Wat gebeur na die dood?(1)

Wat gebeur na die doood?(1) – Fanie Rudolph

1. Inleiding:
Wat met ons gebeur na die dood, is dalk net so ‘n geheimenis as wat die uitverkiesing is (vgl. 1 Korintiërs 15:51).

Daar is dinge rondom die dood, en wat daarna gebeur, wat ons nie kan weet nie. Dit is eenvoudig bo ons mense se verstaan. Tog gee die Bybel vir ons in ‘n paar tekste insig oor wat gebeur na die dood. Dit is geensins detail beskrywings nie, en is ook nie bedoel om te wees nie. Hierdie inligting moet telkens gesien word as troos vir gelowiges. Dit is hoekom dit gegee is. Verder moet in gedagte gehou word dat gelowiges in die vroeë kerk Jesus se wederkoms baie gou verwag het, en dus in daardie lig na die opstanding gekyk het.

2. 1 Korintiërs 15:
Hierdie teks ontvou in drie dele: Jesus se liggaamlike opstanding bevestig (vers 1-11), Jesus se opstanding beteken ons sal ook liggaamlik opstaan (vers 12-34), gesprek oor die liggaam met opstanding (vers 35-58). Vir Paulus is daar geen twyfel nie dat Jesus werklik liggaamlik opgestaan het nie. Vir gelowiges is daar dus ook ‘n opstanding wat wag. Volgens vers 23-24 gaan hierdie opstanding plaasvind met die wederkoms. Die vraag is: wat gebeur in die tussentyd. Op ander plekke gee Paulus skynbaar teenstrydige antwoorde op hierdie vraag. Hier handel hy bloot met die feit dat ons wel sal opstaan, en dan ook in ‘n nuwe, verheerlikte liggaam. Paulus vergelyk dit met saad wat in die grond gesit word (ons dood), en wat dan weer (met dieselfde saad) in ‘n nuwe liggaam opstaan (opstanding).

3. Filippense 1:23:
Een interpretasie is dat ons direk na ons dood by Jesus sal wees. Paulus het beslis hierdie hoop as hy aan die gemeente in Filippi skryf. Hy verwag beslis nie om ‘n klompie jare in die graf dood te wees alvorens hy by Christus kom nie. Anders sou daar by hom sekerlik nie die wens gewees het om vinniger dood te gaan nie. Filippense 1:23 impliseer dat gelowiges vir seker direk na hulle dood in die hemel sal wees. Hierdie gedagte word ook sterk ondersteun deur Johannes in Openbaring, wanneer hy die gestorwe gelowiges telkens by God sien. Wanneer Jesus die gelykenis van die ryk man en Lasarus vertel (Lukas 16:19-31), impliseer Hy ook dat gelowiges direk na hulle dood by God is. Hulle is ook herkenbaar, aangesien die ryk man vir Lasarus en Abraham herken. Dit mag wees dat Paulus, in die lig van sy volgorde in 1 Korintiërs 15, verwag om in die gees by Christus te wees. Die liggaamlike opstanding kom dan later, wanneer weer liggaam en gees herenig sal word. As ons direk na ons dood by Christus gaan wees, maak dit eintlik nie saak of dit met of sonder die liggaam is nie. Die belangrikste is die boodskap: ons gaan deel hê aan die ewige lewe saam met Christus, van direk na ons dood af.

4. 1 Tessalonisense 4:13-18:
Dit wil voorkom asof Paulus homself hier weerspreek (in kontradiksie met Filippense 1:23). Dit wil lyk asof ons na ons dood, en tot met die wederkoms, in die graf sal wees. Hier sal ons moet wag tot die wederkoms. Dan sal ons opgewek word uit die dood, en saam met al die ander gelowiges voor God verskyn. Ons moet egter hierdie teks eerstens lees teen die agtergrond waarvoor dit geskryf is. Gelowiges het bekommerd geraak omdat hulle medegelowiges gesterf het. Gaan hulle dan ‘n agterstand hê met die wederkoms? Nee, sê Paulus. Hulle gaan net soveel in die heerlikheid deel as gelowiges wat dan nog sal lewe. Paulus troos dus gelowiges dat, sou hulle sterf voor die wederkoms, hulle steeds deel sal hê aan die heerlikheid van die hemel. Oor die “tussentyd” spreek hierdie teks hom eintlik nie uit nie. As ons egter Paulus se teologie in Filippense 1:23 in ag neem, kan ons aanneem dat Paulus ook veronderstel dat gelowiges wat sterf in een of ander vorm (geestelik of in liggaam) by God sal wees tot met die wederkoms. Wanneer Christus dan kom, sal hulle dus nie agterweë gelaat wees nie, want hulle is eintlik reeds by Hom.

5. Gevolgtrekking:
Alhoewel die tekste oor wat na die dood gebeur, nie detail inligting gee nie, gee dit ons tog die hoop van ‘n lewe by God. En as Paulus in Filippense 1:23 wens om by Jesus te wees, is dit bedoel vir die onmiddellike. Ons kan dus seker wees dat ons, of dit nou liggaam of gees is, direk na ons dood by God sal wees. Die moontlikheid dat ons ook in liggaam by God sal wees, word veral in Openbaring belig. Hierdie moontlikheid word in ‘n volgende artikel bespreek. Miskien is dit net nodig om in gedagte te hou dat ons nie ons beperkte tydraamwerk met God se ewigheidsraamwerk probeer vergelyk nie. Dan sal ons nie so oor ons voete val om hierdie dinge uit te werk nie.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




Verhoudings teenoor reëls; ander se menings teenoor verhouding met God

Verhoudings teenoor reëls; ander se menings teenoor verhouding met God – Jan van der Watt

Izak du Plessis vra:

Ek lees verskeie stukke hier raak aangaande “kerk” en Sondag of Sabbat. My kwessie is egter die feit dat ek van mening is dat ons die punt mis. Jou teologiese agtergrond, denominale verwantskap of persoonlike ervarings, is soms die faktore wat jou dryf tot ‘n spesifieke oortuiging. Ons hang grotendeels oortuigings aan van ander mense en daardeur het ons nie ons eie unieke verhoudings met God nie. Bewyse hiervan is vrae soos die oor vryery, Sabbat of Sondag byeenkomste, Kerk toe gaan of huisgemeentes, selfs aspekte soos kleredrag. Ons is so geneig om mense van wette te oortuig dat verhoudings daardeur skade kry. Ons moet ophou om denominasies en teoloë se oortuigings te vra en ons moet konsentreer op die Een wat nou in my woonagtig is – die Heilige Gees, en daardeur vir ieder en elke skepsel van God hier op aarde die liefde demonstreer wat alle verstand te bowe gaan. Jammer as hierdie nie die forum is om aspekte soos hierdie genoem mag word nie, maar iemand kan my dalk reghelp daarmee. Die vraag moet egter bly – “Waarvan is ek oortuig deur die Gees van God wat in my woon?”

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die volgende twee punte kom in sy brief na vore en gaan aandag kry:

a)      Die belang van verhoudings bo reëls

b)      Die aanhang van ander se opinies wat hy dan teenoor die verhouding met God stel.

Izak is 100% reg wanneer hy sê dat die kern van Christenskap oor verhoudings gaan. In die eerste plek gaan dit oor ‘n liefdevolle God was sy verhouding met mense wil herstel. Dit is wat geloof doen: dit wil ons hand in die hand van God sit. Omtrent alle beskrywings wat gebruik word om die redding van mense mee uit te druk gaan oor die herstel van die verhouding tussen God en mens, bv. om regverdig te word, is om in die hof van al jou skuld vrygespreek te word, die skuld wat jou gekeer het om in God se teenwoordigheid te kom; of om losgekoop te word – jy word uit die mag van die sonde gekoop sodat jy vry saam met God kan wees; weergeboorte – jy word weer gebore om as kind van God te kan leef, ens. Met sondebelydenis laat God jou nie vir elke sonde betaal nie, maar vra dat jy jou verhouding met Hom sal herstel, met ander woorde, dat jy ʼn goeie kind van Hom sal bly deur die verkeerde dinge vaarwel toe te roep. Dit gaan oor verhoudings, en nie net teenoor God nie, maar ook teenoor jou naaste. Jy moet jou naaste so liefhê soos jy vir God het. Die belangrikste is om goeie verhoudings met jou naaste te bly handhaaf.

Oor Izak se tweede onderskeiding, naamlik tussen die opinies van ander en die verhouding met God, moet ietsie meer gesê word. In die Christendom kan kennis nie van verhoudings geskei word nie. In die Nuwe Testament word geestelike volwassenheid (wat volwasse verhoudings met God en jou naaste insluit) altyd aan die regte kennis gebind. Immers, jy moet gedurig besluite neem en dit moet die regte besluite wees. Hoe gaan jy die regte besluite neem as jy nie die kennis het om te weet wat reg of verkeerd is nie (m.a.w. wat God eintlik van jou verwag nie)? Verhoudings bou dus op die manier op kennis. Ons verhouding met God groei as ons weet hoe om Hom tevrede te stel en wat sy wil is. Kolossense 1:8-12 beklemtoon juis dat hoe meer ons weet hoe beter gaan ons leef en hoe meer ons van God se wil in die lewe leer ken hoe, meer gaan ons van Hom self leer ken. Die twee dinge hang saam.

Nou is die vraag of ons na die idees van ander moet luister. Eers moet gesê word dat ons eintlik net na God moet luister, maar God se wil kom (ook) deur ander na ons toe. In die eerste plek hoor ons God se woorde in die Woord van God. Ons kan dus maar gerus luister na wat mense daaroor sê. Maar dan moet ook gesê word dat ons met goeie onderskeiding moet luister. Ons moet nie sommer alles vir soetkoek opvreet nie (1 Johannes 4:1-2). Ons moet dus die opinies van ander weeg aan die Woord. Dit beteken dus dat ons nooit mag dink ons weet alles of dat net ons reg is nie. Waarheid word gewoonlik saam ontdek. Die saam sluit ook die miljoene Christene in wat voor ons die pad van Christenskap gestap het (ons noem dit die Christelike tradisie). Hulle het ook met die Woord en die vrae van die lewe geworstel. Ons kan baie by hulle leer, al was hulle partymaal heeltemal verkeerd. Dan kan ons ten minste uit hulle foute leer en nie dieselfde foute maak nie.

Ons moet ook versigtig wees om nie te vinnig te sê dat ons net op die Gees staatmaak nie. Natuurlik is die Gees die Een wat in ons werk en getuig, maar die Gees getuig nooit anders as wat Jesus getuig het nie. Sy boodskap sal altyd met die boodskap van Jesus ooreenstem. En as ons nie weet wat Jesus sê nie (die Woord leer nie), hoe kan ons weet of dit die Gees is wat met ons praat. In 1 Johannes 4:1-2 sê Johannes dat ons maklik ‘n valse gees (of selfs ons eie gees) met die ware Gees kan verwar. Die manier om die verwarring teen te werk en seker te maak dat dit die Gees is wat werk, is om dit met die boodskap van Jesus te vergelyk. Daarvoor het ons kennis nodig, asook die insig wat ander ons kan gee.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Is daar vlakke in die hemel?

Is daar vlakke in die hemel? – Jan van der Watt

Esther vra:

Is daar verskillende vlakke in die hemel waar die afgestorwenes hulle bevind?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Niemand was nog regtig in die ‘hemel’ nie. (Kyk by die ander artikels wat regtig met die ‘hemel’ bedoel word). Daarom kan ons ons nie voorstel hoe dit daar lyk nie. Openbaring 21 gebruik ‘n beeld van ‘n wonderlike stad van edelgesteentes en goud waar alles in oorvloed bestaan. Dit is die plek waar God self is en dit is die wonderlikste van alles.

Nou is die vraag of daar verskillende ‘vlakke’ in die hemel is waar die dooies hulle bevind? Daar was in daardie tyd die ideë dat daar sewe hemele is (Paulus praat van 3 hemele – 2 Korintiërs 12:2).  Die ideë wat daar agter lê kan ‘n mens vergelyk met ‘n groot paleis. Daar is die troonkamer (Openbaring 4) waar die Koning sy gaste ontvang, maar hoe dieper ‘n mens in die paleis ingaan hoe meer ‘privaat’ of heilig raak dit. As ‘n mens dus in die ‘sewende hemel’ kom, is jy in die heel heiligste deel.

Dit gesê, moet ‘n mens dadelik erken dat die Nuwe Testament glad nie die gedagte ken dat mense wat dood is, hulle op ‘verskillende vlakke’ bevind nie. Die Nuwe Testament sê liewer dat God al sy kinders dieselfde hanteer. Hy maak nie onderskeid nie. As jy ‘n kind van God is, is jy ‘n kind van God. Jy is nie meer of minder kind van God as ander nie. Daarom sal daar nie verskillende vlakke wees nie. (Waar die dooies self is as hulle doodgaan, word in ‘n ander artikel behandel – kyk asb daar).

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Was Jesus volkome mens voor sy doop?

Was Jesus volkome mens voor sy doop? – Jan van der Watt

Die volgende stelling is gemaak: Jesus het slegs as volkome mens na die aarde toe gekom. Hy was nie in staat om wonderwerke te kon doen, alvorens Hy nie gedoop is nie. Met Sy doop het die Heilige Gees Hom bekragtig en daarna kon Jesus eers wonderwerke doen. My vraag is : Hoe bekragtig God Homself? Is hierdie soort stelling nie lynreg teen wat ons glo en spesifiek dan ook in teenstelling met die Kerk se belydenis nie?

Antwoord:

Jesus se doop speel ‘n belangrike rol in sy lewe. Dit dui die beginpunt van sy openbare bediening aan en daar word verder gesê dat die Gees toe op hom neergedaal het soos ‘n duif (Matteus 3:16; Johannes 1:32). Van toe af het Hy begin om te preek en wonders te doen. Voor die tyd (en dit was ongeveer 30 jaar) het Jesus geen wonders gedoen wat ons van weet nie. Die vraag is nou of Jesus wonders kon doen voor die tyd en of hy maar net ‘n gewone mens was tot met sy doop?

Daar was groepe (die Gnostici) wat van die tweede eeu na Christus af beweer het dat Jesus ‘n gewone mens was tot met sy doop, toe die Gees gekry het (wat Hom Christus gemaak het) en met sy kruisiging weer teug verander het na die gewone mens Jesus toe Hy die ‘Gees gegee het’. Die standpunt is egter deur die vroeë kerk as dwaalleer verwerp. Jesus het nie eers geword wat Hy was toe die Gees met sy doop op Hom gekom het nie. Hy was dit vir altyd. In Johannes 1 word hy God genoem, selfs voor die skepping. Hy ‘word’ dit nie eers later nie.

Maar wat dan nou van die Gees met Jesus se doop? Soos met die ou profete en konings het hulle openbare bediening begin met die ‘salwing van die Gees’. Dit was die teken dat God spesiaal by hulle is. In Jesus se geval word daar met die doop bevestig dat God met Jesus is en dat dit wat Hy doen deel van die werk van God se Gees is.

Outeur: Prof Jan van der Watt