Romeine 9:10-18 – Gys Loubser
Kan julle asseblief vir my verduidelik wat Romeine 9:10 – 18 beteken?
Hierdie is een van daardie tekste wat ons nooit so kan verklaar dat ons nie nog vrae het nie. Die rede daarvoor is hoofsaaklik dat Paulus hier skryf oor dinge wat só uitsluitlik op God se vlak lê, dat ons nooit binne ons logika, wat deur tyd en ruimte bepaal word, finale bevredigende antwoorde kan voorsien nie. Wat ons wel kan doen, is om ten minste te probeer verstaan wat Paulus binne die konteks van ons teks en sy tyd wou oordra.
Kom ons kyk eers na die konteks in Romeine. In Rom. 1-8 het Paulus baie sterk beklemtoon dat God ten spyte van sy verkiesing van Abraham en sy beloftes aan hom en sy nageslag, sou wou hê dat alle mense gered word. Hy wou juis al die nasies dmv Abraham seën. Deur Abraham wou Hy as’t ware by almal uitkom (Rom. 4:9-12). Hy beklemtoon ook dat God regtig niemand iets geskuld het nie. Almal het gesondig (Rom. 3:9-18). Hy red mense net uit genade en nie omdat hulle genoeg goeie goed gedoen het om gered te word nie. Maar natuurlik, as mense nie gered wil wees nie, as hulle die beloftes nie wil aanvaar nie, sal dit nie hulle deel word nie. Hier vra ons alreeds binne ons logika hoekom God hulle nie maar dwing nie. Hy is tog ‘n God van liefde en wil tog hê almal moet gered word, en Hy weet mos dis die beste vir hulle. Nee, dis nou maar van God – waarskynlik oor Hy liefde is – Hy dwing nie sy liefde op iemand af nie. Hy kan jou ook nie dwing om Hom terug lief te hê nie, want dan is dit nie meer liefde nie. God het die belofte aan Abraham in vervulling laat gaan in Jesus Christus en redding is nou deur Hom (Rom. 5 – 8).
Nou kom ons by Rom. 9:1-5. Paulus is besorg dat sy volksgenote – die fisiese nageslag van Abraham – nie in Jesus glo soos mens sou verwag nie, maar Hom verwerp. Sy vraag wat hy in Rom. 9:6-18 probeer beantwoord, is: wat nou van God se beloftes aan Israel? Het Hy dit teruggetrek, en as Hy dit teruggetrek het, is dit nie onregverdig van Hom nie? Belofte maak tog skuld! Hy kom dan tot die volgende konklusies:
§ Selfs binne die fisiese volk Israel was daar oor die geslagte mense wat nie die Here gedien het nie en sy beloftes verwerp het. Ware kinders van Abraham het nog altyd net ‘n deel van die fisiese volk uitgemaak. Só verteenwoordig Isak die ware volk, terwyl Ismael nie deel daarvan is nie (Rom. 9:6-9).
§ God is vry om te kies soos Hy wil. Die mens se prestasies of disprestasies is nie in die eersteplek wat deurslag gee nie. Wat agter alles lê, die inisiatief wat die deurslag gee, is God se liefde wat jou uitkies. Jakob en Esau is ‘n besondere voorbeeld hiervan, want hulle was ‘n tweeling met dieselfde geleenthede en altwee ewe min verdienstelik (Rom. 9:10-13).
§ God is nie onregverdig nie. In sy vryheid mag Hy Hom ontferm oor wie Hy wil en barmhartig wees oor wie Hy wil (Rom. 9:15-16).
Dit is die hoofsaak in hierdie gedeelte, nl. dat alles van God se inisiatief en barmhartigheid afhang en nie van ons goeie werke nie. En as God mense in Abraham se bloedlyn red, is dit sy saak soveel as wat dit sy saak is as Hy mense buite daardie bloedlyn red.
Wat Rom. 9:10 ev. betref, moet ons net op die volgende let. Paulus haal direk uit Maleagi 1:2-3 aan. Die woorde wat hier met liefde en haat vertaal word, is eintlik in ons moderne konteks nie die beste nie, omdat ons ‘n emotiewe waarde daaraan heg. Dis vir ons begrippe wat emosie insluit. Onthou, God is nie ‘n mens nie. Hoe Hy voel, kan ons nie regtig bepaal nie. Wat belangriker is as gevoelswaarde, is dat sy liefde vir die ware Israel meer te doen het met sy uitkies van hulle om hulle met sy beloftes te begunstig sonder dat hulle ‘n positiewe bydrae gemaak het. As daar staan dat Hy Esau gehaat het, moet ons nie menslike emosie en doelgerigte slegte intensie daarin lees nie. Sy uitverkiesende liefde vir Jakob was nie gegrond op Jakob se goeie dade nie. Sy getuigskrif lyk maar sleg. Net so was sy nie-verkiesing van Esau ook nie gegrond op Esau se dade nie. Hy het Esau basies oorgelaat aan sy eie wil om God se beloftes te geringskat.
Daar is nog ‘n element wat ons in ag moet neem. Die ouens het destyds in terme van groepe gedink. Jy was nooit ‘n individu nie, maar altyd deel van ‘n groep. Jou familie was jou mees basiese groep. Net so het die familie dan ook ‘n naam gehad om hoog te hou. Hulle het probeer om te glo en te leef soos hulle aartsvader geglo en geleef het. Hulle is ook gedefinieer by ander aan hulle oorspronklike aartsvader. Maar ook hy was nie ‘n individu op sy eie nie. Hy was ook een met sy nageslag. Dit gaan hier dus nie net oor Jakob nie, maar ook oor sy nageslag wat saam met God geloop het en sy beloftes geglo het. Dit gaan ook nie net om Esau nie, maar om sy nageslag, die Edomiete (Mal. 1:3), wat die Here nie gedien het nie. Verder was groepe geneig om ander uit te sluit. God is egter anders en sluit die oninsluitbare in sy vryheid in, en het ook die reg om die wat van nature ingesluit sou wees, uit te sluit. Hy is God en werk ogv sy eie orde.
Maar, terug na ons hele Skrifgedeelte, die belofte is selfs vir die heidene beskikbaar. Op een of ander onverstaanbare manier is ons keuses en God se uitverkiesing nie los van mekaar te make nie.
Outeur: Gys Loubser