Jesus as mens

Jesus as mens

Jesus is die Seun van God wat mens geword het. Nou is daar mense wat sê dat Jesus nie regtig mens geword het nie, terwyl ander weer sê dat Jesus net mens was en nie God ook nie. As ons na die Bybel kyk, is een ding seker: Jesus was regtig mens gewees

Ons hoef nie ver te soek om te sien hoekom ʼn mens so kan sê nie. Jesus is soos ʼn mens uit ʼn ma gebore (Matteus 1-2 en Lukas 1-2). Hy het nie uit die hemel geval nie. Hy het tussen broers en susters in ʼn familie grootgeword. Hy het ook honger gekry en was ook dors na ʼn lang stap in die warm son (Johannes 4). Sy hart kon ook seer word, ja, Hy kon selfs huil (Johannes 11:33,38). Net soos ons het Hy ook liefgehad (Johannes 11:5) en was ook bang (Matteus 26:37). Hy het ook fisies gely toe Hy geslaan en uiteindelik aan die kruis vasgespyker is. Daar is Hy ook as mens dood.

Jesus was mens… maar Hy was ook meer.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God was self betrokke by die totstandkoming van die Bybel (Inspirasie van die Bybel)

God was self betrokke by die totstandkoming van die Bybel (Inspirasie van die Bybel)

In 2 Timoteus 3:16 staan daar dat die hele Skrif deur God geïnspireer is.

Hoewel Paulus waarskynlik hier net Ou-Testamentiese boeke in gedagte gehad het (die Nuwe Testament het toe nog nie bestaan nie), kan die woorde net so wel op die hele Bybel van toepassing gemaak word. God was betrokke by die totstandkoming van die Skrif. Die vraag is hoe? Hier word gesê dat Hy die Skrif geïnspireer het. Dit word natuurlik op verskillende maniere geïnterpreteer. Sommige sê dat dit beteken dat die Heilige Gees self die skrywer van die Bybel was. ʼn Mens kan jou byna voorstel dat die Gees die hand van die skrywer van ʼn betrokke boek van die Bybel gevat en daarmee “geskryf” het. Ons noem dit meganiese inspirasie. Ander sê dat die Gees nie die hand van die skrywer rondgestoot het nie, maar wel gesorg het dat die skrywer die waarheid neerskryf. Die skrywer was dus deur die Gees beïnvloed om die waarheid neer te skryf. Dan is daar mense wat sê dat die lees van die Bybel deur God geïnspireer is. Met ander woorde, die woorde op die papier is nie geïnspireer nie, maar wanneer jy dit lees, maak God die woorde en boodskap in jou kop lewendig. So is daar baie teorieë oor wat presies die inspirasie van die Skrif beteken. Hoe ons dit nou ook al mag verstaan… een ding is seker: God staan agter die boek wat ons as die Bybel ken. Dit is sy boodskap en sy woord

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons wete dat God sy beloftes hou (Hoop)

Ons wete dat God sy beloftes hou (Hoop)

Hoop is vir Christene belangrik, soos vlerke vir ʼn arend.

Soos vlerke die arend die ruimtes indra, dra hoop die Christen die toekoms in. Christelike hoop is nie iets soos om te “hoop dit reën” nie. Dit is nie iets onsekers nie. Nee, Christelike hoop is om seker te wees iets gaan gebeur, jy weet net nie wanneer nie. Jy kan seker wees, want Christelike hoop is altyd op die beloftes en teenwoordigheid van God gebou. Daarom is die hart van Christelike hoop vertroue. Ons hoop byvoorbeeld op die koms van Jesus… dit is seker dat Hy weer gaan kom, ons weet net nie wanneer nie. Ons hoop om saam met God in die hemel te wees… ons weet ons gaan, maar wanneer dit gaan gebeur, is nie seker nie. Daarom is hoop die Christelike eienskap wat ons laat volhard as dit swaar gaan, wat ons ʼn vaste doel in ons lewe gee. Ons weet ons kan op God vertrou. Dit laat ons die toekoms inkyk op die vlerke van die beloftes van God.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)

Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)

Die hemel is die plek waar God is. Die mense in die Bybelse tyd het gesê dat God bo is – in die hemel. Ons bly hier op aarde en onder die aarde is die doderyk. Hoe verder jy dus van bo af onder toe beweeg, hoe verder beweeg jy weg van God af. So het hulle dit vir hulleself voorgestel.

As die Bybel nou wil vertel wat met ons gaan gebeur as die Here weer kom, word daar gesê dat ons hemel toe gaan. Dit is maar ʼn ander manier om te sê dat ons vir altyd by en saam met God gaan wees. Kyk na die volgende drie beskrywings in die Bybel:

  • 1 Tessalonisense 4:15-17: hier word gesê dat Jesus op die wolke sal verskyn en ons sal kom haal. Hy sal ons dan saamvat, die hemel in. Dit is ʼn ander manier om te sê dat gelowiges vir altyd sal wees waar God is.
  • 2 Petrus 3:10-13: hier word gesê dat die ou hemel en aarde vernietig sal word. Daar sal ʼn nuwe hemel en aarde in die plek daarvan kom. Dit beteken God sal nog in die hemel wees en die mense op aarde, met die verskil dat die mense God se wil nou volledig op aarde sal doen. Op die manier sal Hy tussen die mense wees.
  • Openbaring 21: Hierdie hoofstuk vertel hoe die ou hemel en aarde sal verdwyn en ʼn nuwe hemel en aarde tot stand sal kom. En dan sal daar iets groots gebeur: die skeiding tussen hemel en aarde sal verdwyn, want die hemel sal soos ʼn nuwe Jerusalem op die aarde neersak. So sal hemel en aarde een word. God sal dus tussen die mense kom bly.
Die drie beelde verskil, maar in al drie is daar ʼn goue draad: God sal by ons wees en ons sal by Hom wees. Daar sal nie meer sonde en boosheid wees nie. So gaan die hemel wees. Hoe wonderlik dit gaan wees kan ons ons nie nou voorstel nie. Openbaring probeer met die beeld van ʼn goue stad vir ons verduidelik dat dit iets uit ʼn ander wêreld gaan wees, ja, iets heeltemal onvoorstelbaar. Hoe dit gaan wees, is ons nie heeltemal van seker nie, maar dat dit absoluut wonderlik gaan wees, daarvan kan ons seker wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy