God se huwelik met sy volk

God se huwelik met sy volk – Marius Nel

ʼn Leser vra:

God Se huwelik met Sy volk. Vanuit die Ou Testament deur die Verbond gesluit deur Moses en die verbreking van hierdie Verbond deur die Volk dat God die vrou skei. Kan u uitbrei op hierdie saak?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

U som die Ou Testament baie mooi op, vanuit die analogie waarvoor die profete lief was: God het sy volk liefgehad soos ʼn minnaar sy vriendin. In die woestyn het Hy ʼn verhouding met haar aangeknoop en in die Beloofde land met haar getrou. Kort hierna was sy vrou egter ontrou aan Hom deur agter ander gode aan te loop. Sy het die geskenke wat haar Man haar gegee het, vir haar minnaars gegee. En daarom het haar Eggenoot, nadat Hy herhaaldelik by haar gepleit het, haar gedagvaar tot ʼn egskeiding. Die egskeiding was die ballingskap, maar steeds kom die genadewoord: ‘n oorblyfsel sal terugkom en weer in die Beloofde land leef.

 

Dankie dat u die saak geopper het.

 

Outeur: Dr Marius Nel

 

 




Vier Evangelies, Een Jesus?

Vier Evangelies, Een Jesus? – Kobus Kok

Twee weke gelede het ek ‘n katedraal in Duitsland by Kevelaar besoek. Teen die muur van die kerk, soos in baie katedrale in Europa en in antieke Christelike kuns, sien mens die uitbeelding van ʼn evangelie skrywer en ʼn simbool van ʼn dier. Mens sien dit in skilderkuns teen die mure, uitgekerf in hout preekstoele en kleurvol in die vensters van die kerke. So word Matteus dikwels uitgebeeld met die gesig van ʼn mens, Markus met die gesig van ʼn leeu, Lukas as ʼn bul en Johannes ʼn arend.

vier_evangelies

 

Agter hierdie kunstige aanbieding van die evangeliste staan ʼn interessante tradisie. Die allokasie van hierdie simbole vir die evangelie skrywers is geïnspireer uit Esegiël 1:10, in sy visie van God en natuurlik ook Johannes se Openbaring boek toe hy die troon van God gesien het (Openbaring 4:7). In beide hierdie tekste is daar ʼn mens, ʼn bul, ʼn leeu en ʼn arend rondom die troon van God. In die geskrifte van die antieke Joodse rabbi’s (kyk Rabba Shimmoth 23:13) verduidelik hulle vir ons dat die mens (kroon van  skepping), die bul (beste landdier), die leeu (beste wilde dier) en die arend (beste voël) die beste figure verteenwoordig wat daar in elke sfeer op aarde is. Verder hang dit saam met die totaliteit van die skepping en verteenwoordig die vier windstreke – noord, oos, suid en wes. Hierdie vier figure word vroeg in die vroeë kerk met die evangelie skrywers verbind. Tog sien ons verskillende weergawes in die vroeë kerk. Johannes (Arend of Leeu) en Markus (Leeu of Arend) se simbole word dikwels omgeruil terwyl Matteus en Lukas altyd dieselfde bly.

Irenaeus, biskop van Lyon in Frankryk teen die einde van die tweede eeu n.C., het die Christen geloof verdedig teen die ketters. Hy probeer veral om misverstand uit die weg te ruim en mense op te lei. Vir hom kon daar net vier Evangelie skrywers wees, nie minder of meer nie omdat daar net 4 windstreke is, 4 sheribim figure rondom God se troon en 4 verbonde (Adam, (Abraham), Noag, Moses, Christus). Vir Irenaeus is die vier evangelies 4 verskillende kante van Jesus. Hy groepeer die evangelies dan so: Matteus – mens; Johannes – leeu; Lukas – bul; Markus – arend. Hierdie volgorde verteenwoordig die vroegste volgorde wat gevolg is met die indeling van die evangelies en staan as die Latynse of Westerse indeling bekend (150-180nC). Matteus en Markus word prioriteit gegee omdat hulle apostels van Jesus was en die ander twee was assosiate of medewerkers van die apostels (Markus was ʼn helper van Petrus).

Hierdie indeling was egter nie die enigste indeling nie. Die indeling wat ons vandag ken en gebruik (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) het eers later so gekom en wel die eerste keer in die muratorion kanon (170-200n.C.) en is veral deur die Griekse skrywers in die Oos-Mediterreense gebiede gebruik. Theofilos (van Sirië), wat kommentare geskryf het op die evangelies (tydgenoot van Irenaeus) was een van die vroegstes van hierdie deel van die kerk wat Johannes met die arend verbind en Markus met die leeu wat die volgorde van die ooste (Matteus, Markus, Lukas, Johannes) met die orde van die beelde in Esegiël verbind. Dus word die Griekse (Oos-Mediterreense) kanon volgorde so aan die evangelie skrywers verbind: Matteus – mens; Markus -leeu; Lukas- bul; Johannes- arend.

Uiteindelik sou Jerome alles standaardiseer. Hy het die Nuwe Testament in Latyn vertaal (Vulgaat) teen ongeveer 400 n.C. en gebruik die Griekse volgorde en beelde in sy Bybel. Aangesien dit die standaard Bybel geword het in daardie tyd het dit toe so gebeur dat die dominante volgorde die een geword het wat ons vandag nog ken.

In die antieke tyd was daar nie boeke met mooi omhulsels en ʼn kort opsomming om jou te oriënteer oor wat in die boek aangaan en wie die skrywer is en waarvandaan hy kom nie. Verder kon baie min mense lees en skryf. Visuele kuns is dus gebruik om mense te leer. Verder het mens in antieke geskrifte sommer in die openingswoorde al die leser voorberei sodat hy/sy weet wat kom. So het die antieke geleerdes dan na die eerste paar verse (toe nog nie verse nie) van die Bybelboek gekyk en daarvolgens die boeke ingedeel onder die beelde wat ons hier bo bespreek het.

Die meeste antieke kommentators was dit eens dat Matteus met die figuur van die mens verbind kan word omdat hy begin met die menslike genealogie van Jesus (Matteus 1:1-17). So verwys Lukas in sy openingswoorde na die priesterlike posisie van Sagaria (Luk 1:5). Aangesien die bul as offerdier beskou is het die vroeë kerkvaders Lukas daarmee verbind omdat hy na die priesterlike dimensie verwys. Markus aan die ander kant, begin sy evangelie met die verkondiging van die evangelie in die wildernis (Markus 1:3) woestyn) en leeus brul gewoonlik in die wildernis (Amos 3:4). Johannes word met die arend verbind omdat hy soos ʼn sterk arend sommer van die openingswoorde uitstyg en vertel dat Jesus van die begin af by God was en self God was en God se hart vir die mens kan wys (Johannes 1:1-18).

Simbole was veral in die vroeë kerk en in die Middeleeue die manier waarop mense geleer is en dit het hulle gehelp om die evangelie beter te verstaan. Vandag beweeg ons weer in ʼn tyd waar simbole belangrik word en waar mense, veral jongmense, toenemend visueel ingestel is. Myns insiens kan hierdie simbole weer nuttig gebruik word om ons jongmense (en oumense) te help om die uniekheid van elke evangelie te verstaan. Die evangelies is nie bloudrukke van mekaar nie. Die evangelies is inderdaad, soos die vroegste kerkvaders al opgemerk het – vier noodsaaklike, verskillende kante van Jesus, oor wie ons nooit genoeg sal kan sê nie, omdat daar net nie genoeg plek sal wees om al die boeke te hou nie (soos Johannes dit stel in Johannes 21:25). Daar is wel vier verskillende evangelies, maar hulle vertel almal vanuit hulle unieke hoek van presies dieselfde Jesus. Die vier saam gee vir ons ʼn genuanseerde idee van wie Jesus was.

 

Lees gerus die boek van Richard A. Burridge (2005). Four Gospels, one Jesus? A symbolic Reading. Eerdmans.  (Hierdie boek kan by Amazon bestel word en kos ongeveer R100- R120). Richard is die dekaan van Kings College in London.)

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Vaders en hulle kinders

Vaders en hulle kinders – Coen Slabber

ʼn Leser vra:

Goeie Môre. Waar vind ek ‘n pragtige deel uit Spreuke van Jesus Sirag? Is dit op rekenaar beskikbaar? Wat ek soek is Hoofstuk 42:9-14. Baie vaders lê vandag ook snags wakker.

Antwoord:

Coen Slabber antwoord:

In 2005 publiseer Jan van der Watt en Francois Tolmie: Apokriewe: Ou en Nuwe Testament. [Beskikbaar by CUM.] Hierdie gedeelte waarna jy verwys, word soos volg vertaal:

9. In die geheim bekommer ʼn pa hom oor sy dogter; ja, die bekommernis oor haar hou hom snags wakker. As sy jonk is, is hy bang sy kry nooit ʼn man nie; as sy getroud is, dat haar man nie van haar sal hou nie;

10. As sy ʼn maagd is, dat iemand met haar seks sal hê en dat sy dan ʼn baba verwag terwyl sy nog in die huis is; as sy getroud is, dat sy ontrou aan haar man sal wees of nie kinders sal kan kry nie.

11. Hou ʼn hardkoppige dogter goed dop! Anders maak sy dalk dat jou vyande jou uitlag. Hulle sal oor jou praat in die stad; ook wanneer die mense vergadering hou. Sy sal jou op baie plekke in die skande steek.

12. Moenie dat mans sien hoe mooi jou dogter is nie en moenie haar toelaat om saam met getroude vrouens te sit en gesels nie.

13. want uit klere kom motte en uit ʼn vrou kom die slegtheid van ‘n vrou.

14. Die slegtheid van ‘n man is beter as die goedheid van ʼn vrou. Dit is vrouens wat skande en oneer veroorsaak.

By hierdie gedeelte voeg die skrywers twee notas:

Vs 9 – 10: die pa het destyds ʼn bruidskat gekry wanneer sy dogter getrou het. Kry sy nie ʼn man nie of word swanger voor sy trou, is dit vir haar pa ʼn finansiële verlies. As die dogter getroud is en sy is ontrou of sy het geen kinders nie, kon die man van haar skei en haar pa moes die bruidskat teruggee. [Destyds is geglo dat onvrugbaarheid altyd die vrou se skuld is.] Daarom bly die pa bekommerd al is sy dogter getroud.

Vs 14: Hierdie is ʼn getroue weerspieëling van die moeilike en onderdrukte posisie waarin vrouens hulle destyds bevind het. Dit is teen hierdie agtergrond dat ʼn mens die totaal ander manier waarop Jesus later teenoor vrouens opgetree het, beter kan waardeer.

 

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Abram en Sara

Abram en Sara – Marius Nel

Erika vra:

Was Sara Abram se halfsuster of nie? In Genesis 20 sê hy tog dat sy sy suster is aan vaderskant. Hy sê nie hy het gejok nie, sy is so en so se dogter nie.

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Dis heeltemal reg. Sara is Abram se pa se dogter maar hulle het nie dieselfde ma nie. In die tyd van die aartsvaders was dit duidelik nie ʼn probleem nie, wel later.

Outeur: Dr Marius Nel