Vergifnis en geregtigheid – Hermie van Zyl

In hierdie aanbieding sal jy leer:

  • Wat die verband is tussen vergifnis en straf;
  • Wat die verband is tussen vergifnis en restitusie (herstel)

Noudat ons in die vorige aanbiedings redelik volledig gehandel het oor die verskillende aspekte van vergifnis, is die laaste kwessie wat ter sprake is die vraag: Is alles afgehandel nadat vergifnis plaasgevind het? Wat van die eis van geregtigheid oor verkeerde dade, waarvan sommige gruwelik en afstootlik kan wees, soos diefstal, roof, verkragting, wreedaardige (plaas)moorde, bedrog (pensioene wat daarmee heen is), om nie meer te noem nie? Selfs al kan mens dit vergewe, beteken dit dat die onreg wat gepleeg is ook daarmee uitgewis en vergeet is? Maak dit vergifnis nie goedkoop nie? Wat van die gevoel dat daar ook reg en geregtigheid moet geskied?

Twee aspekte is hier ter sprake: 1. Vergifnis en straf; en 2. Vergifnis en herstel.

  1. Die verband tussen vergifnis en straf

Daar is twee kante aan God wat nie teenoor mekaar staan nie, maar beide teenwoordig is in vergifnis, en dit is 1. sy genade en barmhartigheid wat maak dat God altyd gereed staan om te vergewe, maak nie saak hoe groot ons sonde is nie, en 2. sy toorn oor die sonde. Sonde grief Hom, en dit moet gestraf word. Altwee hierdie lyne loop deur die Bybel.

Hierdie twee lyne maak dat wanneer God vergewe Hy nie vergeet van die eis van geregtigheid nie. Hy vergewe nie maar sommer nie. Vergifnis is nie gelyk aan “oorsien” nie. Daar is ’n regsbasis vir sy vergifnis. Hoe ernstig God oor sonde is, blyk uit die dood van Christus. God het sy regmatige toorn en oordeel oor die sonde “gewreek” in Christus. Christus het betaal vir alle ongeregtigheid. Daarom dat daar in 2 Korintiërs 5:18-19 staan dat God in Christus Homself met die wêreld versoen het. God vergewe sonde omdat Hy dit klaar gestraf het in Christus. Die oorstelpende waarheid is: Beide sy vergifnis en straf van die sonde geskied uit liefde, barmhartigheid en genade. Ons kan die diepte hiervan nie peil nie; ons kan slegs in verwondering daaroor staan, dit glo en daaruit leef. Dis wanneer die besef my oorweldig wat dit God gekos het om my te vergewe, en hoe dit sy liefdeshart blootlê, dat dit berou en skuldbelydenis oor die grootheid van my sonde by my wek.

Maar, God se vergifnis van my sonde hef nie noodwendig die gevolge van my sonde op nie. Dis hier waar die verhouding tussen vergifnis en straf ter sprake kom. Daar is veral twee plekke in die Bybel waar dit geïllustreer word.

  1. God vergewe Dawid se sonde toe hy Urija, die man van Batseba, op ’n slinkse wyse op die slagveld laat sneuwel het, asook sy owerspel met Batseba. Maar nogtans sterf sy kind by Batseba. Volgens 2 Samuel 12:13-14 sê die profeet Natan vir Dawid, nadat dié berou getoon het oor sy sonde: God het jou sonde vergewe, maar omdat jy die vyand aanleiding gegee het om teen God te laster, sal jou kind sterwe.
  2. God vergewe Dawid nadat hy die volk laat tel het; hierdie telling was klaarblyklik daarop gemik om sy eie eer en aansien ’n hupstoot te gee (2 Samuel 24). Maar die volk ly as gevolg van Dawid se oortreding nadat die Here ’n pes onder die volk gestuur het.

Ja, ’n mens sondig nooit alleen nie. Jou sonde beïnvloed almal rondom jou, dit spoel oor na die groter gemeenskap, veral as jy ’n hoë en verantwoordelike posisie beklee en jou optrede wyer implikasies het as net vir jouself, soos in Dawid se geval. Hy word wel persoonlik vergewe, maar sy sondes het gevolge ingehou vir die volk Israel. Verder het huishoudelike spanning, rugstekery en skande ’n groot impak gehad op Dawid se huishouding (2 Samuel 12:11-12; 16:21-22). Dit is nou eenmaal so dat sonde ’n manier het om nie net die eer van God aan te tas nie, maar ook die sosiale orde te bedreig. Daarom is dit soms nodig dat die reg sy gang gaan, ongeag die feit dat God ’n mens vergewe.

Dieselfde beginsel van straf is ook ter sprake waar ons teen mekaar sondig. Hierdie sondes is soms net van so ’n aard dat dit nie ongestraf kan bly nie, of dat dit lank vat om die skade en die letsels wat dit laat, te herstel, selfs al vergewe ons die onreg wat ons mekaar aandoen. Die moordenaar aan die kruis ontvang vergifnis en hoor dat hy saam met Christus die paradys ingaan, maar hy boet steeds vir sy misdade. Die persoon wat gesteel het, mag deur die benadeelde vergewe word, maar gaan nog steeds deur die reg gestraf word. Die man wat in sy dronkenskap ’n kind doodgery het, mag uiteindelik deur die ouers vergewe word, maar gaan steeds tyd in die tronk deurbring. Die man wat sy vrou mishandel het, mag na rehabilitasie opreg berou hê en deur sy vrou vergewe word, maar dit gaan lank vat voor die verhouding weer herstel is, want ernstige skade is aangerig. Die persoon wat aan lewersirrose ly na ’n leeftyd van drankmisbruik mag na rehabilitasie berou hê en vergifnis ontvang, maar gaan nie skielik ’n gesonde lewer terugontvang nie. En so kan ons die voorbeelde vermenigvuldig.

Daar is dus ’n verskil tussen vergifnis en die ter syde stel van die gevolge van sonde. Sonde hou in baie gevalle ook straf in. Ja, ons mag en moet mekaar vergewe, ter wille van ons eie sieleheil en dié van die ander, sodat daar genesing kan plaasvind, sodat jy kan vry raak van die verlede. Maar, die reg gaan sy gang: Moordenaars, diewe en bedrieërs word steeds gestraf, wat ’n afskaduwing is daarvan dat God nie sonde bloot oorsien nie.

Die rede waarom vergifnis nie noodwendig die gevolge van ons dade uitwis nie, is omdat vergifnis ’n verhoudingsaak is, terwyl die gevolge van ons sonde ’n omstandigheidsaangeleentheid is. Dit beteken: ’n Verhouding – veral die verhouding met God – word deur vergifnis herstel; dis die begin van ’n nuwe pad saam met God en met mekaar. Maar die omstandighede van sekere dade is dikwels van so ’n aard dat dit gepaardgaande gevolge inhou vir onsself, vir ander en vir die breë gemeenskap. En daardie gevolge kan strafregtelike implikasies hê. ’n Mens maai nou eenmaal wat jy saai; as jy op die akker van jou sondige natuur saai, sal jy die gevolge daarvan dra, ongeag of jy daarvoor vergifnis ontvang of nie. Wat ons móét doen, is om op die akker van die Gees te saai, en dan die ryke oes daarvan in te samel (Galasiërs 6:7-8). Natuurlik, dit gaan hier nie oor ’n wettiese uitbalansering van dade en gevolge nie. Ook hier is die genade van God ter sprake. Dit maak dat ons in hierdie lewe baie meer genade ontvang as straf, en uiteindelik ten spyte van wat ons gedoen het die ewige lewe ontvang. Maar dit hef nie die lewenswet van Galasiërs 6:7-8 op waaraan ons almal onderhewig is nie. Ons word geroep om nie op die akker van die ou natuur te saai nie, maar op die akker van die Gees.

Wanneer dit gaan oor die geregtelike implikasies van ons dade, moet ons ook besef dat die wraak en soeke na reg en straf, Gód toekom, nie ons nie (Romeine 12:19). Verder, die owerheidsinstansies is daar om God se reg en straf in die samelewing te verteenwoordig. Die owerheid is immers ’n dienskneg van Gód, volgens Romeine 13. Wanneer daar dus straf uit te deel is, mag ons nie die reg in eie hande neem nie, hoe graag ons ook al wil, veral as daar na ons mening nie reg geskied nie.

Verder moet ons ook deurgaans besef en erken dat ons almal skuldig voor God is, nie net die slegtes nie, maar ook die goeies. Romeine 3:23 sê duidelik: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie”. Wanneer ons dus straf eis, mag dit nie met haat in die hart wees nie, maar met die besef dat onsself broos is en geneig tot alle kwaad.

Wanneer hierdie beginsel gestel word, is dit duidelik die ideaal. Maar ons weet dat die ideaal nie altyd verwesenlik word in die samelewing nie. Wat as die reg tot niet gaan, as die owerheid nie die reg handhaaf nie, as die skuldiges nooit aan die pen ry nie? Selfs dan geld die beginsel steeds: Moenie oorhaastig, en veral nie met haat, jouself in optredes begewe wat meer skade as goed aanrig nie. ’n Lewensingesteldheid van vergifnis probeer altyd ruimte maak vir die goeie in ander om te seëvier. Werk daarom aktief mee om die reg in ere te herstel en die samelewing te mobiliseer tot verantwoordelike optrede. In ’n totalitêre staat is dit moeilik – soos die eerste eeuse kerk moes ervaar – maar in ’n demokratiese bestel moet al die opsies eers uitgeput word voordat tot drastiese stappe oorgegaan word. In hierdie lewe is lyding onder onreg dikwels die gelowige se voorland. Maar ook hier vorm vergifnis die toonaard van die gelowige se lewe, waar die volgende riglyne van waarde kan wees:

  • Gee jouself tyd. Vergifnis is nie goedkoop nie. Niemand verwag van jou om dadelik te vergewe nie. Vergifnis is ’n lewenswyse, ’n langtermynbelegging, dit lewer eers later dividende op.
  • Beoefen rasionele terapie: Kry perspektief op ’n saak. Hoeveel ander het nie al dieselfde dinge deurgemaak nie; jy’s nie uniek in lyding onder onreg nie.
  • Vergifnis is ’n gawe van God, dit kom nie uit onsself op nie. Daarom: bid, worstel met God en die ander.
  • Vermy bitterheid. Stel jouself in ’n posisie waar God met jou kan werk en jou gesindheid verander.
  • Onthou, gevoel volg geloof. Glo dat jy kan vergewe; handel daarvolgens, en laat God mettertyd jou gevoel verander.
  1. Die verband tussen vergifnis en restitusie (herstel)

Die tweede aspek van vergifnis en geregtigheid het te make met restitusie. Hier gaan dit veral oor ons optrede wat ander ernstig benadeel het, wat soms ten hemele skrei. Afgesien van die regmatige straf wat daaruit kan voortvloei (kyk vorige afdeling), het ons ook ’n morele verantwoordelikheid om die skade te probeer herstel. Uiteraard moet jy God en die benadeelde(s) vra om jou te vergewe. Maar dikwels is daar ook restitusie ter sprake. Die Ou Testament het uitgebreide reëls hieroor gehad, kyk byvoorbeeld Eksodus 22:1-15; Levitikus 6:1-5. En so kry ons dit ook in die Nuwe Testament met die gebeure rondom Saggeus, die hooftollenaar van Jerigo. Volgens Lukas 19:8 is hy bereid tot restitusie, om so ver dit in sy vermoë is dinge reg te stel wat hy verbrou het. Hy is bereid om die geld wat hy onregmatig van mense verhaal het, viervoudig terug te betaal.

Hierdie optrede van Saggeus is nie blote “tokenism” nie, dit vloei voort uit sy herstelde posisie voor God. Tollenaars was Jode wat as belastinggaarders vir die Romeine opgetree het. Hulle is daarom deur hulle volksgenote as buitestanders van die verbond beskou, volksverraaiers, nie kinders van Abraham nie. Maar Jesus sê vir Saggeus: Ek moet by jou tuisgaan, want vandag het daar redding vir hierdie huis gekom. Hierdie man is ook ’n kind van Abraham; ja, hy is deel van die verbondsvolk, nie ’n buitestander nie.

So het Jesus Saggeus se status in die Joodse gemeenskap herstel. Daar het redding vir hom gekom, sy sondes is vergewe. En volgens kerklike tradisie het hy later leier van die Christelike gemeenskap in Sesarea geword. Indien dit waar is, het hy, net soos Paulus ná sy bekering, ’n leiersposisie in die vroeë kerk vervul. Want redding is altyd totale herstel, waarvan vergifnis van sonde ’n aspek is.

Vanuit sy herstelde posisie voor God en in die gemeenskap is Saggeus nou bereid om restitusie te doen vir wat hy verbrou het. Die helfte van sy goed gee hy vir die armes, en hy betaal vierdubbeld terug waar hy iets van iemand afgepers het. So is hy presies die teenpool van die ryk jongman wat nie bereid was om iets vir die armes te gee nie (Lukas 18:23). Dis eintlik ironies: Die ryk man was ’n persoon van aansien in die gemeenskap en kenner van die wet, tog is hy nie bereid tot herstel nie. Maar Saggeus – die veragte, die uitgeworpene – gee veel meer (4x) as wat vereis is deur die wet. (Laasgenoemde was die volle bedrag + 20% rente.) Dit is teken van sy egte berou en aanvaarding van God se vergifnis. Hy wil hê al die verhoudings waarin hy staan, moet herstel word.

Ware berou en ontvangs van vergifnis vertaal altyd in die bereidheid tot herstel van verhoudings en van skade wat aangerig is. Daarom sê Jesus ook vir die vrou wat in owerspel betrap is: “Gaan heen, en sondig nie meer nie” (Johannes 8:11). Die “gaan heen” is die kwytskelding en vergifnis van sonde, en die “sondig nie meer nie” is die oproep tot ’n nuwe lewe waarin sy afstand doen van haar ou lewe en die nuwe lewe as herstelde mens aanvaar en uitleef.

So ook in Matteus 5:23-24. Selfs al is jy met jou goedbedoelde godsdienstige pligte besig (besig om ’n offer te bring), en dit val jou daar by dat jou medegelowige iets teen jou het, laat staan jou offer net daar, gaan maak vrede – dit wil sê, gaan herstel die verhouding met jou naaste, gaan maak reg wat moontlik as gevolg van jou onverskillige optrede skeefgeloop het – en bring dan jou offer. Dit onderstreep die belangrikheid daarvan dat ons as vergeefde mense so sensitief sal wees vir skeefgetrekte verhoudings, vir dit wat moontlik weens my optrede of gebrek aan optrede stukkend gegaan het, dat ek my diens aan God sal opskort – eintlik, dat my diens aan God getransformeer word tot diens aan my naaste – en so ontdek dat my diens aan God ook getransformeer word, tot sy reg kom.

Al hierdie voorbeelde laat ons net besef: Genade en vergifnis is nooit goedkoop nie. Dit het die dood van God se Seun gekos om ons sonde te vergewe. Genade is ’n duur geskenk van God. Dis weliswaar gratis, want ons kan nie daarvoor betaal nie, maar dis nie goedkoop nie. Net so ook wanneer ek iemand anders benadeel het. Dit vra iets van ons om die gebroke verhouding te herstel – ’n nuwe lewensstyl van restitusie, sodat reg en geregtigheid kan geskied.

Verder, ook by hierdie punt moet dit gestel word: Die gevolge van sonde lê nie net op persoonlike vlak nie, dit spoel ook oor na sosiale strukture. Neem byvoorbeeld die nagevolge van slawerny. Ons kan vergifnis gee en ontvang vir die onreg wat aan mense gedoen is, maar dit neem leeftye van herstel en restitusie om daardie onreg uit te wis en geregtigheid tot stand te bring. Die VSA sukkel vandag nog om hulle slawe-verlede af te skud.

Ons kan dit ook toepas op Suid-Afrika. Ons sukkel steeds met die nalatenskap van apartheid. Hoe goed die beleid van “afsonderlike ontwikkeling” ook bedoel was, feit is dit het skade aangerig aan verhoudings, dit het mense veronreg, en so-iets word nie summier herstel net omdat ons mekaar vergewe nie, ten spyte van die Waarheids- en Versoeningskommissie se pogings. Vergifnis is weliswaar die regte begin, want dit maak jou vry van die verlede en maak ’n nuwe toekoms moontlik, maar dit moet vertaal word in konkrete dade van geregtigheid.

En ja, ongelukkig is daar weer nuwe vorme van ongeregtigheid wat deur ’n nuwe regeringsbestel veroorsaak word. Omgekeerde apartheid en rassisme, en wraakpolitiek is aan die orde van die dag, asof mense nie geleer het uit die verlede nie. En ook dit gaan sit nie in ons klere nie. Uiteindelik is dit alleen dade van geregtigheid wat die gevoel van verontregting kan verander, selfs al vind daar vergifnis plaas.

Wat wou ons met hierdie lesing bereik? Net dit: Vergifnis is belangrik en noodsaaklik. Dit sê wie ons is: Burgers van die koninkryk van God. Maar vergifnis is nooit ’n simplistiese of goedkoop saak nie. Of dit nou God is wat my vergewe of ons wat mekaar vergewe, daar is altyd geregtigheid ter sprake. Vergifnis is net die begin van ‘n lewenslange herstelproses van dit wat deur sonde verkeerd geloop het. Slegs so kom daar sjalom – totale herstel van verhoudings. Maar dit begin by vergifnis.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die eindtyd – Jan van der Watt

Jan vra:

Kan ons die verskillende boeke van die Bybel (bv. Daniël, Openbaring, Matteus) in een verhaal harmoniseer as dit oor die eindtyd gaan?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is verskillende standpunte oor die saak, waarvan ek twee belangrike benaderings gaan noem:

Dikwels word daar fyn berekeninge oor die skepping, die toekoms of die wederkoms op grond van verskillende tekste in die Bybel gemaak (gewoonlik deur die inligting uit verskillende boeke uit die Ou en Nuwe Testament met mekaar te vermeng). (i) ’n Veronderstelling is dat as mens die tydsbeskrywings in al die Bybelboeke met mekaar in verband bring ’n mens ’n mooi tydlyn gaan kry van hoe die geskiedenis van die wêreld ontvou en gewoonlik word die inligting gebruik om ons situasie vandag te verklaar. (ii) Profesieë word gesien as iets wat eenmalig iewers in die toekoms in vervulling gaan en soms is dit klaar vervul.

Hierdie benadering het resent veral van die negentiende eeu af ’n groot rol gespeel in herhaalde voorspellings dat die wederkoms op ’n spesifieke datum gaan plaasvind, dat vandag se konflikte in die Midde-Ooste die profesieë van die Bybel is wat waar word. Daar is groepe in die Christendom wat hierdie benadering en lees van die Bybel voorstaan, maar dit word nie in akademiese kringe (dws. mense wat aan universiteite of seminaries opgelei is en doseer) enigsins bestudeer of ernstig opgeneem nie.

Daar is baie redes waarom hulle dit doen. Hulle wys daarop dat die verskillende boeke van die Bybel oor ’n baie lang tyd geskryf is en dat Openbaring byvoorbeeld honderde jare na Daniël die lig gesien het. Daniël se profesieë was ook gemik op sy tyd en die regerings waarna hy verwys is regerings wat hy in sy tyd geken het. Hy het met ander woorde nie sy boek geskryf met Openbaring in gedagte nie. Omdat die God van Daniël en Openbaring dieselfde God is, is daar ooreenstemmings in die twee boeke en hoewel Openbaring na sekere van die inligting in Daniël verwys, het hy nie sy tydlyn presies oorgeneem nie. Buitendien is die meeste van die tydsverwysings in Openbaring simbolies en nie bedoel om presies net so verstaan te word nie. Om dus uit Openbaring ’n presiese ‘tydlyn’ op te stel is nie moontlik nie, en die wat dit probeer het moes elke keer erken dat die wederkoms nie plaasgevind het soos hulle voorspel het nie. ’n Ander probleem is dat die mense twee duisend jaar gelede nie so presies met tyd gewerk het as wat ons gewoond is nie. Ons weet nie eers presies wanneer Jesus, Paulus of Johannes gebore is of gesterf het nie, Johannes sê Jesus het drie en ’n half jaar lank gepreek, terwyl dit in die ander Evangelies lyk of dit een jaar was, die geslagsregister in Matteus deel Jesus se register in 3×14 op, wat meer simbolies is as wat dit presies akkuraat tot op die laaste naam is. Om nou so presies met Bybelse data op die dag en uur te wil voorspel wat gaan gebeur sou selfs vir die mense in die Bybelse tyd vreemd gewees het.  

Die vraagsteller wys terreg daarop dat dit nie so maklik is om al die gegewens uit die verskillende boeke van die Bybel te ‘sinkroniseer’ in een tydlyn nie, doodgewoon omdat die boeke nie geskryf is om elkeen ’n stukkie van die tydlyn te verskaf of presies met mekaar ooreen te stem nie. Daarom verskil die baie pogings om die berekeninge te maak so van mekaar. Immers, elkeen van die pogings probeer die getalle en jare op sy eie manier bymekaar sit. Van die mense wat nie die berekeninge aanvaar nie, wys daarop dat ‘selfs die Seun van die Mens ken die uur (die verloop van die kalender van God) nie – net God’. Hoe kan ons nou presies wil bereken wat wanneer op God se tydtafel moet gebeur.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Vergifnis en grense – Hermie van Zyl

In hierdie aanbieding sal jy leer:

  • Dat dit noodsaaklik is om ander te vergewe in die lig van hoe God ons vergewe;
  • Dat daar geen grense is aan ons vergifnis van mekaar nie;
  • Dat dit ’n onmoontlike eis is wat tog moontlik is
  1. Die noodsaak om mekaar te vergewe

Die vorige twee aanbiedings het in die besonder klem gelê op God wat die mens vergewe. In die heel eerste aanbieding het ons egter reeds gesê dat God wat die mens vergewe, en mense wat mekaar vergewe, onskeibaar is. In hierdie aanbieding wil ons daarom graag die klem op die aspek van tussenmenslike vergifnis laat val. Nie net die noodsaak daarvan nie, maar spesifiek die grense daarvan. Hoe ver strek my vergifnis van ander?

Kom ons onderstreep eers net weer die noodsaak om mekaar te vergewe. Dit bring ons terug by die uitspraak oor vergifnis in die ons Vader-gebed. Volgens die Lukas-weergawe (Lukas 11:4) lui dit: “… vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree.” Soos ons reeds in aanbieding 2 gesê het, beteken hierdie gebed nie: Omdat ek ander vergewe vir hulle oortredings teen my, daarom vergewe God my nie. Nee, God vergewe my enkel en alleen op grond van sy genade in Christus. Wat hierdie frase wel sê, is dat daar ‘n verwantskap is tussen hoe God my vergewe en hoe ek teenoor ander optree. Die want-frase wil sê: Ek is bereid om ook so te vergewe soos God my vergewe het. Die Matteus-weergawe (Matteus 6:12) klink ‘n bietjie anders (“… vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree”), maar beteken dieselfde, naamlik: Ek wil graag maak soos U maak. My vergewing van ander eggo as ‘t ware God se vergifnis van my; wanneer ek ander vergewe, vorm dit die spieëlbeeld van wat God vir my gedoen het. Die punt is: Wie nie bereid is om ander te vergewe nie, verstaan nie vergifnis nie en het nie regtig insig in sy of haar eie skuld voor God en waarvoor God jou alles vergewe het nie. Indien ons almal leef uit God se genade, indien genade die groot gelykmaker is, dwing dit ons om met ander oë na mekaar te begin kyk. Almal het dieselfde nood aan God se genade en vergifnis. Dit behoort dus vir ons makliker te wees om vir mekaar se tekortkominge, foute en sondes ruimte te maak en mekaar te vergewe. Wel, ten minste logies beskou, maar nou weet ons dat mense nie altyd logies optree nie, veral nie as dit by vergifnis kom nie, soos die volgende gelykenis sal illustreer.

  1. Hoe ver strek vergifnis? Matteus 18:21-35

Indien dit waar is dat dit noodsaaklik is om mekaar te vergewe, is die verdere vraag: Hoe ver strek daardie vergifnis? Mense is mos geneig om alles te kwantifiseer. Ons probeer alles afskaal tot hanteerbare groottes en afmetings. Nie net dinge nie, maar ook mense en verhoudings. Ons is voortdurend besig om verhoudings te reël in terme van klassifikasies, reëls, wette en sosiale voorskrifte. Dis alles beperkende maatreëls, deur onsself daargestel, wat verhinder dat ons mekaar raaksien en met mekaar kommunikeer. Dis maatreëls waardeur ek myself terugtrek agter skanse, beskerm teen die ander en verskoon om betrokke te raak. Kom ons kyk hoe die gelykenis van die onbarmhartige amptenaar van Matteus 18:21-35 ons help om ‘n blik te kry op die grense van vergifnis.

Petrus vra in v21: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen. Selfs sewe keer?” Petrus probeer kennelik om homself te beskerm teen te veel betrokkenheid by sy naaste. Sy bekommernis spruit voort uit die vorige verse (v15-20) waar die veronderstelling is dat die gemeente volhardend betrokke sal wees by ‘n gemeentelid wat gesondig het. Alles moet in die stryd gewerp word om die lidmaat weer in te skakel by die gemeente. Maar Petrus raak bietjie benoud: Êrens moet hierdie betrokkenheid tog end kry. Hoeveel keer moet ek vergewe as my broer iets verkeerd doen teen my?

Die agtergrond van die vraag in v21 lê in die opvattings van die Judaïsme van destyds waar grense belangrik was en geestelike aktiwiteite getel en bereken is. Byvoorbeeld, die naaste is slegs die mede-Jood, en jou vyand moet jy haat. Met ander woorde, daar is ‘n begrensing van die verhouding met die naaste. So hier ook: Daar moet ‘n grens wees aan hoeveel ‘n mens kan vergewe; slegs sewe keer, dan het jy jou plig gedoen. Dis interessant dat Petrus nogal die Joodse voorskrif van drie maal verruim as hy sewe keer voorstel. Maar laasgenoemde is slegs ’n kwantitatiewe verruiming, nie kwalitatief nie, want drie keer of sewe keer, dit bly steeds beperk.

God se voorskrif vir vergifnis, vir ons betrokkenheid by mekaar, is egter anders: Sewentig maal sewe keer. Oppervlakkig gesien lyk dit na nog ‘n verdere kwantifisering, naamlik 490 keer. Maar in die lig van die gelykenis wat volg, is dit klaarblyklik nie die bedoeling nie. Dit gaan hier oor oordrywing om die punt tuis te bring dat ons vergifnis van ander onbeperk is, ad infinitum, tot in die oneindigheid toe. Nog meer: Vergifnis is onvoorwaardelik. Dit blyk uit die feit dat die broer van v21 nie eens berou het of om vergifnis vra nie. Die punt is: Ongeag of die vriend berou het oor dit wat hy verkeerd teen jou gedoen het, moet daar van jou kant af steeds ‘n bereidheid wees om te vergewe. Die liefde en betrokkenheid by die ander is onbegrens, dit hang alles af van hoeveel liefde jy in jou hart het. Daarom dat die opdrag om te vergewe aan die einde van die gelykenis verander van 70×7 keer na “van harte” (v35).

Oor die eis van sewentig maal sewe keer vergewe wil ons egter walgooi: Wie kan dit regkry? Dis te veel gevra van vlees en bloed, ‘n mens kan dit nie bekostig nie. Maar die gelykenis van v23-34 wil presies die teenoorgestelde sê: In die lig van die groot skuld wat God my kwytgeskeld het, kan ek dit nie bekostig om nie so te vergewe nie.

Die gelykenis wil deur middel van oordrywing en kontraste drie dinge beklemtoon:

  1. Die onbetaalbare groot skuld van die mens teenoor God
  2. Die onbegryplike grootheid van God se vergifnis
  3. Die onbeperktheid van die mens se dankbaarheid

Kom ons neem hulle een vir een.

  1. Die onbetaalbare groot skuld van die mens teenoor God.

Die “miljoene rand” van v24 is letterlik 10 000 talente; dit is ’n onbetaalbare groot skuld. Dit blyk uit die feit dat Galilea en Perea (die regeergebied van Herodes Antipas) se gesamentlike jaarlikse belastinginkomste destyds maar 200 talente was. Die amptenaar skuld dus ’n astronomiese bedrag. Vanuit sy situasie lyk die prentjie soos volg: Hy skuld 10 000 talente, wat gelyk is aan 50 miljoen dinarii. En 1 dinarius is ’n gewone arbeider se dagloon. Dus, indien ’n dagloner elke dag sy hele dagloon afbetaal, sal dit hom 136 986 jaar neem om terug te betaal. Duidelik ’n onbegonne saak. Maar dis juis die punt. Met hierdie geweldige oordrywing wil Jesus die gedagte onderstreep dat die skuld onbetaalbaar is. Daar is geen manier waarop die amptenaar sy skuld kan delg nie. ‘n Ryk man kan nie eens in ‘n leeftyd soveel geld maak nie, wat nog te sê ‘n gewone dagloner soveel skuld maak. Maar dít is ons posisie voor God: ’n Onbetaalbare groot skuld.

  1. Die onbegryplike grootheid van God se vergifnis.

Die koning kry die man innig jammer, laat hom vry en skryf sy skuld af (v27). So handel God met ons. God se vergifnis is onpeilbaar ruim, groot, diep en onbeperk. Dit is daarom inderdaad ’n vreemde geregtigheid wat aan ons geskenk word. Dit het ons in aanbieding 2 gesien met die behandeling van die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende ure gehuur is (Matt 20:1-16). Die manier waarop God ons sy geregtigheid skenk, is vreemd en ongewoon. Dit kom ons nie toe nie, en tog skenk Hy dit uit genade, omdat Hy goed is.

  1. Die onbeperktheid van die mens se dankbaarheid.

Die enigste logiese reaksie van die vergeefde amptenaar sou wees: Grenslose verwondering en dankbaarheid; nimmereindigende, onbeperkte wederliefde en vergifnis. Daarom is sy gedrag teenoor die medeamptenaar so skokkend (v28). Dié skuld hom maar ’n paar rand (letterlik 100 dinarii), wat hy binne ’n jaar of twee sou kon terugbetaal. Ons eerste reaksie is dus een van walging en afkeer: Hoe kan hy so gevoelloos, so harteloos wees! Dit laat mens dink aan Dawid se reaksie toe die profeet Natan hom gaan aanspreek het oor hy Urija se vrou vir hom gevat en Urija op ’n slinkse wyse om die lewe laat bring het (2 Samuel 12). Natan vertel vervolgens aan Dawid die verhaaltjie van ’n ryk man wat ’n besoeker wil onthaal, maar hy is so suinig dat hy ’n arm man se enigste ooilammetjie gaan steel en dié vir die besoeker voorsit. Waarop Dawid verontwaardig uitroep: Dié man moet sterf! Maar Natan sê vir Dawid: Jý is die man.

So wil ons ook uitroep by die aanhoor van hierdie hartelose amptenaar se optrede. Hierdie man moet sterf! Maar dan hoor ons uit die mond van God: Jý is die man. Hierdie amptenaar se verfoeilike gedrag is tekenend van jou en my! Ons onwilligheid om mekaar te vergewe in die lig van die groot kwytskelding wat ons van God ontvang het, is inderdaad skokkend.

Nou word dit meer verstaanbaar waarom die opmerking vroeër gemaak is: Ons kan dit nie bekostig om nie ook so te vergewe nie. Daar is net een logiese antwoord op wat God vir ons gedoen het, en dit is om 70×7 keer te vergewe, dit wil sê: radikale, grenslose, onbeperkte vergifnis van ander – tot in die oneindigheid toe, niks minder nie. Maar dis op hierdie punt dat ons ou natuur dwarsweg vasskop. Daarom die volgende afdeling.

  1. Onmoontlike eis?

Wat God eis, is inderdaad te veel vir vlees en bloed. Dis onmoontlik. Geen mens kan daarby kom nie. Maar God verwag nie die onmoontlike nie. Al wat Hy vra, is dat ons sal begin om die onmoontlike te laat moontlik word. Hoe? Deur God toe te laat om deur sy Gees al meer oor te neem, die ou mens te laat sterwe, en my met die nuwe mens in Christus te beklee. Om ten spyte van my eie geïrriteerdheid met mense, my bevooroordeeldheid, my kritiek op en harde hantering van ander, nogtans daardie eerste tree te gee in die rigting van vergifnis. Om uit te reik, op te soek, besorg te wees, die ander se situasie te probeer peil, sensitief te wees vir ander se nood en behoeftes. Om as kind van God weer van vooraf te leer loop in die koninkryk van God. Om die eerste wankelende babatreetjies te gee in die rigting van ruimhartigheid. Om te besef waar ék vandaan kom, hoeveel vergifnis ek self ontvang het, en ander in daardie lig te sien. Om in te sien: die bietjie vergifnis wat ek uitdeel, is maar net ‘n klein teken van God se ruimhartigheid wat my deel geword het, wat algaande ook op my begin afskuur het.

Die feit van die saak is, om te vorder met verhoudings kan dit nie koudbloedig bereken, beperk en aan bande gelê word nie. Dis nie hoe dit werk in die koninkryk van God nie. Verhoudings moet “van harte” wees (v35). Ek moet van harte kan vergewe. “Van harte” is Jesus se uitleg van 70×7; dis wat 70×7 eintlik beteken. Die hart tel nie, maar voel intuïtief sy weg deur die lewe. Daar moet ruimte in my hart kom vir die ander se andersheid, broosheid, gebreke, tekortkominge en – sonde. Nie kille berekening nie, maar ’n hartlike bekering tot die naaste, ‘n ander gesindheid, ingesteldheid – dis die onmoontlike wat God vra, wat tog moontlik is. Waar ek nie kleinsielig en kleinserig wegskram van ander en my afgrens van ander nie, maar my hart oopstel; so oop en ruim soos God se hart, toe Hy in sy hart vir my ruimte gemaak het, net soos ek is.

Die punt is: Vergifnis het geen grense nie; dit hang maar net af van hoe ruim my hart is. As jy daarop staan dat elke onreg wat aan jou gedoen is (of wat jy dínk aan jou gedoen is) gewreek moet word deur woedeuitbarstings, ewigdurende stilstuipe, die koue skouer te gee, allerlei kleinlike strafmaatreëls te bedink, of deur mense hof toe te sleep – dan kan daar geen herstel van verhoudings plaasvind nie. Dan word die sagte bindweefsel van genade wat gesinne, families en ’n samelewing aan mekaar hou, stelselmatig vernietig, dan bly alles soos dit was sedert die sondeval. Alles bly dan vasgevang in ’n bose spiraal van geweld en teen-geweld. Daar kan geen nuwe orde tot stand kom nie. Christene bly dan deel van die probleem en word nie deel van die oplossing nie. Niks van God se nuwe wêreld word dan sigbaar in hierdie wêreld nie. Nee, Christene is by uitstek die mense wat geroep word om daardie bose geweldspiraal te deurbreek, om nuwe moontlikhede van herstel te genereer.

Op hierdie punt moet ons ook iets sê oor die verhouding tussen wette en vergifnis. Dit is wel so dat wette en ander afskrik-maatreëls kan keer dat ‘n samelewing volledig in duie stort. Maar meer wette, reëls en regulasies kan nie ‘n nuwe orde daarstel nie. Dis soos om vir ‘n mens te sê wat wil vlieg: Jy moet net jou arms vinniger op en af swaai, dan sal jy kan vlieg. Jy sal in der ewigheid nie kan vlieg nie, want jy is nie gemaak om te kan vlieg nie. Jy kan net vlieg as jy van binne-af getransformeer is, wanneer jy as vergeefde mens ander begin vergewe. ‘n Samelewing kan slegs vooruitgaan as daar die bereidwilligheid is om mekaar se oortredinge te vergewe, wanneer vergifnis as ‘n lewensingesteldheid of lewenshouding aanvaar word. En dit behels: a. ’n voortdurende besef van jou eie sonde, onvolmaaktheid en gebrokenheid, en b. om mekaar in liefde, begrip en aanvaarding aan te kyk, te besef dat ons almal leef uit die genade van God, die groot gelykmaker.

Dít is so ongeveer wat dit beteken om mekaar 70×7 keer te vergewe: Jy is voortdurend daarop ingestel om jou eie en ander se tekortkominge as lewensfeit te aanvaar. En jy is altyd bereid om sake vanuit die ander se gesigspunt te benader. Daar kom ruimte in my hart vir ander se andersheid, broosheid, gebreke, tekortkominge en – sonde. So gesien ken vergifnis geen grense nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Vlakke van bestaan – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Ek het by ’n pastoor gehoor dat daar verskillende vlakke van bestaan is, byvoorbeeld die fisiese (waar ons as mense lewe), dan ’n volgende een waar ons bose geeste kan sien, en dan ’n volgende waar jy engele kan sien, ensovoorts. Is dit waar? Verduidelik asb.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie vraag kan op twee maniere beantwoord word: godsdienshistories en teologies. Ek gee kortliks aan beide aandag.

Godsdienshistories

Met “godsdienshistories” word bedoel die manier hoe die antieke mens, waaronder ook die gelowige Jood en Christen, sy godsdiens beleef en uitgeleef het. Kennis hiervan is vir ons vandag meer informatief as normatief, dit wil sê, ons kan nie destydse denke en gebruike net so heelhuids as normatief oorneem vir vandag nie. Ons dink immers vandag anders oor die wêreld as die antieke mens, selfs al word ons steeds beïnvloed deur die tradisies wat ons in die Bybel aantref. Maar dit is wel nodig om soveel as moontlik van hierdie godsdienshistoriese agtergrond te bekom, omdat dit onontbeerlike inligting vorm vir hoe ons die Bybel verstaan vir ons eie tyd. Daarsonder kan ons nie onderskei waarop dit eintlik aankom en wat steeds vir vandag geld nie.

Die antieke mens, waarby die Bybelskrywers uiteraard ingesluit word, het anders gedink oor die samestelling van die kosmos as ons vandag. Hulle het byvoorbeeld aan ’n “drieverdieping”-kosmos geglo. Die “grondverdieping” is gesien as die aarde – ’n plat skyf wat op sy pilare gegrondves was in die oerwaters. Die “kelder” was sheōl of die doderyk (soms ook die onderaardse diepte genoem), ’n gebied onder die aarde waarheen die siele van afgestorwenes gegaan het, en waar, volgens latere sienings, die duiwel en demone ook gevange gehou word tot die eindoordeel. Die “eerste verdieping” was die uitspansel of firmament wat soos ’n koepel bo die aarde gespan en met pilare op die aarde se eindes gevestig is. Die son, maan en sterre was aan die koepel geheg. Die koepel het ook die oerwaters van die hemel van die oerwaters onder die aarde geskei. Die koepel het sluise gehad wat van tyd tot tyd oopgegaan het en dan het dit op die aarde gereën. Agter die koepel was die hemel, waar God en sy engele gewoon het.

Die hemel is verder deur die Jode in verskillende vlakke ingedeel. Die literatuur wissel hieroor, maar die gewildste voorstelling was dat daar sewe hemele is, min of meer in rangorde geplaas, met die engele in al die hemele en God in die hoogste hemel. Sommige skrywers praat ook van drie en tien hemele. Daar is verder name aan elkeen van hierdie hemele gegee, met ’n engel wat oor elkeen die wag hou. Ons kry iets hiervan in die Nuwe Testament as Paulus in 2 Kor 12:2-4 sê dat hy weet van ’n man (hy praat waarskynlik van homself) wat tot in die derde hemel weggeruk is en daar onuitspreeklike woorde gehoor het. In dieselfde asem praat hy ook van die paradys, wat die vermoede laat ontstaan dat die derde hemel en paradys vir hom een en dieselfde plek was. Die meeste geleerdes verstaan dit ook so dat Paulus aan die derde hemel as die hoogste hemel gedink het, die plek waar God, die engele en die afgestorwe gelowiges woon. Die Openbaringboek verleen verdere luister aan hierdie opvatting deur te praat van die vier lewende wesens en 24 ouderlinge wat rondom die troon van God versamel is. Op sy beurt gaan hierdie opvattings terug op die Ou Testament, plekke soos Eseg 1:5 en Jes 6:2. Die Jode het verder ’n uitgebreide engeleleer gehad. Engele is in verskillende klasse ingedeel, soos aarts- of hoofengele, beskermingsengele, engele vir die verskillende volke, engele wat God se oordeel uitvoer, sy wet promulgeer, en sy genade en barmhartigheid bekendmaak. Die aartsengele het name gehad, waarvan twee in die Bybel behoue gebly het, naamlik Gabriël (Luk 1:26) en Migael (Dan 12:1; Judas :9; Op 12:7).

Die teenpool van die engele was die duiwel en sy demone. Hulle het deel gevorm van die onsigbare wêreld, maar was nie, soos die engele, naby die teenwoordigheid van God in die hemel nie. Hulle woonplek was primêr die onderaardse sfere, soos die onderaardse diepte, begraafplase, onherbergsame plekke en onderaardse skeure. Van hier het hulle aanvalle op mense geloods om dié te teister en te beset. Die Nuwe Testament gee blyke van hierdie opvattings in gedeeltes soos Mark 5:1-13, Judas :6-7, en Op 20:3, waar die demone in verband gebring word met begraafplase en die onderaardse diepte. Hierbenewens was daar ook die opvatting, meer vanuit die Griekse wêreld, dat die lug gevul is met allerlei bose geeste. Die lug was dus vir die antieke mens nie ’n neutrale domein nie. Daarom dat ’n teks soos Ef 6:12 sê dat die gelowige se stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen elke bose gees in die lug. (Dit is moontlik so verstaan dat die bose geeste die lug – die dele onder die hemelkoepel – okkupeer.) Die gelowige se stryd teen die bose lê ook ten grondslag van Ef 1:21-22 as daar staan dat God alle mag en gesag, krag en heerskappy aan Christus onderwerp het (kyk ook Kol 2:10). Hoewel hierdie magte gewone aardse heersers of owerhede kon wees, dui dit ook op menslike owerhede in die greep van die bose. Die Romeinse Ryk is byvoorbeeld deur sommige Bybelskrywers as ’n werktuig van die bose beskou, spesifiek in die Openbaringboek (vgl Op 18: Babilon = Rome). Ons tref dus in die Nuwe Testament ’n verskeidenheid van gedagtes aan wat die bose lokaliseer in afgesonderde plekke, onder die aarde, in die lug en in sommige aardse owerhede.

Op hierdie punt kan ons begin saamvat om ons vraagsteller se vraag te beantwoord. Die wêreld waarin die eerste Christene geleef het, was gevul met die godsdienstige konsepte wat veral uit die Jodedom, maar ook uit die Griekse wêreld aan hulle bekend was. Hiervolgens is dit inderdaad so dat die hemel en aarde ’n komplekse samestelling gehad het; dit het uit verskillende vlakke bestaan. Die fisiese bestaan was maar net een vlak van die totale werklikheid. God en sy engele, en daarby nog Satan en sy demoniese magte, het ook hierdie werklikheid gevul. Satan en sy magte was veral gelokaliseer in die onderaardse diepte en onherbergsame plekke, maar ook “in die lug”. God en sy heilige engele het weer die verskillende hemele bewoon. Daar was verskeie voorstellings oor hoeveel hemele daar was (enigiets van 3 tot 10). Maar daar is nie ’n eenvormige prentjie oor waar ons almal en alles moet lokaliseer nie. Dit was nie ’n eenduidige sisteem van, sê nou maar, sewe hemele waar die eerste hemel deur demone bewoon is, die tweede deur engele, die derde deur ’n hoër kategorie engele, en dan so voort tot ons by God en die lewende wesens en 24 ouderlinge kom nie. Ons kan bloot sê dat daar ’n verskeidenheid van voorstellings was oor hoe die sigbare en onsigbare werklikheid saamgestel en bewoon is. Verder moet ook beklemtoon word dat hierdie voorstellings veral in die Jodedom voorgekom het. Uiteraard is die eerste Christene hierdeur beïnvloed, want dit was hulle leefwêreld. Maar dis veelseggend dat niks van die uitgebreide Joodse spekulasies oor die hoeveelheid hemele deur die Nuwe-Testamentiese skrywers oorgeneem is nie. Net hier en daar kry ons ’n glimps daarvan. Dis asof die Bybelskrywers hierdie spekulasies doelbewus vermy het, wat vir ons ’n goeie aanduiding is dat ons nie te veel hieruit moet aflei of oorneem nie.

Die vraag is nou hoe ons uit al hierdie godsdienshistoriese voorstellings sin moet maak vir ons wêreld vandag. En dit bring ons by die volgende afdeling, die teologiese.

Teologies

Met “teologies” word bedoel dat ons gesagvolle antwoorde soek vir vandag oor wat ons moet glo en hoe ons moet lewe. Dit behoort uit die godsdienshistoriese oorsig hierbo duidelik te wees dat ons nie alles wat destyds aanvaar is omtrent die samestelling van die kosmos net so heelhuids kan oordra na vandag nie. Ons is kinders van ons eie tyd, en sedert Bybelse tye het daar baie ontwikkelinge op die wye terrein van die wetenskap – spesifiek ook die Bybelse wetenskap – plaasgevind wat ’n rol moet speel in hoe ons vandag oor die samestelling van die kosmos en spesifiek die geesteswêreld dink. Hoe moet ons uit die verskeidenheid van voorstellings oor die destydse ordening van die geesteswêreld sin maak vir vandag? Die volgende insigte kan as riglyn dien.

Ons hoef nie vas te val in voorstellings van hoeveel hemele daar was en hoe en deur wie hulle bewoon is nie. Dit is voorstellings wat voortgevloei het uit destydse insigte, maar wat nie noodwendig normatief vir vandag geld nie. Die normatiewe of gesagvolle van die Bybel lê nie primêr in die godsdienshistoriese voorstellings nie. Wat ons wel as steeds gesagvol kan aanvaar, is dat daar ’n geestelike wêreld is wat die fisiese onderlê, dat wat ons met ons normale sintuie kan waarneem eintlik maar net ’n fraksie van die werklikheid is. Dit is die een gedagte wat die Bybel onteenseglik aan ons wil oordra en waaraan ons moet vashou. As ons hierdie perspektief prysgee, gee ons iets wesenlik prys. Dis nie om dowe neute nie dat die Bybel boordensvol is met visies op ’n “ander wêreld” wat nie net as werklik ervaar word nie, maar wat ook ons denke en optrede in die alledaagse werklikheid grondig beïnvloed en vorm. Dink aan Jakob wat ’n visioen het van engele wat op en af beweeg tussen hemel en aarde (Gen 28:12-17), engele wat aan mense verskyn (bv Gen 18; Matt 1:20-23; Luk 1:26-27), die Here wat die oë van Elisa se slaaf open om te sien dat hulle omring is van hemelse perde en strydwaens van vuur wat hulle beskerm teen die vyand (2 Kon 6:17), profetiese vergesigte van toekomstige gebeure en van ’n Redder wat sal kom (bv Sag 3:8; 9:9-10), Petrus wat ’n visioen het waar hy op ’n dakstoep besig is om te bid (Hand 10:10-16), die dissipels en later Paulus wat ontmoetings het met die opgestane Here Jesus (Joh 20:19-29; Hand 9:3-6), en die hele Openbaringboek wat uit een majestieuse visioen bestaan van ’n hemelse wêreld wat ons huidige wêreld oorspan, rig en stuur. En so kan mens die voorbeelde vermenigvuldig; daar is omtrent nie ’n bladsy in die Bybel waar die bo-sintuiglike wêreld nie ter sprake kom nie. Trouens, dis die hele perspektief waaruit die Bybel geskryf is. Sonder erkenning van hierdie perspektief word die hele betekenis van die Bybel betekenisloos. Ja, ons hoef nie al die inkledings van die destydse beskrywings te aanvaar nie, maar die transendente (bo-aardse) perspektief durf ons nie prysgee nie. Daar ís ’n geestelike werklikheid wat nie so direk voor oë is nie maar wat ons sigbare werklikheid transendeer (te bowe gaan), onderlê en deurkruis. Wie oog hiervoor kry, weet dat ons sigbare werklikheid deur die transendente God in aansyn geroep is, en steeds onderhou en na sy voltooiing gevoer word. Dít is die belangrike perspektief wat die Bybel leer en waaraan ons moet vashou. Hoe presies hierdie onsigbare werklikheid saamgestel is, weet ons gewoon nie. Die Bybel is baie suinig met informasie hieroor. En waar dit oënskynlik wel detail-inligting deurgee, soos in die Openbaringboek, moet dit meesal simbolies verstaan word. Die voorstellings moet dus nie die fokus van ons aandag wees nie. Waarop ons wel moet fokus, is dat ons ten diepste leef uit God se wêreld, ’n wêreld wat weliswaar onsigbaar maar vir seker wérklik is en wat ons lewe hier op aarde rig en lei. Deur die geloof kry ons deel aan hierdie onsigbare wêreld – vir tyd en ewigheid.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl