Hoe om kop bo water te hou

Hoe om kop bo water te hou – Kobus Kok

Willie vra:

Filippense 4:6 – “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God terwyl julle Hom dank vir alles wat Hy doen. Dan vers 7 ” As julle so bid sal julle God se vrede beleef. ” My vraag is wat presies beteken die vrede waarvan hier gepraat word , hoe ervaar ons dit of hoe moet ons dit reg verstaan?  Vers 7 sê ons sal die vrede beleef- dit klink vir my ons sal dit fisies ervaar? Kan dit wees dat ek my minder sal bekommer en dat ek dan sal kan glo God het die probleem oorgeneem, in plaas daarvan dat ek my tot stilstand bekommer en so op die probleem fokus dat , al bid ek ,my fokus net op myself en die probleem is ?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Hoe om kop bo water te hou volgens Paulus

Hoe hou mens kop bo water wanneer probleme so groot word dat dit vir jou voel of jy daarin gaan verdrink? Dit is die vraag wat Paulus ook op ʼn goeie dag gevra het. Paulus skryf sy brief aan die Filippense terwyl hy in die tronk is. Hy het op verskeie plekke geskryf hoe hy vervolg is, hoe dinge nie volgens menslike planne gegaan het nie, en hoe hy ontsettend moes ly. Tog sien ons by Paulus iets merkwaardigs. Paulus illustreer die vermoë om bo sy slegte omstandighede uit te styg en nie in die see van sy probleme te verdrink nie. Sy geheim? Dankbaarheid en blydskap! In Filippense 4:4 doen Paulus die oproep op sy gelowige vriende dat hulle altyd bly en dankbaar moet wees. Blydskap en dankbaarheid loop hand aan hand. In jou moeilike omstandighede sê jy dankie vir alles wat God jou skenk en vir die gawes wat jy wel het. Dit gee weer dou-druppel energie om vorentoe te beweeg in die woestyn van moeilike omstandighede. Dikwels raak ons so toegegooi en deurdrenk deur alles wat nie reg gaan in ons lewe nie, dat ons heeltemal vergeet wat wel reg gaan. Paulus se geheim is om bekommernisse in gebed te omskep – dan sien mens skielik ook anders. Ek het eenmaal gehoor hoe iemand verduidelik dat wanneer hulle bid, dit vir hulle voel of hulle arendsvlerke kry en so effens buite hulle eie omstandighede kan uitkom en daar van bo af beter sin kan maak van die chaos daar onder. Gebed gee perspektief – God se perspektief op ons lewe. Dikwels praat ons te veel as ons bid en luister te min. Indien ons luister, sal ons spoedig Sy stem hoor wat vir ons ʼn alternatiewe prentjie kom gee in die konteks van ons vrees, stres,  ongelukkigheid en kommer. In gebed kom die geskenk van vrede na ons. God se vrede wat alle rasionele verstand te bowe gaan. Die woord vir vrede in die Hebreeuse taal dui op heelwording en die belofte van vrede, herstel en restourasie. God is in beheer van ons lewe. Al gaan dinge nie altyd soos ons dit beplan nie, kan ons weet dat God weet waar Hy met ons op weg is. Ons moet op Hom vertrou. Indien ons terugdink aan ons lewens, weet ons dat God getrou is. Die digter in Psalm 77 kla aanvanklik baie en betoon sy ongeloof terwyl hy wonder waar God is en uiteindelik sê dat God van hom vergeet het. Maar dan draai die psalm se klaaglied skielik om in ʼn loflied waar die digter terugdink aan God se groot verlossingsdade in die verlede – en dit gee hom hoop dat God hom ook uit hierdie moeilike tyd sal uittrek en na veilige waters sal lei.

Uiteindelik kom dit dus neer op ons gedagtes en manier van dink. In Filippense 4:8-9 gee Paulus die voorskrif aan sy gemeente dat hulle getrou moet bly aan God en dat hulle vas moet staan in hulle vertroue op God en in hulle geloof. Dit gaan dus ten diepste daarom dat mens reg moet dink en reg moet handel. Die woorde en gedagtes wat ons in ons koppe laat ingaan en huisves, bepaal ons hele lewe en bepaal hoe jy gaan reageer. Indien jy klaar hoop opgegee het sal jy passief word en die vrees sal jou verlam en jy sal jou tot stilstand bekommer. As jy positief en hoopvol is, en weet dat God in beheer is dan sal jy geënergeer word en nie vaskyk in jou probleme nie, maar God se wysheid ontvang en antwoorde kry op die pad vorentoe. So fokus mens nie op jouself nie, maar op God.

Lees gerus Prof Stephan Joubert se boek Beheer God Jou Denke?: Die Sleutel Tot ‘n Suksesvolle Geloofslewe is Binne Jou Bereik!

 

Skrywer: Dr Kobus Kok

 

 




Mense wat uit die grafte kom met Christus se dood in Matteus 27

Mense wat uit die grafte kom met Christus se dood in Matteus 27 – Kobus Kok

Willie vra:

In Matteus 27:52 staan daar ” En God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was , weer lewendig gemaak – vers 53 “Hulle het uit die grafte gegaan en na Jesus se opstanding het hulle aan baie mense verskyn” Die blyk dat die mens wat sterf en na God toe gaan , sonder sy liggaam gaan – die ontslapene is by Christus en ons weet Christus is nie in die graf nie – Openbaring 6:9-11 sê Johannes hy het die siele van die mense gesien wat doodgemaak is omdat hulle aan die Woord van God vasgehou het My vraag is was die mense wat opgestaan het in Matteus 27 se siele reeds by God in die hemel en moes hulle toe al die pad terugkom aarde toe om weer daar met hulle liggame verenig te word, ten einde op te staan uit die grafte uit ?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord

In Matteus 27:52 lees ons uit die Ou Afrikaanse vertaling: “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.

Hierdie betrokke teks is een van die mees ingewikkelde, maar interessante tekste en daar is baie daaroor geskryf. In die eerste plek moet mens altyd onthou dat wanneer mens ʼn vraag aan ʼn teks stel, mens nie altyd die regte vraag vra nie. Indien ons die Afrikaanse uitdrukking “sy het na jare van swerwing die pot aan die einde van die reënboog gevind” as voorbeeld neem, dan sou ʼn historiese vraag nie die regte vraag wees nie. Indien ons die sin ontleed en wil weet hoeveel kilometer die vrou geloop het en waar sy die pot gekry het en watter kleur die pot was, dan mis, ons die punt. Die punt van hierdie sin is dat die vrou na jare van soek en van swerf in haar lewe uiteindelik ware geluk gevind het. Net so moet ons ook die regte vraag aan die teks stel. Nou is die vraag of ons in die eerste plek die wat presies gebeur het vraag moet vra en of ons die wat wil die Bybelse skrywer daardeur kommunikeer vraag moet vra. Myns insiens gaan hierdie gedeelte in Matteus eerder oor die saak wat Matteus aan die orde wil bring, naamlik dat Jesus se dood en opstanding uiteindelik die bewys was dat God se spesiale tydperk aangebreek het. In hierdie gedeelte van Matteus sien ons ʼn paar interessante gegewens soos dat die gordyn van die tempel geskeur het. In die Grieks word die woord vir skeur in die passief werkwoordvorm gebruik wat beteken dat die gordyn nie sommer net vanself of toevallig geskeur het nie, maar dat God die gordyn laat skeur het. Die punt wat Matteus wil maak is dat die voorhangsel wat die allerheiligste van die res van die tempel geskei het, oopgebreek het. In die verlede, voor Jesus se dood, kon gewone mense nie by die allerheiligste inkom nie. Net die priester mag daar in God se allerheiligste teenwoordigheid inkom, en dit ook net een keer per jaar. Met die skeur van die voorhangsel het almal nou toegang. Dit is eerder ʼn simboliese uitspraak as ʼn blote historiese uitspraak. Indien ons nou vashaak by die vraag hoe groot die skeur was en of dit wind was wat dit geskeur het of die aardbeweging dan mis ons die punt. Die punt is dat God se allerheiligste teenwoordigheid nou toeganklik word vir almal.

In Matteus speel aardbewegings ʼn belangrike rol (Matteus 24:7; 28:2). In die Ou Testament en in die tyd van Jesus is aardbewegings met teofanie geassosieer (Jesaja 24:19; 29:6; Jeremia 10:10; Amos 8:8), met ander woorde, met die teenwoordigheid van God. In Matteus is daar tydens die dood van Jesus ʼn reuse aardbeweging. Met die beeld van die aardbewing kommunikeer Matteus dus dat iets groots aan die gebeur was. Met die dood van Jesus, en die aardbeweging wat plaasvind, kraak die grafte oop. Net soos in die geval van die skeur van die voorhangsel gebruik Matteus die passiewe vorm van die werkwoord vir aardbewegings (esgisthesan [ἐσχίσθησαν]). God het dus die aarde laat oopskeur en bewe. Die mense wat dood was, wat in die onderwêreld in die graf was, kom dan en daar tot lewe. Dit is ook nie alle dooie mense van alle tye nie, maar volgens Matteus net die heiliges. Hierdie tema is vir Matteus die vervulling van die Ou Testamentiese verwagting in Jesaja 26:19 en Esegiël 37:13 dat die dooies sal lewend word op die groot dag van Jahweh. Met die dood van Jesus gebeur dit. Die punt wat Matteus wil maak is dat Jesus se dood, die greep van die liggaamlike dood deurbreek en dat Jesus die dood oorwin. Ons moet versigtig wees om die gedagte van die opstanding van die heiliges in Matteus net as historiese inligting te lees en die teologiese punt te mis. In die Nuwe Testament, en veral in Paulus is die opstanding van Jesus ʼn wesenlike belangrike moment in die geskiedenis en Jesus is die eerste vrug van die wat opgestaan het (1 Korintiërs 15:20). In Matteus word die heiliges opgewek voor die opstanding van Jesus, met ander woorde op die Vrydag. Dit skep ʼn teologiese probleem, aangesien dit dan teen Paulus se leer sal ingaan dat Jesus se opstanding die eerste opstanding van die vlees was. ʼn Verdere vraag wat die saak kompliseer is wat die aard van die liggame was van die heiliges (aardsvaders, profete, martelare) wat opgewek is toe Jesus gesterf het. Was dit fisiese liggame wat gerestoureer is en wat blootgestel was aan verdere dekomposisie soos ons gewone aardse liggame – met ander woorde dat die liggame heeltemal biologiese aardse liggame was (soos die van Lasarus in Johannes 11 wat weer later doodgegaan het), of was dit verheerlikte liggame waarvan ons in 1 Korintiërs 15 lees? Die verdure vraag op historiese vlak is waar hulle verkeer het in die drie dae voordat Jesus opgewek het? Het hulle maar daar rondgeloop en vir mense gaan kuier of het hulle tempel toe gegaan? Hoekom het ons net in Matteus enige inligting hiervan? Die feit dat ons geen ander historiese inligting oor die saak het nie, maak enige historiese uitsprake daaroor baie moeilik. Alhoewel ons nie genoegsame historiese inligting het nie, het ons meer as genoeg teologiese informasie. Matteus het nie probeer om blote bruta facta (historiese feite) neer te pen nie, maar om ʼn teologiese interpretasie te gee van die Jesus-gebeure. Die vraag is dus eerder wat Matteus daardeur wou sê. In kort, ek stem saam met geleerdes soos die bekende prof Brown (R. E. Brown, Death of the Messiah, 1137-40) wat volstaan het dat die gebeure rondom die opstanding van die heiliges in Matteus misterieus is en nie histories maklik verklaar kan word  nie, en dat mens nie eintlik hoef nie. Matteus se teologiese boodskap is egter klinkklaar en duidelik – Jesus se dood en opstanding het die ganse geskiedenis geïmpakteer en God se nuwe (eind)tyd laat aanbreek. Jesus het die dood oorwin, opgestaan en ons as gelowiges gaan ook uit die greep van die dood gered word en saam met God woon. Die Jesus gebeure in Matteus is die vervulling van die Ou Testamentiese apokaliptiese verwagtings en die motiewe daarin (kyk Jesaja 26:19; Daniël 12:2; Esegiël 37:12-14).

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Suurdeeg

Suurdeeg – Marius Nel

Sonja vra:

Dankie vir die geleentheid om vrae te kan vrae wat kwel. Ek is besig met Exodus en waar die Here vir Moses vra om die Tabernakel te bou ens. My vraag spesifiek is wat is die rede vir die beklemtoning van dat daar offers moet wees van ONGESUURDE BRODE? Wat is die betekening/bedoeling van ONGESUURDE BRODE? Baie dankie

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Suurdeeg het vir Israel (en sommige van die omringende volke) die assosiasie van sondigheid en veral onreinheid gehad. Om onrein te wees, het veroorsaak dat jy nie voor die heilige God kon verskyn nie.

Daarom die opdrag met die uittog uit Egipte: verwyder alle suurdeeg uit julle midde, as simbool dat Israel van sondigheid en onheiligheid ontslae moes raak, wat in ‘n assosiasie met Egipte bestaan het.

Suurdeeg is verkry deur ‘n stuk brood of aartappel in ‘n donker, klam plek te hou totdat dit muf, en dan die muf binne deeg te plaas sodat dit kan rys. Sien u die assosiasie met onreinheid?

Daarom die reëling dat brood voor die Allerheiligste geplaas moet word, maar dat dit sonder suurdeeg gebak moet word.

Outeur: Dr Marius Nel

 




Hoe verstaan ons die Drie-eenheid?

Hoe verstaan ons die Drie-eenheid? – Kobus Kok

Neels vra:

Meer detail oor die trinity en hoe dit werk asb

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Hoe verstaan ons die Drie-eenheid?

Dit is interessant dat die woord “Drie-eenheid” geensins in die Bybel voorkom nie! Die konsep daarvan kom egter duidelik na vore in die Nuwe Testament. In die vroeë kerk, het Teofilus van Antiogië (180 nC) teen die agtergrond van die vrae van sy tyd die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees as ʼn drie-ledige (trias) eenheid beskryf. Rondom dieselfde tyd het Tertullianus (155-222 nC) deur middel van die Latynse woord “trinitas” die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees verduidelik, wat wesenlik dieselfde is, maar uit drie verskillende persone bestaan.

 

In die jare nadat die groot Romeinse Keiser Konstantyn in die vierde eeu n.C. tot bekering gekom het en die Christendom die amptelike religie van die Romeinse Ryk gemaak het, het hy gepoog om die ganse kerk te verenig. In die proses moes ʼn belydenis formuleer word wat eenvormig is in die ganse Romeinse ryk en daar moes besluit word watter geskrifte gesaghebbend sou wees vir die ganse Christendom. Die vergaderings het onderskeidelik in Nicea (325 nC) en Konstantinopel (381 nC) plaasgevind. Dit was ook hier waar daar besluit is watter Bybelboeke die amptelike kanon van die Nuwe Testament sou wees. Daar is verder ook ʼn belydenis geformuleer na jare se gebed en nadenke – waarin die drie-eenheid en die beskrywing en formulering daarvan ook geformuleer is.

drieeenheid

 

Uit my Sondagskool dae onthou ek hoe ʼn Sondagskoolonderwyser die drie-eenheid verduidelik het aan die hand van ʼn appel wat bestaan uit ʼn skil, die vleis van die appel en die stronk. Die drie verskillende dele is almal appel, maar het verskillende funksies en gestaltes. Net so verwys die drie-eenheid na één God, maar drie persone. In hierdie drie-eenheid is God die Vader egter die Een wat die ganse wêreld geskep het en wat Sy Seun gestuur het (Johannes 1:1-18; 3:16). Daar is dus duidelik ʼn Vader, die primêre subjek wat alles begin het en wat in beheer van die ganse geskiedenis is. Kyk gerus hoe Johannes dit verduidelik. Hy verduidelik dat God die een is wat besluit het om uit Sy groot liefde sy enigste Seun te stuur (Johannes 3:16; 20:30-31). Die Seun doen dan op aarde alles wat die Vader vir hom sê om te doen. In Johannes 5:19-20, volgens die nuwe Afrikaanse vertaling, lees ons: “Dit verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen.” Hiervolgens is dit tog duidelik dat God die Vader die leidende figuur is, en dat diegene wat Jesus sien, ook vir God die Vader sien. In die antieke tyd het dit dan ook so gewerk dat van ʼn goeie Seun gesê kan word dat die appel nie ver van die boom af val nie – ʼn goeie seun het opgetree op so ʼn wyse dat dit die vader sou eer. Net so is Jesus die verteenwoordiger van God, die Seun van God die Koninklike Vader en moet mense hom eer soos hulle die Vader eer. Na die opstanding van Jesus, lees ons by Paulus in Filippense 2:5-11 dat Jesus deur God tot die hoogste eer verhef is en dat elke knie daarna sou moet buig en erken dat Jesus Here is. Weereens sien ons dat die verheffing van Jesus deur God as Vader gedoen word. God die Vader is die primêre handelende subjek en Skepper van die heelal.

In die Ou Testament lees ons duidelik dat daar net een God is (Deuteronomium 6:4) en Israel se geloof kan as monoteïsties (een God) beskryf word. Die monoteïsme van Israel het radikaal verskil van die panteïsme (baie gode) van die antieke kulture wat in die tyd van Israel bestaan het. Wanneer ons in die OT lees van die Gees, verwys dit in die ongeveer 135 keer wat die woord voorkom na God se Gees (vgl. Bv Genesis 1:2, Rigters 14:6, Psalm 51:13).

In die tyd van die NT het die Grieke en die Romeine ook in vele gode geglo. Selfs Keiser Augustus, wat in die tyd van Jesus geleef het, is as Seun van God en hoëpriester beskryf. Daar is tot vandag toe nog in Efese ʼn reuse pilaar waarin hierdie woorde uitgekerf is uit klip. Hierteenoor het die NT gelowiges dit duidelik gestel dat God en sy Seun die ware en enigste lewende God is, en nie die Keiser of die veelgodedom van die antieke heidense gelowe nie. In 1 Tessalonisense, die eerste brief wat Paulus geskryf het teen ongeveer 50 n.C. lees ons in 1 Tessalonisense 1:9 die volgende: “Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom”. In die NT is dit duidelik dat die Christene anders as die heidene om hulle geglo het aan God en ʼn sterk verband gesien het tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees (lees gerus 1 Korintiërs 12:4-6 en Efesiërs 4:4-6). Dit is duidelik dat die vroeë kerk, alreeds teen 70 n.C. eksplisiet die verband trek tussen die drie-eenheid, soos ons in Matteus 28:18-19 lees:” 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” In Matteus 28:18 sien ons duidelik dat Jesus sê “Alle mag is aan my gegee”. Wie het die mag aan hom gegee? Wel, dit is niemand anders nie as God die Vader. Dit sien ons ook in Filippense 2:5-11 se nuwe Afrikaanse vertaling: 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Hiervolgens is dit duidelik dat Jesus se goddelikheid gekoppel word aan die feit dat God die Vader die een is wat die mag aan hom gegee het. Dit is soos ʼn koning wat sy Seun die koning maak. In Matteus 24:36 lees ons dat nie eers die Seun weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Die beeld wat hier gebruik word is die een van ʼn Koning op sy troon en sy dienaars rondom hom (engele, ens). Die Seun sit ook op die troon, maar uiteindelik is God die Vader die groot Koning wat die finale besluit het en die Groot Heerser is. Die drie persone van die drie-eenheid kan van mekaar onderskei word, maar kan egter nie van mekaar geskei word nie. In Johannes se evangelie lees ons dat Jesus, net voor hy sou sterf en teruggaan na sy Vader, vir die gelowiges troos deur vir hulle die goeie nuus te gee dat die Gees (parakletos-trooster) na sy hemelvaart gestuur sal word. God se Gees sal dus met hulle wees en hulle elke dag herinner aan die waarheid en die woorde wat Jesus gespreek het, woorde wat uit die troonkamer van God hul oorsprong het (lees Johannes 4:24; 6;36; 7:39; 14:15-31, veral 14:16-17; 16:5-15).

 

Outeur: Dr Kobus Kok