Jeremia 10

Jeremia 10 – Marius Nel

ʼn Leser vra:

Ek sal graag klaarheid wil hê oor die volgende paar verse in Jeremia 10:2-3. Daar is aan my versoek om weg te doen met die kersboom tydens Adventstyd na aanleiding van wat in Jeremia staan.

As ek dit lees verstaan ek dat daar bedoel word dat n’ afgod uit hout gekerf word en dan versier en aanbid word. Vir my sê dit glad nie dat dit direk verwys na die kersboom nie. Ek verwys ook na die NG leesrooster wat verduidelik dat die kersboom wel Bybelse betekenis het – boom van die lewe ens. Ek wil graag die waarheid ken en word tans “geïntimideer” deur familie wat voel dis verkeerd. Ek wil nie hulle in moeilike posisie plaas as hulle by ons kom Kersfees vier nie, maar ek wil ook graag vir hulle kan verduidelik indien hulle voel ons is verkeerd. As ek verkeerd is sal ek dit so aanvaar. Ek probeer om my lewe te bou op die Skrif/Woord van God en ek vind dit moeilik om die hele kersboom so ʼn GROOT ISSUE te maak. Vir my gaan dit oor BAIE meer as die kersboom = dit gaan oor JESUS! Maar ek wil nie mense affronteer nie.

 

Hier is die verse uit Jeremia 10:2 – 6 waarna die leser verwys:

2So sê die Here: Moenie die gewoontes van die heidennasies aanleer nie.

Moenie bang wees vir die tekens aan die hemel nie, want dit is die heidennasies wat daarvoor bang is.

3Hulle voorskrif om ‘n god te kry, is sinloos:

hulle kap ‘n boom in die bos af, ‘n ambagsman kerf dit uit met ‘n beitel,

4hy versier dit met silwer en goud, met hamer en spyker slaan hy dit vas dat dit nie omkantel nie.

5Sulke gode kan net so min praat as ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommerland; hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle het geen mag om goed of kwaad te doen nie.

 

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jy lees Jeremia heeltemal korrek. Dit gaan oor afgode en hulle nutteloosheid – iemand moet die afgod maak en dan met spykers vaskap sodat dit nie in die wind omwaai nie. En dan buig mense voor dié beeld en aanbid dit!

As strydgeskrif teen afgode het dit niks met ná-Christus Kersbome of vierings te make nie.

En deur die eeue het Christene die Kersboom ʼn betekenis gegee wat hulle Kersvierings sinvol gemaak het. Daarom meen ek kan jy met vrede die Kersboom hou, solank jy vir die kinders vertel waaroor dit gaan – die geboorte van Jesus, die Verlosser van die wêreld.

Kyk ook na die volgende artikeltjie.

 

KERSFEES VIR CHRISTENE?

Meeste Christene weet vandag dat Kersfees aanvanklik ʼn heidense gebruik was wat in die vierde eeu deur die kerk oorgeneem is om die geboorte van Christus te vier. Die vroegste kerk het nie sy geboortedag herdenk nie. En Hy sou ook nie in die middel van die koue Midde-Oosterse winter gebore gewees het nie – herders het dan nie in die oop veld gebly nie.

Die kerk het ook talle ander heidense gebruike oorgeneem en verchristelik. Trouens, baie van wat vandag die wese van die kerk vorm, het so uit die omringende wêreld in die kerk tereggekom.

Beteken dit dan dat Christene nie Kersfees moet of mag vier nie? Ek meen nie so nie. Want Kersfees het deur die eeue ʼn Christelike betekenis gekry met ʼn enorme impak op die wêreld. Trouens, dis een van die min Christelike feesdae wat die hele wêreld as’t ware tot stilstand kom.

Wat krities belangrik is, is dat ons kinders elke jaar opnuut sal hoor waaroor Kersfees gaan – ons geskenke is ʼn dowwe weerspieëling van God se geskenk as Hy sy Seun aan dié wêreld oorlewer.

Moet ons nie eerder die Joodse feeste begin vier nie? Dis immers in die Ou Testament? Die vroegste Christelike kerk het dit waarskynlik slegs gevier terwyl die meerderheid lidmate Jode was. Die Christelike kerk uit die heidendom het dit nooit gevier nie, en met reg: die wetgewing van die Ou Testament is in Christus vervul en die oesfeeste van die Ou Testament het verander na die verwagting van ewige rus en saligheid.

Outeur: Dr Marius Nel

 




Kersfees – Brief Navraag

Kersfees – Brief Navraag – Jan van der Watt

ʼn Leser skryf dat sy die volgende e-pos van ʼn goeie vriendin ontvang het. Sy skryf: “Wil jy dit nie asb deurlees, en vir my kommentaar daarop lewer nie.  Ek is verward, maar wil regtig die HERE dien, ek kan nie regtig fout vind met ons gebruik van Kersfees nie. HELP.!!!! Ek wil weet asb.

Hier volg die e-pos wat sy ontvang het:

Liewe familie en vriende,

Lees asb die 2 aanhangsels met aandag deur, dis belangrik en as jy werklik die WAARHEID wil ken en God wil behaag sal jy tog wil seker maak dat jy die regte goed doen.  Die skokkendste is die besef dat ons Bybel kennis nie naastenby kan opweeg teen ons sport, skinder en “celebrity” kennis nie.

Daar is ʼn paar tradisies wat ons volg wat ons nie lekker weet hoekom ons dit doen nie.  Ons doen dit uit gewoonte sonder om die oorsprong of agtergrond daarvan te ken. In ons geval het ons net die stroom gevolg bloot omdat dit minder moeite was en dis tog wat “almal” doen!

As ons mooi die verhaal gaan lees van die goue kalf sal ons sien dat die volk dit as ʼn feesdag vir die Vader uitgeroep het, maar die Vader het nooit vir hulle gesê om dit te doen nie.  Dis wat nog steeds gedoen word vandag, ons glo dis wat ons moet doen, want dit klink goed, voel goed. Die vraag is, is dit wat ons gevra is om te doen??  Met al die navorsing wat al gedoen  is  oor die onderwerp, is daar NIKS wat in die Skrif sê, dis hoe ons dit moet doen nie!  In teendeel kry jy die teenoorgestelde!

“Ek weet dat dit ʼn krieweling in jou veroorsaak en jou ongemaklik kan laat voel, maar asseblief gaan ondersoek dit en gaan vind self uit wat die waarheid is. Onthou ʼn tradisie is een van die moeilikste goed om as verkeerd te aanvaar en hoe ouer ʼn mens is hoe moeiliker raak dit, want die tradisie is in jou wese vasgelê. “

Elke daad moet tog gaan oor ons Vader en Sy Seun wat alle EER en LOF toe kom!  Daarom het ons elke aspek van Kersfees gaan meet teen God se Woord en het skaam gekry oor ons onkunde.

Vir ons was dit verskriklik moeilik om die besluit te neem om nie hierdie fees te vier wat nie deur die Woord van God beveel word nie.  Dit kan dalk konflik veroorsaak, maar ons voel tog dat die tyd verby is om kompromieë aan te gaan.  ‘n Mens hou nooit op groei in sy verhouding met God nie, daarom voel ons ook sterk daaroor om al die praktyke, feeste ens in diepte te ondersoek na aanleiding van die Skrif, sodat ons met sekerheid kan weet dat ons nie bloot tradisies navolg nie, maar wel ons Een en Enigste se voorskrifte.

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons het ʼn vraag gekry oor Kersfees: die vraag raak drie sake aan wat kortliks hier opgesom gaan word:

a)            dat Kersfees nie ‘n Bybelse fees is nie, maar so 300 jaar later deur Christene begin vier is as fees waartydens die geboorte van Jesus gevier word. Voor dit was dit ‘n heidense fees vir die songod.

b)            dat op grond van die Griekse woord in Johannes 1:14: ‘Jesus het onder ons kom woon’ (tent opgeslaan – of soos die vraag sê ‘tabernacled’) word daar gesuggereer dat ons op die huttefees die geboorte van Jesus moet vier.

c)            Dat om Kersfees te vier beteken om afgode te dien wat sal beteken dat God jou sal straf (en daar word ‘n reeks verse gegee).

 

Eerstens: lees die gedeelte oor die geboortedag van Jesus op www.bybelkennis.co.za. Daar word akkurate gegewens oor Jesus se geboortedag gegee. Daaroor gaan niks meer gesê word nie. Dit is algemeen bekend dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie.

 

Tweedens: die hart van die saak is of Christene Kersfees mag vier, veral omdat dit 1700 jaar gelede die fees van die songod of die lig vervang het. ‘n Paar sake speel hier ‘n rol.

  • Kom ons kyk na die volgende voorbeeld: sê ons as gelowiges loop ‘n groep heidene op ‘n eiland raak wat op Maandae fees hou om een of ander god te dien wat lewe gee en onderhou. Ons vertel hulle van die lewende en ware God wat lewe gee en onderhou en hulle kom tot bekering. Ons kom dan ooreen om op Maandag fees te hou om die ware God te aanbid en ons doen dit juis omdat dit so duidelik sal wys dat die ou gode nie meer ‘n plek het nie. Maandae behoort nou aan die ware, lewende God. Doen ons dan sonde om op Maandae die lewend God te aanbid? Glad nie. Net so is dit met Kersfees. Toe die heidene, wat die son met sy lig (wat omtrent op daardie tyd weer elke dag langer en langer begin skyn het na die donker winter) aanbid het, die ware Lig ontmoet het, het hulle besluit dat hulle graag op daardie dag die ware God wil aanbid om so te wys dat hulle die ware God ken. Die dag was dus nie belangrik nie, maar wie jy op daardie dag aanbid het. Simbolies het dit dus vir die nuwe gelowiges baie beteken om juis op daardie dag te wys dat hulle nie meer afgode nie, maar die ware God, Jesus, aanbid. Dit is dus baie jammer dat party mense die afgode nou weer op ‘n manier op die dag wil insleep.
  • Ons moet ook die rede onthou waarom die Christendom so iets van die heidendom kan ‘terugvat’. Die Christendom is ‘n oorwinnende godsdiens, omdat ons die ware God aanbid. As heidene nou stukke van God se skepping kom vat en dit kamma vir ander gode toesê, moet die Christene dan terugdeins en sê ons gebruik dit nie meer nie, want die heidene doen dit? Byvoorbeeld, moet ons nie lig (kerse) gebruik nie omdat heidene dit gebruik? Mag ons nie ‘n boom gebruik om God se lewe en versorging te illustreer nie omdat heidene dit ook doen? NEE, Christene moet ‘versoening’ in die wêreld bring (Kolossense 1:20) deur alles weer ‘in balans’ te bring, met ander woorde, om weer dit wat die heidene ‘gesteel’ het van God terug te vat en goeie betekenis daaraan te gee. As die heidene dan 25 Desember (wat die draai van die seisoene en lig vier) en dit vir ‘n god wat nie bestaan nie gee, waarom kan die Christene nie die dag terugvat en sê dat die werklike lig juis Jesus is nie. So sou en het die werklike boodskap baie duidelik by die heidene ook uitgekom. Die mentaliteit om vir alles weg te hardloop maak die Christendom wat dit nie is nie – ‘n swak godsdiens wat nie teenoor die afgode kan opstaan en terug kan vat wat aan dit behoort nie. Dit geld ook vir dinge soos die kersboom. Die ou Europeërs het die bome gesien as tekens van lewe en het sekere bome ook aanbid. Toe die sendelinge daardie heidendom ingetrek het, het hulle juis die bome afgekap om te wys dat die heidense gode magteloos is. In een geval het daar ‘n jong immergroen boom naby die afgekapte boom gestaan en die vroeë sendeling het toe gesê dat Jesus die een is wat immergroen is en ewig leef. Van toe af is die boom deur daardie mense as simbool van Jesus se ewige lewe en versorging gesien. Dit het vir hulle ‘n nuwe simbool geword met nuwe betekenis. Weer gaan dit nie om die simbool (die boom) nie, maar wat die simbool beteken. Daardie simbool lei hulle nou na aanbidding van Jesus toe en dit kan tog nie verkeerd wees nie. Waarom nou die ou gode bysleep?
  • Die verwysings in die Ou Testament dat God almal wat afgode dien, sal straf, geld nie vir Kersfees of vir iets soos die kersboom nie, NIE as dit ons help om Jesus as die ewige lig, die ewige lewegewer wat ook ons vir altyd in ons geloof immergroen sal hou beter te eer nie. Ons dien dan mos nie valse gode nie. Waarom sal God ons dan wil straf? Dit is net as ons die boom of 25 Desember gebruik om valse gode (die son of die ou god Thor) te aanbid dat God ons sal straf. Om dit eenvoudig te stel: die hangertjie met die kruisie om my nek maak my nie ‘n Christen nie. Dit is wat die simbool vir my beteken – WIE ek aanbid. Dus nie die simbool (kruisie) is so belangrik nie, maar wat agter die kruisie staan. Nie die simbool (25 Desember of die kersboom) is so belangrik nie, maar WIE vir my daaragter staan. As dit die lewende God is, waarom sal God met ons ongelukkig wees? Die 25 Desember behoort in alle geval aan hom soos al die ander dae en die bome soos al die ander bome.
  • Ons moet dus seker maak dat wat ons op Kersfees doen en die simbole wat ons gebruik, ons die lewende God helderder moet laat sien. Dan maak Kersfees en alles wat daarmee saamgaan regtig sin.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Verskillende Godsdiensoortuigings

Verskillende Godsdiensoortuigings – Prof Pieter Verster

‘n Leser vra:

Hierdie is seker een van die taaiste toffies wat ek nog moes kou.

