JESUS SE GELYKENISSE OOR DIE BRUILOF – Jan van der Watt

Corina vra:

Is die genooides in Jesus se gelykenisse oor die bruilof (bv. Matt 22:1-14), (uiteindelik) ook die Bruid? Die wat goed doen aan die geringstes (uiteindelik) sy skape? bv. In Matt. 25. Beteken dit dat die Bruid en die genooides dieselfde mense is?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie vraag gaan oor die manier waarop die Bybel praat.  Om oor godsdienstige sake te praat is nie altyd maklik nie, want ons kan God nie sien nie en hoe praat ons dan oor Hom? Wat Jesus vir ons gedoen het, is so groot en ryk, hoe praat mens daaroor. Net so praat die Bybel op baie verskillende maniere oor God se mense. Daar is byna 100 beelde wat in die Nuwe Testament vir die kerk gebruik word (bv. skape, tempel, mosterdsaadjie, lote in ’n wingerdstok, uitverkorenes, volk van God ens.).

Elke beeld het sy eie boodskap en moet dus nie met ander beelde gemeng word nie. Byvoorbeeld, in die Bybelse tyd het almal geweet hoe ’n herder sy skape oppas en hoe lief hy vir hulle is. Nou gebruik die Bybelskrywers die beeld om te verduidelik hoe God (of Jesus) ons oppas en hoeveel Hy vir ons omgee (Joh 10:11-18). Dit beteken nou nie skielik dat gelowiges skape of net is nie – hulle word net vergelyk met skape sodat die Bybelskrywer iets daarmee vir ons kan sê. As hy byvoorbeeld wil verduidelik hoe heg die verhouding tussen gelowiges en Jesus moet wees, sê hy dat ons so naby Jesus is soos takkies in ’n wingerdplant (Joh 15:1-8). Dieselfde gelowiges word dus met takkies en skape vergelyk om twee verskillende dinge oor hulle te sê.

Net so word gelowiges in Matt 22 die uitgenooides genoem. Die bruid word nie in die verhaal genoem nie, want die klem is op alle mense (nie net die Jode nie) wat uitgenooi word na God se feesmaal. In Open 19:7-8 of 21:2 word van die bruid gepraat. Daar word die gelowiges inderdaad vergelyk met ’n bruid wat haar vir haar man gereed maak en dan na haar man toe kom. Dit lê weer die klem op gelowiges wat gereed moet wees vir die Here wat kom.

Die feit dat die Bybelskrywers soveel verskillende bekende beelde gebruik om vir ons te vertel wie ons as gelowiges is, of wie God is, maak die Bybel ’n baie ryk.   

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die eindtyd vervolg – Jan van der Watt

Jan vra:

Op watter gronde kan mens sê dat die voorspellings in Matt 24 nie al almal plaasgevind het, behalwe die wederkoms van Christus nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit gaan hier om die vervulling van profesieë – daar is artikels (bv. van Adrio König) oor die vervulling van profeseë op die web van Bybelkennis.co.za. Die inligting hoef nie weer herhaal te word nie, maar kan daar nageslaan word. Kortliks kan net gesê word dat profesieë, (veral in die OU Testament) baie soos preke was wat sake aangespreek het in die tyd toe die profesie gemaak of geskryf is. (daar is natuurlik ook profesieë wat wel na die toekoms verwys, soos die profesieë in Openbaring oor die eindtyd). Dit het dan God se wil vir daardie situasie beskryf. Omdat God onveranderlik en altyd dieselfde is, sal Hy in die toekoms in dieselfde situasie dieselfde optree. Daarom het die Jode bv. Hiskia se profesieë, wat vir die ballingskaptyd bedoel is, later op die Romeine (honderde jare later) toegepas. As die volk in nood is, sal God hulle help, of dit nou in Hiskia se tyd is of in die Romeine se tyd.

Toe Jesus gekom het, het die gelowiges besef God en sy koninkryk is hier. Wat God dus lank gelede vir sy mense belowe (profesie) het en wat in hulle tyd ook gebeur het, word nou ook op ‘n baie beter en meer spesiale manier van Jesus ook waar. Hy is die Messias wat die bose gaan oorwin en die heerskappy van God gaan bevestig. As bewys dat God by Jesus betrokke is en dat sy woord in Jesus waar word, het die eerste gelowiges daarop gewys dat God lank gelede al gesê het dat dit die manier is waarop Hy gaan optree. Dit was vir die gelowiges belangrik om te wys dat wat God in die Ou Testament gesê het, ook van Jesus waar is – die God van die Ou Testament is die God wat Jesus kom openbaar. Nie alle profesieë is in Jesus vervul nie, en daarom is daar in die Nuwe Testament nog profesieë oor die toekoms, byvoorbeeld in Openbaring as dit gaan oor die nuwe Jerusalem.

Kom ons by die Matt 24 word daar voorspel dat daar verwoesting, oorloë, aardbewings en hongersnode sal kom. Daar word selfs na Daniël se woorde verwys as dit oor die swaarkry en verwoesting gaan. Daniël het daarop gewys dat dit in sy tyd so sal gaan – Matteus beklemtoon dat dieselfde sal gebeur in die tyd rondom en net na Jesus, net baie erger.Soos die einde van die tyd nader kom, gaan die duiwel harder en harder probeer om God te dwarsboom. Openbaring sê vir ons dat verwoesting, oorloë, aardbewings en hongersnode ook net voor die wederkoms van Jesus die lewe sal kenmerk. Daar is dus drie tydperke (Daniël se tyd, Jesus se tyd en net voor die wederkoms van Jesus) waar dieselfde gebeure plaasvind. Hoe werk dit?

As mens na die aard van profesie kyk, kan ’n profesie homself herhaal, soos ons bo gesê het, omdat ’n profesie van die onveranderlike God en wat Hy beplan vertel. Wat al drie die gedeeltes wil sê is dat die bose ’n pogings gaan aanwend om God se planne in die wiele te ry, en dat dit net erger en erger gaan word. Oorloë of aardbewings kom tog al oor die hele geskiedenis voor, en ons weet dit is verwoestend. Dit word nie vir net ’n spesiale tyd gebêre nie. Die bose se pogings het in die verlede voorgekom en sal in die toekoms steeds daar wees om God te probeer dwarsboom. Dit is dus al vervul en sal nog weer in vervulling gaan as tekens van die bose in hierdie wêreld wat teen God wil veg.

Dus, dit lyk dus problematies om die opmerkings in Matt 24 net as eenmalig te sien, naamlik of daar net een maal sulke dinge sal gebeur en nie weer nie.

Met die wederkoms van Jesus en die nuwe Jerusalem is dit egter anders – daar sê die Bybel vir ons dat dit ’n eenmalige gebeure gaan wees wat alles gaan verander.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Wat beteken goddelike wesens? – Jan van der Watt

Kobus vra:

Ek wil graag weet wat ‘gode in Psalm 82:6 en Johannes 10:34 beteken. Is ons goddelike wesens?’(Ek glo nie ons is goddelike wesens nie want Psalm 86:10 en Jesaja 45:18 sê daar is geen ander God en Psalm 8:6 sê God het ons minder as ‘n goddelike wese gemaak).

Antwoord

Prof Jan van die Watt antoord:

Kobus is reg, die gedeeltes sê nie dat mense gode is of word nie. In Ps 82:6-7 lyk dit meer na die omgekeerde, naamlik of wesens wat as gode gesien is, mense word. Geleerdes stem nie presies ooreen met wat in Ps 82 bedoel word nie en daar word nie hier op verder ingegaan nie.

Johannes 10:34 haal Ps 82:6 aan, maar gebruik dit in ’n baie spesifieke konteks waar Jesus met die Jode argumenteer. Ons lees in 10:33-37: ‘33“Dis nie oor ’n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat ’n gewone mens is, jou as God voordoen.” 34Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? 35God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. 36Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? 37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie’.

Jesus is hier in ‘n tipiese ‘Joodse argument’ betrokke. In Jesus se tyd was ‘strydgesprekke’ een van die mees algemene maniere waarop gewone Jode kon sien watter van hulle rabbi’s of geleerdes die waarheid beet het – natuurlik die een wat die argument wen. Ons sien Jesus dikwels in sulke gesprekke, byvoorbeeld in Mat 22:34-40 (vgl. Luk 10:25-26) waar ‘n wetsgeleerde Hom probeer ‘vastrek’. In Joh 10 het Jesus sopas gesê dat Hy en die Vader EEN is (Joh 10:30) en die Jode wou Hom stenig (v. 31) omdat Jesus Homself op die manier godslasterlik ‘as God sou voordoen’ (v. 33). Die Jode is natuurlik reg, naamlik dat dit godslastering volgens hulle wet is om jou as die enige God voor te doen (vgl. die eerste twee gebooie van die Wet).

In hierdie ‘strydgesprek’ kom Jesus met ‘n teenargument wat gaan oor die gebruik van die woord ‘god’.  Hy haal hulle ‘Wet’ (= Skrif) aan (Ps 82:6) wat almal sal erken die waarheid is en wys vir hulle dat die woord ‘gode’ ook wyer gebruik kan word as net vir die enige God. As die woord ‘god’ gebruik word, kan dit wel vir die enige God gebruik word, maar dit kan ook vir ander wesens gebruik word wat naby hierdie God staan, soos Ps 82:6 sê. Die punt is dat Hy vir hulle wys dat die woord ‘god’ dus ook ‘n wyer betekenis kan hê, soos mens in die Skrif self sien (Ps. 82:6). Om te sê iemand is god hoef nie noodwendig net na die enige God te verwys nie.

In Joh 10: 36-37 pas Jesus dan sy argument toe: “Ek het gesê: ‘Ek is die Seun van God’? 37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie”. Hy beweer nie Hy is die enige God nie, maar die ‘Seun van God’. Hy is dus geen bereiging vir die enige God nie en moet ook nie met die enige God verwar word nie. In die term Seun van God word die Seun en God duidelik van mekaar onderskei. Die tweede punt wat Hy maak is dat Hy wel baie naby aan God is – wat hulle doen is dieselfde (sien ook 10:28-30). In die sin is hulle EEN en sou dit volgens Ps 82:6 nie verkeerd wees om die term god ook van Hom te gebruik nie.

Interessant genoeg sê Ps 82:6 dat die ‘gode’ se groot probleem was dat hulle nie soos God regverdig geoordeel het nie. Hulle verdien dus nie hulle posisie nie en gaan soos gewone mense hanteer word. Jesus doen egter presies wat God doen en daarom bewys Hy dat Hy aan God se kant staan.

Die feit dat die Seun nie God die Vader is nie, maar tog goddelik (wat beteken dat die term god ook vir Hom gebruik kan word) word bevestig in Joh 1:1 waar Jesus (die Woord) beskryf word ‘as God, maar ook as by God’. Mens kan tog nie ‘n persoon wees en ook tegelyk teenoor daardie persoon staan nie (dit is wat die Griekse woord ‘by’ impliseer). Hier word van Jesus gesê dat Hy van God die Vader onderskei moet word (Hy is by Hom) maar dat Hy ook in sy optrede en karaktertrekke ooreenstem met die Vader as die een wat Hom stuur om in die wêreld te kom wys hoe lyk God die Vader (1:18).   

Skrywer Prof Jan van der Watt




Bybelstudie – Jan van der Watt

Vraag 1: Waarom is bybelstudie belangrik? (Charron)

Kennis van die inhoud van die Bybel is een van die pilare van ons Christelike lewe. Dit was so van die vroegste tyd af – ons sien byvoorbeeld dat die gemeente van 2 Petrus Paulus se briewe (die Bybel – 2 Pet 3:15-17) gelees het en dat die Evangelie van Johannes (ook in die Bybel) deur Johannes se gemeente gelees en in hulle lewens toegepas is (kyk hoe die skrywer van die Briewe gedurig verwys na wat sy gemeente weet, gehoor het of gelees het: 1 Joh 1:5; 2:7, 24; 3:11; 4:21; 5:20 – dit verwys na hulle kennis van die Johannesevangelie). Die rede waarom hulle dit gedoen het en ons ook die Bybel moet lees, is belangrik:

Hoe gaan mens God leer ken of weet wat Hy van jou verwag as jy dit nie in Sy Woord lees nie. Waar gaan jy uitvind hoe redding werk, of wat die toekoms inhou, as ons die antwoorde nie uit Sy Woord kan kry nie. Sonder die Bybel en BybelSTUDIE bly al ons kennis oor godsdiens maar net mensekennis. Die Christelike godsdiens is dus ‘n ‘openbaringsgodsdiens’, met ander woorde, God kom wys vir ons wat ons van Hom en van diens aan Hom moet weet. Ons kan dit nie as mense sommer uitdink nie en as ons sommer ons eie idees as God se idees aan ander verkondig, is dit eintlik laster teen God. Ons mag nooit ons eie idees oor God met God se eie idees oor Homself, soos dit in die Bybel staan, verwar nie.

Om seker te maak dat ons nie op dwaalspore land nie, moet ons dus weet wat in Sy Woord staan. Daarom is Bybelstudie so belangrik.

Vraag 2: Hoe word bybelstudie gedoen help asb (Charron)

As ons praat van bybelstudie doen, dan gaan dit nie oor die lees van die Bybel voor jy gaan slaap nie. Dit gaan oor ’n bietjie meer moeite doen om die boodskap van die Bybel in meer diepte te verstaan. Hier volg ’n paar riglyne (’n Bybel of miskien meer as een Bybelvertaling, ’n notaboekie waarop jy aantekeninge kan maak, asook internet as jy het, is aan te beveel).

