Die Doop – Jan van der Watt
ʼn Leser vra:
Ek sit gereeld in ander kerke as die NG Kerk vanweë my belangstelling in die ekumene, en hoor mooi goed, maar ook goed wat ek wonder waar hulle dit vandaan kry! ‘n Kort vraag hieroor: In n preek in ‘n AGS verwante gemeente hoor ek ‘n doop preek wat probeer motiveer waarom die inseëning daar is (waar ouers babas inbring om in die kerk ingeseën te word , in plaas van om gedoop te word), en waarom die groot bekeringsdoop daar is. Dit word soos volg gemotiveer: Jy is aan die begin nie ‘n volwaardige kind nie (nepios) [maar kan darem ingeseën word] en word met die bekeringsdoop nou ‘n volwaardige kind (huios). Die ondersteunende argumente klink soos volg: Ek haal aan: ” Wat gebeur by die doop? Jy neem jou erfenis in besit en beklee jou met die nuwe identiteit (Jy word nou aangeneem as volwaardige Seun “Huios” en is nie meer net ʼn kind “Nepios” nie). Al was jy ʼn erfgenaam van die Nuwe Testament (met ander woorde na Jesus se dood), kan jy met die doop eers ten volle jou erfenis ontvang en gebruik. Net so is Jesus se bediening op aarde eers geloods na hy gedoop is. God het oor Jesus uitgeroep: “Dit is my geliefde Seun (huios).” Galasiërs sê ook dat ‘n kind verskil niks van ʼn dienskneg totdat hy sy erfenis opgeneem het nie. Hierna daag die duiwel juis vir Jesus uit oor sy Seunskap: “As jy dan die Seun (huios) van God is. Galasiërs 3: 24 “But now that the faith has come, we are no longer under a trainer (the guardian of our childhood). For in Christ Jesus you are all sons of God through faith. For as many of you as were baptized into Christ have put on and clothed yourself with Christ. (Beklee jouself met Christus – nuwe identiteit) There is now no distinction, neither Jew nor Greek, there is neither slave nor free, there is not male nor female, for you are all one in Christ Jesus. “
Vraag 1: Ek hoor graag julle reaksie op die nepios/huios interpretasie – kinders nog nie volwaardig deel van die gesin nie. Ek kan nie herroep of daar êrens in die kerkgeskiedenis hierdie koppeling van doopteologie gekoppel aan Joodse inlywing tot mondigwording is nie. Is dit nuut of is dit al ‘n ou gedagte?
2. Skryf asseblief n’ artikel oor die gebruik van inseëning in sekere Pinksterkerke – in plaas van doop. Is dit ‘n nuwe ding of is daar ander voorbeelde in die kerkgeskiedenis? Het dit ontstaan uit die sielkundige behoefte van baie NG mense wat na Pinksterkerke toe oorgegaan het en op ‘n manier gewoond was om hulle kinders te betrek deur die doop? Of uit die debat oor die doop dat mense iets van die polariteit begin verstaan dat jy nie buite die huisgesin van God staan en eers ingesluit word as jy eendag tot bekering kom en jou dan laat doop nie? Is dit ‘n kunsgreep om die polariteit te verklaar met die nepios/huios interpretasie?
Antwoord:
Prof Jan van der Watt antwoord:
Hierdie is natuurlik ʼn moeilike vraag. Die eerste Protestantse martelaar wat deur ander Protestante vir sy geloof doodgemaak is, was iemand wat die groot doop aangehang het. Dit is dus ʼn baie emosionele saak. Ek antwoord net in breë lyne, want daar is reeds heelwat inligting oor die doop op www.bybelkennis.co.za .
Die onderskeid tussen die kinders (uios/nepios) is kunsmatig. As dit gaan oor kind van God of nie, gaan dit nie oor kleiner of groter kinders nie. Jy is of kind van God of nie. Die verwysing na kleiner kinders gaan gewoonlik oor geestelike groei en ʼn ouer persoon kan dus ook kleiner wees as hy agter is in sy spiritualiteit. Die ontvang van die erfnis gebeur ook eers later en lê dus nog in die toekoms (byvoorbeeld 1 Petrus 1:4). Om te sê jy kry jou erfnis by die doop is nie korrek nie. Die voorbeelde wat jy noem is ook tipies van dogmatiese lees van tekste, naamlik om verskillende aspekte van die Bybel saam te voeg ten einde ʼn argument te vorm. As sodanig is die nie verkeerd nie, maar daar moet erken word dat dit eie dogmatiese konstrukte is. Die belangrike is dan hoe daar getoets moet word of dit geldig is of nie: as die kontekste van die gedeeltes wat gemeng word nie almal verband hou met die doop nie, dan het ʼn mens gewoonlik ʼn probleem.
Wat die gedagte van inseën betref. Dit is nie ʼn Bybelse saak nie, maar ʼn dogmatiese konstrukt (Uit gegewens, reëls aflei – HAT). Dit moet as sodanig hanteer word. Dit beteken nie dat dit sonde is of verkeerd is om jou kind in te seën nie. Ons het baie gebruike wat later ontwikkel het en nie noodwendig so uit die Bybel kom nie. Dit maak dit nie verkeerd nie, want daar is baie ander sulke dinge in omloop onder gelowiges wat tot die welwese van die kerk behoort. As dit dus vir gelowiges iets beteken, waarom dit dan probeer wegvat? Ons moet net nie die ideë laat onstaan dat ons hier met die Bybelse wese van die kerk besig is nie.
Outeur: Prof Jan van der Watt