Psalm 16:3

Psalm 16:3 – Marius Nel

Lou Pistorius vra:

Mens moet dit seker nie so letterlik sien nie, maar hoe werk dit dat Psalm 16:3 in 1953 lui: “Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is,” maar 30 jaar later “die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie?” (Nie dat ek so slim is om dit agter te kom nie; Brian Doerksen het die teks by ‘n konsert aangehaal, en dit was vir my so treffend, toe voel ek bietjie afgehaal toe sy “godly men” op pad huis toe in afgode verander het!

 

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jou oplossing lê in die voetnoot wat die NLV hier invoeg, dat die teks plek-plek onverstaanbaar is. Jy sal sien dat die NLV (Nuwe Lewende Vertaling) ook kies om met “heiliges” te vertaal maar die Hebreeus is korrup oorgelewer en ‘n mens moet hier gaan kyk wat antieke vertalings gedoen het. Sommige het gekies om met “heiliges” te vertaal, en ander met “afgode”.

Laat weet as ek verder moet verduidelik.

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




Wanneer het die Sabbat na Sondag verskuif en waarom?

Wanneer het die Sabbat na Sondag verskuif en waarom? – Kobus Kok

Van die heel begin van die skepping af, volgens die Hebreeuse, of OT tradisie is die Sabbat op die sewende dag en dit gaan terug na die skeppingsverhaal.

Ons lees in Genesis 2:1-3 “Op die sewende dag het God alreeds alles geskep en 2) op die sewende dag het God gerus  3 God het die sewende dag geheilig en as gereelde rusdag ingestel…”

Sommige van ons luisterraars op Radiokansel en die intekenaars op bybelkennis is van mening dat ons Christene alles gaan verander het. Ons pas God se Woord aan soos ons wil, om ons eie tydskedule te pas en hulle dink dit is heeltemal verkeerd. Hulle meen dat ons eerder moet teruggaan na God se Woord en as God se Woord sê jy moet die Sabbat heilig hou dan moet jy – net soos dit in Exodus 20:8-11 staan. Hulle meen dan ook dat ons die Sabbat weer moet instel en dat ons dit moet deurbring soos wat dit deur God se Woord aan ons beveel word.

In ʼn vorige skrywe het prof Malan opgemerk  dat Deuteronomium 5:12-15 gee die rede aan waarom Israel die Sabbatdag heilig moet hou: Die Here jou God het jou as slaaf uit Egipte bevry (waar hulle elke dag as slawe moes werk; lees Eksodus 20:2). Eksodus 20:8-11 gee die Here se rus op die sewende dag aan as die rede waarom Hy dit vir Israel as gereelde rusdag ingestel en geheilig het. God se verlossing (Deuteronomium) en skepping (Eksodus) vul mekaar dus aan. In Eksodus 31:13 is die viering van die Sabbatdag niks minder nie as die uitdrukking van Israel se noue band en verhouding met God, ʼn teken van die Here se verbond met hulle (vergelyk Esegiël 20:12,17). Eksodus 31:17 sê letterlik: ‘…en op die sewende dag het Hy gerus en is verkwik’ (NAV: het Ek nie gewerk nie, maar gerus),

Hiervolgens dis dit duidelik dat die Sabbat ʼn rusdag is wat geheilig moet word en dat mens tydens die Sabbat nie werk nie, maar rus – nie as plig nie, maar teen die agtergrond van die feit dat God die Sabbat aan die mens skenk – dit word met ander woorde ʼn dag waarop die Jode terugdink aan die tyd toe hulle as slawe gedwing was om die hele week, elke dag van hulle lewe te werk en dwangarbeid onder die Egiptenaars te verrig. Hierteenoor het God hulle magtig bevry uit die ystervuis van Egipte en toe weer vir hulle herinner aan wie God is en wie hulle is. In Egipte het hulle hulle identiteit verloor en in die woestyn het hulle weer die wet ontvang en geleer wie God is en wie hulle is. Een van die belangrike dinge wat hulle weer gehoor het, is dat God die skepper van die ganse aarde alles daarop is en dat hy die God van orde is. En dan in die vierde gebod wat Israel in die Woestyn ontvang, sê God vir hulle dat hulle die Sabbat moet rus (Kyk Eksodus 20:8-11).

Vir die Jode het die Sabbat teen Vrydagaand begin dit het teen Saterdag met sononder opgehou. Dit was met ander woorde ʼn volle 24 uur. Die Jode het baie wette gehad rondom die Sabbat. Ons lees bv in die Misjna (3de eeu nC; Joodse mondelinge tradisies toe vasgepen) dat daar allerlei reëls was wat gegeld het en wat vir mense gehelp het om die Sabbat te onderhou volgens God se wil. Die Misjna bevat dan Joodse kategorisering van mense, plekke en tye in konsentriese sirkels van belangrikste tot minder belangrikste. In terme van mense is die hoëpriester die belangrikste; op die kaart van plekke is Jerusalem en die allerheiligste die belangrikste plek op aarde; en op die kaart van tye en teen die agtergrond van feeste is die Sabbat die enkele belangrikste tyd vir die Jode (Sabbat; Paasfees, Versoendag, Loofhuttefees,  feesdae, Nuwejaar, vasdae, Purimfees).

Die onderhouding van die Sabbat was ʼn baie belangrike identiteitsmerker vir die Jode en die ganse wêreld moes uit die onderbreking van die daaglikse roetine sien dat Israel heilig en afgesonder is en ʼn volk is wat erns maak met hulle verhouding met God. Die Sabbat was ʼn fees vir almal, nie net vir die mens nie. In die wetboek Eksodus 20 sien ons dat selfs die diere wat aan die Jood behoort het nie op die Sabbat mag gewerk het nie. Alles moes letterlik gaan stilstaan. In die pre-Christelike boek Jubilee lees ons dat daar deur die Jode geglo is dat selfs God en sy engele die Sabbat onderhou het en geen werk verrig het nie. Vir die Jode was seksuele gemeenskap op die Sabbat nie toegelaat nie en indien iemand uitgevang is dat hulle die Sabbat oortree, is hulle met die dood gestraf. In die boek 1 Makkabeërs lees ons die verhaal van meer as een duisend Jode wat in die oorlog doodgemaak is omdat hulle geweier het om hulle te verdedig toe hulle op ʼn Sabbat aangeval is.

Die Misjna traktaat “Sjabbat” gee ons ʼn interessante blik op die rabbi’s se interpretasie van die Sabbat gebod (Sien Joubert 2010 in Jesus ʼn radikale sprong). Mense is verbied om op die Sabbat by ʼn lamp te lees (1:3) of brood in ʼn oond te plaas (1:10). Mens mag nie ʼn lamppit uitdoof nie, want dit mag dalk in houtskool ontaard en dan het jy gewerk (2:5); Indien jy tandpyn gehad het mag jy nie asyn vir die pyn gesuig het nie (14:4) of selfs koue water geneem het om oor jou seer voet te gooi nie (22:6). Jy mag nie strooi wat op jou bed beland het met jou hand afvee nie, maar jy kon dit wel toevallig met jou lyf doen (20:5).

Dit was die belaglike span-reëls van die Joodse geloofsspel! Die Jode het die Sabbat, en God se plan met die Sabbat so toegegooi met die swart verstikkende teer van mensegemaakte religieuse reëls dat hulle die kern en die ware bedoeling daarvan verloor het.

Hierteenoor het Jesus uitgetroon. Jesus – die Seun en Woord van God was egter aan kom na die wêreld met ʼn radikale nuwe boodskap wat sou terugsny na die ware bedoeling van die wet. Vir die geestelik blinde Jode van die dag was Jesus niks minder nie as ʼn regte reëlbreker, ʼn geestelike rebel. Hulle was reg, Jesus was ʼn regte spelbreker. Hy het inderdaad die verworwe Joodse religieuse spel kom afbreek sodat hulle weer die kern van dit alles kon ontdek, begryp en daarvolgens leef.

In die NT tref ons op ʼn goeie dag, twee duisend jaar gelede daar in Jerusalem uiteindelik die Seun van God op ʼn besige religieuse toneel aan. Dit was ʼn Sabbat.  In spanning wag ons om te sien wat hierdie openbarings-God-word-man gaan doen. In Johannes 5 tref ons Jesus aan waar hy op die Sabbat daar in die omgewing van die tempel rondloop. In Johannes 5:1 lees ons dat Jesus en sy dissipels op na Jerusalem gegaan het vir een van die belangrike Joodse feeste. In feestye kom mense van heinde en verre om die fees by te woon, in die teenwoordigheid van God te kom. Die tempelpolisie en geestelike leiers is reg vir aksie en implementeer graag hulle gunsteling wettiese reëls. Volgens sommige geleerdes het daar tydens feeste ʼn intensivering van wetsonderhouding plaasgevind. Mense was dus meer sensitief en veral op ʼn Sabbat in die heilige stad Jerusalem op ʼn heilige tyd tydens ʼn heilige fees. So lees ons dan dat Jesus op ʼn Sabbat daar by die Skaappoort met sy 5 pilare opdaag met hemelse teenwoordigheid. Daar het ʼn klomp siek mense gelê, lammes, blindes, en allerlei erge siektes. Skielik sien Jesus ʼn man wat al vir 38 jaar lank siek is en wat net nie gesond word nie omdat hy te swak en siek is om by die genesingspoel uit te kom as die in beroering kom as die engel dit laat borrel. Elke keer gaan iemand anders voor hom daar in en die word dan genees maar die arme vriendlose man bly siek. Net daar genees Jesus hom – op die Sabbat en beveel hom boonop om sy matjie waarop hy gelê het op te tel en saam met hom te neem.

In Johannes 5:10 loop die man toe vas in niemand anders nie as die gevreesde antagoniste, die tempelpolisie, wat hom dadelik vaspen en aankla dat hy die heilige Sabbat oortree en dat dit onwettig is. Tegnies gesproke verdien hy die dood. Die geneesde man sê toe vir hulle dat Jesus hom genees het en dat Jesus hom beveel het om sy mat op te tel en te loop en dit is presies wat hy gedoen het. Hy is net so verbaas soos hulle…

Skielik is die tempelpolisie agter Jesus aan en wou hom vastrek. En toe bars die bom toe Jesus in Johannes 5:17 sê: “My Vader werk ook vandag – en daarom werk Ek ook”. Johannes 5:18 sê dit is die groot rede waarom die Jode Jesus daarna wou doodmaak – vir twee redes – *Hy het die Sabbat gebreek *en Hy het God sy eie Vader genoem en homself en sy optrede sodoende gelyk gestel aan God.

Jesus se groot argument teen hulle in Johannes 5 is dat hulle die punt mis. Hier fokus hulle op die reëls wat gebreek is, maar mis die feit dat die skeppings-God herskeppend en helend, genesend en restourerend rondom hulle aan die werk is. Jesus het dikwels mense op die Sabbat genees en die ander evangelies getuig ook daarvan. Sy dissipels het ook op die Sabbat koring versamel sodat hulle iets het om te eet. Jesus het die Joodse Sabbatswet kom breek, maar hy het die ware bedoeling daarvan weer kom herstel. Die Jode was so gefokus op die doen van die wet dat hulle dikwels die doen van die wet bo die liefde en die omgee van mense gestel het, Hulle sou dus eerder by die letter van die Sabbatswet bly en iemand wat die Sabbat oortree het vermoor, as wat hulle sou toelaat dat ʼn persoon wat siek is genees kan word of ʼn persoon wat lam is weer kan loop of blind is weer kan sien. Jesus het die Jode weer kom wys wat die hart van God is en waar hulle harte nie meer was nie. Jesus het kom wys dat die Sabbat minstens ʼn dag is van diens en van verhoudings. Dit is ʼn dag waarop God en mense in die fokus is en nie dooie reëls nie.

Jesus het kom wys Hy is Here oor die Sabbat en dat elke dag eintlik ʼn Sabbat is – ʼn Godverheerliking-en-goeddoen-dag (Joubert 2010:86 in Jesus ʼn Radikale sprong).

Jesus het dit nie teen die Sabbat gehad nie. Jesus het dit teen die verkeerde verstaan van God se bedoeling daarmee gehad. Hy het dus nie gekom om die wette af te skaal of tot niet te maak nie, maar juis sodat dit tot hulle volle betekenis kan terugkeer (kyk Matteus 5:17). Daarom sien ons in die vroeë kerk dat Christene nog steeds die Sabbat onderhou het, maar hulle het die ware bedoeling verstaan – naamlik dat dit ʼn Godverheerliking-en-goeddoen-dag is. Die eerste Christene, veral die Jode wat Jesus as Messias aanvaar het, het dus ook nog die Sabbat gehou. Maar tog sien ons dat die eerste Christene ook en veral Sondae bymekaar gekom het. In Handelinge 20:7; 1 Korintiërs 16:2 en Openbaring 1:10 sien ons dit duidelik. Jesus se opstanding het die rol hierin gespeel. Die eerste Christene het dus elke Sondag as opstandingsondag gevier en bymekaar gekom in die naam van Jesus.

Wanneer het die Sabbat dan Sondag geword?

Die eerste Christene was vir die eerste 300 jaar ʼn minderheid en dikwels vervolg deur die Jode en deur die Romeinse ryk. Die Christen geloof was beskou as ʼn onwettige godsdiens of religio illigata in die Romeinse Ryk. Die aanbidding van God op ʼn Sondag het dus dikwels in die geheim en ondergronds plaasgevind.

Prof Francois Malan het in ʼn vorige skrywe reeds opgemerk dat die Romeine in die antieke tyd ʼn 8-dae week gehad het, met die agste dag wat dan as markdag en hofdag gefunksioneer het. Onder Joodse en Babiloniese invloed is die duur van ʼn week in die eerste eeu v.C. tot sewe dae verander. Hulle het hulle dae na die son, maan en planete genoem, vandaar die naam Sondag. Teen die 4de eeu kom die groot Romeinse Keiser Konstantyn tot bekering. Konstantyn, het die Sondag in 321 n.C. die amptelike rusdag van die Romeinse Ryk gemaak. Hy het ook gesorg dat Sondag die dag is waarop mense in die reuse katedrale wat hy laat bou het bymekaar kom en God eer. Vandaar dat ons op Sondag en nie op die Sabbat ons rusdag vier nie.

Sommige mense mag nou voel dat dit alles die Romeinse keiser Konstantyn se skuld is dat ons nie meer op ʼn Sabbat ons rusdag hou nie en dat ons as Christene weer moet terugkeer na Sabbat op ʼn Saterdag. Hierdie perspektief is egter nie korrek nie en hou nie die baie belangrike vergadering wat in die jaar 48 n.C. in Jerusalem gehou is in gedagte nie. Ons lees daarvan in Handelinge 15 en in Galasiërs 2. Daar, by een van die eerste groot kerkvergaderings, is besluit dat die besnydenis en die Sabbat as tipiese Joodse identiteitsmerkers nie langer deur die Christene gehou hoef te word wat vanaf die heidendom tot die Christelike geloof tot bekering gekom het nie. Dit beteken dat al die klomp wette wat ons in die Misjna sien – dat jy nie strooi van jou bed met jou hand mag wegvat op ʼn Sabbat, ens,- nie as vereiste aan heidene gestel word nie.  Dit beteken egter nie dat hulle nie iets gemaak het van die Sabbat nie, inteendeel. Baie het steeds aan die Joodse feeste deelgeneem en selfs die Sabbat gehou en die tempel besoek voor dit vernietig is in 70 n.C. Vir die eerste Christene was Sondag egter  ʼn baie belangrike dag en hulle het bymekaar gekom en op opstaningsondag kerk gehou en iets besef van die ware aard van so ʼn dag, naamlik ‘n Godverheerliking-en-goeddoen-dag. Vir die eerste Christene was elke dag ʼn Godverheerliking-en-goeddoen-dag. Die Sabbat was nie meer een dag nie maar elke dag van die week.

Indien ons dus vandag nuwe reëls opstel van dingetjies wat ons mag en nie mag doen nie mis ons die punt en vergeet ons die radikale optrede van Jesus – die Seun van God wat met sy optrede nie die wet kom ophef het nie, maar kom wys het dat die spelreëls verander het – inteendeel, die ganse spel van die ganse lewe het verander. Mag ons herinner word dat Jesus ons kom wys het dat elke dag ʼn Sabbat is  en dat die Sabbat wesenlik ‘n Godverheerliking-en-goeddoen-dag is.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Skatte in die Hemel

Skatte in die Hemel – Jan van der Watt

Daan Smit vra:

Jesus sê: ons moet skatte in die hemel bymekaar maak – nou wonder ek – wat wil ek met skatte in die hemel maak, en ook – is dit dan verkeerd om op aarde skatte bymekaar te maak om voorsiening te maak vir die dag wat ek nie meer kan werk nie

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die beroemde kerkvader Augustinus het ook die gedeelte gelees en toe gevra hoe mens jou aardse skatte in die hemel kry? Hy kan nie eers sy skatte van een stad na ‘n ander op sy donkie vervoer nie. Nadat hy nagedink het, besef hy dat as hy sy aardse goed vir die mense gee wat almal oppad is hemel toe, kan hy alles bymekaar maak as hy eendag in die hemel kom. Die verwysing na die skatte is natuurlik simbolies. Ons moet onthou dat die meeste mense aan wie die Nuwe Testament geskryf is, brandarm was. 80% van die mense het onder die broodlyn geleef. Om skatte te hê was vir hulle maar net iets om van te droom. Hulle het ook geweet wat dit beteken om te werk vir geld. Om skatte bymekaar te maak het baie werk en toewyding gevra. Die beeld om skatte in die hemel bymekaar te maak beteken dus dat ons al ons energie moet gebruik om vir God te werk. God sal ons dan beloon (met hemelse ‘skatte’).

Omdat die beeld figuurlik bedoel is, beteken dit alles behalwe dat jy nie op aarde geld en versekering vir jou oudag bymekaar mag maak nie. As jy dit nie doen nie, is jy in die moeilikheid. Dit gaan egter meer oor jou gesindheid. Dit moet nie aan die aardse vasgroei nie, maar altyd die hemelse perspektief bly behou.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Vrouwees (en manwees) in die Bybel – Enkele kantlyn aantekeninge

Vrouwees (en manwees) in die Bybel – Enkele kantlyn aantekeninge – Stephan Joubert

In die ou tyd was vroue tweedeklas-burgers. Aristoteles, die groot filosoof uit die vierde eeu voor Christus, het al gesê dat vroue eintlik maar misvormd-gebore mans is! Die Joodse filosoof, Filo van Aleksandrië, het verkondig dat slegs mans na die beeld van God geskape is. Vroue het net hier by die ribbebeen langs iets van die man se heerlikheid getref! G’n wonder nie dat ʼn bekende Joodse rabbi in die tyd van die Nuwe Testament kon sê daar is drie dinge aan ʼn vrou wat altyd bedek moet wees: haar mond, haar bene en haar hare. Met haar mond praat sy glo nonsens; met haar bene verlei sy ander mans, en met los hare daag sy haar man se gesag uit. Die stereotipe persepsie oor vroue was dat hulle dom, verleidelik en agterbaks was. Daarom dat hulle plek altyd binne die huis was.

 

Genesis vertel ʼn ander storie

Genesis 2 vertel dat God die vrou as die man se helper gemaak het, as sy gelyke. Binne die huwelik word man en vrou een in harmonie voor God. Genesis 2 is ongetwyfeld God se oorspronklike skeppingsdoel met die huwelik. Dit was voordat die sonde alles kom verwoes het. Genesis 2 sê onomwonde man en vrou is gelyk. Die vrou is selfs hier ʼn helper vir die man! En iemand kan net help as hy of sy iets beter kan doen as diegene wat daardie hulp nodig het!

Eers na die sondeval in Genesis 3 hoor ons dat die man oor die vrou sal heers. Nou is heerskappy egter straf. Heerskappy, baasskap van die kant van die man funksioneer van die sonde se dae af as straf op sonde binne man-vrou verhoudings en nie as die natuurlike stand van sake nie. Manlike baasskap is hoegenaamd NIE God se oorspronklike skeppingsdoel nie.

 

Jesus deurbreek die stereotipes van die Jode oor vroue

Blaai mens na Jesus se uitsprake oor die huwelik (Markus 10), dan neem Hy die oorspronklike doel van die huwelik haastig terug na Genesis 2 toe, nie na Moses se nood-uitspraak oor egskeiding in Deuteronomium 24 nie. Dus verander die Here Jesus sy kinders se huwelike weer in ʼn paradys. Hy maak gelowiges se huwelike van voor af Genesis. Netsoos wat Christene as sodanig van kop tot tone ʼn tweede skeppingswonder is (2 Korintiërs 4:1-6), net so is ons huwelike ook ʼn nuwe Genesis. Binne ons as Christene se huweliksverhoudings geld die oorspronklike skeppingsdoel nou weer – naamlik een vlees, een voor God waar man en vrou mekaar help, dien, liefhet, eer en beskerm.

Jesus het ʼn finale einde aan die Joodse stereotipe rolverdeling van baasskap en onderdrukking tussen mans en vroue gebring. Hy het byvoorbeeld nie gehuiwer om vroue deel te maak van sy volgelinge nie (Lukas 8:1-3), of om hulle ook in die openbaar te onderrig nie (Lukas 10:38vv). Mans het dus nie regtig ʼn hoër godsdienstige status voor God as vroue nie. Paulus skryf trouens in Galasiërs 3:28 dat daar in Christus nie meer Jode of Grieke, slawe of vrymanne, mans of vroue is nie. Alle grense is afgebreek. Nou tel mense se afkoms, sosiale status of geslag niks meer voor God nie.

 

Paulus: Die regte Christelike rolverdeling

Maar wat dan van daardie baasskap tekste in die Bybel; tekste soos 1 Korintiërs 11:3 en Efesiërs 5:22 met hulle verwysings na die onderdanigheid van die vrou? Wel, in ʼn neutedop gesê, bedoel Paulus nie hier dat man die koning is met die vrou as vloerlap nie. Wat die apostel wel sê, is dat daar rolverdelings tussen die geslagte bestaan (bv 1 Korintiërs 11). Hiermee saam wil hy ook sê dat beide man en vrou binne ʼn Christelike huwelik mekaar moet dien. Inderdaad het die man as die sterkste geslag sekere verantwoordelikhede rondom die versorging en beskerming van sy vrou. Eweneens het die vrou die verantwoordelikheid om haar man te dien en te ondersteun. Maar hierdie is wederkerige rolle wat gegrond is op Christus se voorbeeld. Christenmans en vroue moet altyd optree tot voordeel van mekaar. Die enigste gedagte in hulle harte behoort te wees wat hulle kan doen om hulle huweliksmaats nog meer beeld van God te laat wees.

 

Efesiërs 5 as voorbeeld

Paulus roep beide mans en vroue in die huwelik op tot onderdanigheid aan mekaar in Efesiërs 5:21vv. Die Griekse woord wat in Afrikaans vertaal word met onderdanigheid (hupotassein), beteken onder andere om diensbaar te wees aan iemand anders.

Paulus trek ook in Efesiërs 5:21vv die huwelik binne die raamwerk van God se oorspronklike doel in Genesis 2 in as hy oor vroulike onderdanigheid (soos die kerk aan die Here) en manlike liefde (soos die Here teenoor die kerk en ʼn man teenoor sy liggaam) praat. Let wel, nooit word in die NT oor vroue se rol gepraat in isolasie van die man s’n nie. Onderdanigheid en liefde is kop en stert, wedersyds aanvullend. Volgens Paulus is man en vrou nou een voor God; daarom dat hy in Galasiërs 3:28 die Here se bedoeling met man en vrou helder, kernagtig en ongekwalifiseerd uitstippel: In Christus is daar nie meer man of vrou, slaaf of vry, Jood of Griek nie.

Natuurlik moet vroue diensbaar aan hul mans wees (vgl ook 1 Petrus 3) – soos die gemeente aan die Here. Maar mans moet op hul beurt hul vroue weer liefhê soos Jesus sy kerk liefhet. En hoe het Jesus sy kerk lief? Markus 10:45 bied die antwoord hierop as Jesus sê dat Hy ons kom dien het. Jesus stel dit glashelder dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om  te dien. Tereg is dit edel dat vroue hul mans dien. Net so edel is dit egter ook wanneer mans hul vroue dienend liefhet en nie meer oor hulle wil baasspeel nie. Immers, in 1 Korintiërs 7 noem Paulus dat mans selfs die mag oor hul eie liggame afstaan aan hul vroue – ʼn gedagte wat totaal vreemd was aan ʼn hiërargiese samelewing destyds waar mans die vroue oorheers het.  Dus moet mans hul vroue ook dien, want liefde volgens die Woord sluit altyd dienslewering in.

 

Outeur: Dr Stephan Joubert