Jy behoort aan God. Hy het duur vir jou betaal (Loskoping)

Jy behoort aan God. Hy het duur vir jou betaal (Loskoping)

Die Bybel gebruik gewoonlik beelde om te verduidelik wat met ons gebeur as ons byvoorbeeld gered word.

Een so ʼn beeld is “loskoping”. Slawerny was destyds baie algemeen. Om ʼn slaaf te wees beteken om nie meer jou eie baas te wees nie; ja, jou vryheid is daarmee heen, jy is die eiendom van iemand anders. Amper soos met ʼn tafel of ʼn stoel kon jou baas met jou maak wat jy wil. Daar was tog maniere waarop ʼn slaaf destyds kon vrykom, en een van die maniere was deur “loskoping”. As iemand (sê maar ʼn familielid of vriend) die slaaf se prys vir die baas teruggee, kon die slaaf vrygelaat word. Of daar was ʼn ander gebruik. Die slaaf kon self geld spaar… en raai waar? In die tempel (kerk). Die priester moes dit vir hom hou tot hy genoeg gehad het om sy koopprys vir sy baas terug te betaal. Dan was die slaaf vry!

Hierdie alledaagse beeld pas die Bybel nou op gelowiges toe. Mense is soos slawe van die sonde en die duiwel. Hulle is nie vry nie. Die prys word egter vir ons betaal – Jesus self koop ons los! Dan is ons weer heeltemal vry. Die sonde speel nie meer baas oor ons nie, want ons is nou kinders van God.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Simbole in die Bybel

Simbole in die Bybel

Mense stry baie oor hoe letterlik ons die Bybel moet lees. As daar in Openbaring 21 staan dat die hemel soos ʼn stad van goud en edelgesteentes is, gaan dit letterlik so wees? Of as die Bybel sê dat God ons “loskoop” met Jesus se bloed, beteken dit dat God Jesus se bloed letterlik in geld verander en dit aan die duiwel betaal? Sjoe, moet God regtig die duiwel so betaal?

Dit is nie onbelangrike vrae nie. As jy byvoorbeeld ʼn grappie met iemand maak en die persoon dink jy is ernstig is daar gewoonlik ʼn gemors. Daai persoon dink jy wil hom beledig of in die gesig vat en dan is hy dadelik vies. En jy wou maar net gaaf en oulik gewees het. Nee, dit is belangrik dat jy die bedoeling van woorde reg moet verstaan. Daarom moet ʼn mens seker maak dat jy nie iets letterlik lees wat eintlik figuurlik bedoel is nie, en omgekeerd.

Omdat die Bybel oor God praat, is daar báááie dinge wat figuurlik is, doodgewoon omdat ons as mense nie woorde en selfs die kennis het om alles van God behoorlik te beskryf nie. God is net soveel groter as ons en die hemelse dinge so anders as wat ons ken, dat ons net met beelde en metafore en beskrywings regkom.

Vat byvoorbeeld die beeld van die nuwe Jerusalem wat van goud gemaak is. Jy sou nie eers lekker met jou meisie op die sypaadjie kon sit nie, want die goue grasspriete sou jou lekker van agter bygekom het. Nee, die hemel gaan nie ʼn goue stad wees nie. Dit gaan soos (vergelyking) ʼn goue stad wees. Die skrywer moes vir sy lesers vertel hoe die hemel gaan wees, maar het eintlik nie woorde gehad nie. Die hemel is te wonderlik. Toe vat hy die beste en wonderlikste beskrywing wat hy kon kry… ʼn stad van goud en edelgesteentes en ʼn pragtige rivier met genoeg kos. Beter en wonderliker as dit kan hy hom nie voorstel nie. Die goud en pêrels en edelgesteentes is maar net maniere om ons regtig te help om te verstaan hoe wonderlik die hemel gaan wees. Om alles letterlik te lees gaan jou in die geval op die verkeerde pad sit. As jy verstaan dat die goud en edelgesteentes en die dinge beelde is van iets wat nog baie wonderliker as dit is, verstaan jy wat die skrywer wou sê.