My skoonma is in bogenoemde kerk, ek en my man is in die Assemblies of God. Ek wil u net n’ agtergrond gee en dan my vraag vra: Sy is gedurig besig om die gelowe op te weeg teenoor mekaar. As u die kerk ken hoef ek seker nie daaroor uit te brei nie. Hulle verskil hemelsbreed van wat ons glo. Sy spreek ook baie “curses” uit veral teenoor my. As sy by ons kuier is daar altyd n’ baklei tussen haar en my man. Sy sê die lelikste goed van my. Ek kan u my woord gee dat as Christen behandel ek haar soos daar van my verwag word. Soms praat my man nie met haar vir solank as n’ jaar nie. Ek is altyd die een wat hom aanmoedig om sy ma te bel. Sy het nou onlangs weer moeilikheid veroorsaak in ons huis. My vraag is nou: Moet ek nou maar net elke keer haar vergewe.(let wel volgens haar doen sy nooit iets verkeerd en sy vra ook nie vergifnis nie) Aangaan asof niks verkeerd is nie. Ek het al vir haar ʼn brief geskryf waarin ek alles uitspel. God sê dat ons moet wegbly van sulke mense. God haat moeilikheidmakers. Wat staan my te doen? My man weier om weer met haar te praat. Hy sê sy doen dit al haar lewe lank en dis om moeilikheid te maak in sy en sy broer se huis. Ek is raadop!

 

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Die vraag hoe ʼn mens moet optree wanneer daar groot spanning  deur ʼn bepaalde persoon of persone gebring word wat ook ʼn godsdienstige  oortuiging huldig wat teenstrydig met jou oortuigings  en uitgangspunte  is, is van groot belang. Daar kan situasies ontwikkel wat net eenvoudig nie langer verduur kan word nie. Gesinslewe en huwelike word soms bedreig. Sommige genootskappe se aanhangers sê en doen vreemde dinge en die gevolge daarvan skep dikwels groot probleme. Moet ʼn  mens nou maar bly vergewe en die minste bly selfs tot groot skade van jou en  jou gesin? Die Bybel laat geen twyfel daaroor dat ʼn mens moet vergewe nie – tot sewentig maal sewe keer – maar daardie vergifnis word  binne die ruimte van die broeder-  en susterskap van die geloof gestel. Daar kan gevalle wees wanneer die gesonde geloofslewe van ʼn gesin en gemeenskap so deur iemand bedreig word dat ʼn normale verhouding met die persoon net nie meer moontlik is nie. Die liefde eis dan dat ter wille van die eer van die Here, die gesinslewe en die koninkryk van God ʼn mens liewer nie langer met die persoon saam loop nie. 2 Johannes vers 10 verwys na die feit dat ernstige leerverskille wel kan lei tot skeiding van die weë. Wanneer die eer van God dit vereis het, het  Jesus self ook skerp tereggewys en aangedui dat daar skeiding moet kom. Dink maar aan die reiniging van die tempel. Dit sal natuurlik eers gebeur na ernstige gebed en voorbidding, maar daar kan  geleenthede voorkom  waar die heil van die Christelike gemeenskap so bedreig word dat geen verdere pad met die persoon geloop kan word nie. Voorbidding sal dus steeds van groot belang bly, maar die liefde eis ook optrede in die Naam van die Here.

Outeur: Prof Pieter Verster




ʼn Bybelse lewens- en wêreldbeskouing

ʼn Bybelse lewens- en wêreldbeskouing – Jan van der Watt

Adri Barnard vra:

Wat is ʼn Bybelse lewens- en wêreldbeskouing?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die term ‘lewens- en wêreldbeskouing’ verwys na die manier waarop (bril waardeur) jy na die wêreld en die lewe kyk. Kom ons neem ʼn voorbeeld. ʼn Moslem sal deur die bril van Koran na die wêreld kyk en alles in die wêreld daarvolgens verstaan. Sy lewe en die sin van die lewe sal hy in die lig van dit wat in die Koran gesê word, verstaan. Christene sal weer die sin van die lewe, waarom hulle hier op aarde is, hoe hulle hulle teenoor die skepping moet gedra, ens. in die lig van die Bybel en sy boodskap verstaan. As jy dus vir ʼn Christen sou vra: ‘Wat is die sin van jou lewe’, sou hy of sy waarskynlik antwoord: ‘Om tot eer van God te leef’. Waar kom die Christen aan die inligting? Natuurlik leer hy dit uit die Bybel en daarom noem ons dit dan ʼn Bybelse lewensbeskouing. In die Bybelse lewens- en wêreldbeskouing hou ons dus deeglik rekening met God en sy boodskap soos dit in die Bybel aan ons geopenbaar word.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt