Het Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek?

Het Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek?

Sommiges wonder hier rondom die tyd van Paasfees oor die vraag of Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek het.

In die Bybelse tyd is geglo dat alle mense na hulle dood na die doderyk onder die aarde gaan wat in Grieks Hades genoem is. Ek onthou self uit my kategese dae in die vroeë tagtiger jare hoe die dominee die storie vertel het van hoe Jesus met sy kruisdood na die hel neergedaal het en daar gepreek het vir almal van Adam en Abraham dwarsdeur tot anderkant Noag en die vloed. Die wat sy prediking geglo het en tot bekering gekom het, het dan saam met hom na die hemel toe gegaan (vgl. die Apokriewe Evangelie van Nikodemus [450-550 n.C. geskryf] hoofstuk 17-27 en veral 25). Was dit regtig so, en waar lees ons dit? Kom ons kyk of ons op die spoor van hierdie vraag kan kom.

Ons reis begin in 1 Petrus 3:18-19 en ons maak met die eerste oogopslag by die Afrikaanse Ou Vertaling oop wat lui:18Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring-Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;19in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis.” En daar het jy dit, dit staan tog daar in Ou Vertaling! Het ons dus alles daaroor gesê? Inderdaad nie! Indien ons dit met die Nuwe Vertaling vergelyk, sien ons ‘n interessante ander perspektief. Die Nuwe Vertaling lui: “19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.”

Sien jy die duidelike verskil? In die Ou Vertaling staan daar Jesus het gepreek vir die geeste in die gevangenis en in die Nuwe Vertaling staan daar dat Jesus sy oorwinning aangekondig het. Die twee vertalings verskil wesenlik van mekaar, veral as jy aan die implikasie daarvan dink. Dit is egter belangrik om na die groter konteks van die paar verse te kyk. In die volgende verse word verder gekwalifiseer wat met die geeste in die gevangenis bedoel word. Die konteks dui op die volgende: “19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Die groot vraag is dan wie was hierdie geeste presies? Die woord in Grieks wat hier gebruik word vir geeste verdien aandag. Dit word volgens sommige geleerdes in die NT 99% van die kere gebruik om te verwys na bonatuurlike onrein geeste en nie na mense nie. Dit wil volgens navorsing egter voorkom of 1 Petrus deur die Joodse tradisie van 1 Henog (15:8-10) beïnvloed is waar die geeste moontlik verwys na die engele van Genesis (6:4) wat met die mense gemeenskap gehad het en die onrein geeste wat daaruit voortgekom het wat in die hel gebind word (vgl. 1 Henog 10.4-6, 12-14; 13.1; 14.5; 18.14-16; 21.6, 10) In die tweede Petrus brief wil dit lyk of hierdie gedagte elders ook voorkom soos in 2 Petrus 2:4 waar daar verwysing is na die engele wat in Noag se tyd gesondig het en in die hel gestort is: “4God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.” Dit herinner ook aan Judas 6 (wat tematies en tekstueel aansluit by 2 Petrus) wat soos volg lui: “6Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.” Die woord gevange gehou (fulakê) kan ook dui op die wat onder sekuriteit gehou word. Indien dit so verstaan word as dat Jesus sy oorwinning aangekondig het aan die onrein geeste wat onder sekuriteit gehou word, kry die teksgedeelte nuwe implikasies en betekenis. Myns insiens het Jesus dus ‘n sterk boodskap van oorwinning gaan aankondig sodat elke knie (bo en onder die aarde) sou buig en elke tong moet bely Jesus is Here en dat hy die angel en mag van die dood oorwin het (vgl. Filippense 2:9-11). Dit is die belangrike punt van die teksgedeelte. 

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Vreemde Vrouens in Jesus se gelagsregister volgens Matteus

Vreemde Vrouens in Jesus se gelagsregister volgens Matteus

Indien mens in ons tyd wil wys hoe belangrik iemand is, of as jy aansoek doen vir werk, sal jy jou CV voorlê. In jou CV vertel jy van al jou ervaringe, jou kwalifikasies, jou prestasies, ens. In die Bybelse tyd het mense hulle belangrikheid aangetoon deur middel van hulle geslagsregister.

Afkoms is nou verbind aan identiteit. Indien mens gebore is uit ‘n familie wat ‘n voorvader sonder aansien gehad het, word mens sommer onder dieselfde kam geskeer en anders om. In die eerste paar verse van die evangelie volgens Matteus, lees ons van Jesus se geslagsregister. As mens dit vergelyk met byvoorbeeld Lukas (hoofstuk. 3:23-38) se evangelie, sien mens dat dit baie anders lyk. Matteus doen baie moeite om aan te toon dat Jesus van koninklike afkoms is en daarom word hy ook Seun van Dawid, die groot Koning van Israel genoem.

Die interessante was dat Joodse mans, en veral belangrike mans in die antieke tyd, amper nooit hulself en hul afkoms of identiteit beskryf of kwalifiseer in terme van ‘n vrou nie. Inteendeel, vrouens is beskou as die eiendom van die man. Daarom is daar altyd gesê die vrou is die dogter van hierdie man, of die vrou van daardie man, maar nooit andersom nie. Die opvallende is dan dat Matteus Jesus en sy identiteit beskryf en vrouens daarin vermeld. Dit is verder interessant om te verneem dat baie van die vroue wat in Jesus se gelagsregister genoem word, vrouens was wat foute gemaak het in hulle lewe, of vrouens was wat volgens die algemeen aanvaarbare reëls van die Joodse denke in ‘n sekere sin uit plek uit was. Die eerste vrou waarvan ons lees is Tamar. Lees gerus die storie van Tamar en hoe sy haarself as tempelprostituut vermom het en met Juda gemeenskap gehad het (Genesis 38). Rut self was nie ‘n Joodse meisie nie, maar ‘n Moabiet. In Deuteronomium 23:3 word dit baie duidelik gestel dat ‘n Jood hoegenaamd nie met ‘n Moabiet mag meng nie en dat laasgenoemde nie deel van die Joodse gemeenskap mag vorm nie: “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.“(NAV). Verder weet ons dat Tamar ‘n Arameër was en Ragab die prostituut (Hebreërs 11:31) van Kanaänitiese afkoms was, wat dus beteken dat die meeste van die vrouens van uitlander afkoms en volgens die Joodse sosiaal-religieuse kartografie uit plek uit was. Hiermee dui Matteus juis aan dat Jesus se afkoms universeel geïnterpreteer kan word en dat hy dus vir alle mense gekom het. In Matteus 1:7 word die vrou van Urija genoem, wat natuurlik niemand anders as Batseba was nie (2 Samuel 11). Dit was hierdie Batseba met wie Dawid oor die tou sou trap en wie se man Urija deur Dawid om die lewe gebring is.

In Jesus se geslagsregister sien ons dus vreemde vrouens met vreemde reputasies, maar nogtans het God hulle gebruik. Die les wat ons daaruit kan leer, is dat God onmoontlike dinge moontlik kan maak en dat sy plan altyd groter is as wat ons nou kan sien. Dikwels omskep God die grootste verleentheid in die grootste geleentheid. God kan selfs ons foute gebruik tot Sy eer.

Skrywer:  Dr Kobus Kok 

 




Die Hofsaak en Jesus se Opstanding

Die Hofsaak en Jesus se Opstanding

Daar  word dikwels gewonder of Jesus werklik opgestaan het. Op DSTV word veral rondom paastyd programme gebeeldsaai waar twyfel gesaai word oor die Godheid van  Jesus. Daar is onder andere beweer dat in die jare 1980’s ʼn argeoloog toevallig op ʼn reeks grafte afgekom het wat die familie van Jesus s’n was. Dan word van die kiste waarin die oorskot van die oorledenes in was, gewys. Op van hierdie kiste staan onder andere in Hebreeus en Grieks  “Jesus seun van Josef” en “Maria”. Hieruit word die afleiding gemaak dat Jesus en sy familie daarin begrawe is.

Dit is natuurlik te betwyfel, aangesien die familie van Jesus maar vanuit ʼn arm timmerman familie gekom het, en nie só ʼn “indrukwekkende graftombe” met al daardie grafkamers kon bekostig nie,  ʼn Ander groep is weer ʼn sogenaamde “christen-sekte” in die noorde van Indië wat nie in die opgestane Jesus glo nie. Hulle sal ook vandag vir ons na die graf van Jesus en sy familie neem. Volgens hierdie sekte was Jesus slegs in ʼn koma, maar het na drie dae daaruit wakker geword en na Indië gevlug. Daar het Hy getrou en kinders verwek. Sy nageslag woon daar. Vandaar die sogenaamde “christen-sekte”.

Daar is baie pogings om die historiese opstanding van Jesus te bevraagteken. Tog is daar historiese bewyse dat Jesus wél uit die dood opgestaan het. Ek gaan gebruik maak van die oudste geskrifte wat oor sy opstanding getuig, en dit is natuurlike die tekste van die Bybel self. Ek gebruik hierdie tekste aangesien dit die tekste is wat die naaste aan Sy lewe geskryf is, en derhalwe die geloofwaardigste oor die opstanding is.

Ons lees in die Bybel dat Jesus die aanspraak maak dat Hy na drie dae uit die dood sal opstaan (Matteus 17:22-23; Markus 9:30-32; Lukas 9:43-45). Ons as Christengelowiges is die verdedigers van daardie aanspraak en sonder dat ons dit kan bewys, glo ons dit. Die aanklaers teen die opstanding was egter die Joodse wagte wat ʼn leuen die wêreld ingestuur het (Matteus 28:11-15) om hulleself te beskerm, mense soos die nuwe hervormers (1 Johannes 4:1-6) en mense soos die waarvan ek hierbo van vertel het. Die apostel merk nogal op dat daar reeds in sy tyd mense vanuit die kerk na vore sal kom wat die aanspraak dat Jesus uit die dood opgestaan het, sal verwerp (1 Johannes 2:19).

ʼn Eerste opmerking is dat kennis geneem moet word dat dit aanvaar word dat die Boek Jakobus deur die broer van Jesus geskryf is, en dieselfde ook met die brief van Judas. Hierdie is twee persone wat tog aanvanklik nie geglo het dat Jesus God was nie, aangesien hulle saam met Hom grootgeword het. Na Sy opstanding, het hulle egter tot geloof gekom, en het hulle Hom as die Here van hulle lewe aanvaar.

Daar is egter baie getuies wat daarvan getuig dat Jesus wél uit die dood opgestaan het: Paulus wat die meestervervolger van die Christene was, verander ewe skielik in iemand wat bereid is om te sterf vir daardie persoon wie se volgelinge hy vervolg het. Hoekom? Die antwoord vind ons in 1 Korintiërs 15:7-8 wanneer hyself getuig hoedat Jesus in persoon na Sy opstanding aan hom verskyn het. Hier vertel Paulus ook hoedat die opgestane Jesus aan Petrus, die ander twaalf en aan meer as vyf honderd mense op een slag verskyn het. Almal is getuies van Sy opstanding (1 Korintiërs 15:1-8).

Petrus  se getuienis oor die opstanding van Jesus is aandoenlik (2 Petrus 1:16-20). Hy antwoord diegene wat beweer dat die opstandingsgeloof gebaseer is op legendes en verdigsels van daardie tyd wat in die afgodery voorgekom het (1:16). Dan stel hy dit is sterk taal dat hulle Jesus in al Sy heerlikheid met hulle eie oë gesien het (1:17).

Die apostel Johannes beskryf die verhouding met die opgestane Here Jesus in net sulke oortuigende taal wanneer hy vertel dat hulle Hom self gehoor het. Hulle het Hom met hulle eie oë gesien. Dit is hulle wat aan Hom gevat het. Dan bevestig Johannes dat hulle getuies van Jesus se opstanding is, en dit oorvertel (1 Johannes 1:1-3).

Ons vind natuurlik ook vir Tomas. Ons moet hom nie sommer so veroordeel nie, aangesien hy ʼn groot groep mense verteenwoordig. Mense wat bewyse soek – mense wat die denkers en wetenskaplikes is. Dan verskyn die opgestane Jesus aan Hom in al Sy fisiese en misterieuse heerlikheid. Wanneer Tomas dan aan Hom vat, en Hom “voel”, dan getuig hy: “My Here en my God” (Johannes 20:28).

Selfs heidene het getuig van die opgestane Jesus. Die geskiedskrywer Josephus wat in die Romeinse paleis geskryf het, vertel van die sekte wat vir Jesus wat op die derde dag uit die dood opgestaan het, volg.

Die dissipels was maar bang mense en het nie die vrymoedigheid gehad om oor Jesus te getuig totdat Hy aan hulle verskyn het nie. Verder was hulle ook nie mense wat gejok het nie, omdat hulle Jode was wat geglo het dat dit ʼn groot sonde was om te jok. Dus:

Wanneer slegs twee persone in ʼn hofsaak presies dieselfde oor ʼn saak getuig, dan gee die regter uitspraak ten gunste van daardie getuies. Daar is so baie getuies ten gunste van die opgestane Here Jesus. Wanneer die aanklagte kom dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, dan word die getuies ingeroep om van sy opstanding te vertel. Dit is dan wanneer die regter uitspraak gee: Jesus het werklik opgestaan.

SKrywer:  Dr Jorrie Potgieter

 




Jesus as die Lam van God in Openbaring

Jesus as die Lam van God in Openbaring

Inleiding:

Jesus word regdeur Openbaring met verskillende name aangespreek (byna 30 name of titels!).  Die Naam wat egter die meeste gebruik word, is Lam van God (28 keer!).  Hierdie Naam gelaai met simboliek aangaande die persoon van Jesus. 

Die betekenis van die lam:

Die beeld van die lam kan ons waarskynlik terugvoer na die lam wat geslag moes word tydens die Joodse Paasfees.  Die bloed van die lam is dan aan die deurkosyne geverf as herinnering aan die dag toe God die Israeliete se huise verbygegaan het in Egipte (vgl. Eksodus 12:28).  Later het hierdie verlossingsfees ook saamgevloei met die sonde-offer en het die Paaslam ook as sonde-offer gegeld. 

Behalwe vir die gebruik van die lam as offer, word lammers oor die algemeen as hulpeloos, swak, saggeaard en onskuldig geteken (vgl. Psalm 23).  In Jesaja 53 kry ons die interessante verwysing na ‘n lam wat onskuldig ter slagting gelei word, ‘n gedeelte wat later (in die Nuwe Testament) sterk Messiaans geïnterpreteer is.  

 

Jesus as die Lam van God:

Jesus word op 5 plekke in die Nuwe Testament (uitgesluit Openbaring) as Lam beskryf (Johannes 1:29, 36; Handelinge 8:32; 1 Korintiërs 5:7; 1 Petrus 1:19).  In elkeen van hierdie gevalle word Jesus geteken as die Offerlam wat deur sy sterwe verlossing gebring het vir die wêreld.  Die Nuwe Testament-skrywers gebruik waarskynlik ‘n kombinasie van die Paaslam en die lam van Jesaja 53 om Jesus se verlossing te beskryf. 

Hierteenoor is die Lam van God die oorheersende benaming vir Jesus in Openbaring.  In Openbaring word Jesus as Lam egter nie geteken as die lydende Messias nie.  Jesus as die Lam van God is deurentyd die Oorwinnaar.  Hy word telkens geteken in oorwinnende (en lewende) beskrywings.  Waar Hy in stryd met die Bose kom, is die fokus deurentyd op die Lam wat as Oorwinnaar uit die stryd tree (vgl. Openbaring 12:11; 17:14).  Jesus as die Lam van God word met simboliese beelde as die apokaliptiese Oorwinnaar beskryf. 

Die oorwinning van die Lam, en die gepaardgaande oorlog, is verrassend anders as ‘n gewone oorlog.  Die Lam van God voer oorlog aan die kruis.  Alhoewel die kruis self nooit in Openbaring aan die orde kom nie, sinspeel talle tekste oor die Lam van God op die kruis (vgl. Openbaring 5:6, 7:14, 12:11, 22:14).  Die Lam van God wen nie wanneer sy vyande se bloed vloei nie, maar wanneer sy eie bloed vloei (Openbaring 12:11).   Hy oorwin deur self geslag te word (Openbaring 5:5-6).  Hierdie oorwinning van die Lam het die duisendjarige vrederyk in die hemel ingelei.  Dit bring ook ewige verlossing mee vir dié wat hulle klere laat was in die bloed van die Lam. 

Openbaring se beskrywing van die Jesus as die Lam van God word sterker hoe verder ‘n mens in die boek in beweeg.  Hiermee saam word die Lam van God al hoe sterker met God vereenselwig soos wat ‘n mens deur Openbaring beweeg.  In Openbaring 5:11-12 word die Lam van God besing met lofprysinge wat gelyk is aan dit waarmee God self in Openbaring 4 besing is.  Teen die tyd dat ons Openbaring 22 bereik (in God se nuwe wêreld) verdwyn die onderskeid tussen God en die Lam byna heeltemal.  In Openbaring 22:3 lees ons van die troon van God en van die Lam.  Dan sê Johannes, asof terloops: “…en sy dienaars sal Hom dien.”  Alhoewel dit die troon van God en van die Lam is, is daar uiteindelik net een God wat gedien kan word. 

Hierdie kragtige beskrywing van die Lam van God kom eintlik nie as ‘n verrassing nie.  Johannes het immers reeds die verheerlikte Christus in Openbaring 1:9-20 gesien, in sy volle heerlikheid.  Die res van Openbaring bevestig bloot wat Hy oor die Christus leer ken het hier op aarde: die Lam van God as Oorwinnaar, ewige Koning, en God. 

 

Skrywer: Dr Fanie Rudolph