Leef vir die Here (Sabbat)
Die vierde gebod sê dat ʼn mens op die sewende dag, die sabbat, nie mag werk nie, maar moet rus.
Vir die Jode het die hou van die Sabbat – wat Vrydagaand as die son sak begin en duur tot die Saterdagaand as die son sak – die groot bewys geword dat iemand ʼn goeie Jood is wat die Wet gehoorsaam. In Jesus se tyd was die Jode dus baie ernstig oor die hou van die sabbat en as Jesus iets op die sabbat gedoen het, was hulle gewoonlik dadelik omgekrap en moeilik met Hom. Hulle wou selfs so ver gaan om Hom dood te maak daaroor (Johannes 5:18).
Jesus het egter die sabbat anders gesien. Hy het nie gehuiwer om mense op die sabbat gesond te maak nie en het selfs sy dissipels toegelaat om kos op die sabbat voor te brei, iets wat heeltemal verbied was (Matteus 12:1 en verder). As die Jode hom daaroor aanvat, het Hy op verskillende maniere geantwoord. In Johannes 7:21-24 argumenteer Hy dat die sabbat juis daar is sodat mense gesond kan word. Al moet Hy dan werk om iemand gesond te maak, beteken dit juis mos dat Hy doen wat reg is. By ʼn ander geleentheid het Hy gesê dat die mens nie daar is vir die sabbat nie, maar die sabbat vir die mens (Markus 2:27). Die sabbat is nie die groot reël wat die mens domineer nie, maar die sabbat moet vir die mens die geleentheid gee om regtig menswees saam met God te geniet. Hy het verder gegaan en gesê dat Hy die Here van die sabbat is (Matteus 12:8) waarmee Hy geïmpliseer het dat Hy kan sê wat op die sabbat moet gebeur. Die hou van die sabbat mag nooit ʼn reël word wat almal soos slawe dryf nie. Eintlik moet ons elke dag van die week sabbat vier deur vir Jesus te leef.
Christene het later ook Sondag soos ʼn sabbat begin vier omdat Jesus op ʼn Sondag uit die dood opgestaan het.
Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy