Satan se mag en majesteit

Satan se mag en majesteit – Jan van der Watt

Henk Geyer vra:

Ek wil graag weet In Lukas 4:6 waar die Here deur die satan versoek word. Ek wil weet wie het hierdie Mag en Majesteit aan hom gegee?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Lukas 4:5-6 lees: 5Daarna bring die duiwel Hom op ‘n hoogte en wys Hom in ‘n oogwink al die koninkryke van die wêreld. 6Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”

Waar kom die idee vandaan dat die duiwel mag op aarde het en homself as koning oor koninkryke sien? Dit is ‘n opmerking wat nie net hier voorkom nie, maar ook elders in die Nuwe Testament, byvoorbeeld in Johannes 12:31 word die duiwel ‘n heerser/regeerder (archoon in Grieks) van hierdie wêreld genoem (Efesiërs 2:2. Sien ook Efesiërs 6:12); . In 2 Korintiërs 4:4 word hy selfs die god van hierdie wêreld genoem. Dit beteken dat hy ‘n koninkryk het, dat hy mag het, dat hy regeer, ens.

Met die ballingskap het die Jode hulle land en hoofstad Jerusalem verloor. As iemand sy land verloor, beteken dit veral dat die koning verloor het, want sy basiese werk was om sy mense te beskerm. God was as heerser gesien, wat natuurlik deur die gewone konings indirek regeer het. Toe die Jode verslaan word, was die vraag natuurlik of God ook nou verslaan is? Nee, het die profete gesê, God het hom van sy volk onttrek en die vyandige magte toegelaat om hulle te oorwin as straf vir hulle sonde. BELANGRIK: die ander konings het dus nou mag oor die wêreld, en ook oor die Jode gehad. Agter hulle, is daar later gesê, staan natuurlik die duiwel. So het die idee ontstaan dat die duiwel die regeerder van hierdie wêreld was.

God is egter nie so oorwin of weg nie. Hy is steeds die heerser van die heelal wat die duiwel maar net toelaat om as straf vir sy volk se ongehoorsaamheid oor die wêreld te heers. Die profete het die volk egter verseker dat die dag van die Here sal kom wanneer God as heerser sal terugkom en sy mense sal opeis. Die koninkryk van God met God as koning sal weer kom. Dit is dan ook die agtergrond van die woorde wat ons in die Nuwe Testament uit die mond van Johannes die Doper en Jesus kry: ‘Bekeer julle, want die koninkryk van God is naby’. ‘n Koninkryk is nie naby of kom nie as dit reeds daar is nie. Dit was egter nie daar voor Jesus gekom het nie in die sin dat God sy direkte heerskappy en verlossing nog van sy mense teruggehou het. As Hy in Jesus weer kom, kom dryf hy die duiwel uit en kom vestig weer sy koninkryk tussen sy mense. So kom die koninkryk, waarvoor ons in die Ons Vader ook bid.

Terug na die duiwel as heerser. In die lig van die feit dat God die duiwel (en die konings van die aarde) toegelaat het om op die aarde te heers en Homself so in ‘n sekere sin van sy volk ‘teruggetrek’ het, kon daar gesê word dat die duiwel die heerser van hierdie wêreld (nie die heelal nie) is. Hy probeer dus vir Jesus ompraat om by sy koninkryk in te val en hom as heerser te erken. Dan sou hy Jesus soort van tweede in bevel maak. Dit sou beteken dat Jesus eintlik teen die koninkryk van God wat kom, sou moes draai. Die duiwel het ‘n vet kans gevat wat nie gewerk het nie.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Sonde

Sonde – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoe hang 1 Johannes 5:16 en 17 saam? Die teks lees so: “16As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. 17Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.”

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie verse word soms verkeerd verstaan, aangesien die konteks nie heeltemal in gedagte gehou word nie. Mense dink dat hier staan dat ‘n mens vir sekere mense nie moet bid nie. Dit sou dan mense wees wat die “sonde tot die dood” gedoen het. Dan vra hulle wat die sonde tot die dood presies is.

Die Briewe van Johannes is in ‘n situasie geskryf waarin die gemeente sterk konflik beleef het. ‘n Deel van die gemeente het weggebreek (1 Johannes 2:18-19) en dit het nogal probleme veroorsaak (2Johannes 11). Die brief is geskryf om die gemeente te versterk en hulle selfbeeld sterker te maak. Daarom lees ons in hierdie Brief soveel van die God van liefde en Jesus wat hulle die ewige lewe gee. Dit is wat gelowiges sterk maak.

Nou lyk dit of die wind nog nie gaan lê het in die gemeente nie. Daar is nog van die broers wat nie weet wat hulle moet doen nie – moet hulle gaan of moet hulle bly? Hulle sondig dus. Vir sulke broers moet daar gebid word. Nou beteken “bid” in Johannes nie net “praat met die Here” nie, maar veronderstel ook aksie van jou kant af. As jy vir iemand bid, gaan jy hom ook probeer help (as instrument van God). Broers (let op nie mense in die algemeen nie, maar gemeentelede) wat miskien die pad byster kan raak bly op jou agenda – jy moet bid en help en God sal vir die res sorg (vers 16).

Maar dan is daar die groep wat hulle goed gevat en geloop het. Hulle het hulle rug op Jesus gedraai, is weg van die gemeente af en het eintlik niks meer in die gemeente te soek nie. Dit is juis wat die sonde tot die dood dan ook beteken. Sonde in Johannes is om nie in Jesus te glo nie. As jy nie in Hom glo nie, bly jy in die duisternis en is al jou dade in die duisternis gehul. Jy kan alleen uit die doodse en duister situasie kom as jy jou na Jesus, die lig van die wêreld, keer. Glo jy nie in Jesus nie, sondig jy en is jy oppad na die dood toe – ja, jy loop die ewige lewe mis.

Moet die gemeente nou nog agter hulle aanloop en soebat? Dit lyk nie so nie, ook nie as ons 1 Johannes 11 lees waar die apostel sê dat jy nie eers sulke mense in jou huis moet toelaat nie, want dit sou beteken dat jy jouself met hulle sou assosieer. Moenie agter sulke mense aanloop en probeer om hulle nog terug te haal nie. Jy moet dus nie vir hulle bid (in die sin van met God praat, maar ook van dat jy by hulle betrokke bly) nie.

Die vers kan saam met Hebreërs 6:4-8 gelees word waar min of meer dieselfde gedagte aangetref word.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Sabbat – vir altyd ʼn teken

Sabbat – vir altyd ʼn teken – Marius Nel

Elmarie de Kock vra:

Ek verwys na die vrae na aanleiding van die Sabbat of Sondag. Wat bedoel God dan in Eksodus 31.17 (en elders in die Bybel byvoorbeeld Jesaja 56:6 ens) as Hy sê dat dit “vir ewig ‘n teken” sal wees? Beteken ewig nie meer vir altyd nie – wat dan van die ewige lewe? Wat van Matteus 5:8, byvoorbeeld, en die boek Prediker wat afsluit met “onderhou My gebooie“? Hoekom onderhou ons uit gehoorsaamheid en dankbaarheid (nie omdat ons iets kan verdien nie) 9 van die 10 gebooie?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Jy stel ʼn baie belangrike vraag. Jou vraag moet vanuit ten minste twee perspektiewe beantwoord word.

(1)  Aan die een kant het ons die Nuwe Testament wat verduidelik dat die vroegste Christene Jode was, dat hulle die Wet van Moses onderhou het, na die tempel gegaan het vir die feeste en na die sinagoge op die Sabbat, nes Jesus. Die heidense Christene wat tot bekering gekom het, dwing die kerk om die vraag te stel of hulle die Wet moet onderhou. Dit lei aanvanklik tot erge meningsverskil en die Jerusalemkonsilie waar besluit word dat heidense Christene nie die Wet onderhou nie – nie besny word en nie die reinheidswette en seremoniële wette onderhou nie. Hulle mag net nie bloed van diere drink nie omdat heidene daaraan bygelowige krag verleen. Jy lees ook dat die Christene vroeg op die eerste dag van die week byeengekom het om die opstanding van Jesus te vier deur die nagmaal te hou. Op jou vraag hoekom ons nie die Wet in al sy konsekwensies onderhou nie, moet jy hiernatoe gaan.

(2)  Aan die ander kant moet jy na die kerkgeskiedenis van die vroegste era kyk. Die Joodse Christene het binne ʼn geslag uitgesterf, wat te doen het met die val van Jerusalem en die Bar Kochba-opstand. Die Christene redeneer: die Jode moes werk sodat hulle op die sewende dag kon rus. Christus het klaar vir ons gewerk en daarom rus ons voor ons werk. Vanuit dié simboliek kom hulle eksklusiewe klem op die Sondag en hoor jy nooit weer van die Sabbat nie.

Hoop ek spreek jou probleem aan!

Outeur: Dr Marius Nel

 

 




Verskillende gelowe

Verskillende Gelowe – Pieter Verster

Deon vra:

1. In die Bybel staan jy moet glo om gered te kan word. Wat gebeur met ander gelowe soos die Moslem geloof, ens. wat nie die kans gehad het om van die Boodskap van Verlossing te hoor nie. Gaan God die persone verdoem tot die hel?

2. Waar kom al die verskillende gelowe vandaan? Is daar ʼn lyn in die geskiedenis wat dit kan bewys?

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

1.    Daar is talle verwysings in die Bybel dat God genadig en barmhartig is en dat Hy regverdig oordeel (vergelyk Psalm 111;140 Lukas 1:46 e.v.). Hy oordeel nie soos ʼn mens nie, maar Hy oordeel vanuit sy Heilige Persoon wat altyd reg laat geskied. God het egter dit baie duidelik gestel dat ons nie gered kan word nie tensy ons wedergebore is nie (Johannes 3). Wedergeboorte veronderstel dat ons ingelyf is in Jesus Christus. Jesus self is die Weg, die Waarheid en die Lewe en niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie (Johannes 14:6).

Om die moeilike vraag te beantwoord wat word van mense wat nie gehoor het nie en wat hulle eie godsdiens volg, is daar verskeie  antwoorde gegee.

Sommige meen  dat Jesus self  op ʼn wonderbaarlike wyse alle mense sal red al weet hulle dit nie regtig nie.  Ons noem dit alversoening. Ander sê  Jesus sal  mense wat werklik in hulle eie godsdienste glo en goed doen, op inklusiewe wyse red omdat  Hy weet hulle is eintlik maar Christene (anonieme Christene) en dat hulle sou geglo het as hulle  gehoor het van die Evangelie. Ander sê weer dat  elkeen maar op sy eie geloof sal salig word net soos hulle ook al glo. God sal nie onderskeid tref nie.

Die Bybel erken die uniekheid en wonderbaarlike verlossing in Jesus Christus.  Hy het sy lewe prys gegee om  almal  wat in Hom  glo te  red. Sy lewe, dood aan die kruis, opstanding  en Hemelvaart voltooi die verlossing vir enigeen  wat in Hom wil glo. Deur die geloof alleen kan mense salig word.

Wat baie duidelik is is dat God ‘n God van liefde is wat nie wil hê dat enige-iemand verlore moet  gaan nie (1 Timoteus 2:3,4) en wat ook  die wêreld  so lief het dat wie ook al glo in Jesus Christus gered sal word. Die moeilike saak van die uitverkiesing kom ter  sprake waarin God in sy vrye liefde en genade  tog mense red en na Hom toe lei. Die uitverkiesing is altyd uitverkiesing in Christus self (Efesiërs 1:4,10).

Die antwoord is dus nie eenvoudig nie. God red in Jesus Christus, maar Hy is ook  die God van liefde en genade. Ons kan sy oordeel vertrou. Ons kan seker wees dat Hy geen fout sal maak nie. Die Christen het die dringende opdrag van God om die goeie nuus van die Evangelie te verkondig. Geen Christen mag oor ander oordeel nie. Die oordeel bly by God. Ons moet egter volhou om die Evangelie wat mense oproep tot geloof met alle oortuiging te verkondig  aan alle mense, terwyl ons daaraan vashou  dat die verlossing slegs in Jesus Christus is (Romeine 3:21 e.v.).

2.    Deur die geskiedenis het mense verskeie  antwoorde gegee oor die ontstaan van die godsdienste.  Sommige meen dat alle mense eers geglo het in een God en dat hulle toe algaande ook meer gode begin aanbid het.  Ander meen godsdienste het uit die sosiale verhoudinge tussen mense ontstaan waar groepe mense bymekaargekom en dan sin en rigting in hulle lewe gesoek het en so verskillende godsdienste gevorm het. Nog ander meen dat godsdienste uit die teorie van evolusie verklaar moet word. Eers het mense net geglo in magte en kragte, later in geeste, nog later in gode en uiteindelik in Een God.

Die Bybel openbaar dat God  die Skepper is en dat Hy Hom aan mense bekend gemaak het. Hy is die lewende God. Mense het egter gesondig en weggekeer van God af.  Daar  het verskillende oortuigings ontstaan. Die Bybel openbaar dat baie mense hulle eie gedagtes begin najaag het. Hulle het hulle eie gode begin aanbid (Jesaja 40:12-25). Daar het skeiding gekom tussen hulle wat die  lewende God aanbid en hulle wat allerlei ander gode vir hulleself versamel het. God hou egter ook sy genadige hand oor alle mense en in hulle eie godsdienstige lewe is Hy steeds genadig oor hulle, sodat hulle ook soms mooi huwelike het,  mooi gesinslewens het en probeer  reg lewe. Daar is egter slegs saligheid in Jesus Christus en sy Evangelie.

 

Outeur: Prof Pieter Verster