Digitale Bybel – Francois Malan

Danie vra:

Waar kan ek n naslaan Bybel digitaal kry om af te laai?

Antwoord

 Prof Francois Malan antwoord:

Ek weet nie van ’n naslaan bybel nie, maar by You Version kan jy ’n 1983-vertaling, 1953-vertaling, Die Boodskap en Die Bybel vir Almal in Afrikaans kry as jy die You Version aflaai. Daarmee saam kry jy 53 Engelse vertalings.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die vrou van 2 Johannes 1 – Jan van der Watt

At  vra:

Daar is ook n gedeelte in 2 Johannes 1 waar hy praat van die oudste aan die uitverkore vrou en haar kinders
Johannes was die oudste van al die apostels wat oorleef het en die uitverkore vrou die Kerk en die die kinders persone wat die Evangelie wat Jesus en apostels verkondig het aangeneem het in die geloof.

 Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord: 

In 2 Johannes 1 lees ons dat die skrywer die kort briefie rig aan ‘Die uitverkore vrou en haar kinders’. Die vraag is nou of dit letterlike bedoel is (dit is aan ’n fisiese persoon geskryf) en of dit figuurlik is, met ander woorde dat die ‘uitverkore vrou’ eintlik verwys na die gemeente.

Oor die antwoord op hierdie vraag is daar nogal verskil van mening. Daar is ondersteuning vir altwee opinies. Natuurlik is die belangrikste manier om so vraag te beantwoord om na die konteks te kyk en hier lê die probleem juis. In sommige gevalle lyk dit of die brief vir ’n gemeente geskryf is en soms lyk dit of dit vir die vrou as leier in die gesin geskryf is. Hoe los ons die probleem op?

Ons moet onthou dat die Christene destyds nie in kerk bymekaar gekom het nie, maar in huise (sg. huiskerke). Dit beteken dat die huiseienaar ’n sekere seggenskap gehad het oor wat daar in sy of haar huis gebeur het, hoewel die huiseienaar nie altyd noodwendig die leier van die gemeente was nie (sien 3 Johannes). As ons in 2 Johannes 4 lees dat van die kinders van die vrou nie meer volgens die waarheid lewe nie, en hulle in verse 5-9 aangespreek word soos die skrywer in 1 Johannes die gemeente aanspreek (sien 1 Joh 2:7-11; 4:1-5), dan lyk dit of dit hier om ’n gemeente en nie ’n individuele vrou met haar probleme gaan. Buitendien, word daar nie melding gemaak van ’n vader nie wat ook meer op ’n figuurlike situasie dui.

Aan die ander kant word die woorde vrou en kinders letterlik verstaan en na 2 Johannes 10 verwys waar daar van ’n huis in die enkelvoud (in Grieks) gepraat word.

Die meeste Bybelverklaarders meen egter dat die verwysing na ’n figuurlike vrou (die gemeente) is en nie na ’n fisiese vrou met haar kinders nie. Die ‘vrou en haar kinders’ is eintlik die gemeente. Dit is ’n algemene manier waarop daar na gemeentelede verwys word. Johannes doen dit ook in sy eerste brief (1 Johannes 2:1, 12, 18 ens.) en in Openbaring waar die vrou (die bruid) na die Christene as geheel verwys (Open 19:6-8; 21:2).

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Jesus se vrou – Jan van der Watt

At vra:

Dit wil vir my voorkom asof die skrywer van die maniskrif nie praat van n fisiese vrou van Jesus nie maar Jesus en Sy bruid die Christen Kerk en Jesus as die bruidegom van die Kerk. .Daar is ook n gedeelte in 2 Johannes 1 waar hy praat van die oudste aan die uitverkore vrou en haar kinders. Johannes was die oudste van al die apostels wat oorleef het en die uitverkore vrou die Kerk en die kinders persone wat die Evangelie wat Jesus en apostels verkondig het aangeneem het in die geloof.

Antwoord
Prof Jan van der Watt antwoord:

Met die boeke van Dan Brown en die ontdekking van die nie-kanonieke en later Evangelie van Thomas in die vorige eeu het baie mense begin bespiegel oor die verhouding tussen Maria Magdalena (Maria van die plek Magdala naby die See van Genesaret in Israel). Sommige het beweer dat Jesus inderdaad met haar getroud was en nog ander het selfs beweer dat Jesus ’n nageslag het.

         Dit is natuurlik maklik om stories en samesweringsteorieë saam te flans. As mens egter na die betroubare bronne kyk is daar geen getuienis van so verhouding, dat Jesus getroud was of dat Hy ’n nageslag het nie. Dit is pure verbeelding as die betroubare bronne geraadpleeg word. As voorbeeld: iemand kan ook honderde jare of selfs duisende jare later (soos Brown) beweer dat Pres Paul Kruger ’n vrou was – die feit dat iemand dit later beweer maak dit nie waar nie, allermins. Dit is doodgewoon verbeeldingsvlugte en stories, veral omdat die boeke wat in die tyd van Jesus en sy dissipels geskryf is niks daarvan sê nie. As dit so was is die kanse baie klein dat een van hulle dit nie sou noem nie. Hulle noem dit nie, omdat dit nie so was nie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Geloofsekerheid – Jan van der Watt

Willie vra:

So baie maal hoor ek van mense (en predikante) wat sê op so en so ‘n datum het hulle tot bekering gekom en alles het verander en die vrede van die Bybel het deel van hulle lewe geword. Sulke stellings laat my twyfel of ek wel gered is.

 Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is wel so dat daar tekste in die Bybel is wat vertel van mense wat op ‘n spesifieke datum tot bekering gekom het. Sulke voorbeelde is Paulus op die Damaskuspad (Hand 9:1-8) of die Ethiopiër oppad terug huis toe van Jerusalem af (Hand 8:26-40). Hulle sal dus na ‘n spesifieke datum kan verwys waarop hulle die Here ontmoet het. So het hulle pad saam met die Here begin.

Dit is egter nie die enigste manier waarvan ons in die Bybel lees waarop mens ‘n gelowige kan word nie. Ons lees van gelowiges wat van geboorte af as gelowiges grootgeword het. Hulle kan nie ‘n datum noem nie – van hulle maar weet is hulle kinders van die Here. Hulle word as’t ware op die moederskoot met die boodskap van God gevul. Markus (Hand 12:12) is waarskynlik so ‘n voorbeeld van iemand wat in ‘n Christelike gesin grootgeword het en van vroeg af al die boodskap gehoor het.

Dit lyk dus nie of daar een resep is nie – party het ‘n datum en ander nie. Wat egter wel baie belangrik is, is hoe mens leef as jy van die Here bewus raak, hetsy of dit op ‘n spesifieke datum is en of omdat jy doodgewoon in ‘n Christelike huis van die Here bewus geraak het en hom so leer ken het. In Openbaring 2-3 sê Johannes gedurig dat die gelowiges wat van die pad van die Here afdwaal hulle moet bekeer, met ander woorde hulle lewe weer volgens die wil van God moet leef. Van die ander skrywers van die Nuwe Testament praat van ‘jouself as offer stel’ (Rom 12:1-2) of om die dinge daarbo te bedink (Kol 1:1-2), waarmee hulle dieselfde bedoel as Johannes wat van bekering praat. Behalwe vir Openbaring en Jak 5 word die woord bekering gewoonlik gebruik om die eenmalige draai na God toe te beskryf, met ander woord, die oomblik as jy na die Here toe draai en in Hom begin glo. As Openbring die woord gebruik gaan dit om die pad van heiligmaking, met ander woorde, jou daaglikse toewyding aan God. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt