Vloekwoorde

Vloekwoorde – Adrio König

Paul vra:

Ek wil weet: wat klassifiseer ‘n woord as ‘n vloekwoord? Hoe weet ons watter woorde is vloekwoorde, en ook waar daaroor gepraat word in die Bybel vir verwysing.

Antwoord:

Prof. Adrio König antwoord:

Oor vloek in die algemeen, soos vloek, vervloek, kan jy baie interessante stof kry deur net ‘n konkordansie te raadpleeg.

Oor vloekwoorde self kry ek min in die Bybel. Simeï vloek vir Dawid nie met wat ons vloekwoorde noem nie, maar eerder met skelwoorde soos moordenaar en skurk (2 Samuel 16). Kyk NJB se vertaling!

Daar is nie ‘n bepaalde groep woorde wat vloekwoorde is nie. Dis die gesindheid waarmee ‘n woord uitgespreek word, wat dit vloek maak. Dis ‘n gesindheid van weersin, aggressie, vernedering. Die woorde kaffer of blerrie kan as ‘n vloekwoord gebruik word, of as ‘n gewone woord. “Kaffer” kan vernederend gebruik word, selfs vir ‘n witmens, of kan rustig in ‘n lesing gebruik word om aan te dui hoe die witmense in die 17e eeu na swart mense verwys het.

Wat vloek verkeerd maak, is dus nie die spesifieke woord nie, maar eerder die gesindheid waarmee die woord uitgespreek word. Daarom kan enige woord as ‘n vloekwoord gebruik word. ‘n Mens kan “knapsakkerwels” aggressief en vernederend gebruik.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld

Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld – Dirk Venter

Rudolph vra:

Help met ‘n paar definisies asb: Goddeloos God-loos God-los God-verlate God-vervul(d) Groete

Antwoord:

Dr. Dirk Venter antwoord:

Voordat ek definisies voorstel vir die bogenoemde terme, net eers iets oor die aard van die betekenis van woorde. Hoewel ‘n mens dikwels geneig is om te dink dat woorde vaste betekenisse het, is dit nie eintlik die geval nie. Die betekenis van ‘n woord is nie staties nie, maar hang af van die konteks waarbinne dit gebruik word. Hierdie konteks kan byvoorbeeld die gesprek of teks wees waarin die woord gebruik word. Wyer nog sluit konteks selfs ook in: die tyd (era) en omgewing waarin iets gesê word, en die kultuur van die spreker en hoorders, ens.

Neem nou byvoorbeeld die sinnetjie: “Hou my dop”. Wat is die betekenis van dop?  Ons kan dink aan ten minste drie moontlikhede, en die konteks bepaal telkens die betekenis.

Konteks 1: jou vriend wil die vleis omdraai op die braaier, en gee vir jou sy drankie om te hou sodat sy hande vry kan wees… “Hou my dop”.

Konteks 2: ‘n klein seuntjie wil vir sy ma wys hoe hoog hy kan swaai op die swaaie in die speelparkie… “Hou my dop!”

Konteks 3: ‘n klein skilpadjie wil gaan swem, trek sy dop uit en hou dit na sy ma toe uit… “Hou my dop!”

Laasgenoemde “konteks” (3) is duidelik fiktief. Dit kom eintlik uit ‘n bekende grappie wat net in Afrikaans werk. Dit onderstreep dan juis hoe belangrik dit is om die groter konteks waarbinne iets gesê word, in ag te neem, ten einde seker te maak dat jy ‘n woord reg verstaan, soos bedoel deur die gebruiker daarvan in die konteks waarin hy hom bevind het toe hy dit gebruik het. As ‘n mens dus ten opsigte van die laaste voorbeeld nie in gedagte hou dat dit deel is van ‘n grappie nie, kan jy dalk net tevergeefs baie tyd en energie mors op soek na daardie klein, pratende skilpadjie wat sonder sy dop kan swem, (of jou dalk onnodig vererg vir die verteller van die staaltjie wat sulke onwetenskaplike onsin kan kwytraak)…

Hier is dus my poging om algemene definisies van die woorde te probeer gee. Hou asb. in gedagte dat dit kontekslose definisies is en dus nie in alle kontekste geldig sal / kan wees nie:

Goddeloos – hierdie is ‘n erkende Afrikaanse woord en word deur die HAT gedefiniëer as “1. sonder [geloof in] God, sonder godsdiens; 2. sedelik sleg en verdorwe, sondig; 3. erg sleg, vreeslik, verskriklik; 4. erg ondeund, vol kattekwaad.”

Godloos – word deur die HAT gelys as ‘n sinoniem van die eerste moontlike betekenis van “goddeloos”: met ander woorde “sonder [geloof in] God of ‘n god, sonder godsdiens”.  Sou mens die woord sonder ‘n kleinletter skryf, “godloos”, sou dit daarna kon verwys dat iemand geen god erken en/of gehoorsaam nie, hetsy dit die ware God of ‘n afgod sou wees.

God-los – hierdie is sover ek kon vasstel (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie. Ek veronderstel dat dit gebruik kan word om te verwys na ‘n situasie waar iemand “los” van God (begin) lewe, ongeveer sinoniem aan “afvallig”.

God-verlate – ‘n erkende Afrikaanse woord. Die HAT gee die volgende betekenismoontlikhede: “1. deur God verlate, ellendig; 2. uiters verlate, eensaam, afgeleë”. Onwillekeurig dink ‘n mens aan die woorde van Jesus aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt 27:46), toe Hy vanweë ons sonde die straf van Godverlatenheid plaasvervangend op Hom geneem het.

God-vervul(d) – weereens, sovêr ek kon vasstel, (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie, wat die betekenismoontlikhede daarvan soveel minder seker maak. In die konteks van die Nuwe Testament kry ons egter die konsep dat God se kinders vervul is met die Heilige Gees. Dit sou beter wees om, soos die Nuwe Testament (bv. Efesiërs 5:18), van vervulling met die Gees te praat, eerder as van God-vervuldheid aangesien dit tegnies gesproke (soos gebruik deur die skrywers van die Nuwe Testamentiese boeke) nie God die Vader (of Jesus Christus) is wat ‘n gelowige vervul nie, maar wel die Heilige Gees. In verband met die vervulling deur die Heilige Gees kan die volgende ander artikel op bybelkennis.co.za gerus nageslaan word:

Die Heilige Gees neem beheer van jou lewe (Vervul met die Gees)

uit Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy.

 

Skrywer: Dr Dirk Venter

 




Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem? – Kobus Kok

Louraine vra:

Ek het geen respek vir valse godsdienste nie,wel vir die mens wat daarin vasgevang is. Elia en die Baäl profete(1Kon.18) is vir my die uitstaande voorbeeld van die “respek” wat Elia vir hulle godsdiens betoon het.

Presies wat leer die Bybel in die verband aangesien daar diegene is wat die “New Age” idee bevorder dat alle godsdienste  gelyk is , dat almal maar dieselfde God aanbid ,en dat Christene respek vir ander godsdienste moet hê?

Ek sien  Christenskap ook nie as ‘n godsdiens nie, maar as ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus Christus.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Die woordjie “respek” verdien aandag en ‘n definisie daarvan moet ons eers duidelik omskryf. Respek het volgens die H.A.T. te doen met die bewys van eerbied, ontsag en agting aan iemand anders.

Ek onthou hoe my pa vir my eendag, toe ek twaalf jaar oud was  die volgende  gesê het: “Behandel jou meerderes met respek omdat dit jou plig is, jou gelykes omdat dit jou plesier is en jou ondergeskiktes omdat dit jou voorreg is”. Dit het by my ‘n blywende indruk gelaat. Die gevolg van my ouers se opvoeding en my blootstelling aan Universiteit as teologiese student en dosent was dat ek as Christen in die eerste plek die beeld van God in mense wil raaksien. Daarom hanteer ek mense, ongeag van hulle herkoms of geloof, as mense waarin iets van God se beeld ook sigbaar is – mense in wie God iets radikaal tot stand kan (en wil) bring. Net soos wat ek nie mense wat sondig afskryf nie, maar liefhet, net so kan mens ook lief wees vir mense van ander geloofsoortuigings sonder om eerbied of ontsag en agting vir hulle geloof te hê. Mens kan egter vir hulle as mens en as mede beeld draers van God respek hê. Mense is immers meer as hulle geloofsoortuigings. God wil dalk in en deur jou vir hulle wys hoe diep die liefde van Christus is. Deur mense met geen eerbied en geen ontsag en menswaardigheid te hanteer omdat mens gewoon “geen respek” vir hulle as mense in die beeld van God het nie, is nie die Christelike weg nie. Ons sien dit veral by Jesus. In Lukas 15:1vv lees ons hoe die verkeerde mense –  die sondaars – gereeld  by Jesus was en hoe hy sy tyd met hulle aan tafel deurgebring het. In Johannes 4 lees ons hoe Jesus moeite maak met ‘n Samaritaanse vrou en haar die lewe skenk. Ons lees in Handelinge hoe Paulus op ‘n dag in ‘n gesprek gaan met die heidense filosowe en vir hulle vertel hoe die God wat hy ken die onbekende God is wat hulle nog nie ken nie. Deur liefdeloos te leef doen ons eintlik reuse afbreek aan ons getuienis as mense van die Lig.

Alle Godsdienste is nie gelyk nie. Ons glo dat iets uniek in Christus plaasgevind het. Dit maak ons egter nie beter as ander nie. Ons is eintlik net begenadigde mense, mense wat self verlos is van ‘n doodsbestaan en wat eintlik ook op ‘n stadium vyande van God was. Ons eerste opdrag is om die goeie te doen aan almal. Dit lees ons duidelik in Galasiërs 6:10 as Paulus die opdrag duidelik gee. In Johannes 17 en 20 stuur Jesus sy dissipels uit na die wêreld – die wêreld waarin hulle beweeg soos skape tussen wolwe om een ding te doen en dit is om God se liefde uit te leef. Om die goeie te doen aan almal beteken egter nie om die heidense gelowe te bevorder nie! Dit beteken gewoon om vanuit jou verhouding met Christus vir hulle lief te wees.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”?

Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”? – Kobus Kok

Lorraine vra:

Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”? Bekommernis oor die gebruik daarvan, veral onder jong mense?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”

‘n Bekommerde leser vra: Wat se die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY” Bekommernis oor die gebruik daarvan, veral onder jong mense?

Nou die dag vertel vriende van ons dat ‘n 0/16 netbal span ‘n afsluitingsfunksie het en dat die afrigter vir die meisies gesê het dat  daar die aand ‘n Hubbly Bubbly sal wees, maar die kinders moet net hulle eie tabak saambring. Die ma van die dogter was oorstelp van woede – hoe kan ‘n onderwyser kinders so aanmoedig om Hubbly Bubblies te rook – en dit nog op ‘n skool verwante kuier aand!? Baie grootmense wonder dan ook wat ‘n Hubbly Bubbly is. Wel, dit is ‘n waterpyp en word ook hooka (of Shisha in Arabies) genoem. Die Hubbly Bubbly het sy oorsprong waarskynlik in die midde Ooste gehad (Egipte, Arabië, Persië, Indië), maar is baie populêr in plekke soos Australië, Noord Amerika en selfs in Europa en deesdae oral op die kampusse van ons land. Daar gaan amper nie ‘n dag verby dat mens studente op kampus en kuierplekke met ‘n Shisha sien nie. In baie restourante kan mens dit bestel as deel van die ete, voorgereg of nagereg.

Die goeie nuus is egter dat ‘n Hubbly gesonder is as wanneer jy iemand se sigaretrook indirek inasem of sigarette self rook. Baie van die tabak (nie almal nie) is nikotien vry en teer-vry. Dit word deur water getrek en so word “skoner” rook ingeasem.

 

hubbly_bubly

(skets afgetrek van http://en.wikipedia.org/wiki/Hookah)

 

Die slegte nuus is dat Hubblies dalk gesonder is as sigarette, maar dit bly steeds ongesond. Navorsing toon aan dat dit ongeveer 40 minute dien om een sarsie klaar te rook, en dit tussen 50 en 200 keer ingetrek kan word. Die implikasie is dat elke inhalasie tussen 0.15 en 0.5 liter rook afgee. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie en die Amerikaanse kanker organisasie se navorsing toon aan dat ‘n uur se rook van ‘n Hubbly Bubbly meer skade kan aandoen as sigarette aangesien 100-200 keer meer rook ingeasem word as met ‘n sigaret en vele skadelike chemikalie nog steeds  vrygestel word. Dit bly dus wesenlik skadelik en is nie so onskuldig nie. In Pakistan is navorsing onderneem van ‘n toetsgroep waarin bevind is dat Carcinoembryonic antigen (CEA) wat in verskillende vorme van kanker voorkom, aansienlik aanwesig is in mense wat baie Hubbly Bubbly rook.

Die Bybel sal dus in beginsel nie die rook van Hubbly Bubbly goedkeur nie. Dit doen skade. Maar net so doen sigarette skade en ook die inaseming van sekondêre rook. Ouers wat kinders verbied om ‘n Hubbly te rook maar self rook, drink, nie oefen nie en wat hoë cholesterol het en dit nie verantwoordelik bestuur nie, het net soveel skuld. Die Bybel praat dalk nie direk oor hierdie sake nie, maar ons gesonde verstand en Christelike denke sal ons by die punt uitbring dat ons verantwoordelik moet omgaan met dit waaraan ons ons liggaam, emosies en gees blootstel. Geen Bybelse teks gaan jou oorreed om nie te rook of te veel skaaptjops te eet nie. Dit is alleen in jou verhouding met die Here dat jy sal weet of iets vir Hom aanvaarbaar is of nie. Ek het lankal vir myself uitgemaak dat dit nie God se wil is dat ek ongesond moet leef of my liggaam moet blootstel aan skadelike dinge nie. In 1 Tessalonisense 5:21-22 lees ons immers: Toets alle dinge maar behou die goeie en bly weg van alle vorme van kwaad. Ek kies om eerder die goeie te behou en na te streef en hoop dat jongmense ook dit sal besef ter wille van hulle eie toekoms. Op die einde gaan dit nie oor moralistiese wetsnakoming nie, maar oor gesonde balans, gematigheid en onderskeiding.

Lees gerus meer oor die saak by http://en.wikipedia.org/wiki/Hookah

 

Skrywer: Dr Kobus Kok