Met hart en siel

Met hart en siel – Francois Malan

Dolf Dreyer vra:

Ons moet God liefhê met ons hele hart, siel en verstand. Wat is die verskil tussen “hart” en “siel”?

Antwoord:
Dr Francois Malan antwoord:

Die liefdesgebod in Markus 12:30,32 lui

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou

hele verstand en met al jou krag

Daarvan het Matteus 22:37 drie genoem:

Hart, siel en verstand

Lukas 10:27 noem al vier: hart, siel, krag, verstand.

 

Jesus gebruik hier Deuteronomium 6:5,6 se:

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou

krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het moet in jou gedagtes (letterlik:

hart) bly.

Wat in die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuaginta) vertaal is as:

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele denke, en met jou hele siel en met al

jou krag. En hierdie woorde, alles wat Ek jou vandag beveel, moet in jou hart en

in jou siel wees.

 

Die Hebreeuse woord ‘hart’ in die Ou Testament het baie betekenisse: die fisiese hart, die setel van jou lewenskrag, die setel van jou emosies, jou geneigdheid, jou wil of bedoeling, jou verstand, jou hele denke, jou gewete, jou lewe.

Die Griekse woord vir ‘hart’ in die Nuwe Testament word slegs figuurlik gebruik vir die bron van jou innerlike lewe, jou denke.

Die Hebreeuse woord vir ‘siel’ in die Ou Testament se betekenisse is o.a. die letterlike keel, asem, jou lewe, jou persoon, jou persoonlikheid, ʼn mens,  jou emosies soos jou verlange, jou buie, jou wil.

Die Griekse woord vir ‘siel’ in die Nuwe Testament dui jou binneste aan: denke, gedagtes, gevoelens, wese; jou lewe, jou persoon.

Die betekenisse van die twee woorde ‘hart’ en ‘siel’ loop oormekaar. Terwyl ‘hart’ die bron van die denke en gesindheid van die mens beklemtoon, lê die klem met ‘siel’ miskien meer op die uitwerking daarvan op jou persoon en jou lewe. ‘Al jou kragte’ verwys dan meer na jou toepassing daarvan in jou optrede en dade. Maar die liefdesgebod wil eintlik onderstreep dat jy, die hele mens, met al wat jy is en het, die Here moet liefhê.

In Handelinge 4:32 word gesê: die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed vir net homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.

Met ‘hart en siel’ word die eengesindheid van die gelowiges uitgedruk, dit wat jou lewenswyse bepaal.

Outeur: Dr Francois Malan




Is God net in my stiltetyd teenwoordig?

 

Is God net in my stiltetyd teenwoordig?

 

Vraag:

Johan Botha vra:

Is dit waar dat God ons slegs in ons stiltetyd ontmoet en nie in die wind, storms, aardbewings, ens nie? Met ander woorde: Ontmoet God ons nie in ons daaglikse lewensstryd nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

God is oral en altyd daar. Om jou vraag dus in die regte perspektief te stel moet ons kyk na hoe God by ons is. Hy sê dat Hy deur sy Gees in elke gelowige woon. Jy kan maar Johannes 14-17 of 1 Korintiërs 3 of 6 gaan lees waar die Bybel sê dat die Gees van die waarheid na die gelowiges toe gekom het om hulle by te staan en te lei, of dat gelowiges ‘tempels van God’ is, met ander woorde, dat God se Gees in elkeen van ons woon.

Wat beteken dit nou? Dit beteken dat God altyd en oral by ons, ja, in ons is. Daar is nie oomblikke in die dag dat God se Gees skielik besluit om ons te verlaat nie. As jy ʼn gelowige is, kan jy seker wees dat God dus altyd by jou is.

Maar daar is nog ʼn faset van die vraag wat ons moet onthou. Jy staan in ʼn verhouding met die Gees. Die Gees word byvoorbeeld in Johannes as Persoon beskryf. Neem nou die verhouding tussen ʼn man en vrou. Hulle is nie altyd ewe gelukkig nie, sit nie altyd net in die kerslig en eet saam met mooi musiek nie, maar soms voel hulle tog baie nader aan mekaar as ander tye. Dit is hoe verhoudings werk, soos golwe – soms gaan dit beter, soms nie, soms voel (en is) ons nader aan mekaar en soms nie. So werk ons verhouding met God ook. Stiltetye is daardie tye in die dag waar ons graag alleen met God wil wees en waar niemand ons moet pla nie. Daar versterk ons ons verhouding met God (soos ons ook gereeld lekker met ons vrou of man of kinders of vriende moet gesels – ons moet tyd daarvoor maak). Met krisisse en in die lewenstryd is God net so daar, maar dan beleef ons Hom miskien anders. Dit is soos met ʼn ongeluk of ʼn siekbed – my vrou sal daar wees, maar op ʼn ander manier. Net so is God by jou, maar op ʼn ander manier. Miskien voel jy in jou lewenstryd dat God miskien nie so naby is nie, maar Hy is daar. Jy moet dan maar net jou geloofsoog draai en jy sal Hom sien. Op sulke tye moet jy styf aan Hom – doodgewoon die wete dat Hy daar is – vashou.

Die interessante is dat as ons na die Bybel kyk het God op baie verskillende tye en baie verskillende maniere na mense toe gekom. Elia het God in die sagte wind ervaar, in ander gevalle kom God in ‘aardbewings’, in ander gevalle deur sy Seun aan die kruis. Dit hang dikwels van die situasie af en God ken die situasie. Daarom kom Hy na ons toe op die manier wat die beste vir ons situasie is. Ons moet net ons oë oopmaak en kyk – ons sal Hom sien.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Sondebelydenis

Vraag:

Elma Viljoen vra:

SONDEBELYDENIS. Ek wil graag weet of dit nodig/verpligtend is, volgens die Woord, om jou sondes te bely voor vreemdes of bekendes soos byvoorbeeld Selgroepkennisse, of is dit genoegsaam om dit ‘n saak tussen jou en God reg te maak. Sal jy volkome vry wees as jy dit teenoor God bely of teenoor vriende of kennisse en dan saam daaroor te bid?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag illustreer ʼn baie belangrike punt van Bybellees. Laat ons begin om te sê dat sondebelydenis onontbeerlik vir ʼn gelowige is. Lees wat daar elders op die webblad daaroor staan. Dit gaan oor die regstel en reg hou van my verhouding met die Here en met sy mense. Dit is dus soos God se medisyne vir my verhouding met Hom.

Nou die vraag of ek dit voor my selgroep en vriende moet doen. In die tyd toe Jesus geleef het, was die groep (familie, selfs dorp) baie belangriker as die individu. Die families het ook nie so privaat van mekaar geleef soos ons nie en het eintlik omtrent alles van mekaar geweet. (Dink aan klein plattelandse dorpies). In so ʼn noue klein samelewing was verhoudings natuurlik baie belangrik, want die mense het elke dag saam met mekaar geleef en in mekaar vasgeloop (hulle het ook wat ons noem ‘uitgebreide families’ gehad wat nie net jou bloedfamilie ingesluit het nie, maar ook jou werkers en vriende). As daar dus spanning tussen twee mense gekom het, moes dit dadelik uitgeskakel gewees het, sodat die verhoudings weer normaal kon wees. Die hele groep het gewoonlik van die spanning tussen twee geweet en almal is dus geaffekteer. Om alles in die groep weer reg te kry, moes die saak voor almal opgelos word. Hulle het dit nie as negatief beleef of as kritiek teen die persoon wat die fout gemaak het en nou bely nie. Nee, hulle het dit gesien soos ʼn sieke wat dokter toe gaan. Almal help saam om hom of haar weer gesond te kry. As die saak dan opgelos is en die verhoudings is herstel, gaan almal doodgelukkig aan met die lewe. So werk dit ook met ons verhouding met God – ons moet ons verhouding met Hom gedurig suiwer hou.

Kom ons egter na vandag toe, is daar ʼn groot verskil. Ons leef baie meer individueel en alleen, hoewel ons vriende het. Ons ken nie meer almal in die dorp of stad nie. Ons hele sosiale opset en verwagtinge is anders as wat dit in die Bybelse tyd was. Nou moet ons vra: as ek nou baie persoonlike sake met mense bespreek, hoe ervaar hulle dit en wat gebeur daarna? Ons mense beleef dit nie meer vandag soos in die verlede as die groepie wat gesond gemaak word nie. Juis daarom veroorsaak die uitpratery meer moeilikheid as wat dit oplos. Ons is nie meer gewoond aan ‘openbare belydenisse’ nie en nêrens doen ʼn mens dit nie. Jy kan soms in so situasie dinge sê wat jou baie kan blootstel, veral aan mense wat jou nie heeltemal goedgesind is nie. Dit word altyd later as ‘ammunisie’ teen jou gebruik. Boonop raak mense soms nog kwater vir mekaar in die proses en die slegste is dat ʼn mens dit wat jy sê nie daarna kan ‘beheer’ nie. Mense praat en skinder daaroor en op die ou einde ly jy nog meer skade.

Dus: wees BAIE versigtig met uitpratery. Voor jy dit doen, dink tweemaal. Dit beteken egter nie dat jy alles in jou vermoë moet doen om jou verhoudinge en veral die verhouding met God so normaal en goed as moontlik moet hou nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Ter helle neergedaal – was Jesus in die hel?

Ter helle neergedaal – was Jesus in die hel? – Fanie Rudolph

Inleiding:

Ons bely elke Sondag dat ons glo in Jesus wat “ter helle neergedaal” het.  Wat sê ons hiermee?  Was Jesus regtig in die hel?

Ter helle neergedaal:

Die woorde “ter helle neergedaal” wat ons Sondae as deel van ons geloofsbelydenis herhaal, kom self nie in die Bybel voor ten opsigte van Jesus nie.  Jesus het wel “helse smarte” gely.  Sy hele lydensweg word hierin opgesom (vgl. Jesaja 53:5; Matteus 26:38; Hebreërs 5:7).  Die diepte van sy lyding was die Godverlatenheid wat Hy op Golgota beleef het (Matteus 27:46).  Om geen toegang tot God te hê nie, is ‘n ervaring van die hel.  Jesus het hierdie lyding namens ons verduur, sodat ons daarvan bevry kan word.  Dit was sy volkome offer om ons met God te versoen (2 Korintiërs 5:21).

Die algemene denke was dit iemand wat sterf, se siel na die doderyk toe gaan.  Daar wag dit dan op die oordeelsdag.  Ons lees veral oor hierdie lyding in die hel by die boek Henog.  Die Nuwe Testament skrywers, en veral Johannes in Openbaring, bring egter die gedagte na vore dat gelowiges by God in die hemel is, en nie in die doderyk wag nie (vgl. Openbaring 6:9-11; 20:1-6).  Die ongelowiges word by die wederkoms “opgewek” vir die oordeel (Openbaring 20:11-15).  Daarna word hulle in die hel gegooi (Openbaring 20:15).

Was Jesus in die hel?

Daar is geen bewyse vanuit die Bybel dat Jesus regtig in die hel was nie.  Die Bybel sê slegs dat Jesus dood was, en dat Hy vir drie dae in die graf was.  Wat met sy gees in daardie tyd gebeur het, is die Bybel stil oor.  Daar was wel ‘n gevoel dat ‘n mens se siel vir drie dae na jou dood by die liggaam gebly het, waarna dit die liggaam verlaat het en na die doderyk gegaan het.  In die lig hiervan is dit duidelik dat niemand rondom Jesus verwag het dat Hy êrens anders as in die graf was nie.

Die Bybel maak geen verklaring oor waar Jesus na sy dood was nie.  Die algemene afleiding onder mense in Jesus se tyd sou wees dat Hy in die doderyk was.  Dit is egter nie vir die skrywers van die Nuwe Testament ter sake nie.  Wat belangriker was, is om te weet dat die dood Hom nie kon vashou nie.  Hy het dan die sleutels van die dood en die doderyk (Openbaring 1:18).  Deur self deur die dood (en die doderyk) te gaan, het Hy vir ons ‘n deurgang bewerk.  Die dood kan ons ook nie meer vashou nie, want Jesus sluit die deur na die lewe vir ons oop.

Wat van 1 Petrus 3:19?

Hierdie vers word deur baie mense aangegee as bewys dat Jesus in die hel was.  Tog was die teks nie aanvanklik so verstaan nie.  As ‘n mens 1 Petrus 3:18-22 chronologies lees, vind jy dat vers 19 volg na Jesus se sterwe en opstanding.  Sy preek is dus nie in die hel gelewer nie, maar aan mense wat gesterf het, wie “in die gevangenis” was.  Die gevangenis verwys moontlik na die doderyk.  In vers 20-21 word hierdie preek in verband gebring met Noag se preek voor die sondvloed.  Dit wil voorkom asof die mense in die gevangenis die mense is wat nie na Noag wou luister nie (vgl. vers 20).  Sommige verklaarders reken selfs dat Jesus se Gees deur Noag met die mense in die gevangenis praat.  Vers 19 stel dit egter duidelik dat Christus self sy oorwinning aangekondig het.  En aangesien Jesus waarskynlik die preek na sy opstanding lewer, vind dit nie plaas terwyl Hy in die graf is nie.  Sy tyd in die graf was bloot om sy oorwinning oor die dood en die doderyk te verklaar.

Vir hulle wat nie gehoorsaam was nie, bring Christus dan die boodskap van sy oorwinning (vgl. vers 19).  Hierdie is nie ‘n bekeringsboodskap nie.  In die doderyk is bekend gemaak dat daar verlossing en oorwinning is vir dié wat geglo het, en veroordeling vir hulle wat nie wou glo nie.  Die kern van 1 Petrus 3:18-21 is die verlossing en hoop omdat Christus oorwin het.

Gevolgtrekking:

Die Bybel sê nie vir ons of Jesus in die hel was of nie.  Dit is eintlik nie ter sake nie.  Ons kan aanvaar dat Jesus nie daarnatoe hoef te gegaan het nie.  Die oorwinning oor die duiwel het nie in die hel plaasgevind nie, maar in die hemel en aan die kruis (Openbaring 12:7-12).  Die “ter helle neergedaal” wat ons bely, verwys na die “helse smarte” wat Jesus tydens sy lyding moes deurmaak, so erg dat Hy geheel en al van God verlate gevoel het (Matteus 27:46).

Outeur: Dr Fanie Rudolph