Eerste mense van die wêreld – Francois Malan

Diana vra:

Heelwat mense vra waar kom ander mense vandaan met wie Adam en Eva se seuns getroud is nadat God gesê het gaan en vermenigvuldig, bewoon en bewerk die aarde?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Genesis 5 begin die geslagregister van Adam. Dit begin in verse 1-2 weer met God se die skepping van die mense Adam en Eva na sy beeld. In Genesis 5:4: Nadat Set vir hom gebore is, het Adam nog 800 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:10: Enos het na die geboorte van sy seun Kenan nog 815 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:13 Kenan het na die geboorte van sy seun Mahalalel nog 840 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:16 Mahalalel het na die geboorte van sy seun Jered  nog 830 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.  5:19 Jered het na die geboorte van sy seun Henog nog 800 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:22 Henog het na die geboorte van sy seun Metusalag nog 300 jaar naby God geleef en het seuns en dogters gehad. Metusalag het na die geboorte van sy seun Lameg nog 782 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:30 Lameg het na die geboorte van sy seun Noag nog 595 jaar geleef  en hy het seuns en dogters gehad. 6:1-3 Toe die mense baie begin word het op die aarde…het die Here gesê: My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduurte sal nou honderd en twintig jaar wees.

Na die sondvloed, wat alle mense uitgewis het (Gen 6:13), het die agt mense wat gered is in die ark wat Noag gebou het weer opnuut begin: Noag en sy vrou, sy drie seuns en drie skoondogters (Gen 7:7).

Genesis 4:17-24 vertel van Kain se nageslag sonder ’n aanduiding wie sy vrou was. Uit die geslagslys van Adam en Eva in hoofstuk 5, wat telkens sê dat hulle seuns en dogters gehad het, kan afgelei word dat Kain met een van sy susters of met ‘n broer se dogter kon getrou het, aangesien die mense destyds so lank gelewe het en baie kinders gehad het. Kain, Abel en Set was in elk geval nie die enigste seuns van Adam en Eva nie, soos 5:4 wys. Set word genoem omdat Christus uit sy nageslag gebore sou word. Kain word genoem as voorbeeld van die bose en Abel as die eerste martelaar.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Was Paulus ‘n apostel?- Francois Malan

As PAULUS n apostel was,was daar tog 13 apostels. Is it korrek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord apostel in die Nuwe Testament kom van die Griekse woord apostéllō wat beteken om iemand te stuur of om ’n boodskap te stuur.’ Die woord apóstolos beteken ’n gestuurde of ‘n boodskapper.

In Handelinge 22:21vertel Paulus dat die Here Jesus aan hom in die tempel van Jerusalem verskyn het en gesê het: ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur (apostéllō) na die heidene.’ In Handelinge 26:17-18 vertel Paulus aan koning Agrippa en die hele saal vol mense in Sesarea van sy roeping toe die Here Jesus aan hom op die pad na Damaskus verskyn het (vgl. Handelinge 9:1-6). Hy was op pad om die Christene in Damaskus te gaan arresteer. Op pad het  Jesus aan hom op die middag verskyn in ’n lig uit die hemel wat skerper was as die son. Die Here het vir hom gesê: ‘Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur (apostéllō) om hulle oë op te maak, sodat hulle van die duisternis na die lig kan kom, en van die mag van die Satan na God, en ook dat hulle deur geloof in My vergewing van sonde, asook ’n erfdeel saam met die geheiligdes, kan ontvang. Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie…’ 

In sy briewe aan die gemeentes  begin Paulus altyd sy brief ‘Paulus, ’n dienskneg van Christus Jesus, ’n geroepe apostel (apóstolos), afgesonder vir die evangelie van God (Romeine 1:1). ‘Paulus, deur die wil van God ’n geroepe apostel (apóstolos) van Christus Jesus..’(1 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’ (2 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel – nie op gesag van mense of deur ’n mens nie, maar wel deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het…’  (Galasiërs 1:1). ‘Paulus, ‘n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’  (Efesiërs 1:1), ensovoorts.

In Handelinge 14:14 word Barnabas ook ’n apostel (apóstolos) genoem saam met Paulus, al was Barnabas nie een van die twaalf nie.

Volgens Lukas 6:13 het Jesus, na ’n nag van gebed op die berg, sy dissipels (volgelinge) nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle apostels (apostóloi) genoem. Een van die twaalf was Judas Iskariot, wat Hom sou verraai (Lukas 6:16). Na Judas se dood, en na Jesus se dood en opstanding en hemelvaart het Petrus die 120 broers verwys na Psalm 109:8 ‘Laat ’n ander sy amp as opsiener oorneem. In Judas se plek het hulle twee manne voorgestel, en in gebed  die Here gevra om een aan te wys wat die Here gekies het om die taak  van hierdie diens van apostel (apóstolos) oor te neem waarvan Judas afvallig geraak het. Toe het hulle geloot en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels (apostóloi) gevoeg.

Openbaring 21:12-14 verwys na die Nuwe Jerusalem se 12 poorte waarop die name van die twaalf stamme van Israel op gegraveer is, en die twaalf fondamente van die stadsmuur met die name van die twaalf apostels (apostóloi) van die Lam op gegraveer.

Die Openbaring aan Johannes is egter ’n boek van simbole. Hier word die name van die twaalf stamme van Israel gebruik om aan te toon dat al die gelowiges uit die Ou Testament deel sal wees van die Nuwe Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem is egter ’n simbool van die ewige lewe saam met God. So is die twaalf name van apostels ’n simbool vir al die gelowiges van die Nuwe Testament wat in die Lam van God, sy Seun Jesus Christus glo, wat deel het aan die ewige lewe saam met God. Want Jesus, as God wat ons menslike natuur aangeneem het, het gesterf vir die sonde van die ganse mensdom van die Ou Testament en van die Nuwe Testament (vgl. Johannes 1:1-5,9-14,29,36). En elkeen wat in Jesus glo word deel van die ewige lewe saam met God. (vgl. Johannes 3:16).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Twee verskillende eindgebeure? – Hermie van Zyl

Rudolph vra:

 Lukas 21:23: Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.

Hierdie vers kom voor waar daar gepraat word oor die verwoesting van Jerusalem (reeds gebeur in 70AD)

Markus 13:17: Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae!

Markus 13:18: En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie.

Matteus 24:19: Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.

Matteus 24:20: En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie

Hierdie verse kom voor waar daar gepraat word oor die eindtyd.

Moet dit gesien word as twee verskillende gebeurtenisse?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller maak ’n baie skerp waarneming deur raak te sien dat daar ’n verskil tussen Lukas, enersyds, en andersyds Matteus en Markus se weergawes van Jesus se profetiese rede is. Dit gaan naamlik daaroor of die gebeure wat in Lukas 21:23 beskryf word ’n ander gebeure veronderstel as wat in Markus 13:17-18 en Matteus 24:19-20 beskryf word, hoewel die bewoording van al drie Evangelies min of meer ooreenstem. Die kort antwoord is “nee”, al drie Evangelies handel oor dieselfde gebeure, die eindtyd. Maar hierdie kort antwoord benodig ’n langer verduideliking om beter verstaanbaar te wees.

Matteus, Markus en Lukas staan bekend as die sinoptiese Evangelies, omdat hulle die verhaal van Jesus breedweg “saam sien” (betekenis van “sinopties”). Dit beteken dat daar, ten spyte van verskille, groot ooreenkomste tussen hierdie drie Evangelies is, tot in die detail-bewoording toe. Die teorie wat vandag deur die meeste kenners van die Nuwe Testament aanvaar word, is dat hierdie ooreenkomste en verskille die beste verklaar word deur te aanvaar dat dié drie van mekaar gebruik gemaak het. Dit staan bekend as die onderlinge afhanklikheidsteorie. Dit behels dat Markus die eerste geskryf is en as bron vir Matteus en Lukas gedien het, maar dat laasgenoemde twee nie van mekaar geweet of gebruik gemaak het nie. Verder, daar is dele waar Matteus en Lukas woordeliks met mekaar ooreenstem maar wat glad nie in Markus voorkom nie. Hier is die teorie dat Matteus en Lukas vir hierdie materiaal van ’n tweede bron, genaamd Q, gebruik gemaak het, weer eens onafhanklik van mekaar. Dan is daar ook nog materiaal wat net by Matteus voorkom en net by Lukas voorkom; dit staan bekend as die “eie materiaal” van hierdie twee Evangelies. Saamgevat: die teorie vir die ontstaan van die sinoptiese Evangelies lui dat Markus en Q as die twee bronne gedien vir Matteus en Lukas, en dat laasgenoemde twee ook hulle eie materiaal bygevoeg het.

As ons nou hierdie teorie toepas op die tekste waaroor ons vraagsteller dit het, dan sien ons dat dit een van daardie dele is wat by al drie Evangelies voorkom. Volgens ons teorie is Markus dan die oorspronklike bron, met hier en daar ook eie materiaal van Matteus en Lukas. Die inhoud van hierdie gedeelte is die sogenaamde profetiese rede van Jesus oor die eindtyd. Markus het dit eerste opgeteken, en Matteus en Lukas het dit oorgeneem in hulle onderskeie Evangelies, maar dit terselfdertyd “geredigeer”, dit wil sê aangepas sodat dit die doel kon dien wat elke evangelis daarmee gehad het. Ons moet dus die drie weergawes van Jesus se een profetiese rede  – te wete Markus 13:1-37, Matteus 24:1-51, en Lukas 21:1-38 – eintlik langs mekaar plaas en woordeliks met mekaar vergelyk om die verskillende “redaksionele aksente” van elke Evangelie te identifiseer. Die belangrike punt is: elke Evangelie berig oor dieselfde uitsprake van Jesus oor die eindtyd, maar elkeen plaas sy eie aksente daarop wat dit uniek maak in elke Evangelie. Dit gaan dus nie oor verskillende eindgebeure nie, maar elke Evangelie handel oor dieselfde eindgebeure en dieselfde oorgelewerde tradisie, elkeen net vanuit verskillende vertellersoogpunte of -hoeke.

Om die prentjie te voltooi, kan ons veral let op hoe Lukas die gedeelte hanteer wat deur ons vraagsteller aan die orde gestel is, want dis by Lukas waar in hierdie geval die grootste “afwykings” teenoor Markus voorkom. Tereg noem ons vraagsteller dat by Lukas dit veral oor die verwoesting van Jerusalem gaan. Let byvoorbeeld op die volgende beskrywings, wat nie by Markus en Matteus voorkom nie: Luk 21:20 praat van die leërs wat Jerusalem omring; 21:21 sê dat die mense wat in Judea en in die stad (Jerusalem) woon, daaruit moet padgee; en 21:24 berig oor oorlogvoering (die swaard), krygsgevangenes wat weggevoer sal word en Jerusalem wat deur die heidene vertrap sal word. Wat egter belangrik is om te onthou, soos reeds bo genoem, is dat Lukas nie van ’n ander eindtyd as Markus en Matteus vertel nie, maar dat hy die verwoesting van Jerusalem as deel van die eindgebeure teken. Ons vermoed dit hang saam met die besondere klem wat Lukas deurgaans in sy Evangelie en in sy ander boek, Handelinge, plaas op Jerusalem. Vir Lukas is Jerusalem die sentrum van die heilsgebeure: hier begin en eindig alles (Luk 2:25-52; 24:50-52); hier word die Heilige Gees uitgestort (Hand 1:4; 2:1-13); hier versamel die eerste kerk; en hiervandaan vind die verspreiding van die evangelie plaas na die hele destydse bekende wêreld (Hand 1:8). Geen wonder nie dat Lukas die verwoesting van Jerusalem laat saamval met die einde van die wêreld, en daarom die lotgevalle van Jerusalem inwerk as deel van die eindtyd. Vir hom is Jerusalem se einde so katastrofies dat dit as aanloop tot en simbool van die eindgebeure dien en daarom saam met die ander eindgebeure beskryf en beklemtoon moet word. Die klem op Jerusalem se lot het ook veral daarmee te make dat Lukas dit sien as die straf van God omdat hulle nie die heilsaanbod van God in Christus aanvaar het nie, vandaar die toespeling op Ou-Testamentiese tekste soos Hosea 9:7 in Lukas 21:22 wat verwys na die straf van God wat volg op volhardende ongehoorsaamheid. Wat met Jerusalem gebeur, dien as voorteken van die wêreldeinde, wat Lukas dan in navolging van Markus 13:24-27 in Luk 21:25-28 beskryf waar dit handel oor die koms van die Seun van die Mens. Wat met Jerusalem gebeur, sal met almal gebeur wat nie God se heil in Jesus Christus aanvaar nie. Dit is dus duidelik dat Lukas – soos Matteus – Markus se beskrywing van die eindtyd oorneem maar dit aanpas by sy eie oogmerke met sy Evangelie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Geloofsekerheid – Jan van der Watt

