Die Here kies vir jou (Uitverkiesing)

Die Here kies vir jou (Uitverkiesing)

Kies die Here party mense en party mense nie? Sommige mense sê ons moet die uitverkiesing so verstaan. As die Here jou kies, sal jy gered word. As Hy jou nie kies nie, sal jy nie gered word nie. Ander sê weer ʼn mens moet jou bekeer, anders gaan jy nie gered word nie. Wat moet ons glo?

Kom ons kyk of ʼn storie ons kan help. Sê nou die skoolhoof besluit dat hy so baie van die kinders in die skool hou, dat hy volgende Vrydagoggend voor skool vir elkeen ʼn roomys gaan gee. Hy kondig dit af, reël dat die roomys daar is en deel dit ook uit. Vrydagoggend kom en die kinders kry hulle roomys. ʼn Paar het gedink dis ʼn grap of het hulle nie daaraan gestuur nie. Toe hulle later met skoolopening daar aankom, is alles verby. Wie moet hulle blameer dat hulle niks gekry het nie? Wel, net hulleself. As ons mooi na die storie kyk, het die skoolhoof alles gedoen en gereël. Hy het letterlik alles gedoen. Al wat die kinders moes doen, is net om die roomys te kom haal.

So werk God met ons ook. Hy het net mooi alles vir ons redding gereël. Hy het uit liefde besluit om ons te red, het Jesus gestuur om alles reg te maak vir die redding, het predikante gestuur om ons te vertel van die redding en so aan. Met al hierdie dinge het ons as mense net mooi niks te doen nie. God reël dit. In die sin kan ons sê dat alles van God af kom. Sonder Hom sou daar niks gewees het nie. Maar as ons nie die redding aan die voet van die kruis by Jesus kom kry nie, het ons ook maar niks (net soos die kinders wat nie die roomys kom haal het nie). Dan kan ons ook nie vir God blameer nie. Ons kan net onsself blameer. Ons weet mos waar om die redding te kry: by Jesus deur in Hom te glo. As ons ons nie daaraan steur nie, moet ons nie verwag dat God dit in ons kele gaan afdruk nie.

In Efesiërs 1 lees ons dan ook dat God almal gekies het wat aan Jesus behoort. Hy het Jesus gekies en saam met Hom almal wat aan Hom glo. As jy dus aan Hom glo, kan jy maar weet God het jou gekies.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Here doen wat Hy sê (Beloftes in die Bybel)

Die Here doen wat Hy sê (Beloftes in die Bybel)

Mense sê darem maklik iets wat hulle nie bedoel nie. Hulle sê hulle sal jou bel of by jou kom kuier en dan doen hulle dit nooit nie. Daarom is daar ʼn spesiale woord wat ons gebruik as iemand regtig ernstig is en jou 100% wil oortuig dat hy of sy dit gaan doen wat gesê word. Die persoon plaas dan sy eie eer en integriteit op die spel en beklemtoon dit deur te sê: “Ek belowe jou”. As hy dan sy woord breek, sê dit iets van sy integriteit: hy is onbetroubaar en ʼn leuenaar. Ja, beloftes maak skuld.

Die Bybel is vol beloftes… en dit is feitlik deurgaans God se beloftes. Sjoe, wat beter kan ʼn mens kry. As God belowe, hoef ons nie te wonder of dit gaan gebeur nie. God plaas sy eie eer op die spel as Hy iets belowe. Daarom kan ons maar seker weet dit gáán gebeur. God gaan sorg.

Wat alles nog wonderliker maak, is wat God alles belowe. Dit is die wonderlikste dinge en ons kan seker wees dit gaan alles gebeur. Hy belowe dat Hy vir ons God sal wees as ons Hom dien; dat sy liefde ons sal dra deur wat ook al mag kom; dat Hy ons nie bo ons kragte sal beproef nie; dat Hy met ope arms vir elkeen wag wat in Hom glo en dat as ons in Hom glo ons vir altyd saam met Hom sal wees. Ja, Hy beloof Hy is naby jou, selfs in jou deur sy Gees. Jy hoef nooit bang of alleen te voel nie. En as jy nie meer weet wat om te doen of waarheen om te vlug nie, wéét, Hy is daar. So kan ons aangaan. Miskien moet jy al die beloftes van God in jou Bybel merk. Jy sal verbaas wees wat die Here alles vir jou beloof. En die beste van alles is, Hy breek nooit sy woord nie. Sy beloftes is regtig beloftes.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Draai om, loop God se pad (Bekering)

Draai om, loop God se pad (Bekering)

ʼn Mens kan nie in twee rigtings gelyk loop nie, ook nie as dit by godsdiens kom nie. Jy loop of in die rigting van God of jy loop nie in daardie rigting nie. Moenie dink jy kan so halfhartig-halfhartig die pad van God loop nie. Die Here sê dit is ʼn seker manier om sy pad byster te raak.

Party mense loop sommer fluks die pad weg van God af. As hulle nie direk in hulle spore omdraai en in die ander rigting – na God toe – begin stap nie, het hulle geen kans om by God uit te kom nie. So werk bekering ook: dit is iemand wat op die verkeerde pad is, maar omdraai en die regte pad begin loop. Dit kom neer om ʼn totale omswaai: omswaai van hoe jy oor God dink; omswaai van wie jy wil dien; omswaai van hoe jy wil leef. Ja, dit is ʼn omswaai terug na God toe om so voluit God se pad te loop.

Dit gebeur ook soms dat party Christene stadig maar seker van God se pad begin afdwaal. Hulle begin hulle eerste liefde (dit is nou God) verlaat en begin hulle vurigheid vir God verloor (Openbaring 2-3). Hulle moet mooi kyk op watter pad hulle loop, want netnou loop hulle God se pad mis. Hulle moet maar van hulle verkeerde koers af draai sodat hulle weer in die rigting van God stap.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Here Jesus stuur mense om spesiaal vir Hom te werk (Apostel)

Die Here Jesus stuur mense om spesiaal vir Hom te werk (Apostel)

Apostels is die naam wat vir die vroegste volgelinge van Jesus gegee is.

Dit is die “verafrikaansing” van die Griekse woord apostellein wat stuur beteken. Apostels is dus mense wat spesiaal deur Jesus gestuur is om sy goeie nuus die wêreld in te dra. Ons lees van baie apostels in die Nuwe Testament, maar seker die prominentste een was Paulus. Lees maar hoe begin hy sy briewe: van Paulus, ʼn apostel van Jesus Christus… Daarmee gee hy gesag aan sy boodskap. Dit is nie sy eie boodskap nie, maar Jesus se boodskap. Hy is maar net gestuur (ʼn apostel) om die goeie nuus vir almal te vertel.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy