Restitusie – Hermie van Zyl

Johan vra:

As ’n mens Christus aangeneem maar afgedwaal het en baie jare in erge sonde geleef het, en jy wil na God toe terugkeer – kan mens dadelik vergifnis kry as jy waarlik jammer is? Of moet mens eers regmaak teenoor mense wat jy te na gekom het deur bedrog, leuens, skinder, ontrouheid? Vrees vir gevolge om meer kwaad te doen as goed deur openbaarmaking van die sonde hou mens terug om volheid vir God te lewe. Hoe hanteer mens dit? Almal het verskillende opinies en sieninge.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller se vraag gaan ten diepste oor die verhouding tussen vergifnis en restitusie. Ons kan sê dat vergifnis die hart van die verhouding tussen God en mens, en mens en mens, is. Dis waar alles begin. Hiersonder kan nuwe verhoudings nie regtig van die grond af kom nie. Wie met ’n wrok in sy hart teen ander rondloop, besef nie wie hy of sy self voor God is nie. As vergifnis die hart is, is restitusie (of: herstellende geregtigheid) die hande en voete van verhoudings. Vanuit ’n nuwe visie op God se genade en my eie sonde kry ek nou ook ’n nuwe visie op skeefgeloopte verhoudings, op al die skade wat deur my optrede veroorsaak is, en ontstaan daar die behoefte om verhoudings en uiteindelik ’n samelewing waar God se geregtigheid heers, tot stand te help bring. Restitusie het dus te doen met geregtigheid, met wat reg is voor God; hoe Hy graag wil hê dat mense sal lewe.

Die Ou Testament het uitgebreide reëls oor restitusie gehad, kyk byvoorbeeld Eksodus 22:1-15; Levitikus 6:1-5. En so kry ons dit ook in die Nuwe Testament met die gebeure rondom Saggeus, die hooftollenaar van Jerigo. Volgens Lukas 19:8 is hy bereid tot restitusie, om so ver dit in sy vermoë is dinge reg te stel wat hy verbrou het. Hy is bereid om die geld wat hy onregmatig van mense verhaal het, terug te betaal.

Tollenaars was Jode wat as belastinggaarders vir die Romeine opgetree het. Hulle is daarom deur hulle volksgenote as buitestanders van die verbond beskou – volksverraaiers, nie kinders van Abraham nie. Maar Jesus sê vir Saggeus: Ek moet by jou tuisgaan, want vandag het daar redding vir hierdie huis gekom. Hierdie man is ook ’n kind van Abraham; ja, hy is deel van die verbondsvolk, nie ’n buitestander nie.

So het Jesus Saggeus se status in die Joodse gemeenskap herstel. Daar het redding vir hom gekom, sy sondes is vergewe. Sy posisie as volle lid van die Joodse gemeenskap is herstel. En dis onmiddellik van krag. Jesus sê vir die omstanders: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom … .” (Lukas 19:9). Logies gesproke kom vergifnis dus voor restitusie. As ek eers moes gaan restitusie doen vóór ek vergifnis ontvang, is ek eintlik besig om my eie vergifnis te verdien. En dit kan nie; God vergewe uit genade, nie op grond van ons goeie dade nie. En so behoort ons ook teenoor mekaar te handel. Maar wat nou uit vergifnis voortvloei, is ’n lewe van dankbaarheid, waarvan herstellende geregtigheid deel vorm. Dit doen Saggeus dan ook. Vanuit sy herstelde posisie voor God en in die gemeenskap is Saggeus nou bereid om restitusie te doen vir wat hy verbrou het. Die helfte van sy goed gee hy vir die armes, en hy betaal vierdubbeld terug waar hy iets van iemand afgepers het. So is hy presies die teenpool van die ryk jongman wat nie bereid was om iets vir die armes te gee nie (Lukas 18:23). Dis eintlik ironies: Die ryk man was ’n persoon van aansien in die gemeenskap en kenner van die wet, tog is hy nie bereid tot herstel nie. Maar Saggeus – die veragte, die uitgeworpene – gee veel meer (4x) as wat vereis is deur die wet. (Die wet het die volle bedrag + 20% rente vereis.) Dit is teken van sy egte berou en aanvaarding van God se vergifnis. Hy wil hê al die verhoudings waarin hy staan, moet herstel word.

