Die einde of dalk nie? (die dood)

Die einde of dalk nie? (die dood)

Die dood ken ons almal. Dit is omtrent al waarvan jy heeltemal seker kan wees… dat die dood iewers in die toekoms vir jou wag.

In die Ou Testament is die dood as ʼn soort eindpunt gesien. As jy dood is, is alles eintlik verby. God is ʼn God van lewe en as jy dus eers in die doderyk is, is jy weg van God af. Party het selfs gesê dat dit die duiwel se geheime wapen is, juis omdat hulle gedink het dat mense wat dood is van God afgesny is.

Maar Jesus het dinge kom omkeer. Hy het die dood oorwin, wat beteken dat die dood nie meer mense vir altyd van God af kan weghou nie. Die dood is soos ʼn tronk. Mense word daarin toegesluit. Maar Jesus het die sleutels en kan daarom die deure van die tronk (dood) oopsluit soos Hy wil en sy mense uit die tronk (dood) laat uitstap (Openbaring 1:18). Nou het die duiwel nie meer ʼn manier om mense van God af weg te hou nie. Daarom sê die Bybel dat Jesus die dood oorwin het en die ewige lewe vir mense gee (Johannes 3:16).

Ja-nee, Jesus het gewys dat Hy nie net praat nie. Toe Hy self uit die dood opgestaan het – met ander woorde die deure van die tronk oopgebreek het – het Hy gewys dat Hy sterker as die dood is. Die dood hou vir gelowiges geen gevaar meer in nie, juis omdat die krag wat Jesus het, groter as die krag van die “tronkdeure” is.

Daar word ook in Openbaring van die eerste en tweede dood gepraat. Die eerste dood is as ʼn mens fisies doodgaan – dit kan met ons almal gebeur. Die tweede dood is as jy met die finale oordeel voor God dit nie maak nie, ja, as jy nie die ewige lewe by God kry nie (Openbaring 20:14). Dan is jy vir ewig van God geskei, en dit is nie iets wat enigeen seker graag sal wil ervaar nie. Dit is die tweede dood.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die gesalfde van die Here (Christus of Messias)

Die gesalfde van die Here (Christus of Messias)

Ons almal weet van wie ons praat as ons sê: Jesus Christus. Christus is vir ons deel van Jesus se naam, maar eintlik is dit meer as dit.

Christus is die Griekse woord vir Messias, wat weer die Hebreeuse woord is vir “Gesalfde”. In die Bybelse tyd is mense wat belangrike take moes uitvoer met olie “gesalf”. Dit was dan die teken dat God hulle aangewys het om die belangrike ding te doen. So is profete en konings gesalf. Dit was byna soos as jy jou matrieksertifikaat kry. Jy is nou reg om die werkmark aan te pak. So was salwing die teken dat die persoon nou moes begin met sy spesiale taak. Om dus te sê: Jesus Christus, is dieselfde as om te sê: Jesus die Gesalfde.

Maar wat was sy spesiale taak? Hy moet as Koning die heerskappy van God in die wêreld kom aankondig en vestig. Messias beteken dus God se goddelike gesant wat sy mense moet kom red.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die bende van die duiwel (Bose Geeste)

Die bende van die duiwel (Bose Geeste)

Is daar bose geeste? Die Bybel sê daar is magte en invloede en gebeure wat nie goed is nie, om dit nou maar sagkens te stel. Om die waarheid te sê, dit is boos en dit beïnvloed ons almal.

Om dit te verduidelik gebruik die Bybel ʼn beeld van ʼn koning of prins wat oor ʼn koninkryk regeer. Hy het sommer baie name. In Johannes (12:30-31) word die leier of duiwel byvoorbeeld die “prins/leier van hierdie wêreld” genoem en op ander plekke die slang van ouds, die draak of ook sommer Satan (Openbaring 12:9).

Om jou te kan voorstel hoe die Satan en sy magte werk, moet jy dink aan ʼn leier wat in ʼn koninkryk regeer. Die leier het baie helpers/diensknegte, die demone en bose geeste, wat hom op verskillende maniere in sy koninkryk moet dien, help en bystaan. So is die duiwel die leier van groot groepe demone, bose geeste en so aan. Elkeen van hierdie demone of geeste het sy eie werk en dit is beslis nie om goed te doen of soet te wees nie. So lees ons soms in die Bybel van bose geeste, ander kere van demone of van die duiwel self. Bose geeste is dus die anti-goddelike magte wat God se saak in die wêreld probeer verongeluk. En een van die hoof slagvelde tussen God en Satan is tussen en in mense. Daar word om mense se lojaliteit en siele geveg.

In die lig moet ons ook die opmerkings in die Bybel sien dat Jesus oorwin het. Dit was twee magte wat mekaar die stryd aangesê het en die Here Jesus het gewen. Nou is daar nog so bietjie weerstand van die duiwel se kant, maar hy het klaar verloor.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Bloed van Jesus

Bloed van Jesus

Bloed is vir die meeste van ons maar grillerig. Daarom wonder party van ons waarom Jesus dan sy bloed moes gee vir ons sondes. Wel, om dit te verstaan moet ons kyk wat die Bybel presies daarmee bedoel.

Die lewe is in die bloed, het die Bybelse mense gesê, want as iemand baie bloei, gaan die persoon dood… sy lewe loop uit hom uit, om dit nou maar so te stel. Bloed en lewe is sye van dieselfde munt.

ʼn Tweede ding om te weet: mense het destyds ooreenkomste gemaak (verbonde gesluit). So ʼn ooreenkoms het presies beskryf wat elke party in die ooreenkoms moes doen. As God ʼn ooreenkoms met sy volk maak, sê Hy dat Hy vir hulle ʼn God sal wees, maar dan moet hulle vir Hom ʼn volk wees. Hy gee vir hulle sy Tien Gebooie (sy Verbondswet) sodat hulle presies weet hoe om die ooreenkoms na te kom. MAAR, wat as hulle nie luister nie, of die ooreenkoms breek? Wel, dan moet hulle gestraf word, lui die ooreenkoms. (Dit is nie so vreemde gedagte nie, want as ons vandag nog ʼn ooreenkoms maak, staan daar gewoonlik in die ooreenkoms wat gebeur as ons nie ons deel nakom nie. Dan word ons gestraf met ʼn boete of so iets. Dit is hoe ooreenkomste werk). In die ooreenkoms tussen God en sy volk is die strafklousule dat as die volk hulle rug op God draai, het God die reg om hulle dood te maak. Hulle bloed mag maar vloei, om dit so te stel.

Die derde ding om te weet is dat God wel iets soos “in die plek van” ken en toelaat. Diere se bloed/lewe het byvoorbeeld “in die plek van” mense gevloei. So is die bepalings van die ooreenkoms op ʼn manier nagekom. Nie mense het hulle lewens verloor nie, maar diere is in hulle plek geoffer.

Wel, ons leef natuurlik nie altyd soos God wil nie en daarom moes die dood ook maar vir ons wag. En dit is waar Jesus se bloed inkom: aan die kruis het daar bloed gevloei… ja, die lewe het uit Jesus verdwyn; daar was dood. Dit gebeur in ons plek. Jesus gee dus sy lewe om so die bepalings van die ooreenkoms na te kom. Daarom kan ons leef.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy