Sewendedagse Adventistekerk

Sewendedagse Adventistekerk – Pieter Verster

‘n Leser vra:

Is die Sewendedagse Adventistekerk ‘n sekte? Indien wel, hoekom? Dit wil voorkom asof seminare van die kerk (wêreldwyd) oor Openbaring en Evangelisasie ‘n metode is om tradisionele kerke (soos die susterskerke) te infiltreer en so dopelinge (lidmate) te werf. Hulle bied in werklikheid “afrokkelingseminare” aan met skokkende interpretasies van Bybelse gedeeltes. Baie dankie!

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis word die ware kerk gekenmerk  deur die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die toepassing van die tug. Ons moet dus altyd bepaal of  enige kerk of groep wel die Woord suiwer verkondig en die sakramente suiwer bedien, ook met die toepassing van die tug.

Die adventiste se herkoms word teruggevoer  van William Miller wat  die wederkoms van Christus in 1843 verwag het. Toe dit nie plaasvind nie stel hy weer ʼn datum naamlik 22 Oktober 1844. Toe dit nie plaasvind nie, is die gebeure  as die reiniging van die hemelse heiligdom geïnterpreteer.  Ellen G  White wat sy gedagtes bevestig het, het  die tien gebooie in ʼn goue kis met ʼn besondere  kring oor die vierde  gebod in ʼn visioen gesien. Sy word ʼn sleutelfiguur vir die adventiste.  Die Sabbat verkry besondere betekenis. Die nakom van verskeie wette en veral die hou van Sabbatswette speel dus ʼn belangrike rol.

Daar is getuienis in die Ou Testament van die betekenis van die Sabbat.  In die Nuwe Testament verkry dit egter nuwe betekenis. Jesus is Here, ook van die Sabbat. Geen plus mag by die genadige werk van Christus bygevoeg word nie. Sy genade is oorvloedig en genoegsaam. Die wet moet  uit vreugde en dankbaarheid sonder ʼn wettiese  benadering onderhou word.

Vir die kerk is dit belangrik dat die wet ons dankbaarheid rig en nie ons saligheid nie. Jesus is die enigste grond van ons verlossing.

Die kerk wil dus wel die wet eerbiedig, maar altyd in diens van Christus. Dit is belangrik dat geen plus vir die saligheid by Christus  gevoeg mag word nie.

Daar is wonderlike  gelowige adventiste wat  hulle hoop op Christus alleen vestig.  Daar is egter die groot gevaar dat die hou van die Sabbat op ʼn bepaalde manier die  maatstaf van geloof gemaak word. Die hou van seminare om dit te bevestig, sou verkeerd wees. Die kerk se enigste antwoord is: Jesus is die Here.

Outeur: Prof Pieter Verster

 




God en Allah(1)

God en Allah – Pieter Verster

ʼn Leser vra:

Die antwoord op die webblad lees dat Allah ʼn god van Mekka wat verwar was met God (Here) en toe aanbid is. Maar ek verneem dat daar baie ooreenkomste is tussen die Bybel en Koran aangaande “Bybelse” geskiedenis en sommige mense sê ook dat God en Allah dieselfde god is. Dat Jesus ook erken word as ʼn profeet, maar dat Mohammed die eintlike ware profeet is. So ook met die Joodse geloof, ons dien dieselfde Vader God maar hulle glo dat Jesus vals was en dat die Seun nog moet kom. Nou my vraag: Ek is BAIE verwar aangaande al hierdie gelowe. Ek weet en glo dat Jesus die enigste lig, weg en waarheid is, maar hoe kan die Jode en Moslems “dieselfde” god en geskiedenis dan so verdraai om hulle te pas, om net een deel van die Bybel te glo en nie die res nie? Waar het Islam dan vandaan gekom? En die Jode verwar my totaal omdat die redding in Jesus soos daglig voor hulle is maar hulle ignoreer(en selfs haat) Hom.

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Vanuit die staanspoor moet daar bevestig word  dat daar maar een God is. Hy is Skepper van Hemel  en aarde,  die Here. Christene bely dat God  die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees is. Daar is volgens Christene geen ander God nie. Die Bybel, naamlik die  Ou en Nuwe Testament openbaar Hom as die enigste Here. Die probleem is nie dat daar baie gode is nie-daar is slegs een God. Ons verskil egter oor die  wyse waarop God Hom openbaar. Die Jode aanvaar Jesus as profeet, maar nie dat Hy die ware en enige Seun van God is nie. Die Moslems glo onwrikbaar in  Een God, maar  nie dat Hy die Drie -Enige God is nie. Die wonder is dat Christene met groot  oortuiging aangaande die Drie -Enige God kan getuig sonder om hooghartig of veroordelend te wees. Ons kan van die wonder van Christus wat ware God en volkome mens is getuig. Daar hoef geen veroordeling van ander te wees nie maar slegs getuienis van die wonder van die lewende God. Ons kan inderdaad getuig dat Jesus die enigste Weg, Waarheid en  Lewe is.  Hy is ook die enigste Verlosser. Hierdie getuienis moet steeds in die wêreld uitgaan.

Outeur: Prof Pieter Verster

 




Joodse feeste en die Sabbat

Joodse feeste en die Sabbat – Adrio König

Bernice vra:

Viering van Joodse feeste en Sabbat- is dit totaal opgehef in die Nuwe Testament of behoort ons dit te hou/vier?

Antwoord:

Prof Adrio König antwoord:

Dis nie so ‘n maklike vraag nie! Daar is nie veel direkte uitsprake oor die Sabbat en die ander feeste in die Nuwe Testament nie. Kolossense 2:16 en Romeine 14:5,6 lyk egter tog duidelik. [Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie – Kolossense 2:16; Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ʼn ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ʼn bepaalde dag op ʼn besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God – Romeine 14:5 – 6).] Hier word dit egter nie verbied nie, maar gerelativeer. Dis nie noodsaaklik nie. In die begin het sekere gemeentes, veral in Sirië, nog baie lank die Sabbat saam met die Sondag gevier, die een as rusdag en die tweede as feesdag.

Outeur: Prof Adrio König

 




Onderhou die wet

Onderhou die wet – Adrio König

Jaco vra:

Paulus het ‘n stryd om onder andere die Galasiërs te oortuig dat ons nie deur die onderhouding van die wet gered kan word nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christus(Gal.3:1-20). Ons moet wel die wet onderhou, Jesus se self so. My vraag is: wie het besluit dat ons vandag slegs die 10 gebooie probeer onderhou en nie die Torah/Wet van Moses nie, soos beskryf in Die Groot Geloofswoordeboek? Verwys Paulus nie na die “volledige wet”(al 5 boeke) nie?

Antwoord:

Prof Adrio König antwoord:

Teen die einde van die stukkie in die Woordeboek word gewys op die feit dat Paulus juis die tien gebooie uitsonder as hy oor die wet, en selfs oor die hele wet skryf. Verder is Hebreërs duidelik oor die afskaffing van dit wat gewoonlik die seremoniële wet genoem word, die tempel, priesters, offers, omdat Christus dit vervul het. Lees die hele brief, maar veral hoofstukke 7, 9, 10. Ons weet ook dat Paulus die besnydenis verwerp vir gelowiges uit die heidene.

Daar is nie iewers ‘n duidelike uitspraak oor presies wat nog geld, en wat nie meer nie. Maar daar is tog dele wat eenvoudig nie meer vandag kan geld nie soos Jesus se eie uitspraak oor die gawe en die altaar (Mat 5:23). Ons het nie meer ‘n altaar nie. Maar ons interpreteer dit tog nog op so ‘n manier dat dit ook vir ons betekenis het. Omdat die Bybel, en veral die NT, nie een groot wet is wat presies sê hoe ons moet leef nie, maar ‘n boodskap oor God se reddingsdade, is dit nie vreemd dat elke detail nie presies uitgestippel word nie. Maar dis ook waar dat dit veroorsaak dat daar verskille onder gelowiges is, soos oor die Sabbat.

Outeur: Prof Adrio König