Het God engele nodig?

Het God engele nodig? – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Nadat Jesus gedoop is het die Heilige Gees Hom in die woestyn ingeneem om deur die duiwel versoek te word. Hier het Hy die oorwinning behaal deur telkens die Woord van God as swaard te gebruik. In Openbaring, waar die duiwel gebind en vir 1000 jaar weggesluit word, steur Jesus Hom inderdaad nie verder aan die ou slang nie, maar gee opdrag aan ʼn engel om die nodige te doen. In God se almag wonder mens waarom ‘n leermag van engele dan nodig sou wees as God slegs deur die asem van Sy mond ‘n einde aan alles kan maak.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

God kan inderdaad aan alles ʼn einde maak deur net een woord te spreek. Sy mag is onbeperk. Nou is die vraag waarom hy dan engele nodig het. Die manier waarop die Bybel vir ons verduidelik hoe God werk, is dat Hy gekies het om deur profete of engele of uiteindelik deur Christus te werk. Ons kan dus dieselfde vraag vra: waarom het Hy profete of Jesus gebruik? Dit is die manier wat God gekies het om te werk. Nou moet ons net duidelikheid kry oor wie die engele is. Elders op die webblad word dit in detail bespreek- hier net weer enkele punte. Die Bybel vergelyk God se heerskappy met die van die magtigste koning van destyds, naamlik die Persiese koningshof. Die koning het op die troon gesit en hoef eintlik baie min te doen, want hy het soveel diensknegte gehad. Hulle het namens hom opgetree en sy opdragte uitgevoer. As Hy dus iets wou doen, het Hy dit deur die diensknegte van hom gedoen. Daarom kom gee engele vir Jesus kos, kom kondig ʼn engel Jesus se geboorte aan, veg die engel Migael in Openbaring 12 teen die duiwel, ens. God bestuur sy ryk deur engele. Hy kon dit seker anders ook gedoen het, maar dit is hoe die Bybel sê God dit gedoen het.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Is die hemel ʼn werklikheid?

Is die hemel ʼn werklikheid? – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Is die hemel ‘n werklikheid?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt  antwoord:

Hierdie is ʼn kort maar kragtige vraag. Die antwoord is ook kort en kragtig: daar is werklik ʼn hemel. Die vraag is egter wat ons met ‘hemel’ bedoel. Kom ons kyk na drie gedeeltes wat oor die hemel handel.

a)      Lees 1 Tessalonisense 4:15-17. Daar gaan dit oor mense wat in die grafte sal wees as Jesus weer kom. Hulle sal eers opgewek word en dan sal al die gelowiges saam na die hemel toe opvaar: daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.’ Hier word die hemel as bo voorgestel – ons sal daarheen opvaar en dan die belangrike punt: ons sal by die Here wees.

b)      Lees 2 Petrus 3:10-13. Daar word vertel dat die ou aarde en hemel met vuur sal verbrand en dat daar ‘n nuwe hemel en aarde sal wees. Ons sal dus nie hemel toe gaan nie, maar op die nuwe aarde bly en daar naby die Here leef (sy wil sal daar heers). Dit is dus ‘n ander beeld as by 1 Tessalonisense waar die mense die hemel in is.

c)       Lees Openbaring 21:1-8. Daar kry ons ‘n soortgelyke beeld as by Petrus, naamlik dat die ou aarde verbygaan en die nuwe hemel en aarde sal kom. Mense sal op die aarde bly. Daar word egter meer gesê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.’ Dit beteken dat God die hemel sal ‘verlaat’ en op die aarde sal kom bly. Die nuwe Jerusalem gaan op die aarde wees. Die belangrike punt hier is ook dat God by hulle gaan wees.

Wat moet ons hieruit aflei? Wel, dat daar nie ‘n duidelike beeld in die Bybel is oor hoe die hemel gaan lyk nie. Al drie beelde verskil. Tog stem al drie beelde saam oor een ding – God gaan by sy mense wees en hulle gaan by God wees. Dit is die werklike essensie van die hemel: ons gaan by God wees. Hoe dit presies gaan wees, weet niemand nou nog nie. Dit is ‘n verrassing wat vir ons wag. Intussen kan ons maar net drome droom of voorstelle uitdink van hoe dit gaan wees. As ons ons beste drome vat, het ons egter nog maar net ‘n fraksie van hoe dit werklik gaan wees. Daarvoor gaan God sorg.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Mag ‘n vrou mans leer?

Mag ‘n vrou mans leer? – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Ek wil graag meer weet oor “teachings” onderrig deur ʼn  vrou (met verwysing na die Bybel) en of daar ʼn  verskil is tussen “teaching en preaching” onderrig en prediking. Veral onderrig deur ʼn vrou aan mans en dan veral oor dogmatiek en nie net daaglikse onderwerpe soos Christelike siening oor finansiële begroting of algemene onderwerpe nie. Ek kom nou net terug van ‘n “uitreik” aksie na Malawi waar ek ‘n kralewerk opleidings sessie gaan aanbied het aan kerklede van ‘n kerk in Mangochi. Ek is sterk veroordeel omdat ek tydens ‘n bybelstudie nie net getuig het nie maar wel “geteach” het. Volgens diegene wat my veroordeel is dit ‘n taak slegs vir mans en hulle verwys veral na Timoteus en Titus, maar volgens my kennis is Timoteus in moeilike omstandighede geskryf aan die gemeente van Efese en Paulus wou veral vroue wat uitspattig was verhinder om die aandag af te trek van dit wat by ‘n byeenkoms moes plaasvind. Ek het altyd vir myself Priscilla en Akwila as voorbeelde gesien, maar kon aflei dat Priscilla wel kon onderrig gee aan die wat hulle huis besoek het. Is daar ‘n verskil dan tussen onderrig in jou huis aan mense wat jou besoek en onderrig op ‘n sendingveld?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Mag ʼn vrou leer; veral, mag vroue mans leer? Dit is ʼn vraag waaroor die Christendom nog verdeel is. In die Roomse, Ortodokse en ʼn hele klomp Protestantse kerke beklee die vrou nog ʼn ondergeskikte rol as dit by hierdie sake kom, juis as gevolg van die gedeeltes in 2 Timoteus 2:11vv en natuurlik 1 Korintiërs 14. Daar is ook egter ʼn groeiende groep kerke wat voel dat die beperkings op vroue nie meer vir ons vandag geld nie omdat ons omstandighede van die omstandighede van destyds verskil. Byvoorbeeld, daar staan in 2 Timoteus 2:11 dat dit gaan oor die erediens, maar dit staan byvoorbeeld nie in die Grieks nie. Die vertalers het dit bygesit. Dit kan nie met 100% sekerheid gesê word watter situasie Paulus hier in gedagte gehad het nie. Die Gereformeerde kerkleer sê dat as ʼn mens nie 100% seker is nie, kan jy nie ʼn kerklike leerstelling op ʼn vers bou nie. Daarom is hulle huiwerig om vroue van die lering weg te hou op grond van ʼn teks wat nie heeltemal duidelik is nie. Die gedeeltes in 1 Korintiërs 14 gaan ewe-eens oor sosiale situasies in die antieke tyd waar vrouens wat in die openbaar praat as onbeleefd en onaanvaarbaar gesien is. Vroue se posisie vandag het verander – ons sien nie meer vroue wat hul opinies lug as onbeleefd nie en dit is ook nie vir ons onaanvaarbaar nie. Daarom kan vroue maar praat, want dit kommunikeer nie meer die boodskap dat hulle onbeleefd of rebels is nie. Destyds het vroue ook nie die geleentheid gehad om behoorlik opgelei te word in die godsdienstige dinge nie, iets wat ook vandag nie meer waar is nie. Kerke wat vroue dus toelaat om te leer en te onderrig neem hierdie verskille ernstig en argumenteer dat die redes waarom Paulus die vroue verbied het vandag nie meer daar is nie. Daarom kan en moet vroue toegelaat word om hulle volwaardige posisie in die gemeente in te neem.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Aan die ander kant

Aan die ander kant – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ek het na die program op TV gekyk “Aan die ander kant.” Ek kan sien dat daar groot belangstelling is veral as mense iemand na aan hulle verloor het. Die aanbiedster het ook gepraat oor ʼn persoon aan die anderkant wat blykbaar terwyl hy hier op die aarde was net baie gewerk het en nie tyd gebruik het vir sy geestelike lewe nie. Hy het gevra dat sy gesin vir hom moet intree en bid soos daar in die Woord staan “waar 2 of meer saamstem.” Dit maak nie vir my sin nie. As mens nie ʼn verhouding met God hier op aarde gehad het nie, hoe kan daar iets vir jou gedoen word as jy klaar dood is.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag is of ʼn mens vir iemand anders kan intree wat reeds dood is sodat hy dan uiteindelik gered sal kan word al was hy nie ʼn gelowige op aarde nie. Die vraag het twee kante: kan iemand wat nie gelowig was op aarde nie na sy dood deur ons gebede gered word; en kan ons vir dooies intree deur gebed?

Daar is geen aanduiding in die Bybel dat iemand wat nie in die Here geglo het hier op aarde nie deur ons gebede gered kan word nie. As iemand dit beweer, is dit ʼn dwaalleer. In die verhaal van die Ryk man en Lasarus (Lukas ) word daar uitdruklik gesê dat ons ons kans op aarde het om in die Woord en Profete te glo. As die kans verby is, is dit verby.

Daar is egter in die Roomse en Ortodokse kerke die gebruik om tog vir dooies te bid. Dit kom uit 2 Makkabeërs se laaste gedeelte. 2 Makkabeërs is deel van die kanon van die Rooms Katolieke Kerk (hulle kanon verskil van die Protestante s’n deurdat hulle 13 ekstra boeke het waarvan 2 Makkabeërs een is). In 2 Makkabeërs word daar vertel van hoe die Jode teen die vyand geveg het. Die betrokke dag is daar buitengewoon baie Jode dood, hoewel hulle die slag gewen het. Toe die Joodse leiers die dooies ondersoek, kom hulle agter dat die mans ʼn gelukbringer van ʼn plaaslike godin onder hulle klere versteek het. Hulle het dus nie die Here volledig vertrou nie. Daarom is hulle ook dood. Tog was hulle getroue Jode wat eintlik hulle lewens vir God en hulle vaderland gegee het. Die Jode se leier het toe besluit om geld bymekaar te maak en vir die gestorwenes  ʼn offer in Jerusalem by die tempel te bring met die versoek dat hulle sonde met die godin vergewe word. Hulle het dit ook gedoen. Daaruit is deur die latere kerk afgelei dat ʼn mens wel vir gestorwenes mag intree (onthou 2 Makkabeërs is deel van die Katolieke Bybel). Daarom kry ʼn mens vergelykbare tradisies in die Roomse en Ortodokse tradisies.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt