Geloofsekerheid – Johann Voges

Vraag:

Boodskap Teks:
Ons mense wie gereeld kerk besoek word nie mooi gelei om geloofsekerheid en sekerheid van redding ons eie te maak nie.
Die pragtige LB334 “God is liefde juig ons harte” gee die perfekte fondasie en dit kan gebruik word om persoonlik sekerheid en vrede te ontdek.
Dalk is daar 20 % van ons kerkgangers wie dan `n nuwe lewe het en alle mense met liefde te behandel.
Dit sal onse land totaal omdop en dit hemel op aarde maak.
Sal kommentaar hartlik waardeer.
Shalom.

Antwoord

Sommanet so ‘n gedagte oor wat jy vra oor wat ons met “geloofsekerheid” en ons “sekerheid van redding” moet maak. As ‘n mens in Johannes 1:43 – 51 lees van die gesprek tussen Filippus en Natanael oor daai sekerheid … is Filippus se antwoord hierop ‘kom kyk self’. Daar was nog altyd baie slim antwoorde of ek regtig op hierdie oomblik nodig het om vir die eerste of hoeveelste keer te moet loop kyk na wie hierdie ‘Jesus van Nasaret’ nou eintlik is, en hoe­kom dit nie eers kan wag tot ander dag as ek lus het om dit te wil doen nie. Hiermee probeer ek nie sê dat almal wat al klaar loop kyk het na wie die ‘Jesus van Nasaret’ is beter as enige ander mense is wat nie gaan kyk het nie. Dit het ook nie van hulle mense gemaak wat nou ewe skielik alle vrae kon beantwoord nie. Al wat Johannes vir ons hiermee wil probeer sê, is: “Daar kom ’n dag dat jy met Jesus te doen kry vir wie Hy werklik is as al die ander paaie wat jy probeer het, nie meer werk nie”. Soms verloor baie van ons mekaar ook by dié punt omdat ons onverduurlik met mekaar raak omdat almal wat loop kyk het na wie Hy is, nie altyd saamstem oor wat hulle gesien het nie. Filippus het nie met Natanael hieroor in ’n stryery betrokke geraak nie. Al wat hy gesê is: “Kom kyk vir jouself”  Johannes 1:46. Toe verander Natanael se lewe … nie oor wat Filippus gesê of vergeet het om te sê nie, maar om­dat hy in sy kom kykery met Jesus persoonlik te doen gekry het.

            Net so belangrik as wat jou kom kyk is, is wat jy daarna maak met wat jy gesien het. Iets hiervan word verduidelik in ʼn storie wat vertel word van ʼn jong priester wat by Franciscus van Assisi wou kom leer het hoe om te preek. Die hele dag het hy saam met Franciscus deur die stadstrate geloop waar hulle oral met mense gepraat het en gehelp het waar en hoe hulle kon. Die aand op pad terug was hy half omgekrap omdat Franciscus nêrens ge­preek het nie. Franciscus se antwoord: “As mense nie Jesus se boodskap van liefde kan raaksien in wat ons doen nie, sal hulle dit ook nie glo as ons hulle daarvan vertel nie”.

Ek wil ook voorstel dat jy op ons webtuiste (http://www.bybelkennis.co.za) by die soekfunksie intik “geloofsekerheid” jy sal daar 4 artikels hieroor kry wat ook jou vraag sal help antwoord. 

Skrywer: Dr Johann Voges




“Naturism” of nudisme – Johann Voges

n Leser vra

Kan n Chisten “naturism” beoefen saam met vreemde mense by n oord of strand of saam met slegs familie en vriende binne die privaatheid van jou huis? Ek het “naturism beoefen maar ek het dit gestaak. Daar is nog van my vriende wat dit wel beofen en my wil oorreed dis nie verkeerd om naak saam ander te wees nie. Ek het gaan studie doen in die Bybel en gevind “naturism” is verkeerd. Die Bybel praat onderandere van sedeloos. Dit kan ook as “indecency” vertaal word. Die Bybel praat ook van onfatsoellik wat beteken kuishuid, welvoeglik en betaamlik GEKLEE. Is ek verkeerd in my sienning? Moet ek my vriende oorreed om ook betaamlik GEKLEE te wees ten ALLE tye?

Dr Johann Voges Antwoord

Dankie vir jou navraag. Nêrens in die Bybel is daar enige verwysing dat dit in Bybelse tyd enige norm of gebruik was dat mense in die openbaar naak rondgeloop het nie. Die verwysing na Adam en Eva se bewustheid dat hulle ‘kaal is’ in Genesis 3 moet jy verstaan as ʼn manier waarop die Genesis skrywer probeer verduidelik hoe Adam en Eva se verkeerde keuse (sonde) al hulle verhoudinge opgefoeter het … dis hoekom hulle daarna vir God ‘wegkruip’ (vers 11) en ook bewus raak van mekaar se ‘naaktheid’ (vers 10-11, 16 & 20) en dat hulle verhouding met die diere ook in ʼn wedersydse vyandskap verander ‘jy sal sy kop vermorsel’ en ‘hy sal jou in die hakskeen byt’ (verse 14-15) ook is hulle verhouding met die natuur daarmee heen ‘met swaarkry sal jy ʼn bestaan daaruit maak… (vers 17-19). As gevolg van die mens se verkeerde keuse of as jy wil hulle disrespek teenoor die God ‘sterf die ewige lewe’ (… verhoudinge) in die tuin van Eden. Volgens ʼn artikel in Wikipedia oor ‘naturism’ het hierdie gebruik eers in 1891 ontstaan en dwarsoor die wêreld bly dit iets wat beperk is tot sekere afgebakende gebiede en klubs hiervoor. In ons webtuiste (www.bybelkennis.co.za) tik by die soekfunksie in “kleredrag” daar is ʼn paar artikels oor hoe die Bybeltydse se mense aangetrek het. In Google kan jy ook ʼn artikel gaan lees wat deur Ds PJ de Bruyn geskryf is oor “Die Christen en kleredrag”. Die vraag dus oor ‘naturism’ is meer as net of dit reg of verkeerd is … dit bly en is iets vreemd of abnormaal in hoe mense in die openbaar verskyn … en natuurlik as jou kaallopery waarookal aanleiding tot wellus, onkuisheid, sedeloosheid of seksuele losbandigheid aanleiding gee is jy nie net besig om sonde te doen nie maar ook besig om verhoudinge op te foeter wat nie mag of kan nie … en in die Ou en Nuwe Testament was dit ʼn oortreding wat nêrens geduld of goed gepraat is nie.

Skrywer: Dr Johan Voges




Vas en Vier – Kerkbode 12 Maart 2018 Redakteursbrief

Een van die ou kerklike gebruike wat herleef, is om tydens Lydenstyd van iets kleins te vas. Sjokolade of wyn of iets dergeliks. Dis iets simbolies. Een aspek van dié soort vas is dat dit ’n herinnering is. Die tydelike prysgawe van ’n klein vreugdetjie herinner ons aan die groot prysgawe wat Jesus gedoen het. Hy het, lees ons in Filippense 2, nie aan sy Goddelikheid vasgehou nie, maar Homself verneder. Hy het soos ’n slaaf geword. Uiteindelik het Hy aan die kruis gesterf. ’n Klein stukkie “lyding”, die ontbering van ’n klein plesiertjie, word vir 40 dae lank ’n herinnering aan die lyding van Jesus Christus. Maar van Aswoensdag tot Opstandingsondag is daar eintlik 46 dae. Die ses Sondae word nie as deel van Lydenstyd gereken nie. Dit is omdat die Sondag die dag van die opstanding is. Dit is die dag van oorwinning. Van vreugde. Op die Sondag vas jy nie. Jy vier. En so ontstaan daar in Lydenstyd ’n ritme van ses dae vas en een dag vier, ses dae vas, een dag vier. Ses dae van nadink oor die lyding. Een dag van viering van die opstanding. Ses dae van verootmoediging. Een dag van leef uit die oorwinning. Dit is ’n ritme wat ’n diep betekenis vir die lewe van ’n gelowige dra. Want deur die hele jaar kom daar tye van swaarkry en tye van pyn. Hierdie ritme van Lydenstyd help ’n mens om dán die oorwinning te onthou. As die spreekwoordelike vyebome nie bot nie en lande geen oes lewer nie, help dit ’n mens om soos die profeet Habakuk in die Here te bly jubel. Want soos die 40 dae ’n mens aan Jesus se lyding herinner, herinner die Sondag ’n mens aan die oorwinning. Elke Sondag. Reg deur die jaar.

Artikel met dank aan Kerkbode 12 Maart 2018 Redakteursbrief




Moenie na die weer kyk nie – Johann Voges

‘n Leser Vra,

Ekt n rukkie gelede gelees: “moenie na die weer kyk nie”. Het nagelaat om die teks neer te skryf. Dis nie Pred 11:4 nie.

Kan u help asb?

Antwoord

Dr Johann Antwoord

Die enigste gedeeltes in die Bybel wat iets verwys van mense “wat na die ‘weer’ kyk”,  kry ‘n mens in ….

Prediker 6

11 Moenie heeltyd die wind dophou en na die wolke opkyk nie, want die reën sal op sy bepaalde tyd kom.  Werk liewer voluit voort. (Die Boodskap vertaling 2008)

Handelinge 1

9 Na hierdie woorde het Jesus van die Olyfberg af na die hemel teruggekeer. 10Terwyl die dissipels nog staan en kyk hoe Hy in die wolke verdwyn, het twee mans uit die hemel by hulle kom staan. Hulle het spierwit klere aangehad. 11Een van die mans vra toe vir die dissipels: “Hoekom staan julle so na die hemel en kyk? Dink julle dat julle nooit weer vir Jesus gaan sien nie? Hierdie selfde Jesus wat nou voor julle oë na sy hemelse woonplek toe vertrek het, sal op presies dieselfde manier na julle toe terugkom.” (Die Boodskap vertaling 2008)

Lukas 12

54Jesus sê toe vir die mense wat na Hom luister: “Julle is sulke goeie weervoorspellers! As julle ’n wolk daar uit die weste sien aankom, sê julle: ‘Dit kom reën.’ En dan gebeur dit ook. 55En wanneer die suidewind begin waai, sê julle: ‘Nou gaan ons uitbraai van die hitte.’ En dan gebeur dit ook. 56“Ek verstaan julle spul skynheiliges glad nie. Julle is sulke goeie weervoorspellers. Julle kan presies sê wanneer dit gaan reën en wanneer dit warm gaan wees, maar julle kan glad nie die tyd reg lees nie. 57Besef julle nie hoe laat dit al op God se groot horlosie is nie? 58“Julle weet ook nie hoe om reg teenoor ander mense op te tree nie. Kyk net hoe dikwels beland julle in die hof. Dit is omdat julle nie bereid is om die saak voor die tyd te gaan uitpraat met mense wat julle hof toe wil vat nie. Moenie so hardkoppig wees nie. Gaan maak dinge tussen julle en ander mense reg voordat julle in die hof beland. 59Wie weet, later word julle skuldig bevind en dan moet julle ’n lang tyd in die tronk gaan sit.” (Die Boodskap vertaling 2008)

Skrywer: Dr Johann Voges