OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM
OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM – Marius Nel
Japie Erasmus vra:
Goeie môre. Ek lees Jesaja 65.Wat is die uitleg van die hoofstuk. Vanaf vers 17 staan daar ook gebeure wat gaan kom wat ek graag meer oor sal wil weet. Baie dankie
Antwoord:
Dr Marius Nel antwoord:
OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM (65:1-66:14)
Hierdie gedeelte verskaf die antwoord op die vraag in 64:12 of die Here nie in die nood gaan ingryp nie. God gaan onreg uitroei. Eers beklemtoon die profeet dat God se oordeel lei tot ‘n
nuwe skepping (65:1-25). Dan sê hy dat die dood van die sondaars lei tot nuwe lewe vir Sion (66:1-14).
GOD SE OORDEEL EN DIE NUWE SKEPPING (65:1-25)
God se oordeel en die nuwe skepping
Lees Jesaja 65:1-25
God antwoord op die twyfelvrae van die profeet in die voorafgaande hoofstuk. Hy kondig aan dat Hy oor die mense gaan oordeel. Vir die sondaars wag daar onheil, maar vir die gehoorsames ‘n heerlike toekoms. God gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde tot stand bring. Op die nuwe aarde wag daar ‘n geseënde toekoms op God se volk.
65:1-5 God se genade, die volk se ondankbaarheid. God het getrou vir sy volk gesorg. Hy het sy wil aan hulle geopenbaar. Hy het van sy kant af voortdurend die kloof tussen Hom en Israel oorbrug en vir hulle gesê: Hier is Ek. Hier is Ek. Israel het egter nie daarop gereageer nie. Hulle was afsydig. Hulle het Hom nie in die gebed gesoek of Hom aangeroep nie. God het gedurig sy hande uitgesteek na die opstandige volk.
Telkemale het hulle God se hand van genade weggestoot en afgode aanbid (65:3). Hulle het die dooies geraadpleeg in plaas van vir God (vgl 8:19; Deut 18:11) en onrein kos geëet (vgl 66:17; Lev 11:7-8, 19:7; Deut 14:3 en 8; Eseg 4:14). Dan is hulle boonop skynbaar vroom en beskou mense wat nie aan hulle misdrywe meedoen nie, as onrein. Sulke optrede maak die Here woedend. Mense wat God se hand van genade wegklap, moet wéét dat oordeel op pad is.
65:6-7 God voltrek die oordeel. Dit staan by God vas: Ek gaan ingryp, Ek gaan hulle straf. Hulle hele geskiedenis is ‘n geskiedenis van verkeerde optrede. Hulle sit die sonde van hulle voorvaders voort. Dié sonde behels veral die aanbidding van afgode op die berge en heuwels – die altare van die Kanaäniete (vgl 57:7; Eseg 6:13; Hos 4:13). Mense wat God se genade doelbewus ignoreer, kry die straf wat hulle verdien.
65:8-10 God se dienaars leef. God oordeel nie voor die voet nie. ‘n Druiwetros wat nog sap in het, word nie weggegooi nie, want dit het nog nut. So sal God sy dienaars, dié wat vra na God se wil, nie verwerp nie. Op hulle wag voorspoed en oorvloed. Hulle sal die land weer in besit neem, God se dienaars sal daar woon. Van die Saronvlakte in die weste tot by die Akorvlakte in die ooste sal hulle beeste wei. Hierdie belofte geld egter net dié wat vra na God se wil.
65:11-12 Die afvalliges gaan ten gronde. Teenoor die voorspoed wat die Here se kinders geniet, gaan dié wat van die Here afvallig geword het, ten gronde. Hulle het die Here verlaat. Hulle het die afgode Gad en Meni aanbid. Beide was Kanaänitiese gode van geluk of lotsbeslissing. Omdat hulle hulle bestemming deur ‘n afgod wou laat bepaal, bestem God hulle nou vir die oordeel. Die dood wag op hulle, want toe God geroep het, het hulle nie geantwoord nie, toe Hy gepraat het, het hulle nie geluister nie. Hulle is self vir hulle ondergang verantwoordelik.
65:13-16 Die lot van dienaars en afvalliges. Die profeet vat die voorafgaande verse saam. Daar is ‘n groot verskil tussen die lot van God se dienaars en dié van die afvalliges. Die dienaars van God ken geen honger of dors nie. Hulle is bly. Dit gaan met hulle goed. Daarteenoor gaan dit sleg met die ongehoorsames. Hulle ly honger, het dors, staan teleurgestel, skreeu van pyn en huil van hartseer. Hulle sal ‘n voorbeeld wees van hoe dit met ‘n mens gaan wat vervloek is. Hulle gaan ten gronde, maar vir dié wat Hom dien, gee God ‘n nuwe toekoms. Hulle sal in sy Naam bid en in sy Naam ‘n eed aflê, want Hy is getrou. God verseker hulle dat die swaarkry van vroeër vergete sal wees. God self laat dit verdwyn.
65:17-25 ‘n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die swaarkry verdwyn omdat God ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Hierdie tema word ‘n belangrike belofte in die Nuwe Testament (vgl 2 Pet 3:13; Op 21:4). Dit gaan nie om die vernietiging van die ou aarde nie, maar om ‘n totaal nuwe begin wat God met sy mense maak. Die oorsprong van die voorstelling lê in Jesaja 43:18-21.
In die nuwe bedeling verbind God hom opnuut aan sy volk. Daarom kan hulle bly wees en sonder ophou jubel. God skep ‘n Jerusalem … wat vol blydskap is, ‘n nuwe Jerusalem waaruit God self vreugde sal put. Hartseer, honger en ontydige sterftes sal nie meer voorkom nie. Die mense sal nie meer tevergeefs werk nie, maar die vrug van hulle arbeid geniet. Hulle sal huise bou en self daarin woon, wingerde plant en self die druiwe eet. Die volk sal so oud word soos ‘n boom. Dit simboliseer voorspoed en vrugbaarheid (vgl Job 14:7; Ps 1:3, 92:12-13; Jer 17:8; Eseg 19:10). Die Here sal hulle en hulle nageslag oorvloedig seën. En Hy sal so naby aan hulle wees, dat Hy antwoord nog voordat hulle roep. Terwyl hulle nog praat, sal Hy hulle gebed verhoor.
Die profeet roep die beeld van totale harmonie in die skepping, waarvan Jesaja jare gelede gepraat het (vgl Jes 11:6-9), weer in herinnering. Op die nuwe aarde sal die wolf en die lam … saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ‘n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Vyandskap en vernietiging verdwyn. Op God se heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.
Skrywer: Dr Marius Nel