Openbaring 13

Openbaring 13 – Pieter Verster

Johny vra:

Verwys die draak en die dier in Openbaring 13 na die Rooms Katolieke kerk en die Pous?

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Aanvanklik verwys die draak en die dier  na die Romeinse keiser wat die Christene  wreed vervolg het. Openbaring is geskryf om die Christene te versterk en te verseker van Jesus Christus se oorwinning. Luther was van mening dat die Rooms-Katolieke kerk in  sy tyd so verword het en die ware gelowiges ewe-eens vervolg dat die Pous  die Antichrist is en die Rooms-Katolieke kerk van sy tyd  die valse kerk was. Sake het baie verander en vandag is daar baie ander wat die ware gelowiges vervolg terwyl  die Pous  geloof in Jesus Christus bevorder. Die draak en die dier verset hulle radikaal teen Christus en sy kerk en is dus van toepassing op hulle wat die kerk redeloos vervolg.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster

 




Satanisme

Satanisme – Pieter Verster

Pieter vra:

Goeie Dag. Ek wil baie graag weet hoeveel aandag moet daar aan byvoorbeeld Satanisme gegee word in Sondagskool om nie “Geloofsabotasie” te veroorsaak nie? Ek weet en het dit iewers ook gelees dat jy jou aandag en gedagtes volkome aan Jesus moet wy en en sodoende nie die aandag aan die duiwel gee nie. Maar hoe maak ek die Sondagskool mentors bewus van die Satanisme sonder dat almal skielik baie navorsing doen en eintlik aandag aan satan geen in plaas van aan Jesus? Of sal ek dalk ‘n kenner vra om ‘n praatjie te hou waar hy/sy uitwys hoe om dit raak te sien en hoe om dit te hanteer wanneer ‘n kind (veral hoërskool) wel navrae het daaroor?

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Dit is baie waar dat mens nie meer aandag aan Satan en sy werke moet gee as wat  nodig is nie. Die aandag moet geheel op Jesus Christus gerig wees. Dit is egter soms nodig om gevare uit te lig en te waarsku teen sake wat kinders en ander kan mislei. Die beste is die skriftuurlike pad. Laat die Bybel self praat. Verwys na gedeeltes waar die Skrif self oor Satan praat en teen hom waarsku. Pasop vir mense wat allerlei praatjies lewer en wil byvoeg by wat die Bybel sê. Vra ‘n predikant om  met deeglike eksegese en uitleg  oor enkele tekste te kom praat. Die boekie van Prof Johan van Rensburg  “The occult debate ” kan ook met vrug gelees word.

 

Skrywer: Prof Pierter Verster




Masturbasie

Masturbasie – Coen Slabber/Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Na aanleiding van die dominee en masturbasie debakel in daardie vieslike koerant Sondag en Beeld het my katkisante my die vraag gevra: “Oom is masturbasie sonde?” Baie mense en beraders sê dit is nie sonde nie. Wat sê die Bybel en wat sê ek vir die kinders asb?

Antwoord:

Hierdie is ‘n vraag wat nie maklik beantwoord kan word nie. Ons glo egter dat dit ‘n baie algemene probleem is. Daarom kyk ons hierna uit verskillende hoeke:

Mediese em sielkundige aspekte van masturbasie (Coen Slabber)

Masturbasie kom by mans en vrouens voor en in feitlik alle ouderdomme. Ons almal is bewus van die baie mites oor masturbasie – dat dit lei tot blindheid, geestesiektes, ens. Medies gesproke is daar geen waarheid in hierdie mites nie. Masters en Johnson, pioniers op die gebied van menslike seksualiteit, het bevind dat daar geen kort- of langtermyn mediese nadele verbonde is aan masturbasie nie. In 2003 het ‘n Australiese navorsingspan onder Graham Giles bevind dat gereelde masturbasie tot ‘n afname in die voorkoms van prostaatkanker mag lei.

Daar is egter sekere emosionele aspekte wat in gedagte gehou moet word. Sou dit byvoorbeeld in die huwelik gebeur dat masturbasie die plek van normale geslagsgemeenskap inneem, mag dit die selfbeeld van die een maat nadelig beïnvloed.

Masturbasie kan ook sosiale gevolge hê. Dit gebeur as ‘n persoon so besig gehou word dat dit sy werk en verhoudings nadelig beïnvloed. Volgens die Mayo Clinic.com is seksuele obsessie ‘n probleem by 3 – 6% van mense – veral onder mans. Seksuele obsessie  mag sosiale en finansiële nadelige effekte hê. Dit sluit in besoeke aan pornografiese webblaaie  en kletskamers – of selfs deur blootstelling in die openbaar. Die groot gevaar is dat masturbasie ‘n obsessie word.

In mediese kringe word dit toenemend erken dat masturbasie depressie kan verlig. Dit gebeur veral in huwelike waar die een maat meer gemeenskap verlang as die ander een. Masturbasie balanseer dan die behoeftes van die egpaar en mag tot ‘n meer harmonieuse verhouding lei.

Die grootste bekommernis vir die meeste mense wat masturbeer is die negatiewe konnotasie geassosieer met masturbasie.

 

Teologiese aspekte van masturbasie (Prof Jan van der Watt)

Die verskynsel van masturbasie is so oud as die mens self, tog word dit nooit spesifiek in die Bybel aangespreek nie. (Die geval van Onan in Genesis  38:9 is nie masturbasie nie – die konteks lig ons in waaroor dit gegaan het). Binne die Christendom word dit gewoonlik behandel as deel van die etiek van aanvaarbare seksuele gedrag, seksuele begeerte, kuisheid, ens. en dan gewoonlik binne ‘n meer konserwatiewe konteks. In die lig van uitsprake dat ‘n mens nie moet begeer nie, of dat ‘n mens seksueel rein en kuis moet leef, word daar dan gesê dat masturbasie nie toelaatbaar is nie. Dit word negatief beoordeel omdat daar voorstellings in die persoon se verbeelding gemaak word van ‘n seksgenoot, of die persoon begeer iemand wat hy of sy in ‘n foto sien (pornografie – sien Matteus  5:28 of Job 31:1-3). Daar word gesê dat dit nie is waarvoor seks bedoel is nie en dit druis dus teen kuisheid in. Daar is ook argumente dat die saad van die man lewe oordra. Om dus die saad onnodig te stort, kom neer op die vernietiging van die lewe in die saad. Die saad is nie daarvoor bedoel nie en dus word daar buite die beplande grense vir die gebruik van die saad beweeg. Daarom moet dit nie gedoen word nie. Die laaste argument sal vandag nie meer so sterk weeg nie, want niemand wat masturbeer sal voel hy of sy vernietig lewe nie. Lewe kom alleen tot stand as ‘n vroulike en manlike saad bymekaar kom.

Aan die ander kant is dit so dat in die tyd toe die Bybel geskryf is,  het mense gewoonlik baie vroeg as tieners getrou. ‘n  Meisie was skaars seksueel ryp dan moes sy trou. Vandag is die gemiddelde trou ouderdom diep in die twintigs. As ‘n mens dan besef dat jou seksuele drange byna so basies is as jou drange om te eet,  word die dilemma meer as duidelik. Jou seksuele drange moet beheer word en dit kan of deur die selfdissipline van onthouding, of deur vrye seks of deur masturbasie. Die keuse is dus nie so maklik nie en elkeen van die oplossings het sy probleme.

Waarby bring dit ons? Ons moet nie daarvan uitgaan dat die Bybel masturbasie verbied of goedkeur nie, want dit word nie genoem nie. Ander argumente gee gewoonlik die deurslag. Byvoorbeeld: waarom word daar gemasturrbeer en watter effek het dit op die persoon? Daar is situasies waar masturbasie ook ‘n positiewe rol kan speel, byvoorbeeld om natuurlike behoeftes van die liggaam aan te spreek. Watter mate van begeerte gaan daarmee saam en wie word begeer? Word die grense van kuisheid oorskry met die begeertes? Is die persoon in beheer van hom of haarself of is daar onbeheerstheid by betrokke? Moedig die masturbasie die persoon aan om werklike onaanvaarbare seksuele dade met ander te wil pleeg of onkuis te wil raak? So kan ons aangaan. Baie hang van die antwoorde wat op sulke vrae gegee word af. Een ding is egter seker naamlik dat enigiets wat buitensporig raak of waar daar nie meer nugter beheer oor is nie, raak problematies. Maklike antwoorde is daar nie.

Ten slotte: daar moet nie onnodige skuldgevoelens oor hierdie saak by mense opgewek word nie. Die Bybel is nie so duidelik teen masturbasie dat die beoefenaars daarvan summier veroordeel moet word nie.

 

Skrywers: Dr Coen Slabber en Prof Jan van der Watt




Die Groot Geloofswoordeboek: Masoretiese teks

Die Groot Geloofswoordeboek: Masoretiese teks

Die Masoretiese teks is die Hebreeuse Ou Testament, die Jode se “Heilige Skrif” of Bybel waarvan hulle teen ongeveer 200 vC ‘n Griekse vertaling gemaak het, die *Septuagint. Vir eeue lank was die Jode se Bybel net in medeklinkers geskryf sodat hulle dit baie goed moes ken om dit te lees en te verstaan. Dit is nie seker of daar net een teks van hulle Bybel was, en of daar verskillende tekste was nie. Die Septuagint verskil soms so drasties van die uitgawe van die Masoretiese teks wat ons ken, dat dit makliker is om te aanvaar dat daar verskillende weergawes was.

 

Skrywer: Prof Adrio König