Amos(22) – Francois Malan

Amos 9 vers 13

9:13 ‘Kyk! daar kom dae,’ is die Godspraak van die HERE,
dat die een wat ploeg die (graan) snyer (2020: die een wat graan oes) sal inhaal,
en die een wat druiwe trap die een wat die saadsak van die saaier dra. (sonder ‘van die saaier’ in die 2020
vertaling)
Die berge sal drup van druiwesap en die heuwels sal in beweging raak (2020: sal golf van graan).

Met ’n nuwe inleiding verwys die Godspraak na die Messiaanse toekoms. Die resultaat van die HERE se herbou van die
gevalle hut van Dawid soos dit in die ou tyd was, word uitgespel: Die een wat kom ploeg (gewoonlik word in
September-Oktober die vore getrek waarin gesaai word) kry die een wat met die sekel graan oes (wat gewoonlik in
April begin) nog besig op die land, so groot is die oes. In September begin die druiwe-oes, en hulle is nog besig om die
druiwe te trap vir wyn wanneer die saaiers in November opdaag. Die berge is vol wingerd geplant en die heuwels
oortrek met graanlande.

’n Paradystoestand word geskilder vir die herstel van die koninkryk van Dawid, soos die HERE aan Moses die beloofde
land geskilder het. Dit sal ‘n land wees wat oorloop van melk en heuning (Eks 3:8,17), amper soos in Joël 3:18 en
Esegiël 47:12, wat opgeneem is in Openbaring 22:1-2 waar die boom van die lewe elke maand vrugte dra. Maar toe die
Israeliete weier om die land in te trek, het die HERE gesweer, nie een van hulle sal die land betree nie (Num 14:30, vgl.
Jos 5:6). In Levitikus 26:3-5 het die HERE belowe: as hulle sy voorskrifte nakom sal Hy reën gee op die regte tyd, die
lande sal oeste oplewer, en bome vrugte dra, hulle sal oorgenoeg kos hê en sonder sorge in die land woon met gereelde
oeste. Maar as hulle nie na Hom luister nie, sal hulle niks daarvan kry nie (Lev 26:18-20).

In Hosea 2:13-14; 3:5 verduidelik die HERE dat die ballingskap van Israel en Juda ’n tweede woestyntyd is waarin
hulle sal leer om die HERE weer lief te kry en om totaal van Hom afhanklik te lewe. En daarna sal Hy weer vir hulle
wingerde gee. Hy sal die Akorlaagte, waar Israel vir Akan moes stenig oor sy ongehoorsame diefstal in Jerigo met die
intog in die beloofde land, ’n poort na ’n nuwe toekoms maak. Maar ná hulle terugkeer uir ballingskap het hulle
oortredings en sonde gemaak dat die HERE Hom nie aan hulle steur nie (Jes 59:). Daarom gaan die HERE ’n nuwe
hemel en ’n nuwe aarde skep (Jes 65:17).

Die koningsheerskappy van Jesus Christus, die Gesalfde koning uit die geslag van Dawid (Matt 1:1), sal op alle maniere
gelukkig en geseënd wees, ook in die natuur, vir dié wat in Hom glo (vgl. Matt 5:3-10 – vers 5: ‘die sagmoediges sal die
aarde beërf’). Hy kom die nuwe hemel en die nuwe aarde skep met sy nederige diens wat uitloop op die ewige lewe vir
sy volgelinge. (Matt 25:34; Joh 17:2-3; 2 Petrus 3:13; Openb 21:1-8).

Amos 9 vers 14-15

9:14 ‘Ek sal die sondeskuldlas (2020:lot) van my volk Israel verander. Hulle sal die verwoeste stede herbou en
bewoon; hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink; hulle sal tuine plant en die vrugte daarvan eet.

Die vers is een van die grootste vertaalprobleme in Amos. Die Hebreeuse woord wat deur 2020 met ‘lot’ vertaal is,
verwys na die sondeskuld wat Israel as die HERE se volk by die HERE opgebou het met hulle sondige lewens. Daardie
skuldlas het die HERE op hulle gelê, want Hy spreek niemand sonder meer vry nie (Eks 34:7). Oor hulle verbreking
van hulle verbond met Hom het Hy hulle met die dood en ballingskap gestraf. Ps 126:4 gebruik dieselfde Hebreeuse
woord wat in die 2014-vertaling ook lui: ‘Verander weer ons lot HERE.’ Die belofte dat die HERE die skuldlas wat Hy
op sy volk gelê het, gaan ophef, beteken dat Hy hulle weer sal aanneem in ’n hernude lewensgemeenskap met Hom as
sy volk. Dit kan slegs gebeur deur die offerdood van Jesus Christus (Joh 1:29).

Die belofte van die HERE oor die toekoms van Israel word eers vervul met die koms van Jesus Christus wat vir die hele
mensheid hulle sondeskuld kom dra en so hulle verhouding met God regstel. Hy maak mense regverdig voor God.
Israeliete wat soos die heidene tot bekering moet kom om in Jesus Christus te glo wat al ons sonde op Hom neem, word
ook deel van die koninkryk van God. So het Jakobus Amos 9:11-12 aangehaal in Handelinge 15:16-18 as dinge wat van
lank gelede bekend is (vgl. Romeine 11:25: Daar het oor’n gedeelte van Israel ’n verharding gekom totdat die volle
getal van die heidene ingekom het; vgl. ook in Luk 21:24; Joh 10:16).

Met Israel se terugkoms ná die ballingskap het die HERE sy volk hulle woonplek en stede, vreugde en voedsel,
wingerde en tuine teruggegee. Volgens 5:11 is hulle juis daarvan ontneem weens hulle verdrukking van die armes.

9:15 ‘En Ek sal hulle plant in hulle grond en hulle sal nie weer uitgepluk word uit hulle grond wat Ek aan hulle
gegee het nie,’ het die HERE, jou God gesê.
(2020: hulle sal nie weer verwyder word van die grond…; LXX …sê die Here die Almagtige God.)

Die belofte dat Israel in die Messiaanse toekoms nie weer uitgepluk sal word nie, veronderstel dat hulle voor die koms
van die Messias, wel uitgepluk gaan word, soos gebeur het met hulle ballingskap na Assirië. Ná die ryke seëninge in die
plantewêreld (9:13-14) sal hulle self ook geplant word in die grond wat die HERE uit sy genade aan hulle gee. Maar die
volle vervulling van ‘nie weer uitgepluk word nie,’ kom eers in die verre toekoms.

Slegs die tweede maal verwys Amos vir Israel na die HERE as ‘jou God.’ In 4:12 het dit gegaan oor Israel wat hulle
moet regmaak om hulle God te ontmoet vir sy oordeel oor hulle lewe. Hier gaan dit oor die ryke seëninge wat hulle ná
die eindoordeel nie weer sal verloor nie. Voor daardie dag van die finale oordeel is hierdie profesie nie ten volle vervul
nie. Die ryk van Christus is die begin van die oprigting van die vervalle hut van Dawid. Van eeu tot eeu gaan God met
die bou aan die Godsryk voort. Maar die vervulling daarvan kom slegs met die wederkoms van Christus vir die finale
oordeel. Die woord van ‘jou God’ wat aan Amos geopenbaar is, is ’n vergesig oor die volkomenheid van die Godsryk.
Dit gaan oor die heil wat nie weer verlore kan gaan nie. Dit gaan God ten volle vervul op die nuwe aarde, met die finale
oordeel. Intussen is daar deur die eeue gemeentes van Christus met ’n verskeidenheid van kwaliteite waar elke gelowige
wag om Hom te ontmoet vir sy finale oordeel oor elkeen se lewe (Matt 25: 31-46; Eseg 34:12,17).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos(21) – Francois Malan

Amos 9 vers 9-10

9:9 Want kyk, Ek gee bevel, Ek skud onder al die nasies die huis van Israel, soos in ‘n sif rondgeskud word, en
nie ‘n klippie sal op die grond val nie.

Israel word opgeroep om goed te luister. Die HERE gee ’n bevel en Hy, wat alles nasies skud, skud die huis van Israel.
Die sprankie hoop waarmee vers 8b eindig dat die HERE die nageslag van Jakob nie heeltemal sal uitroei nie, moenie
’n valse hoop by Israel wek nie. Hoewel die HERE die tien stamme gaan uitroei deur die swaard, hulle in ballingskap
laat wegvoer en selfs daar met die swaard gaan bykom, bly Juda uit die nageslag van Jakob voorlopig nog oor, en ook
enkele Israeliete wat tog agterbly (2 Kron 30:1).

Die huis van Israel verwys hier na die tien stamme wat vernietig word, met uitsluiting van die stam van Juda. Die stam
van Simeon het in Juda opgegaan (Jos 19:1,9), en ’n deel van Benjamin is by Juda gevoeg. Benjamin se gebied lê tussen
dié van Juda en Josef, en Jerusalem val in die gebied van Benjamin (Jos 18:11,28). Onder die tien stamme tel Josef se
twee seuns: Efraim en Manasse as twee stamme.

Die beeld van die sif wat ’n boer gebruik om die klippies uit die koring uit te sif, sluit by vers 8a se voorspelling aan:
‘Ek gaan Israel van die aarde af wegvee.’ Terwyl die koring deur die sif val, bly die klippies in die sif agter. So sal die
HERE almal wat hulle rug op Hom gedraai het, in die sif opvang vir sy straf. In die HERE se sif word al die nasies
gesif. Vers 10 wys ook wie in die sif gaan agterbly, wat weggegooi gaan word om deur die HERE gestraf te word.

9:10 ‘Deur die swaard sal al die sondaars van my volk sterwe,
hulle wat sê: ‘Jy mag nie die onheil ons laat bereik en tot by ons laat kom nie.’
2020: hulle wat sê: ‘die onheil sal ons nie bereik en tot by ons kom nie.’

Die twee werkwoorde, ‘bereik’ en ‘kom’ word in die woordeboeke aktief en oorsaaklik aangebied. 2020 beskou dit as
aktief, dat Israel sê ‘die onheil, sal ons nie bereik nie…’ Met die werkwoorde wat die oorsaak aandui sê Israel vir Amos,
hy mag nie met sy boodskap die HERE se onheilsdag vir hulle nader bring nie. Hulle skuif daarmee die skuld op Amos.
Maar Amos se boodskap is dat húlle die dag van die HERE se oordeel nader bring met hulle sonde (6:3). Hulle verbied
hom ook om die onheil tot by hulle te bring, vlak voor hulle voete neer te sit. Daarmee versper hy hulle kans om te vlug
met sy uitsprake in 9:1-4, dat hulle nêrens die HERE kan ontvlug nie. So stapel hulle sonde op sonde. Hulle verwerp
daarmee die HERE se woord, sy oordeel oor hulle, dat al die sondaars van sy volk sal sterwe.

Hiermee eindig Amos se prediking van oordeel. Maar in verse 8,9 en 10 het hy die weg na heilsverkondiging geopen.
As die sondige koninkryk uitgewis is en die HERE sorg dat daar ’n oorblyfsel is (vers 8), as die siftingsproses
afgehandel is (vers 9) en die sondaars met die swaard afgemaai is (vers 10), breek ‘daardie dag’ van ’n beter toekoms
aan (vers 11).

Die herstel van Israel (Amos 9 vers 11-15)

Die slot van Amos bevat die positiewe heilsbelofte in twee Godsprake: 11-12 en 13-15. (Daar is baie vertaalprobleme
by dié laaste gedeelte).

9:11 ‘Op daardie dag sal Ek die vervalle hut (LXX tent) van Dawid oprig. Ek sal sy bresse toebou en die ruïnes
weer opbou om te wees soos in die dae van weleer,
9:12 sodat hulle besit kan neem (yiyeresjoe) van die oorblyfsel van Edom (’dm – ’ēdōm) en van al die nasies oor
wie my Naam uitgeroep is’ is die Godspraak van die HERE, wat dit doen.
LXX …dat die oorblyfsel van die mense (’dm -’ādām), en al die heidene oor wie my Naam genoem
word (my) ernstiglik sal soek (yideresjoe), sê die HERE wat al hierdie dinge doen.

Die beeld van die vervalle hut van Dawid word figuurlik gebruik vir die ryk van Dawid wat oor Juda en Israel regeer
het, en aan die verbrokkel was. Israel sal verstrooi wees in die land van die vyand. In 722 v.C. is Israel in die Assiriese
ryk verstrooi (2 Kon 17:6). In 612 v.C. kom die Assiriese ryk tot ’n val voor Babilonië. In 597 v.C. (2 Kon 24:14-16) en
587 v.C. (2 Kon 25:10-21) word Juda na Babel weggevoer. In 539 v.C. neem Kores die Pers die Babiloniese ryk oor. In
538 v.C. vaardig Kores die dekreet uit dat enigiemand wat aan die HERE se volk behoort na Jerusalem mag teruggaan
(2 Kron 36:22-23; Esra 1:1-4). Wat van Juda en Israel in die ballingskap oorgebly het gaan weer opgebou word en die
skeur tussen Juda en Israel herstel word. Serubbabel herbou die Jerusalemtempel in 520-515 v.C., Nehemia herbou die
mure van Jerusalem in 444-433 v.C.

Letterlik verwys die hut na ’n tydelike hut van takke langs die boord of wingerd waar gewerk word. Tydens die jaarlikse
huttefees ná die insameling van die vrugte-oes, is ook hutte opgerig ter herinnering aan Israel se woestynreis (Lev
23:43) Die HERE se belofte aan Dawid was egter dat Hy vir Dawid ’n koningshuis gaan vestig, ’n koningskap wat altyd
sal vasstaan en ‘n troon wat altyd sal voortbestaan tot in die verre toekoms (2 Sam 7:11,16,19). Amos voorsien ’n dag
waarop die grense van die nuwe Israel weer so sal wees soos in Dawid se tyd, toe hy ook Edom en die ander
omringende volke wat in Amos 1-2 genoem word, ingeneem het (2 Sam 8:13).

Die Godspraak van die HERE aan Amos oor die opbou van Dawid se gevalle heerskappy is ’n voorafskaduwee van
Christus se koningsheerskappy in die opbou van die koninkryk van God wat al die nasies insluit, en dat die Naam van
die HERE oor almal uitgeroep word (Matt 28:18-20). Jesus, afstammeling van Dawid, het met sy lewe, dood en
opstanding die koninkryk van God vir ewig kom oprig (Luk 6:20; 17:21; Joh 3:36; vgl. die visioen van Daniël 7:11).
Jakobus, die broer van Jesus en leier in die Jerusalemgemeente (Mark 6:3; Gal 2:9; Hand 21:18) haal dié twee tekste
van Amos aan as die skriftuurlike riglyn vir die opneem van die heidene in die kerk (Hand 15:16-18).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos(20) – Francois Malan

Amos 9 vers 5-6

9:5 Verse 5-6 is ’n lofprysing van die HERE wat verse 1- 4 se Alomteenwoordigheid van die HERE beklemtoon.

‘En my Heer, die HERE van die leërskare, raak die aarde aan en dit wankel (2020: sidder),
en almal wat daarop woon, sal treur. Dit sal in geheel opstyg soos die Nyl en sak soos die rivier van Egipte.

In vers 1 gaan die aarde se Heer die Bet-El-tempel en al die aanbidders met ’n aardbewing ombring, soos afgelei kan
word van die kosyne wat wankel en die dak wat instort. Hier word die aardbewing beskryf met die magtige Nyl wat
styg om sy walle te oorstroom, en dan weer sak. So lig die aarde op en val weer soos met ’n aardbewing. Hier tref die
aardbewing nie net vir Bet-El nie, maar die aarde, die hele Israel. Dit is beelde vir die totale uitwissing van Israel wat in
9:1-4 uitgespel is.

Wanneer my Heer slegs aan die aarde raak, skud die aarde so geweldig, dat die mense verskrik rondhardloop en treur as
hulle alles sien intuimel, dat die magtige aardbewing al hulle besittings vernietig. So sal die Assiriërs hulle land stroop
(2 Kon 17:20,23). Amos besing die grootheid van sy Heer se mag ook oor die natuurkragte. Hy kan die natuurkragte
aanwend soos Hy wil. In vers 4 het die Heer wat oor die hele aarde regeer, reeds oor Israel gesê: ‘Ek sal my oog op
hulle hou, ten kwade en nie ten goede nie.’

9:6 ‘Hy wat sy trappe/opgange in die hemel bou (LXX sy opgang; van Gelderen: oppersale; 2020: bokamer)
en sy hemelgewelf op die aarde vestig, wat die water van die see roep en dit op die gesig (2020: oppervlakte)
van die aarde uitgiet, HERE is sy Naam.

Wat die HERE in die hemel bou is nie duidelik uit die Hebreeuse woord wat hier gebruik word nie. Die woord word
ook gebruik as opskrif vir Ps 120-134 se ‘pelgrims’-liedere wat hulle op die trappe van die tempel gesing het. Hier is
dit moontlik oppersale in die hemel waarop die hemelgewelf rus. Die hemelgewelf wat Hy op die aarde gevestig het is
‘n beeld van die heelal wat die HERE geskep het en daagliks bestuur. Die antieke beeld van die heelal het gedink aan ’n
plat aarde met drie hemele: die boog van die wolkehemel wat oor die aarde gespan is, die gewelf as die sterrehemel bo
die boog van die wolkehemel, en die hoogste hemel waar God woon, bokant die sterrehemel (vgl. 2 Kor 12:2 vir die
derde hemel). Hierdie vers besing die lof van die HERE as die Skepper van hemel en aarde (Gen 1:1).

Vers 6b kom baie ooreen met 5:8b oor die HERE wat die heelal daagliks onderhou ook met reën maar ook die
natuurkragte kan gebruik om verwoesting te saai (9:5,8). Soos Hy destyds die sondvloed gebruik het om die
goddeloosheid van die mense uit te wis, kan Hy Israel ook uitwis. Dit is voor Hom wat Israel rekenskap moet gee
(4:12).

Die groep Godsprake in 9:7-10 is ’n onderbreking tussen die vyfde visioen met sy lofprysing aan die einde (1-6), en
11-15 se visioene van herstel.

Amos 9 vers 7-8

9:7 ‘Kinders van Israel! Is julle vir My dan nie soos die kinders van die Kussiete nie?’ is die Godspraak van die
HERE. Het Ek dan nie vir Israel gebring uit die land van Egipte, en die Filistyne uit Kaftor, en die
Arameërs uit Kir nie?’

LXX het ‘Ethiopiërs’ vir ‘Kussiete;’ ‘Kappadosië’ vir ‘Kaftor;’ en ‘Siriërs uit die diepte’ vir ‘Arameërs uit Kir.’

Ná die HERE se openbaring in die natuur (9:5-6) kom Amos by die HERE se openbaring in die geskiedenis. Hy beheer
ook die geskiedenis van volke. As Israel hulle losmaak van die HERE, wat maak hulle dan anders as die ander volke?
Hulle wil mos graag soos die ander volke wees, waar elke volk sy eie koning en sy eie God het (1 Sam 8:7). Daarmee
het hulle hulle roem tot niet gemaak, om die voorste nasie te wees omdat hulle die uitverkore volk van die HERE was
(6:1). Hulle word hier deur die HERE gelykgestel met die mees suidelike volk wat hulle ken, die Kussiete, suid van
Egipte, op wie hulle neergesien het – Num 12:1: Mirjam en Aäron spreek Moses aan oor sy Kussitiese vrou; Jeremia
13:23 verwys na die Kussiete se donker vel; Jer. 38:7-13 vertel van die Kussitiese slaaf Ebed-Melek (‘slaaf van die
koning’) wat vir Jeremia uit die put opgetrek het. Israel het vir die HERE soos hulle slawe uit Kus geword.

Israel se uniekheid verdwyn in die niet langs die HERE se geskiedenis met hulle bure wat Hy ook gelei het en rondom
Israel gevestig het. Israel se suidelike bure, die Filistyne, kom uit Kaftor in die omgewing van Kreta (In Eseg 25:16
word hulle Kretense genoem, Sef 2:5). Israel se noordelike bure, die Arameërs, het die HERE uit Kir gebring (Amos
1:5). Vanuit die omgewing van Mesopotamië het die HERE hulle in Sirië kom vestig met Damaskus as hulle hoofstad
(volgens 2 Kon 9 het Assirië die Arameërs later weggevoer, terug na Kir).

Die HERE het Israel ‘geken,’ sodat hulle Hom sou ‘ken’ (3:2). Maar omdat hulle die HERE nie waarlik ‘ken’ deur Hom
te vereer en te gehoorsaam, soos Hy hulle gelei en gewaarsku het nie, het hulle die voorreg verbeur om die HERE se
volk te wees.

9:8 ‘Kyk!(gee aandag). Die oë van my Heer, die HERE, is gerig teen (2020: op) die sondige (opstandige)
koninkryk en sê ‘Ek gaan dit uitroei van die aangesig/oppervlakte van die aarde af (Amos 2:9). Nogtans gaan
Ek nie die huis van Jakob heeltemal vernietig nie,’ is die Godspraak van die HERE.’

‘Die sondige koninkryk’ verwys in die eerste plek na die tien stamme van Israel, maar geld ook vir enige sondige
koninkryk, dat die oë van die HERE op hulle gerig is. In die vers beteken dit dat die HERE Israel se sondige opstand
(pesja‘) teen Hom baie goed ken en hulle daarom gaan uitroei (vgl. Deutr 6:15).

Nogtans gaan die HERE nie die huis van Jakob heeltemal vernietig nie. Die huis van Jakob sluit al twaalf die stamme
van Jakob se 12 seuns in. Sy verbond met Jakob sal Hy gestand doen (Gen 28:14 ‘in jou en jou nageslag sal al die volke
van die aarde geseën wees), en Hy sal sorg dat ‘seweduisend nie hulle knie voor Baäl buig nie,’ soos in Elia se tyd, 100
jaar voor Amos (1 Kon 19:18). Dié woord van die HERE aan Elia word deur Paulus aangehaal ten op sigte van die Jode
wat nie vir Jesus Christus verwerp nie (Rom 11:4). Die belofte van God aan Abraham oor alle volke, in Genesis 12:3
word in Jesus Christus vervul (Matt 1:1; 28:19).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos(19) – Francois Malan

Die HERE staan by die altaar (Die vyfde gesig: Amos 9:1-4)

9:1 ‘Ek het my Heer by die altaar sien staan en Hy het gesê:
‘slaan die pilaarkop (kapiteel van die pilaar) stukkend dat die drumpels bewe
en breek hulle in stukke oor die koppe van hulle almal, en die res van hulle sal Ek met die swaard doodmaak.
Nie een vlugteling van hulle sal ontvlug nie, en nie een van hulle wat homself probeer red, sal ontsnap nie.

LXX lees ‘versoendeksel’ (kaforêt) vir ‘kapiteel’ (kafetōr); 2020 wysig ‘breek hulle in
stukke’ (betsa’am) tot: ‘maak ’n einde aan hulle’ (bêtsam); en wysig ‘oor die koppe van hulle
almal’ (bero’sj kelām) tot: ‘dié van hulle op die voorpunt van almal;’ en: ‘res’ tot ‘agterhoede.’

Dit is die moeilikste teks in Amos, wat op verskillende maniere probeer vertaal word.

Die kern van die oordeel is die Persoon van die komende Regter wat orals alles sien, en kom om Israel te oordeel.
Die altaar staan waar die gemeente hulle offers na hulle godheid bring. Dit wys hier waarskynlik na die altaar voor die
tempel in Bet-El. Met sy kragtige woord (‘Hy het gesê’ soos in Gen 1:3) van die altaar af, slaan die HERE die versierde
top van die groot pilaar waarop die dak van die tempel rus, dat die drumpels bewe (soos die tempel wat Simson op die
skare heidense Filistyne laat instort het (Rigt 16:19-30), hier egter op die HERE se vervreemde volk. Dit is ’n teken van
die beëindiging van die HERE se gemeenskap met Israel en hulle offers en hulle tempels. Die HERE se woord laat die
volgende geskied: Hy breek die dakbalke in stukke oor die koppe van al die mense wat bymekaar is. Dit lyk na die
beskrywing van ’n aardbewing of ’n stormwind aan wie die HERE die opdrag gee om die hele tempelgebou en die
aarde rondom te skud en die tempel met die mense daarin te vernietig. Dié wat ná die storm nog oorbly, sal die HERE
met die swaard laat doodmaak. Niemand in die hele Israel sal die dood kan ontvlug of ontsnap nie, soos ook blyk uit die
volgende tekste:

9:2 ‘Al sou hulle deurbreek na die doderyk (sje’owl), vandaar sal my hand hulle gryp,
al klim hulle op tot in die hemel, vandaar sal Ek hulle aftrek.
LXX: as hulle in die hel gaan wegkruip sal my hand hulle daaruit uittrek…
2020: Al grawe hulle tot in die doderyk – van daar af sal my hand hulle uithaal…

Niemand sal die alomteenwoordige HERE se wraak kan ontvlug of sy hand kan ontkom nie, soos die volgende vyf
voorbeelde wys: Vyf moontlike plekke wat Israel sou kon oorweeg om van die HERE weg te vlug word genoem:

1 Hulle kan oorweeg om onder die aarde deur te breek tot in die doderyk, in die verwagting dat die doderyk miskien
buite die perke van die HERE se gesag is (vgl. Hosea 23:8 en Luk 23:30 Israel sal vir die berge sê ‘val op ons’ en vir
heuwels ‘bedek ons’). Maar ook in die dood kan ’n mens nie die straf van die HERE ontvlug nie . Spreuke 15:11 sê:
Sheool en Abadon lê oop voor Hom. Met sy kragtige hand sal Hy hulle orals bykom, sy mag strek ook oor die doderyk.

2 Teenoor die diepste plek staan die hoogste, die hemel. As hulle tot daar sou kon klim, soos die mense van Babel
beplan het (Gen 11:4), sal die HERE hulle afbring vir hulle straf. Hy is teenwoordig in die hemel en die doderyk (Ps
139:7-8). In 4:12 het die HERE reeds vir Israel gesê: maak jou klaar om jou God te ontmoet.

9:3 ‘Al versteek hulle hulleself op die top van Karmel – daar sal Ek hulle opspoor en uithaal;
Al kruip hulle vir my oë weg op die bodem van die see – daar sal Ek die slang beveel om hulle te pik.’

Die noord-westelike bergreeks in Israel loop al langs die Middellandse See tot teen die see by Karmelspits, met baie
grotte in die bergreeks en baie bome op Karmel waar hulle deeglik uitgesnuffel sal word (chiffēs). Jona het vir die
HERE probeer wegkruip op die bodem van die see (Jona 1:3,12). Karmelspits is ’n bereikbare hoogte en die see ’n
bereikbare diepte, terwyl die hemel en die onderwêreld nie vir ’n vlugteling bereikbaar is nie. Maar sou Israel vir die
vyandelike leër wat die Heer van die leërskare stuur in die berge by Karmel gaan wegkruip of op die see, selfs tot by die
bodem van die see induik, ook daar sal hulle die Heer nie ontvlug nie.

Die vers onderstreep die Alomteenwoordigheid van die Heer van die skepping, soos Ps 139:7-12. Nêrens in die heelal
kan iets of iemand vir die Skepper verborge wees nie. Hy is orals in sy skepping teenwoordig en vir sy oë kan niemand
wegkruip nie. Hy kan enigeen van sy skepsels opdrag gee om sy besluit uit te voer; wat selfs aan ’n seeslang kan opdrag
gee om iemand dodelik te pik. So het Hy, toe Israel in die woestyn ongeduldig geword het, giftige slange gestuur wat
die mense gepik het, en baie van hulle het gesterf (Num 21:6). So het die HERE ná Amos se tyd die Assiriërs gestuur
om Israel uit te roei en sommige in ballingskap weg te sleep en te gaan verstrooi (2 Kon 18:11).

9:4 ‘Al gaan hulle in ballingskap voor hulle vyande uit, daar sal Ek die swaard beveel en dit sal hulle
ombring, en Ek sal my oog op hulle hou, ten kwade en nie ten goede nie.

Die vyfde plek vanwaar die HERE Israel kan bykom is tydens hulle wegvoering in ballingskap, voor hulle vyand uit as
hulle as buit aangejaag word om in ballingskap as slawe verkoop te word. Selfs daar is hulle nie veilig teen die swaard
van die HERE nie. So sal Hy vers een se dreiging van ’n totale uitwissing van die volk uitvoer.

Die oog van die HERE word op elke mens gehou. Hy hou sy oog veral baie skerp op wie se oortreding vergewe is om
aan hom insig en raad te gee, om die pad wat hy moet loop vir hom te leer (Ps 32:1,8). So was sy oog ten goede op
Israel om hulle te versorg. Maar weens sy uitverkore volk se verwerping van Hom, hou Hy sy oog op hulle ten kwade –
voortaan sal Hy juis hulle gaan haal en straf totdat hulle vergaan en nie langer sy Naam oneer kan aandoen nie (vgl
Hebreërs 10:26-31 ‘…Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God’).

Skrywer:  Prof Francois Malan