joseph Campbell).
2. In oerverhale het navorsers verskeie tradisies uitgewys, wat te doen het met die Godsname, Elohim en JHWH. Hieruit formuleer Julius Wellhausen die hipotese van ‘n Priesterlike skrywer asook bydraes deur die Elohis en Jahwis.
Karen Armstrong verduidelik dit so: In die agtste eeu het Israel nog nie sy godsdiens verinnerlik nie. Godsdiens was blote uiterlike rituele. Nou leef die Koninkryk van Juda in die suide in wat vandag as die Wesoewer bekend staan, met die hoofstad in Jerusalem; terwyl die sterker Koninkryk van Israel in die noorde heers. Die Adam-en-Evaverhaal ontstaan in die agste eeu in die suide, verwys na God as JHWH en ons verwys na die skrywer as J. In dieselfde tyd skryf iemand in die noorde ook ‘n soortgelyke weergawe van Israel se geskiedenis neer maar gebruik die meer formele naam vir God, Elohim. Ons verwys na hom as E. In albei gevalle is dit hofverhale wat dien om die koninklike annale aan te vul. Nadat die noordelike ryk in 722 vC vernietig is deur die Assiriërs, word die twee dokumente gekombineer in die JE-vertelling, wat die vroegste stratum van die Bybel vorm.
J en E interpreteer die geskiedenis van Israel radikaal verskillend omdat hulle vir verskillende redes die verhale oorvertel. Later geslagte het telkens dié verhale weer oorvertel en in terme van hulle eie situasie geïnterpreteer. Die JE-verhale is heel waarskynlik by kultiese byeenkomste gebruik. Sedert 1200 het die konfederasie van stamme by heiligdomme in die Kanaänitiese hooglande byeengekom, by Silo, Jerusalem, Hebron, Bet-El, Sigem en Gilgal, waar hulle die verbond hernu het wat hulle aan mekaar bind.
Teen 1850 v.C. het Abraham na die Beloofde land vertrek en teen 1200 het Josua die land verower.
J beskou Abraham as iemand wat in die suide van die land leef en die primêre held van Israel is. J het min tyd vir Moses wat baie meer gewild in die noorde was en een van die belangrikste eksponente van E.
E dra niks by tot Genesis 1-11 nie maar voeg baie by tot die partiargverhale as Israel se geskiedenis vir hom begin.
In die skeppingsverhale is P en J se vertellings langs mekaar geplaas, in 1:1-2:4a en 2:4b-3:24. In die lang vloedverhaal is die twee vermeng, met 6:5-8; 7:1-12; 8:20-22 as basis vir J se bydrae en 6:9-22; 7:13-16; 8:14-19; 9:1-17a as artikulasie van P. Wat belangrik is, is dat die finale weergawe van die verhaal kompleks maar ook volledig is. Die voorgeskiedenis is nie werklik belangrik om die teks te verstaan nie omdat die teologiese interpretasie van die finale vorm die eintlike waarde daarvan vorm.
Tog is dit interessant dat die bronneteorie wat E, J en P in die Tetrateug uitwys, ons in staat gestel het om verskille in die Godsbeeld en -beskouing van die onderskeie bronne op te merk:
? J se God is antropomorfies, sodat hy saam met Adam en Eva in die aand rondloop en by Abraham gaan eet. In Eks 33 vra Moses om JHWH te sien, wat JHWH dan ook toelaat: 21Die Here sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My. 22Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan. 23Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”
? P se God openbaar Hom weer deur natuurverskynsels: in vuur en deur ‘n aardbewing op Sinai, en op die woestynpad in ‘n wolkkolom wat skadu in die dag verskaf en ‘n vuurkolom wat lig in die nag gee. Hy stel belang in orde en grense: sy skepping bestaan daaruit dat Hy grense tussen substansies stel. P se belangstelling lê by Aäron se nageslag, en die tabernakel/tempel-gebaseerde godsdienstige stelsel van offers.
? E se God is verhewe en onkenbaar. Niemand kan Hom sien en bly leef nie. Hy is ver van mense, en kommunikeer deur middel van drome en visioene.
? Die Deuteronomis se God was weer die Een wat eksakte eise aan sy volk stel.
Die narratiewe bronne, J. E, P en D, het elkeen ‘n wetsversameling wat daaraan gekoppel is. Die Verbondsversameling van Eksodus 20:19-23:33 (vgl. Eks 24:7) word met J of Everbind, terwyl die Heiligheidskode van Lev 17-26 sy naam ontleen aan Lev 19:2: “Sê vir die hele gemeenskap van Israel: Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig. ” Alhoewel dit heel moontlik nie deur die Priesterlike skrywer neergepen is nie, reflekteer dit die Priester se teologie. Die Deteronomis se wetsversameling kom in Deut 12-26 voor.
Vroeër is die bronne met groot sekerheid gedateer. J is beskou as die vroegste versameling, en in die tyd van Dawid en Salomo geplaas, in die tiende eeu v.C. Hierop volg die werk van E wat met die Noordelike Ryk verband hou. D is weer verbind aan die hervormingswerk van koning Josia in die laat sewende eeu, en P is in die sesde eeu v.C. geplaas.
Vandag is daar nie meer soveel sekerheid oor die datering of opvolging van die bronne nie, en sommige geleerdes trek selfs sommige van die bronne in twyfel. Hulle sien raak dat dit moeilik is om E van J te onderskei, dat albei vroeg in die Tora voorkom en dat dit onmoontlik raak om vanaf Eksodus tussen J en E te onderskei. Daarom praat hulle eerder van JE as ‘n vroeë narratiewe bron wat verskeie tradisies inkorporeer. Klem word ook vandag daarop geplaas dat ‘n bron nie ‘n enkele skrywer verteenwoordig nie, maar veel eerder ‘n lang historiese periode binne ‘n spesifieke skool of groep of tradisie. Daarom is dit beter om te praat van strome van tradisie wat van mekaar verskil in terme van hulle basiese veronderstellings, eerder as van bronne deur enkele outeurs war ‘n spesifieke periode en lokaliteit veronderstel.
Tog is daar duidelike verskille tussen die strome van tradisies wat dit wel moontlik maak om onderskeie bronne te mag onderskei. Om een voorbeeld te noem, die Deuteronomis se idee van Israel se heiligheid verskil van die Priester se idee. Bronnekritiek bly ‘n nuttige hulpmiddel om die Pentateug te verstaan.
Hoe het die verskillende bronne van die Pentateug bymekaar gekom om ‘n koherente boek te vorm? Navorsers praat van R, ‘n redakteur of span van redakteurs, wat die verskillende bronne saamgevoeg het, waarskynlik oor ‘n periode en in verskillende stadia. Nie alle tradisies van Israel is waarskynlik oorgelewer nie; ‘n keuse is gemaak. Op grond waarvan die redakteurs hulle keuse gemaak het, en wat die ordeningsbeginsel was wat hulle gebruik het, is ook nie aan ons bekend nie.
Wat wel beklemtoon moet word, is dat die finale redaksie van die boek nie ‘n suiwer konsekwente werk opgelewer het met ‘n spesifieke perspektief nie, soos ons van moderne werke verwag wat meer as een skrywer het. Jy vind hier eerder verskeie stemme en perspektiewe.
Die werk is moontlik voltooi tydens die Babiloniese ballingskap van Juda (586-538 v.C.) of kort hierna in die Persiese periode. Die Pentateug het ‘n belangrike rol in Jode se geskiedenis begin speel, omdat hulle besig was om hulle identiteit te verloor. Die Pentateug het hulle identiteit histories verbind aan JHWH se betrokkenheid by Israel.
Die doel van die vertelling is om aan te dui hoe God alles skep, insluitende alle nasies, maar dan een volk uitsonder en met hulle ‘n besondere pad begin stap.
Die Antieke-Nabye-Ooste het nie nog so ‘n werk opgelewer nie, ‘n werk wat so ‘n lang stuk geskiedenis in soveel genres en bronne bevat nie.
Die vraag is: moet ons op die onderskeie bronne konsentreer, tot die mate wat dit moontlik is om bronne te onderskei? Of moet ons op die finale redaksionele werk ons aandag vestig?
Die mees verantwoordelike wyse om die teks te interpreteer, is om raak te sien dat dit uit bronne bestaan wat vir onderskeie redes inligting saamgebring het, maar dat die finale produk benut is om sin in Israel se ervaring van die sinloosheid van die ballingskap in te dra.
Die maklikste onderskeid om te maak is tussenvertellings en die geslagsregisters wat voorkom in hfste 5, 10, 11. Die geslagsregisters is die wyse waarop jou verbintenis aan ander mense en groepe bewys word: hier hoort ek, is ek gewortel en gewettig. Hierin lê netwerke van mag en lojaliteit wat vir die antieke mens identiteitsvormend was.
Skrywer: Dr Marius Nel