Selfmoord – Jan van der Watt
Een van ons lesers vra:
My seun het amper 2 jaar gelede selfmoord gepleeg deur hom te vergas. Uit sy skoolboeke kon ons aflei dat hy ‘n worstelstryd gevoer het met die verkeerde goed in sy lewe en om sy lewe totaal te verander na die lewe van ‘n Christen. Hy het byvoorbeeld smeekgebede geskryf waarin hy God gevra het om hom te help om die dwelms en ander gemors in sy lewe uit te wis. Hy is ver ewig weg, maar is hy vergewe vir sy slegte lewe en die selfmoord? Kan mens dit sien as dat hy gesterf het op sy bestemde tyd? Psalm 139 sê tog duidelik dat ons hele lewe deur God bepaal is, opgeskryf is in die Lewensboek. Sou hy dalk op die presiese selfde tyd gesterf het as hy nie selfmoord gepleeg het nie? Geen mens kan tog God se plan met jou verander nie, al pleeg jy selfmoord
Antwoord:
Prof Jan van der Watt antwoord:
Die vraag oor wat gebeur as mens selfmoord pleeg is vir die agtergeblewenes altyd emosioneel en onseker. Dit hoef nie so onseker te wees nie. In die Middeleeue het die Roomse kerk nie mense wat selfmoord gepleeg het in dieselfde begraafplase as ander mense begrawe nie. Dit was verkeerd… die fout was dat hulle Christenskap aan goeie dade verbind het, terwyl Jesus dit aan ‘n verhouding met Hom bind. Jy is nie ‘n Christen omdat jy goeie werke doen nie, maar omdat jy aan Jesus behoort (Johannes 3:16). Die goeie werke is maar ‘n dankbare resultaat van die wonder om ‘n kind van God deur Jesus te wees. Kom ons benader nou hierdie vraag oor wat met ‘n persoon wat selfmoord gepleeg het, gebeur in bogenoemde lig:
‘n Verhouding is nie iets wat mens soos ‘n lig aan en af skakel nie. Dit is iets standhoudend. Byvoorbeeld, as jou kind ‘n fout maak, hou hy nie op om jou kind te wees nie. Net so hou ‘n Christen nie elke keer op om Christen te wees as jy of sy ‘n fout maak nie. Jy hoef nie weer oor te begin met jou verhouding nie. Geen sonde is ook so groot dat dit jou uit die hand van God sal ruk nie (Johannes 10:28-30). Daarom is een sonde ook nie groter as ‘n ander nie – as jy iets verkeerd doen, mag dit die verhouding versteur, maar dit verbreek nie die verhouding nie. Selfs al stap jy heeltemal weg van God af soos die Verlore Seun, bly God se arms steeds vir jou oop om die verhouding te kom herstel. (As jy natuurlik heeltemal jou rug op God draai, dan sal jy in die ver land sterf). Met ‘n persoon wat selfmoord gepleeg het, is die vraag dus: het hy of sy in ‘n verhouding met Jesus gestaan voor die selfmoord? Indien wel, is die selfmoord nie sterk genoeg om daardie verhouding te verbreek nie. Indien hy of sy God nie geken het nie, en daar dus geen verhouding bestaan het nie, is die saak anders.
Nou is daar mense wat op grond van 1 Johannes 1:8-10 beweer dat jou sonde eers bely moet word voor die vergewe word – ‘n selfmoordenaar kan dit natuurlik nie doen nie. Wat egter hier op gelet moet word, is dat die sondebelydenis hier in die normale gang van die lewe beskryf word – die gelowige word aangemoedig om sy verhouding met die Here so sterk as moontlik te hou. As daar iets verkeerd loop, moet dit onmiddellik reggestel word. Sondebelydenis is dus soos medisyne wat ons verhouding met God goed hou. Sondebelydenis veronderstel egter juis dat ons nog ‘n verhouding met God het, al het ons gesondig, want op daardie basis vra ons om vergifnis. In 1 Johannes 2:1-2 word daar juis gesê dat Jesus ons voorspraak is – omdat ons in ‘n verhouding met Hom staan, hanteer Hy ons sonde voor God.
Dus: dit is wat voor die selfmoord was wat tel – die daad self kan dit nie tot niet maak nie.
Outeur: Prof Jan van der Watt