  1. Kies ’n volle, samehangende paragraaf (nie net paar verse nie). HULP: Kyk na hoe die gedeeltes in die Bybel opgedeel word. Gewoonlik is die paragraaf tussen twee opskrifte ‘n eenheid. As jy meer as een Bybelvertaling kan gebruik, doen dit. Vergelyk die vertalings en as daar verskille is, moet jy self mooi kyk hoe jy dink die paragraaf lyk.
  2. Lees jou gedeelte deeglik deur. Lees die paragraaf behoorlik deur (met ander woorde, lees elke sin en woord).
  • merk alles wat jy nie verstaan nie (Dit is die dinge waaroor jy meer sal moet uitvind).
  • Skryf neer waaroor jy dink jou gedeelte gaan.
  • Skryf die dinge neer wat jou veral tref.
  1. DIE GEHEIM: Lees die KONTEKS. Kyk nou vlugtig na die gedeeltes wat voor en na jou paragraaf staan. Daar kry jy dikwels waardevolle inligting wat jou kan help om jou gedeelte beter te verstaan. Jy sien miskien dat Jesus net met sy dissipels praat en nie met al die mense nie. Dit beteken dat wat Hy sê net vir gelowiges en nie vir almal bedoel is nie. Of jy sien miskien in Paulus se brief dat Hy van redding in die konteks praat en dan weet jy in watter konteks jy jou paragraaf ook moet lees. Soek dus vir goeie ‘clues’ om jou met die verstaan van jou gedeelte te help.
  2. Die Lekker: Probeer die vloei van die argument verstaan. Elke paragraaf is soos ’n gesprek tussen jou en iemand anders: die gedagtes is nie sommer deurmekaar nie, maar volg (gewoonlik logies) op mekaar. Die uitdaging is nou om te kyk of jy jou paragraaf se gesprek logies kan rekonstrueer, met ander woorde of jy kan kyk hoe een gedagte op die ander volg en waarom. (Hier help dit om die gedagtes, soos hulle op mekaar volg, onder mekaar neer te skryf en dan aan die einde te kyk hoe jy dink dit op mekaar volg). Die doel is om uiteindelik vir iemand anders volledig te kan vertel hoe die gedagtes op mekaar volg en wat die paragraaf dus wil sê. Met verhale soos gelykenisse sal dit makliker gaan as met Paulus se ingewikkelde argumente, maar met altwee moet jy probeer om agter te kom wat word gesê en hoekom.
  3. Die probleem: Daar mag dinge wees wat jy nie verstaan nie – vind dan uit! Omdat die Bybel omtrent 2000 jaar gelede geskryf is, gaan jy dinge kry wat jy nie verstaan nie, miskien soos name (Fariseërs, Sadduseërs, Antichris), of terme (geregtigheid, verdoemenis) of uitdrukkings (idiome – vurig kole op jou hoof ophoop), gewoontes (Jesus spoeg op iemand se oë) en so voorts. Jy sal nie die betekenis van die dinge self kan uitdink nie, met ander woorde, jy sal iewers hiulp moet kry. Daar is ’n paar manier waarop jy hulp kan kry: (i) As jy verklarende Bybels (bv. Eenvolume kommentaar, of Bybel in Praktyk) het, kan dit jou help. [Jy moet hulle egter nie eerste lees voor jou stap (d) nl. die vloei van die argument self gedoen het nie]. (ii) kyk in Bybelkennis op daar nie inligting is nie. (iii) Soek op die internet. Dit is egter gevaarlik omdat soveel persone sommer ongekontroleerde en verkeerde dinge op die internet sit, baie keer om hulle manier van verstaan te bevorder. ’n Mens kan baie maklik op verkeerde paadjies gelei word. Dit is veral waar oor boeke soos Openbaring. Probeer dus seker maak dat jy betroubare webblaaie opsoek. Dit is moeilik om altyd te bepaal of ’n webblad goed is – ’n goeie toets is dat as die webblad dinge sê wat jou ongemaklik laat voel of heeltemal anders praat as dit wat jy in die kerk hoor, moet die rooi ligte aangaan. Nou praat ek nie van ’n klein verskilletjie hier en daar nie.
  4. Pas dit toe: sê vir jouself (of skryf dit neer) wat jy dink die gedeelte vir die oorspronklike lesers wou sê. Vra jouself dan wat dink jy beteken die boodskap van die gedeelte vir jou. Een spesifieke gedeeltetjie of die boodskap as geheel mag vir jou iets spesiaals beteken het. Neem dit met jou saam.

Die goue dop van bybelstudie: Bybelstudie is om met God te gaan praat en Hom toe te laat om met jou te praat. Die Heilige Gees is deel van die gesprek. Jy moet dus biddend (opreg aan die begin en einde bid) met verwagting na God se teenwoordigheid bybelstudie doen

Skrywer:  Prof Jan van der Watt