Willie het ‘n paar vrae oor geloofsekerheid gevra

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag gaan oor geloofsekerheid. Hier volg ‘n kort opsomming van die vraag:

Vraag 1: So baie maal hoor ek van mense (en predikante) wat sê op so en so ‘n datum het hulle tot bekering gekom en alles het verander en die vrede van die Bybel het deel van hulle lewe geword. Sulke stellings laat my twyfel of ek wel gered is.

Dit is wel so dat daar tekste in die Bybel is wat vertel van mense wat op ‘n spesifieke datum tot bekering gekom het. Sulke voorbeelde is Paulus op die Damaskuspad (Hand 9:1-8) of die Ethiopiër oppad terug huis toe van Jerusalem af (Hand 8:26-40). Hulle sal dus na ‘n spesifieke datum kan verwys waarop hulle die Here ontmoet het. So het hulle pad saam met die Here begin.

Dit is egter nie die enigste manier waarvan ons in die Bybel lees waarop mens ‘n gelowige kan word nie. Ons lees van gelowiges wat van geboorte af as gelowiges grootgeword het. Hulle kan nie ‘n datum noem nie – van hulle maar weet is hulle kinders van die Here. Hulle word as’t ware op die moederskoot met die boodskap van God gevul. Markus (Hand 12:12) is waarskynlik so voorbeeld van iemand wat in ‘n Christelike gesin grootgeword het en van vroeg af al die boodskap gehoor het.

Dit lyk dus nie of daar een resep is nie – party het ‘n datum en ander nie. Wat egter wel baie belangrik is, is hoe mens leef as jy van die Here bewus raak, hetsy of dit op ‘n spesifieke datum is en of omdat jy doodgewoon in ‘n Christelike huis van die Here bewus geraak het en hom so leer ken het. In Openbaring 2-3 sê Johannes gedurig dat die gelowiges wat van die pad van die Here afdwaal hulle moet bekeer, met ander woorde hulle lewe weer volgens die wil van God moet leef. Van die ander skrywers van die Nuwe Testament praat van ‘jouself as offer stel’ (Rom 12:1-2) of om die dinge daarbo te bedink (Kol 1:1-2), waarmee hulle dieselfde bedoel as Johannes wat van bekering praat. Behalwe vir Openbaring en Jak 5 word die woord bekering gewoonlik gebruik om die eenmalige draai na God toe te beskryf, met ander woord, die oomblik as jy na die Here toe draai en in Hom begin glo. As Openbring die woord gebruik gaan dit om die pad van heiligmaking, met ander woorde, jou daaglikse toewyding aan God. .

Vraag 2: As ek sê dat ek nog nooit so n persoonlike ontmoeting met Hom gehad het nie,het ek ook nie n spesefieke dag, datum , geleendheid , gebeurtenis waar ek kan se daar het ek tot bekering gekom nie.
Bekering maar een van die woorde om te praat van die verandering in mens se lewe naamlik dat jy kind van God geword het. Daar is ook wedergeboorte (Johannes 3:3, 5) of regverdigmaking of loskoping (Paulus). Dan is dit uit bogenoemde duidelik dat sommige mense as Christene grootword en dus nie op ‘n dag of datum bekeer is nie.

Vraag 3: Ek kan nie onthou dat ek ooit ʼn “persoonlike ontmoeting” met Jesus Christus gehad het nie. Wat presies is ʼn “persoonlike ontmoeting”? Hoe sal ʼn mens dit ervaar en weet dit is dit, sou dit wel gebeur?

In die kerklike spreektaal word daar in die algemeen gepraat van ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus. Ons moet onthou dat ons nie die verhale oor Jesus VOOR sy dood en opstanding moet verwar met sy teenwoordigheid na opstanding nie. Voor sy opstanding was Hy fisies as mens op aarde, maar is na sy opstanding in die hemel opgeneem. Volgens die verhale van die Bybel neem Jesus se verskynings na sy opstanding verskillende vorme aan. Paulus het die opgestane Jesus op die pad na Damaskus in ‘n helder lig ontmoet, Petrus of die dak in ‘n visioen, die dissipels weer in lewende lywe na sy opstanding, sodat hulle selfs aan hom kon vat. Dit is dus moontlik om Jesus op so manier te ervaar, maar dit lyk meer na die uitsondering as die reël – die verhale hierbo is maar min relatief tot al die Christene wat daar was. As ons Joh 14 lees oor hoe die Jesus by sy dissipels teenwoordig is, sien ons dat dit deur die Heilige Gees (met ander woorde die krag van God) deur ander mense teenwoordig is. Daar lees ons dat die Vader in Jesus ontmoet kan word deur die woorde en dade van Jesus wat soos die Vader s’n lyk (Joh 14:8-10). Net so moet gelowiges Jesus deur hulle woorde en dade teenwoordig maak. So ontmoet mens Jesus – sy liefde, sy genade, sy boodskap. Deel van die proses is om te bid (in gesprek met God te bly) en deur die Gees te leef.

Vraag 4: Ek het ook nie ‘n idee wat se geestelike gawes ek het nie, indien enige.
‘n Mens moet nie geestelike gawes met talente verwar nie. Talente is dinge waarmee mens gebore word, soos om vinnig te hardloop of vanself mooi te kan teken of te sing. Geestesgawes word vir ons beskryf in plekke soos 1 Kor 12-14, Rom 12:4-8, Ef 4:7 verder aan. Die Griekse woord ‘charis’ word gebruik om dit te beskryf. Die gawes in die Bybel het ‘n paar eienskappe, byvoorbeeld dat dit veral en in die eerste plek bedoel is tot opbou van die gemeente, hoewel dit ook individueel gebruik kan word, soos spreek in tale (lees 1 Kor 12-14), met ander woorde, om ander te versterk; dat dit veral gaan oor Christelike diens en koestering van die Woord van God; dat die gee van die gawes nie in die hande van mense rus nie, maar dat die Heilige Gees gee aan wie Hy wil (1 Kor 12:11). ‘n Mens kan wel streef na gawes (1 Kor 12:34), maar dit beteken nie dat die Gees dit aan jou gee nie. Hierdie verwysing na die ‘streef’ staan natuurlik in die konteks van die liefde. Hierdie soort gawes, waaraan mens self ook die verantwoordelikheid het om aan te moet werk (lees 1 Joh 4) help ons om te verstaan waaroor die ‘streef’ gaan. ‘n Ander faset van die ‘streef’ is om gereed te wees dat as die Gees op mens se knoppie druk, jy gereed is om te reageer.

Die vraag is inderdaad hoe mens weet God druk op jou knoppie en hoe jy weet wat Hy wil hê jy moet doen. Daar is nie ‘n eenvoudige resep nie – soms nader God jou deur mense, soms deur ‘n diepe oortuiging dat jy iets moet doen, soms deur ‘n geleentheid wat Hy oor jou pad stuur. Die punt is dat mens se geestelike antennas dan gereed moet wees om die stem van die Here te hoor. Die geestesgawes is ook nie almal spektulêr soos om wonders of genesings te doen of ‘n spesialis in spreek in tale te wees nie. Van die voorbeelde wat gebruik word as die gawes beskryf word, verwys na diens aan die liggaam van Christus, wat daarop neerkom dat as jy die liggaam van Jesus help om effektief liggaam te wees, dit ook ‘n geestesgawe is. Dus om by iemand wat siek is te sit en te help, of om te sorg dat die plek waar gelowiges aanbid gereed en skoon is, sou alles as spesiale gawes gesien moet word. God se teenwoordigheid en wonderdade vind ook deur klein dingetjies plaas.

Vraag 5: My gebedslewe is tans van so ‘n aard dat ek nie mooi weet wat om vir God te se nie.

Op Bybelkennis.co.za is daar oor ‘n duisend artikels wat oor gebed gaan.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt