Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (4) – Kobus Kok
Eer en skaamte as die primêre waardes van die antieke tyd
Nou die dag ry ek in Sandton rond. Oral om my sien ek duur luukse motors en advertensies langs die pad wat die belangrike ekonomiese waardes van ons tyd weerspieël. Elke tweede advertensie op die televisie gaan oor beter klere wat jy kan dra, beter parfuum wat jou meer aanloklik gaan maak en ʼn beter motor wat die koppe sal laat draai en jou ouers sal trots maak. In ons tyd en era is die waardes van die ekonomie en alles wat daarmee saamhang soos produksie, konsumpsie, geld en besittings die primêre dryfveer van die meeste mense. Ek onthou hoe ek eendag vir ʼn tiener gevra het wat hy eendag wil studeer. Die tiener het luidkeels verklaar dat hy enige iets sal swot wat hom eendag ryk sal maak. Geld en rykdom is die motivering vir baie mense se gedrag, dit waaraan hulle die meeste energie spandeer. Een van ons vriende het ʼn besigheid en hy is vandag skatryk. Hy het in sy kantoor by die werk ʼn volledig toegeruste badkamer, bed en inloopkas laat bou omdat hy so baie by sy besigheid slaap en nie eens tyd kry om by sy gesin uit te kom nie. Vir baie mense in ons tyd is die ekonomiese waardes die allesoorheersende dryfkrag wat hulle optrede bepaal. Raai wat? Dit was nie altyd so nie. Veral nie in die antieke tyd waarin die Bybel geskryf is nie. Mense het daardie tyd primêr gewerk om hulle oorgeërfde status en eer te behou. Baie besittings het jou nie by implikasie ʼn eervolle persoon gemaak nie. Inteendeel, daar is in die tyd van die Bybel geglo aan die beginsel van beperkte middele (limited good). Die mense wat buitengewoon meer as ander mense besit het, is met agterdog bejeën, aangesien die antieke mense van mening was dat die persoon of groep hulle rykdom bekom ten koste van ander groepe.
In die tyd van Jesus was eer en skaamte die primêre waardes. Eer het ten nouste saamgehang met ʼn persoon se toegeskryfde sosiale waarde as mens en die publieke erkenning daarvan deur ander mense. Teenoor die waarde van eer, het die waarde van skaamte gestaan, wat te make gehad het met ʼn persoon se sensitiwiteit vir hulle openbare reputasie, met ander woorde vir hulle eer. Daarom is die meeste sosiaal-wetenskaplike geleerdes dit eens dat eer en die nastrewing van eer die antieke mens se belangrikste dryfveer in die lewe was. Die groep waaraan die antieke mens behoort het, het ʼn reuse rol gespeel in die eer van ʼn persoon. Die groep se erkenning van die eer van ʼn individu het tot gevolg gehad dat ʼn individu sy groep eerste gestel het en konstant gepoog het om sy goeie naam in stand te hou. Juis om hierdie rede was dit belangrik dat indien jy deel van ʼn groep was, jy deeglik bewus moes wees wat die norme en die reëls van die betrokke groep was, aangesien dislojaliteit aan die groep skaamte oor jou sou bring. Indien dit wel gebeur het dat ʼn individu die groep se reëls oortree het, het dit skaamte oor die groep en die leier van die groep gebring. Swak optrede deur groeplede het dus ʼn negatiewe prentjie van die groep en sy leier(s) geskets. Om hierdie oneer wat oor die groep gekom het reg te stel moes die groep die individu wat die onreg gepleeg het, straf. In sommige gevalle het die straf uitsluiting of uitbanning uit die groep behels. Persone wat deur die groep uitgestoot is het noodwendig ʼn negatiewe sosiale etiket gekry, soos dat hulle ʼn sondaar, gek of dwaas was. In terme van die groep se hantering van mense met etikette was die reël eenvoudig: Sluit hulle uit. Dit het meer as dikwels ʼn sosiale doodsvonnis beteken.
Teen hierdie agtergrond maak baie Bybelse tekste totaal nuwe sin. In die evangelie volgens Johannes 5:19 en verder lees ons die volgende teks (Ou Afrikaanse Vertaling):
Joh 5:19 Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.
Joh 5:20 Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees.
Joh 5:21 Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.
Joh 5:22 Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,
Joh 5:23 sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.
Joh 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Joh 5:25 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.
Joh 5:26 Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.
Volgens Johannes 5 doen Jesus niks wat hy nie by sy Vader gesien het nie. Jesus “dupliseer” dus die werke van sy Vader. Vir die antieke mense het dit goed sin gemaak en alles van Jesus se eer gesê, aangesien ʼn eervolle seun die voorbeeld van sy vader sou volg. Johannes sê dat Jesus die voorbeeld van sy Vader volg en daarom kan Hy as die ware eervolle Seun van God beskou word. In die Jode se denke het niemand meer eer as God die Vader nie. God is vir die Jode Heilig. Indien Jesus sy eie optrede so verbind aan God en sy karakter, sê Jesus tussen die lyne dat hy ware eer het wat van die mees belangrikste persoon af kom, naamlik God. Jesus gaan dan verder in Johannes 5:23 en vereis dat Hy geëer word. Indien mense eer aan Hom bewys, bewys hulle eer aan sy Vader. Die wat die groep van Jesus verwerp, verwerp dus vir God. Hulle verloor dus hulle eer en word in geestelike skaamte gedompel. Hulle word by implikasie geoordeel, aangesien hulle self hulle rug op God gedraai het. Die wat Jesus as God se Seun eer, ontvang egter die geskenk van lewe.
Outeur: Dr Kobus Kok