Om beelde en simbole, ja, figuurlike taal, in die Bybel te herken, is belangrik. (Onthou, die meeste dinge wat gesê word, is letterlik, maar daar is ook figuurlike taal en dit moet jy herken). Het jy geweet dat in omtrent al die plekke in die Nuwe Testament beelde gebruik word, waar daar gepraat word oor hoe ons gered word? Daar word byvoorbeeld gesê dat ons versoen word (ʼn beeld van kwaaivriende wat weer vriende word); losgekoop word (die beeld van ʼn slaaf wat vrygekoop word); dat ons geregverdig word (ʼn beeld van ʼn regter wat jou van jou skuld vryspreek sodat jy nou regverdig uit die hof kan uitstap); dat ons wedergebore word (die beeld van ʼn kind wat in die wêreld gebore word, hierdie keer geestelik), en so kan ons aangaan. Deur te snap dat die Bybel soms in “beeldtaal” praat, help ons ook sommer om te verstaan wat die Bybel wil sê. Daarom is behoorlike Bybelstudie (ook met hulpmiddels) nie net ʼn goeie idee nie, maar nogal lekker ook.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Wat is geloof?

Wat is geloof?

Die Bybel sê dat as jy in God en Jesus glo jy ʼn kind van God is.

Dit is die manier waarop ons redding kry, met ander woorde, waarop God deel van ons lewens word. MAAR, en dit is die groot vraag, wat is geloof? As iemand vir my sê ek moet petrol in my kar gooi as ek wil ry, maar ek weet nie wat petrol is nie, gaan dit ʼn gemors afgee. As iemand vir jou sê jy kan God leer ken deur te glo, moet jy darem seker weet wat geloof is.

Dit is nie so moeilik nie. Geloof is eintlik net ʼn ander woord vir “geestelik sien” of “geestelik hoor”. As jy in ʼn pikdonker kamer sit, het jy nie ʼn idee wat om jou aangaan nie. Sit die lig aan en skielik maak alles sin. As jy geestelik blind is vir God sal jy Hom nooit raaksien nie. Maar as jou “geestelike oë” oopgaan, sal jy Hom sien. Ja, jy sal wéét Hy is daar. Jy sal nie oor Hom of sy bestaan wonder nie, maar jy sal weet. Dit is geloof. (Daarom sê Jakobus dat duiwels ook glo. Hulle weet God is daar. Jakobus 2:19).

Maar daar is iets anders om te onthou. Ander persone beïnvloed jou en jou optrede direk. Dink net hoe gesels jy en jou maats tot die meisie daar aankom op wie jy mal verlief is. As jy nou van ʼn persoonsverwisseling wil praat, is dit dan. As jy nie begin hakkel nie, tref die stilstuipe jou of jy begin so babbel dat niemand weet wat jy sê nie. Maar jy is nie meer die ou van ʼn paar minute tevore nie. Jou maats se grinnikke gaan jy na die tyd een vir een van hulle monde afvee… maar nou moet jy eers die meisie beïndruk. Waar kom die verandering vandaan? Wel, die teenwoordigheid van die meisie verander die situasie en nou reageer ek teenoor haar. Omdat sy daar is, tree jy op ʼn spesifieke manier op. Sieklik verander jou woorde en wat jy doen, want jy doen dit om haar te probeer beïndruk. Dit moet vir haar lekker wees by jou, ja, jy wil hê sy moet van jou ook hou.

Net so werk dit met geloof in God. Geloof laat jou God in jou lewe raaksien. As jy Hom eers raaksien, verander dinge, veral jy. Dan kan jy of die manier waarop jy optree nie meer dieselfde bly nie. Dan moet jy praat en doen om die Here in jou lewe te beïndruk. Jy moet Hom gelukkig maak. As jy Hom raaksien, kan dit nie anders nie. Jy kan nie sê God is by my en jy leef asof daar nie ʼn God is nie. Daarvan gaan God niks hou nie, dit is seker.

Geloof is dus om te weet die Here is in jou lewe en om so op te leef.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus as die Seun van die mens

Jesus as die Seun van die mens

Jesus praat dikwels van homself as die “Seun van die mens”.

Dit is ʼn titel wat uit die Ou Testament kom. Dit is op twee maniere gebruik. Dit kon sommer net beteken dat jy ʼn mens is; jy is die seun van ʼn mens. Maar dit kon ook iets baie groters beteken. In Daniël 7:11-14 word daar ook van iemand soos ʼn menslike wese (seun van die mens) gepraat wat uit die hemel kom. Dit is dus ʼn hemelse of goddelike wese. Die Iemand soos ʼn menslike wese kom om die bose te oordeel (Daniël 7:22). As Jesus van Homself as die Seun van die mens praat, bedoel Hy waarskynlik dat Hy die Een is wat namens God mense kom oordeel.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy