Ontvangs van die Heilige Gees

Ontvangs van die Heilige Gees – Jan van der Watt

Ria vra:

Nou is my vraag: hoekom het ek nie die Heilige Gees geontvang nie? Ek wou so graag en het God gevra. Is ek dan nog nie heeltemal reg om dit te ontvang nie? Ek weet ek ken nie die Bybel nie maar ek GLO in GOD en weet hy is ons almagtige en enigste Here.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is nie ʼn vraag wat ʼn mens oor langafstand epos lekker kan beantwoord nie. Daar kan wel ʼn paar algemene opmerkings gemaak word.

1.       Alle Christene het die Heilige Gees, dit leer ons baie duidelik op baie plekke in die Bybel (1 Korintiërs 2:1-5 – die Gees is die een wat ons Christene maak en dan is ons tempels van God – 1 Korintiërs 3:16; Johannes 14:16-17; 15:26). Ons hoef nie die Heilige Gees spesiaal te ontvang asof ons nie die Gees het as ons Christene is nie.

2.       Die tweede belangrike ding is dat dit nie vir ons is om te besluit wie die Gees kry nie. Mense is nie die uitdelers van die Gees nie. Net God is en daarom kan mense nie daaroor besluit nie. Ek is dus bietjie versigtig vir mense wat hulleself in die posisie stel om goddelike besluite of dade te doen.

Derdens moet ons onthou dat ons verhouding met die Gees ʼn verhouding is en ons almal weet hoe verhoudings werk. Soms gaan dit beter as ander kere. Soms is/voel jy nader aan jou man of vrou as ander kere. So is dit met die Heilige Gees se verhouding ook. Soms dwaal ons bietjie en gee nie genoeg aandag aan ons stiltetyd en die ontwikkeling van ons verhouding met die Gees nie. Dan kom ons in die moeilikheid, want ons verhouding met die Gees stomp af. Ander kere voel ons weer baie nader aan die Gees en is dit byna asof die Gees ons hele lewe vervul. Dit hang met ander woorde ook bietjie af van hoe ons voel of die situasie reg is, net soos met ʼn gewone verhouding. Tog, as ʼn mens ver van die Here af voel, moet jy nie dink Hy is weg of het jou verlaat nie. So vinnig eindig ʼn verhouding nie. Jy moet Hom dan in gebed en toewyding van voor af soek.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Goeie Vrydag

Goeie Vrydag – Jan van der Watt

Louwtjie vra:

Verduidelik asb Goeie Vrydag in verstaanbare taal aan 6-10 jaar kinders, asook hoekom noem ons die dag Goeie Vrydag?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Sjoe, Louwtjie, dit is ʼn moeilike vraag, omdat Goeie Vrydag deel van ʼn veel groter verhaal is, naamlik die verhaal van God se liefde vir die mense wat Hy gemaak het; tog het hulle teen Hom gedraai, maar Hy het nie teen hulle gedraai nie. Hy het toe ʼn plan gemaak om hulle te help om hulle verhouding met Hom te herstel deur hulle sonde te vergewe. Omdat God egter met die mense ʼn ooreenkoms (verbond) gemaak het, was daar probleme. Soos enige ooreenkoms is daar vereistes. God sal vir die mense doen wat ʼn God vir hulle moet doen – hulle versorg, beskerm, bystaan, ens. Maar hulle moet vir hom ʼn volk wees, deur te lewe soos mense wat aan God behoort. Die bepalings sê egter dat as die mens nie sy deel nakom nie, moet hy sterf.  Dit is deel van die ooreenkoms. Om ons ʼn kans te gee, het God sy Seun gestuur om die ooreenkoms na te kom en in ons plek te sterf. Dit het op Goeie Vrydag gebeur. Tog het Hy weer opgestaan en is tot vandag toe nog ons lewende Here.

Eerstens, dit is moeilik om dus die dood van Jesus goed te verduidelik sonder die breër prentjie waar dit inpas. Daarbenewens is dit nooit lekker om oor die dood te praat nie. Die maklike deel hierin is dat die Vrydag toe Jesus gesterf het, vir al die mense wat in Hom glo redding gebring het. Daarom is dit Goeie Vrydag. Daarsonder sou ons kniediep in die moeilikheid en die sonde gewees het.

Nou hoe verduidelik jy dit vir ʼn kind. Ek is nie ʼn spesialis op verduideliking aan kinders nie, maar daar is ʼn paar maniere. Die een is om ʼn ‘storietjie’ wat parallel daaraan loop te maak. Jy kan byvoorbeeld vertel van iemand wat in die moeilikheid is (daarop kan mens uitbrei) en hoe iemand anders bereid is om hom uit die moeilikheid te help sonder dat hy dit regtig verdien. ʼn Ander moontlikheid is byvoorbeeld om ʼn dramatjie te maak waarin een van die kinders gevang word deur ʼn slegte persoon en deur ʼn ander een gered word, ens. Die basiese idee is dat Jesus vir ons gedoen het wat ons nie self kon nie en ons so uit die moeilikheid gehelp het. As  jy verdere idees het, laat gerus weet, dan voeg ons dit by hierdie artikel.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Volke in die Bybel

Volke in die Bybel – Jan van der Watt

Anton vra:

Ek wil graag weet wie is al die “volke’ in die Bybel (aan wie of wat glo hulle) en wie verteenwoordig dit vandag? Die Jode, nie-Jode, Fariseërs, Samaritane, Egiptenaars, en al die ander?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons kan nie al die volke in die Bybel hier noem of beskryf nie. In die Bybel A-Z is daar baie inligting oor hierdie groepe. Die enkeles wat in die vraag genoem is, kan ons kortliks so beskryf.

a) Daar was volke (soos ons ook vandag volke het wat spesifieke lande of gebiede bewoon) soos die Duitsers, of Swede. So kry ons die Egiptenare, die Assiriërs, die Babiloniërs, ens. Die Jode is ook so volk (nie-Jode is natuurlik mense wat nie Jode is nie). Die Jode is die mense wat hulleself as nageslag van Abraham sien, wat uit Egipte verlos is en aan wie God die beloofde land Israel gegee het. Na hulle ballingskap in Babilon is hulle terug Jerusalem toe en as Jode het hulle toe daar verder gewoon. Die Egiptenare is die mense wat in Egipte gebly het en vandag nog daar bly.

Die Samaritane is ʼn volk wat in Samaria – deel van die huidige Israel –  gebly het (en nog bly). Toe die Jode in ballingskap weggevoer is (8-6 eeue voor Christus) het ʼn klomp mense in Palestina agtergebly; dit was mense wat die oorwinnaars, die Assiriërs en Babiloniërs nie wou gehad het nie. Hulle het net die bestes as slawe en werkers saamgevat. Die land, stede en huise was natuurlik met die ballingskap ontruim, want baie van die bewoners is mos as slawe weggevoer. Ander omringende volke het toe in die Joodse gebiede ingetrek en die land en huise, ens. vir hulle gevat. Die Jode wat agtergebly het, het met hulle vermeng en so het die Samaritane as aparte volk ontstaan. Omdat die Jode nie dink hulle is egte Jode nie, wou hulle nie veel met die Samaritane te doen hê nie.

b) Die Fariseërs en Sadduseërs is weer soos politieke partye. Die Sadduseërs was ʼn groep wat eintlik hoofsaaklik tot die leiers in Jerusalem beperk was. Dit was so soort van ʼn elite groep wat ook baie invloed in die politiek gehad het. Omdat hulle hoofsaaklik rykes van Jerusalem was, het hierdie groep ook ophou bestaan nadat Jerusalem in 70nC vernietig is. Die Fariseërs was weer ʼn groep wat baie godsdienstig was – hulle het die Wet getrou gehou en was byna soos polisiemanne wat moet kyk dat die wet goed gehou word. Dit was dus ʼn konserwatiewe deel van die Joodse gemeenskap. Daarom het hulle ook nogal met Jesus gebots.

Outeur: Prof van der Watt

 




Lande in die Bybel

Lande in die Bybel – Jan van der Watt

Anton vra:

Die stede en lande het baie dieper betekenisse in die Bybel bv Jerusalem, nuwe Jerusalem waar kan ek meer leer oor al die lande en stede van die Bybel?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel A-Z is ʼn ideale boek om meer hieroor te leer. Soms het stede dieper of simboliese betekenis, maar in baie gevalle nie. Stede of plekke wat nogal simboliese betekenisse het, is byvoorbeeld,

  • Jerusalem wat natuurlik die stad van God is – die hemel word vergelyk met so wonderlike stad wat van goud, pêrels en opaal gemaak is (Openbaring 21).
  • Babilon word gesien as die bose (dit is die stad waarheen Israel in ballingskap weggevoer is). As die stad Rome baie boos begin raak, word die stad Babilon genoem (sien Openbaring 18 -19)
  • Verwysings na die woestyn is soms ook simbolies. Die woestyn was die plek waar Israel vir 40 jaar saam met God rondgeswerf het. Daar was hulle volledig van God afhanklik. Die woestyn word dus dikwels figuurlik gebruik om op die plek te wys waar mens alleen saam met God en volledig van Hom afhanklik is.

Outeur: Prof Jan van der Watt