Herdoop; die doop as verbondsteken

Herdoop; die doop as verbondsteken – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

(1)    Waarom kan n’ mens nie herdoop nie? Met ander woorde: waarom as ek as kind gedoop is, kan ek my nie laat grootdoop nie?

(2)    Waarom word daar gesê dat die klein-doop ʼn verbondsteken is soos die besnydenis in die Ou Testament was? Ek lees dit nie so in die Bybel nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons het reeds baie inligting oor die doop op die webblad. Lees dit eers. Hoe beter ʼn mens die sisteem waarbinne die doop in die Christendom inpas verstaan, hoe makliker is dit om die probleme te verstaan en op te los.

a) Waarom nie herdoop nie? Hierdie vraag is reeds elders op die webblad beantwoord, maar tog net weer ʼn paar opmerkings. Doop is die teken dat ʼn mens ʼn plek het binne die familie van God. Byna 1,5 biljoen Christene (die Rooms Katolieke Kerk en die Ortodokse Kerk) glo daarom dat redding deur die doop bemiddel word, met ander woorde, dat as ʼn mens gedoop word, jy ook gered is. Die Protestantse deel sê egter dat die doop net ʼn teken is van die redding en nie self redding bewerk nie (lees 1 Korintiërs 10). Met die kinderdoop word daar gesê dat die kind van gelowige ouers nie uit die familie uitgegooi word om buitekant groot te word nie, maar binne die geestelike familie van God grootword. Daarom lê ouers (en die gemeente) beloftes af dat hulle die kind so sal grootmaak dat hy of sy niks en niemand anders sal wil dien as vir God as hulle grootword nie. Deur hulle lewe sal hulle hulle plek binne die geestelike familie van God later bevestig. Nou: God is nie onbetrokke of afsydig hiervan nie. Met die doop maak Hy sy arms oop en dui hy aan dat die kind welkom is in sy familie. Soos kinders in Israel wat as Israeliete gebore was, welkom was in die volk Israel, is die kinders van gelowiges welkom in die geestelike volk van God. Dit verklaar God en die doop is die teken daarvan. As ons nou ons weer en weer laat doop, beteken dit dat ons God oor en oor vra of Hy seker is van wat Hy die eerste maal gesê het. Dit kan nie. Juis daarom doop ons nie weer en weer nie. Wat God verklaar het, het Hy verklaar. Die beste voorbeeld van hoe dit werk kan gesien word met die verlore seun in Lukas 15. Die seun loop weg en toe hy terugkeer het die vader nie weer gevra dat hy van voor af kind word nie. Nee, sy kindskap is gewoon bevestig deur die oop arms van sy pa. Selfs as ons afdwaal en van God wegloop, bly God se genade daar.

b) Wat die besnydenis betref: daar is inderdaad nie veel in die Nuwe Testament oor die verband tussen die doop en die besnydenis nie. Die naaste wat die Nuwe Testament daaraan kom is in Kolossense 2:11vv. Bybeluitleggers is egter nie eens dat die doop en die besnydenis hier verbind word nie. Dit maak deel uit van twee afsonderlike voorbeelde wat Paulus hier gee. Die verband tussen die twee is meer ʼn dogmatiese (leerstellige) saak van die kerk, met ander woorde, dit is die kerk se manier om te verklaar hoe dit werk. Die twee sake loop parallel: dit gaan om kinders wat deel word van die familie, die teken dat hulle wel deel is; die verantwoordelikheid van die ouers en die gemeente om hulle godvresend op te voed, ens. Ons het nie meer die besnydenis nodig nie (lees Galasiërs), want ons is nie meer Jode nie. Tog is die teken vir ons kinders dat hulle binne die volk van God gaan grootword die doop (soos dit die besnydenis vir die Israeliete was). Dit gaan dus meer om die vergelykingswaarde as die vervangingswaarde.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Doopgebruike

Doopgebruike – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ons wil graag uitvind wat is die regte formulier van die doop –  by voorbeeld wie moet die kleintjie in bring en wat is die rol van die peet ouers ten tye van die diens. Ons hou `n privaat diens met vriende en familie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is nie ʼn vaste formulier vir die doop nie en die gebruike rondom die doop is ook meer kerk en tradisie gebonde. Dit sien ʼn mens as jy na die verskillende maniere kyk waarop verskillende kerke oor die hele wêreld doop. Net ʼn paar opmerkings:

 

a)      Die lang formulier wat gewoonlik in kerke gelees word se doel is om seker te maak die mense weet waaroor die doop gaan.

b)      Die doop is ʼn gemeenskapsgebeurtenis, met ander woorde, dit word tussen medegelowiges in die gemeente gedoen. Dit beteken nie dat julle nie privaat saam met ʼn groepie gelowiges dit kan doen nie, want so ʼn versameling van gelowiges word in die Nuwe Testament ook ʼn gemeente genoem. Die belangrike is dat die kind nie alleen deur die ouers nie, maar ook deur die mede-gelowiges geestelik versorg moet word. Daarom is die gemeente betrokke.

c)       Die ouers lê namens die kind en voor die kind ʼn belofte af as julle ʼn baba doop. Die ouers beloof dat hulle die kind sal grootmaak binne die riglyne wat God gee, sodat as die kind groot is, hy of sy eintlik niemand anders sal wil dien as God nie.

d)      Die inbring van die kindjie is net ʼn tradisie en nie ʼn Bybelse voorskrif nie. Julle kan doen wat julle voel die beste is.

e)      Peetouers kom uit die verlede uit toe daar gereël moes word wie na die kind kyk as die ouers doodgaan. Die hedendaagse wêreld het egter so baie verander dat pleegouers eintlik nie meer nodig is nie. Dit word gewoonlik via testamente of so iets gereël. Peetouers is deesdae meer ʼn simbool as iets anders. Daar is egter kulture waarin die peetouers nog ʼn belangrike rol speel, maar sover ek weet is dit nie meer so in die Afrikaanse kultuur nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Operasies

Operasies – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Wat sê die Bybel oor operasies. Met ander woorde die sny aan die liggaam/tempel van God

Antwoord:

Die verwysings in 1 Korintiërs 3:16-17 en 6:15-20 na die liggaam as tempel van God gaan binne hul konteks oor die misbruik van jou liggaam in bv. seksuele aksies of ander verkeerde gedrag. Met operasies gaan dit nie om misbruik nie, maar juis om die herstel van die liggaam. God het aan mense die vermoë gegee om sy skepping te kan bestudeer. Medisyne is die gebruik maak van die kennis om iets goed te doen, om lewe te vergemaklik of te verbeter of selfs te red. Omdat die doel van operasies dus presies die teenoorgestelde is van wat in Korintiërs afgekeur word, is die tekste nie van toepassing as dit kom by operasies nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Lootjies

Lootjies – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Was nog altyd so maklik om die “looitjies trek” ding te omseil deur dit net te vermy. Ek neem net eenvoudig nie deel nie. En dink my uitgangspunt was nog altyd dat elke ou maar self sy gewete in hierdie verband moet ondersoek. Selfs as die skool die rugby raai vir daardie halwe skaap omstuur, word daar net ʼn streep deur getrek met ʼn donasie vir die totale verwagte bedrag. Maar hierdie “trekking” vir ʼn wen het my voorgelê en kry ek dit nou skielik trompop as betrokkene by die finansiële kommissie van die kerk. ʼn Geleentheid om R45,000-00 wins te maak deur die verkoop van kaartjies en deur “trekking” dan ʼn gelukkige wenner – eerste prys ʼn bul en vier verse, tweede prys ʼn twee weke vakansie by die kus ens. – en dit dan vir net ʼn R100-00 ʼn kaartjie. Hierdie “looitjies”, “trekkings” en die “god van geluk” – waar kom ek aan hierdie gevoel dat dit net so verkeerd moet wees…. help asb. (hoop die vraag hierin iewers duidelik). ʼn baie groot dankie

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Lootjies trek, dobbel en sulke dinge laat Christene dikwels wonder oor wat reg is, veral as dit gaan oor dinge soos wat hierbo genoem word. Miskien moet ons net so bietjie agtergrond oor die saak gaan soek.

a)      Hoewel die debat oor dobbel natuurlik baie verfynd is, bly ek hier net by die essensiële punt: waarom is daar geluide teen dobbel? Die basiese vertrekpunt in die argument is dat ʼn mens moet werk vir jou loon en dobbel is ʼn manier om geld te kry deur nie veel te werk nie. (bv. 2 Tessalonisense 3:10-12; Titus 3:14). Dit gaan dus oor werksetiek. Die argument raak natuurlik moeilik vandag as ons kyk hoe mense op die aandelebeurs buitensporige bedrae verdien ens. Daar kom ander argumente by soos dat die risiko hoog is om jou geld te verloor, dat dit met verslawing kan saamgaan ens. Ons hoef nie hier daarop in te gaan nie. Wat wel ons oog moet vang, is dat om geld vir ʼn funksie in te samel en om jou self deur dobbel te verryk nie op dieselfde vlak lê nie. As jy geld vir die rugbyklub insamel, gaan jy tog nie van die geld kry en nie meer hoef te werk nie. In die meeste gevalle het die mense ʼn keuse en voel dat hulle met die bietjie geld tog die verdienstelike saak steun. Hulle loop ook nie die risiko om al hulle geld te verloor deur die skenking nie. Dit lyk dus of ʼn mens nie te negatief oor die liefdadigheidspogings hoef te oordeel in die lig van die argument van die arbeidsetiek nie.

b)      Die tweede faset is natuurlik die ‘geluksgodin’. In die tyd van die Bybel het die gelowiges natuurlik tussen allerhande gode geleef. Boonop was hulle (die gelowiges) ʼn minderheid en was die ander godsdienste by verre die sterkste. Daarom wou hulle niks doen om die indruk te skep dat hulle aan die godsdienste deelneem of aan die gode eer bewys nie. Elke ding wat gebeur het, van oorlog af tot by handel dryf, huwelik ens. het die mense destyds gedink word deur gode beheer. God en Hy alleen moes gedien word tussen die mengelmoes van ander gode deur. Die aanbidding van God moes beskerm word. Vandag is dit anders – ons loop nie meer oral in beelde van afgode of sulke tempels vas nie (in Korinte was daar op die markplein alleen sowat 8 tempels, godebeelde ens. waarin jy elke dag moes vaskyk). As mense vandag sê: ‘Jy is gelukkig dat dit gebeur het’, dink hulle nie noodwendig aan ʼn spesiale god wat dit nou veroorsaak het nie. Ons leef baie meer rasioneel en ver van die soort spirituele idees af. Die meeste van ons ken eintlik maar net die een ware God en sal uiteindelik vir hom dankie sê as iets met ons gebeur. Kortom, ons moet nie die idee van ʼn geluksgodin te hoog opgee nie – miskien speel ons juis in die hande van die afgode as ons hulle oral insleep en belangrik wil maak.

Dus: jy is reg, besluit self.

 

Outeur: Prof jan van der Watt