Jesus in die Graf

Jesus in die Graf – Jan van der Watt

Kan u dalk verduidelik hoe Jesus 3 nagte en 3 dae in die graf was as Hy Vrydag teen 3 uur gesterf het en Sondag opgestaan het, asseblief?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Joodse dae is getel van die aand as die son sak tot die volgende dag as die son opkom. Interessant, hulle ure en dae was dus nie ewe lank in die winter en somer nie. Nou word gesê dat Jesus drie dae in die graf was, maar die tye is soos die vraer dit hierbo noem. Die Vrydag was dit so drie uur die middag toe Hy dood is – Hy was dus maar drie uur lank in die graf op Vrydag. Sondagoggend baie vroeg was Hy reeds uit die graf, wat beteken dat Hy Sondagoggend maar bitter kort in die graf was. In totaal, as jy die ure tel, was dit maar ‘n dag en ‘n paar uur, nie drie volle dae nie. Dit gaan egter nie om ure tel nie, maar oor dae. Dit is soos as ek gistermiddag by ‘n plek aangekom het en iemand vra my wanneer ek gekom het, sê ek: ”n dag gelede’. Met die tel van die dae by Jesus se graf is dit dieselfde: Vrydag, Saterdag en Sondag word elkeen as ‘n afsonderlike dag genoem, al sluit dit nie drie maal 24 uur in nie. Dit gaan dus oor die manier waarop daar getel word.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




God in ons midde

God in ons midde – Jan van der Watt

Andre vra:

God is mos altyd by ons. Wat is dan die betekenis van die gedeelte in die Bybel wat sê as 2 of 3 in My Naam bymekaar kom, is Ek in hulle midde.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Here is altyd by ons, dit is waar. Om die waarheid te sê, as jy sy kind is, is Hy in jou deur sy Gees. Die gedeelte in Matteus 18 waar daar staan dat waar twee of drie bymekaar is, is Hy daar, ontken nie dat die Here altyd by ons is nie. Dit wil klem lê op iets anders. In Matteus 18 gaan dit oor reëlings in die gemeente. ‘n Gemeente bestaan natuurlik uit ‘n groep mense – maar hoe groot moet ‘n gemeente wees? Waar twee of drie bymekaar is, daar is die Here.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Die Bergpredikasie

Die Bergpredikasie – Jan van der Watt

Estelle vra:

Kan u my asb help? Verduidelik een van die bergpredikasies in die konteks van Jesus se bediening soos aan die dissipels oorgedra, en is dit nog in vandag se wêreld relevant?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Enkele opmerkings oor die Bergpredikasie

 

Die Bergpredikasie (Mat 5-7) is die naam wat gegee word aan Jesus se preek op die berg (die tradisionele plek wat mense vir jou vandag in Israel wys is op die noordelike oewers van die See van Galilea, maar niemand weet presies nie). As ‘n mens egter na die inhoud van Mat 5-7 kyk en dit met Lukas se parallelle vergelyk, word dit duidelik dat Matteus waarskynlik ‘n klomp van Jesus se preke bymekaar gesit het, byna soos ‘n preek bundel, om vir sy lesers ‘n goeie idee te gee hoe Jesus gepreek het. (Kyk na die parallelle gedeeltes in Lukas – hulle is in Lukas versprei – d.w.s. dit is nie een preek nie, en dit word ook nie van ‘n berg af gelewer nie, maar Jesus is met van die preke  in ‘n vlakte – vgl Luk 6:20-23; 14:35-35; 16:18; 6:27-28, 32-36; 11:2-4; 12:33-36; 16:13; 12:22-34; 6:37-38, 41-42; 11:9-13; 13:24; 6:43-44; 13:25-27; 6:47-49. Lukas se verse is genoem in die volgorde waarin dit in Matteus voorkom. Kyk hoe dit versprei is in Lukas).

Om die Bergpredikasie te verstaan, moet ‘n mens eers Matt 4:23 met 9:35 vergelyk. Die twee verse is byna dieselfde en sê dat Jesus a) gepreek het en b) wonders gedoen het, veral genesings. As jy nou na Matt 5-7 kyk, sien jy dat dit Jesus se preke is terwyl Matt 8-9 ‘n reeks wonders bevat (10 in totaal waarvan die meeste genesings is). Dit is dus duidelik dat Matteus wou illustreer hoe Jesus se openbare bediening verloop het deur vir ons ‘n klomp van sy preke saam te sit en ook ‘n klomp van sy wonders. So kry die leser ‘n idee hoe Jesus se openbare bediening was.

‘n Ander interessantheid van die Bergpredikasie is dat Matteus Jesus hier in die plek van Moses voorstel. Moses het ook van ‘n berg af die wet van God aangekondig. Jesus doen dit nou van hierdie berg af, maar wys wat God regtig met sy wet bedoel het. Kyk hoe Matteus 5 oor die wet gaan, maar hoe daar elke keer gesê word: julle sê so, maar Ek sê vir julle so…. Jesus gee dus die wet ‘n nuwe inhoud – Hy beweeg weg van die ‘wettiese interpretasie’van reëls hou, na die waardering van die mens. Jy moet nie iemand beledig nie, sê Jesus, want dit is so goed soos moord. Hoekom? Omdat die mens meer is as net ‘n liggaam. ‘n Mens het ook ‘n binneste, ‘n naam, ‘n persoonlikheid, gevoelens, en as jy dit seermaak, tas jy sy mensheid aan en oortree so God se wet van moord. Jy neem as’t ware ‘n geestelike mes en steek die persoon dood. Net so met die egskeidingswette. Die vroue het nie daardie tyd veel regte gehad nie en die man kon haar baie maklik met ‘n skeibrief wegstuur. Jesus keur dit sterk af, want die vrou is meer as wat die Joodse wet veronderstel. Sy is iemand met regte wat so hanteer moet word. So brei Jesus die betekenis van die wet uit om meer klem op die waarde van die mens te lê.

Is die Bergpredikasie nog vandag van toepassing? Natuurlik. Daar was oor die jare mense wat dit wou afwater, maar as ‘n mens na die opdragte van Paulus gaan kyk verskil dit nie veel van wat die Here hier van sy kinders verwag nie. Ons moet mekaar werklik liefhê.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Vas

Vas – Jan van der Watt

Vas, met ander woorde, om vanweë geestelike  of godsdienstige redes bewustelik te besluit om nie te eet vir ‘n beplaalde periode nie, word vandag nog wyd in die Christendom beoefen, byvoorbeeld in die Rooms Katolieke, Ortodokse en sekere van die Protestantse kerke. Dit word selfs deur sommige as verpligtend gesien. Tog is daar ook ‘n groot groep Christene wat nie meer vas nie, veral op grond van Jesus se woorde dat terwyl die bruidegom daar is, hoef daar nie gevas te word nie (Matteus 9:14-15; Markus 2:18-20). Jesus is nou by sy kerk en deur die Gees in mense. Daarom hoef mense nie meer te vas en so God se aangesig te soek nie. God het by, nee, in hulle gekom. ‘n Verder rede wat soms aangevoer word, is dat vas maklik misbruik kan word (Jesaja 58 of Matteus 6; Lukas 18:12) deurdat die persoon wat vas dink hy doen iets vir God wat dan deur God beloon moet word, met ander woorde, hy of sy bou ‘n soort geestelike kapitaal by God op wat hom of haar dan op die ou einde beter af laat by God as ander mense. Dit is ook nie die doel van vas nie. Daarbenewens lees ons ook nie veel in die briewe van Paulus of in Johannes oor vas  nie. Dit kan beteken dat dit nie meer so belangrik was in die kerk self nie.

Maar laat ons nou eers vra: wat is die funksie van vas? Dit is ‘n manier om jouself bewustelik vir God oop te stel en jouself geleentheid te gee om oor jou verhouding met God na te dink. Jy spandeer bewustelik ekstra tyd met God om oor jou sonde na te dink, jou afhanklikheid van God te ervaar en jouself net weer kans te gee om rustig en nederig op God se skoot te kan sit. Daarom is vas nie net kos los nie, maar behels aktiewe geestelike verdieping, onder andere deur gebed, nadenke, of die soek van rigting in jou lewe saam met God. Daarom kan daar gevas word wanneer jy ook al voel jy wil die Here spesiaal ‘opsoek’ of jy het Hom nou spesiaal nodig (vgl. Levitikus 16:29,31; 23:27,29,32; 1 Samuel 7:6; 2 Samuel 12:16; 1 Konings 21:27; Nehemia 9:1-3; Psalm 35:13; Lukas 2:37; 18:12). Die kos wat gelos word, gee jou meer tyd maar herinner jou ook aan dit waarmee jy besig is. Jesus het byvoorbeeld self 40 dae in die woestyn gevas ter voorbereiding van sy openbare bediening (Matteus  4:2). So het ook die kerk in Antiogië gevas en gebid (Handelinge 13:3).

Jesus het nie aan sy kerk die vaste opdrag gegee om te vas  nie. Hy het selfs gesê dat hulle nie hoef te vas nie. Hy was selfs negatief oor vas as dit gaan om misbruik ter wille van eie geestelike gewin of hoogmoed (sien Matteus 6). Tog het Jesus nie vas verbied nie. Uit dele soos Handelinge 13:3 is dit duidelik dat die gelowiges steeds voortgegaan het om te vas, maar om die regte redes, soos hierbo beskryf. Daarteen het die Bybel niks nie. As ‘n gelowige dus voel dat hy of sy spesiale tyd saam met die Here wil spandeer en bewustelik nie kos wil inneem nie om sodoende ekstra tyd met die Here te kan spandeer of herinner kan word deur die opoffering van die kos aan die geestelike pad wat hy of sy besig is om saam met die Here te loop, kan daar geen fout mee gevind word nie, nie as die eerlik en opreg gedoen word nie. Dit is jou keuse, maar dit is ook nie ‘n keuse wat jy op ander moet afdwing nie. Vas gaan oor die verdieping van jou verhouding met God en nie oor jouself en jou eie eer nie (Matteus 6:16-17).

Outeur: Prof Jan van der Watt