Ware berou en ontvangs van vergifnis vertaal altyd in die bereidheid tot herstel van verhoudings en van skade wat aangerig is. Daarom sê Jesus ook vir die vrou wat in owerspel betrap is: “Gaan heen, en sondig nie meer nie” (Johannes 8:11). Die “gaan heen” is die kwytskelding en vergifnis van sonde, en die “sondig nie meer nie” is die oproep tot ’n nuwe lewe waarin sy afstand doen van haar ou lewe en die nuwe lewe as herstelde mens aanvaar en uitleef.

Maar hoe werk restitusie in die praktyk? Die volgende gedagtes kan dalk help:

Restitusie is ’n daad van vryheid. Dit is nie ’n absolute eis wat God aan ons stel in alle omstandighede en vir alles wat ons in die verlede verkeerd gedoen het nie. As dit die geval was, dan is restitusie nie meer deel van die evangelie nie, maar word dit ’n nuwe wet waardeur ons onsself probeer regverdig. Restitusie moet daarom altyd gesien word as iets wat voortvloei uit die feit dat God ons sonde vergewe het. Hy het dit van ons verwyder so ver as die ooste van die weste verwyder is; Hy dink nie meer daaraan nie; Hy reken ons dit nie meer toe nie; Hy het dit begrawe saam met Christus. Daarom dat Paulus kan sê: “Ek maak my los van die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is” (Filippense 3:13). En onthou: Paulus het vreeslike goed gedoen in sy verlede: hy het die gemeente van God vervolg, mense in die tronk laat stop, en heel moontlik ook sommiges se dood veroorsaak. Daaroor het hy opregte berou gehad, maar hy het terselfdertyd gelewe uit die genade en vergifnis van God. As dit nie so was nie, word restitusie iets wat ‘n mens kan vernietig, of dit word ’n poging waar ek nie meer uit die genade en vergiffenis van God lewe nie, maar waar ek myself probeer loskoop van my verlede. En dit kan nie, daarvoor het Christus die losprys betaal.

Ons kan nooit alles wat ons verkeerd gedoen het, herstel nie. Restitusie kan nooit ’n manier wees om alle spore van ons verlede te probeer uitwis nie. Sekere goed kan nooit ongedaan gemaak word deur restitusie nie. Daarvoor is ons sonde net te groot. Daarom, dit is nie die bedoeling van restitusie om in ons verlede te bly grawe totdat die lei skoongevee is nie. Oor sekere goed moet mens maar net aanvaar: hier leef ek volledig uit die genade van God, iets wat jy in elk geval moet doen. Ons moet dus nie onmoontlike take vir onsself stel en laste op onsself lê nie. Restitusie is iets wat voor die hand liggend is, iets wat jy binne ’n redelike tyd en binne jou vermoë kan doen. Dis nie ’n angstige, patologiese grawe in jou verlede totdat jy na jou mening alles wat jy verbrou het, ongedaan gemaak het nie. Want daar gaan altyd nóg iets opduik wat jy nog nie herstel het nie.

Restitusie is ’n daad van genesing en vreugde. Restitusie moet nie meer wonde en ongelukkigheid veroorsaak as wat die verkeerde ding wat ek wil herstel in die eerste plek veroorsaak het nie. Dan trek dit ’n streep deur die oogmerk van restitusie, naamlik om genesing en herstel in verhoudinge te bring wat voorheen deur ons sonde vertroebel is. ’n Mens moet daarom met wysheid te werk gaan, want restitusie kan onbedoelde, slegte dinge tot gevolg hê. Restitusie moenie ou wonde oopkrap of nuwes veroorsaak wat weer nuwe spanning in verhoudings kan bring, net sodat jy beter kan voel oor jou verlede nie. Nee, per slot van sake leef ons uit God se genade en vergifnis, nie uit die verdienste van ons goeie dade van restitusie nie.

Die beste restitusie wat ‘n mens kan doen, is ’n lewe in diens van God. Ons moet vorentoe lewe. As Petrus herstel word as dissipel nadat hy Jesus drie keer verloën het, gee Jesus aan hom ’n taak: Pas my skape op. Met ander woorde, sy lewe word gevul met ’n nuwe visie en opdrag. Dít is hoe hy sy verlede gaan goed maak – deur dit vorentoe reg te lewe; dis sy restitusie vir wat hy in die verlede verbrou het. As dit nie so was nie, is restitusie nie meer restitusie nie maar patologie. Restitusie is nie ’n voortdurende skuld-vaart in jou verlede in nie, dis eerder die daarstel van nuwe moontlikhede. So gesien het restitusie nie eintlik met die verlede te doen nie, maar met die toekoms. ’n Mens kom nie los van jou verlede bloot deur die verlede te probeer herstel nie, maar deur die lewe elke dag uit God se hand te ontvang en om te doen wat jou hand vind om te doen. Ons word nie geroep om die verlede te probeer uitwis of ’n beter verlede daar te stel nie, maar om met ons oë gevestig op die einddoel te lewe, die voleinding van dinge, die volledige apokatastasis (wederoprigting en herstel) van God se skepping en van my eie lewe. En dit doen mens deur ’n lewe van diens aan God, nie deur terugwaarts te lewe nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




DANIëL 10:2 – Marius Nel

PAULINE VRA:

In daardie tyd het ek, Daniël, drie weke getreur.
DANIËL 10:2 AFR83
Ek het klomp weergawes gelees. Ek wonder maar net of Daniel VOOR die visioen al getreur het?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord

In antwoord op die navraag, Daniël het vir drie weke gerou. Die konteks toon waaroor dit gegaan het: sy bekommernis oor die toekoms van die Judese ballinge. Wanneer hy die visioen ontvang, verstaan hy hoekom daar nie reeds vroeër ‘n antwoord van God se kant op sy vastyd en routyd was nie; daar was onsigbare magte aan die werk wat dit verhinder het. Die inhoud van die visioen gaan dan om die rede hoekom hy getreur het, en sy treurtyd lei direk tot die openbaring. Ek vertrou dit maak sin.

Skrywer: Prof Marius Nel




Die krag van God – Prof Jan van der Watt

Wille vra:

My geloof hang nie af van my emsosies nie, dit besef ek, maar daar is ʼn amperse tamheid in my geloofslewe. Ek lees gereeld Bybel en is n gereelde kerkganger. Ons het 2 skitterende predikante,maar tog is daar n lusteloosheid wat intree. Daar is begrippe wat ek nie mooi verstaan nie. Een begrip is Krag- God se krag. As ek aan krag dink dan is dit die krag wat n mens het om iets swaar op te tel, of die krag van elektrisiteit, of die krag van ‘n vliegtuig se enjins om dit in die lug in te kry . My vraag is, is die woord “dynamis tou Theou” reg vertaal? Hoe ervaar n mens die krag van God en hoe help dit my? Word n mens bewus daarvan of is dit maar net “ek glo dit is so “? Die tweede begrip wat ek nie verstaan nie is “Christus is in my.” Hoe ervaar n mens dit , wat gebeur met my of is dit maar net ‘n geloofskwessie, in die as ons sê Sy Gees is in my – verwys dit na hoe ek dink en optree op grond van wat ek in die Bybel lees? My laaste vraag is hoe raak ek van die tamheid ontslae, veral as werksdruk en spanning somtyds bomenslik raak ? Ek dink as n mens die goed nie mooi verstaan nie is dit seker n teëlaarde vir dit wat ek ervaar.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier is verskeie vrae, naamlik, oor die krag van God, oor die konsep ‘Christus in my’ en oor hoe die ‘Gees in my is’ (hieroor is baie inligting op ons webwerf, ‘Bybelkennis.co.za – kyk gerus daar en as dit nie bevredig nie, laat gerus weer weet watter spesifieke probleme jy nog het). Die drie vrae hang saam met die vraag oor die traagheid wat soms in mens se geloofslewe kan ontstaan.

1) Die krag van God. God is die almagtige God,wat natuurlik beteken dat sy krag alle krag oorskrei. Die Griekse frase dynamis tou Theou word inderdaad reg vertaal as die ‘krag van God’ (bv. Hand 8:10). Die tema ‘krag van God’ is ’n groot tema in die Bybel en kan nie in ’n kort stukkie soos hierdie volledig bespreek word nie. Ek wil alleen maar een voorbeeld gee van hoe Paulus in Filippense die teenwoordigheid van God se krag in sy lewe vir ons beskryf.

            Paulus het die brief aan Filippi uit die tronk geskryf (1:13, 14) en dit het nie met hom goed gegaan nie. Dit lyk selfs of hy vir sy lewe vrees, want hy het mooi oor die dood nagedink (1:20-22). Tog is dit ‘n brief van vreugde waarin Paulus uitroep: ‘Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal, verbly julle’ (4:4). Dus: ten spyte van sy swaarkry ervaar hy vreugde en blydskap. Waarom? Die antwoord gee hy in 4:13: ‘Ek is tot alles instaat (sien vir alles kans – Die Boodskap) deur Hom wat my krag gee’. Met ander woorde, dit is die Here se krag wat hom deur al die moeilikhede en swaarkry dra. In die direk voorafgaande vers (4:12) vertel hy hoe hy die hele spektrum van die lewe ervaar het (die goeie en die slegte, om baie of min te hê), maar nogtans sien hy vir alles kans/ sal deur alles kan verdra (wat die betekenis van ‘tot alles instaat’ beter uitdruk). Op ’n manier ervaar hy dus die Here se krag en dit hou hom staande, kom wat wil. Hoe beskryf hy die werking van die Here in Hom?

            In die direk voorafgaande gedeelte kry ons sy antwoord (4:4-9). Dit lê in sy noue verhouding met die Here. Hy sê dat in die geval van besorgdheid (oor die lewe) moet mens met die Here gaan praat (in gebed en smeking). Met ander woorde, mens moet openlik met die Here gaan praat. Dan kom daar ’n belangrike woordjie by: ‘met danksegging’, met ander woorde, terwyl jy nog vra (en voordat jy gekry het) moet jy al dankie sê) omdat jy weet die Here sal jou gebed verhoor en vir jou dit gee wat die beste is. Hierdie woordjie ‘dankie’ druk dus jou geloof en vertroue in die Here uit dat Hy naby is (4:5) en sal reageer soos wat Hy dink die beste vir jou is. Geloof is dus inderdaad ’n inherente deel van hoe God se krag werk. Jy moet op Hom vertrou want dit sal jou ook instaat stel om sy werkinge in jou lewe raak te sien.

            Maar dankie sê is nie die einde van die storie nie – ’n mens kan dan wegstap met vreugde at jy nie kan verstaan nie – dit gaan jou verstand te bowe. Die vreugde is nie omdat alles dadelik verander nie, maar omdat jy weet dat jou lewe in die hande van Jesus is. Hy sal jou bewaar. Dit is juis hierdie bewustheid van die nabyheid van Jesus waaruit jy jou krag kan put – die wete dat jy naby is.

            Dus die krag is nie soos elektrisiteit wat jou spiere groot maak en jou instaat stel om berge te versit nie. Die krag waarvan die Bybel praat is krag wat in jou begin werk as jy jou lewe al meer in die hande van Jesus plaas en dinge soos Hy begin sien en verstaan. Jy  moet inderdaad op Hom vertrou. Dit sien mens ook as Paulus in Ef 6:10-20 waar die wapenrusting van God bespreek word – dit gaan deurgaans daarom om in gebed en deur die Gees naby aan Jesus te bly.

            Die vraagsteller is dus reg: dit gaan om geloof in Jesus, om die voortdurende soeke na sy teenwoordigheid wat jou instaat stel om deur alles nie moed te verloor nie, maar staande te bly.

2) Die konsepte van ‘Christus in my’ en natuurlik ‘ek in Christus’ kom op baie plekke in die Nuwe Testament voor en word die ‘immanensie van Jesus’ genoem. Die is veral in Paulus se briewe aan die Efesiërs en Kolossense asook in Johannes waar die konsep sterk funksioneer. Die feit dat die Bybel sê dat Christus in ons is en ons in Christus (vgl. bv. Joh 15:1-8 as voorbeeld) wys dat mens nie hier op ’n fisiese manier moet dink nie. Iemand kan tog nie fisies in iemand anders wees en omgekeerd nie.

            Dit gaan hier om dit waarvoor Jesus staan en wat Hy vir ons kom gee het. As die Bybel sê dat Christus in ons is beteken dit dat sy krag, sy gawes, dit wat Hy bied in ons is, met ander woorde deel van ons is (lees bv. hoe Paulus beskryf wat Jesus vir ons gee in Kol 2:9-15) . Daarom kan gesê word dat ons ook in Christus is: want ons deel aan al hierdie gawes, krag en teenwoordigheid. Dit is nie ons s’n alleen nie, maar ons deel daaraan (ons is daarIN).

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Baha i Faith – Francois Malan

Peter vra:

1) graag wil ek weet of die Baha i Faith n sekte is. 2) Die 3 susters kerke se noem name soos die Doppers en ek dink daar is ook “ die stoep sitters”

Ek is n Herformer > A] gedoop, B] belydenis, C] en getrou in die Kaapse gemeente. – Ds Brandt gedoop, en Prof PS Dreyer B] en C].

Ek is n Nederlandse Afrikaner – huis taal Engels/Nederlands

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bahai-religie sien homself as ’n openbaring van ’n nuwe weg van hoop en eenheid, wat deur God tot die hele mensdom gerig is.

Dit het ontwikkel uit die leringe wat twee leiers in die 19e eeu in Persië ontwikkel het. Die eerste was Mirza Ali Muhammed (1820-1850), wat homself die Bab (‘hek’) genoem het. Hy het nie veel volgelinge gehad nie. Hy is deur die Persiese owerheid om die lewe gebring omdat hulle beweer het dat hy ’n aandeel aan ’n komplot teen die Sjah gehad het. Die tweede Mirza Hussain Ali ()1817-1892) ’n volgeling van Bab, het homself Baha’u’llah ‘die eer van God’ genoem. In 1863 het hy verklaar dat hy ’n manifestasie van God is, wat deur Bab aangekondig is en gestuur is om die aarde aan die einde van die tyd te red en God se wil vir die nuwe tydperk te vertolk.

Die volgelinge van Bahai aanvaar die goddelike gesag van Bab en Baháu’lláh en hulle opvolgers, lg. se seun Abdu’l-Bahá en kleinseun Shogi Effendi.

Baha’u’llah leer die eenheid van God en godsdiens, die eenheid van die mensdom vry van vooroordele, die inherente goedheid van mense, die progressiewe openbaring van godsdienstige waarheid, ontwikkeling van geestelike kwaliteite; gelyke waarde van mans en vroue, harmonie tussen godsdiens en wetenskap, belang van opvoeding, dinamiek van verhoudings wat indiwidue en gemeenskappe aan mekaar verbind.

Hulle leer dat die geskiedenis van die mensdom in siklusse verloop. Een siklus het 6 000 jaar gelede begin met Adam, die eerste van hulle profete. Sy opvolgers was Moses, Krisjna, Boeddha, Zarathustra, Christus en Mohammed. Die laaste en belangrikste van die groep is Baha’u’llah, terwyl daar nog ander is wat nog moet kom. Baha’u’llah het homself beskou as die vervulling van alle beloftes in alle godsdienste en as die  komende wêreldvernuwer of messias. Hy moes die ware ‘godsdiens van God’ leer, die wêreld met geregtigheid vul en dit verlos van sy verlore staat en die disintegrasie van morele waardes in die moderne beskawing. Die transendente God lewe en wil opnuut met die mensdom praat. Baha’u’llah het gekom om die foute en wanbegrippe van vorige religieë reg te stel, ’n nuwe kultuur in waarheid en eenheid in te lei en die koninkryk van God wat die ander godsdienste verwag, op te rig.  Die Bahai maak daarop aanspraak dat hulle die groot universele religie van die wêreld is, nie ’n klein sektetjie nie. Daar is tans meer as 100 000 Bahai gemeenskappe versprei oor die hele wêreld.

Huidige skrywers lê slegs die woorde van Baha’u’llah uit en maak nie nuwe openbarings nie. Eenheid moet na die mensdom gebring word deur God se universele bedeling soos wat dit aan Baha’u’llah geopenbaar is.

Die christendom getuig egter dat Jesus Christus die Woord van God is, God se openbaring aan die mensdom, dat elkeen wat in Jesus glo kind van God word, en die Vader en die Seun en die Heilige Gees by elkeen wat in Jesus glo sy woning maak (vgl. Johannes 1:1-4;12; 14:15-17;23).

2 Die naam ‘Doppers’ kom van die dopkeile wat die vroeë predikante van die Gereformeerde kerk gedra het teenoor die hoë keile van die ander kerke se predikante.  ‘Gatjieponders’ is die naam vir die vroeëre NG Kerk predikante wat ’n gat-japon gedra het met ’n gat in die middel van een stuk materiaal om jou kop in te steek. Dit was die vroeëre toga.

Skrywer: Prof Francois Malan