Geloof en dade – Hermie van Zyl

Sonika vra:

Hoe bring ek die twee, geloof en dade, bymekaar? Die mens kan nie net met goeie dade die ewigheid verwerf nie. Hoe sluit die vrug van die Gees by dade en geloof aan?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is reeds uitvoerig oor hierdie onderwerp geskryf op ons webwerf, Bybelkennis.co.za. Ek nooi dus die vraagsteller uit om ondergenoemde artikels te lees. Sleutel net die artikels se titels in by die soekfasiliteit op die tuisblad (elkeen op sy eie), en vind hulle almal:

  • Geloofsvrae: Goeie werke (A König)
  • Die Groot Geloofswoordeboek: Goeie werke (A König)
  • Die wet se relevansie vir vandag (Hermie van Zyl)
  • Geloof en werke (Francois Malan)

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Openbarings in Openbaring – Hermie van Zyl

Gerrit vra:

Hoe hanteer ek openbarings wat aan my geopenbaar word? Al die onthullings wat ek gehad het tot op hede het te doen met die boek Openbaring. Ek verstaan nie altyd als nie, ek weet nie wat om met hierdie inligting te maak nie. Is die geskiedenis besig om hom die sewende keer te herhaal?
Ek kom uit ’n Christenhuis waar geloof en God ons alles is. Ek moes ’n paar jaar gelede ophou kerk toe gaan, want ek raak te emosioneel in die kerk. Dit is baie moeilik vir my, want ek is belet om die Bybel in ons familiehuis te bespreek, omrede ek dinge wat aan my openbaar is, melding van maak. Met wie kan ek hierdie openbaarmakings bespreek?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller sê nie wat die aard of inhoud van die openbarings is wat hy ontvang het oor die boek Openbaring nie. Dis ook moeilik om agter te kom wat hy bedoel met die geskiedenis wat hom die sewende keer sou herhaal. Moontlik het dit te make met sy insigte oor Openbaring – dat Openbaring voorspellings oor die wêreldgeskiedenis bevat en dat dié herhaaldelik voorkom. Ek lei ook af dat hy al teenstand in sy kerk en huis ervaar het oor sy sieninge. Verder wil hy graag met iemand gesels oor sy sieninge, wat hy “openbarings” en “openbaarmakings” noem.

Eintlik het die vraagsteller drie vrae: 1. Wat beteken sy openbarings?; 2. Hoe moet die boek Openbaring in die Nuwe Testament verstaan word?; en 3. Wie kan hom help met sy sieninge oor Openbaring? Met die laaste vraag kan ek help. Ek wil aanbeveel dat die vraagsteller onderstaande artikels op ons webblad, Bybelkennis.co.za, lees. Dit sal hom baie help met die eerste twee vrae.

Oor die boek Openbaring: Sleutel die woorde “Die openbaring aan Johannes” in by die soekfasiliteit en lees die artikel van prof Francois Malan. Laasgenoemde het oor die hele boek Openbaring ’n uitleg gedoen, wat almal op ons webblad verskyn. Lees hulle almal en probeer agterkom hoe Openbaring verstaan moet word. Daar is ook ’n artikel deur dr Coen Slabber: “Hoe lees ek Openbaring?”. Dit gee algemene riglyne by die lees van Openbaring. Verder, die boek deur prof Jan A du Rand: Die A-Z van Openbaring, uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy, bevat ook ’n kosbare uitleg van die boek Openbaring en gee inligting oor verskillende benaderings tot hierdie boek.

Oor persoonlike openbarings: Die vraagsteller sê nie hoe hy aan hierdie persoonlike openbarings kom nie. Dalk deur middel van drome? Indien wel, kan hy onderstaande artikels lees op Bybelkennis.co.za. Dit sal hom baie help hoe om sulke openbarings in die algemeen te beoordeel:

  • “Drome”, geskryf deur ondergetekende (Hermie van Zyl)
  • “Visioene en drome … praat God so?”
  • “Die Groot Geloofswoordeboek: Drome”, geskryf deur prof Adrio König.

Ek vertrou bogenoemde inligting sal help.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Volgorde van gebeure – Hermie van Zyl

Anna vra:

Kan u asb vir my die volgorde van gebeure gee vanaf Jesus se kruisiging tot aan die einde van die tyd? En dan ’n kort beskrywing van elke gebeurtenis.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Vanuit die Nuwe Testament kan ons die volgende “kronologie” opstel van die groot heilsgebeure, vanaf Jesus se kruisiging tot aan die einde van die tyd:

  • Kruisiging van Jesus (op die Vrydag tydens die Paasfees in Jerusalem, ongeveer 33 nC). Hierdie gebeure is Jesus se offerande in ons plek, waar Hy ons sonde op Hom geneem, daarvoor gely en ons met God versoen het (Rom 3:25-26; 2 Kor 5:15-21; Heb 9:23-28).
  • Opstanding van Jesus uit die dood (op die derde dag na sy kruisiging, die eerste dag van die week, Sondag). Die opstanding is die oorwinning oor die dood, die sonde en die bose. Christus staan op om nooit weer te sterf nie. So verteenwoordig Hy die nuwe, verheerlikte mensheid. Christus is dus ín die tyd reeds die sigbare vergestalting van elkeen wat in Hom glo, se toekoms. Ons kan reeds hier op aarde vanuit die krag van die opstanding leef (Rom 6:1-14; 1 Kor 15:12-28).
  • Hemelvaart van Jesus (volgens Hand 1:3-11 ongeveer 40 dae na die opstanding). Die hemelvaart beteken nie dat Jesus weg is nie, maar dat Hy op ’n ander manier teenwoordig is, naamlik deur sy Gees (kyk volgende punt). Die hemelvaart kan ook gesien word as Jesus se troonsbestyging en magsaanvaarding aan die regterhand van die Vader (Hand 7:55-56; Heb 8:1; 1 Pet 3:22; vgl Ef 4:10). Vandaar regeer Hy die wêreld deur sy Woord en Gees.
  • Uitstorting van die Heilige Gees tydens die Pinksterfees (ongeveer 10 dae na die hemelvaart; Hand 2:1-13). Ons weet dat hierdie gebeure omtrent 10 dae na die hemelvaart was, want die Jode het die Pinksterfees altyd 50 dae na die Paasfees gevier. Jesus is gedurende die Paasfees in Jerusalem gekruisig, het drie dae later opgestaan, het daarna gedurende ’n 40 dae-periode aan sy dissipels verskyn, en die Heilige Gees word op die Pinksterdag uitgestort (Hand 2:1). Laasgenoemde gebeure moes dus ongeveer 10 dae na die hemelvaart plaasgevind het. Die uitstorting van die Gees gebeur volgens die belofte van Jesus (Luk 24:49; Joh 14:15-20; Hand 1:4) en bemagtig die gelowiges om Jesus se dissipels op aarde te wees en sy boodskap uit te dra (Hand 1:8).
  • Die tyd van die kerk, tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Dis die tyd waarin die gelowiges – die kerk – al vir die afgelope 2000 jaar leef. En dit sal voortduur tot en met die wederkoms van Christus. In hierdie tyd sal die evangelie verkondig word aan alle nasies (Matt 24:14; 28:19). Die evangelie sal baie oorwinnings beleef en orals sal die kerk van Christus sy lig laat skyn, soos bv in die boek Handelinge beskryf word en in die geskiedenis van die kerk die afgelope 20 eeue sigbaar geword het. Maar die kerk sal ook baie aanslae van die bose moet verduur, wat in intensiteit mag toeneem (Matt 24:3-26).
  • Die wederkoms van Christus. Dis wanneer Christus vir ’n tweede keer sigbaar aarde toe kom, hierdie keer nie in nederigheid nie, maar in heerlikheid (Hand 1:11). Niemand weet wanneer dit sal gebeur nie; net die Vader weet. Daarom moet ons waaksaam leef, asof dit enige dag kan gebeur (Matt 24:36-44; 1 Tess 4:2-6). Ons moet gereed wees wanneer die Bruidegom kom (Matt 25:10). Die wederkoms lui die laaste gebeure in van die wêreld soos ons dit ken. ’n Mens sou hierdie laaste gebeure soos volg kon inklee:
    • Die verskyning van die Seun van die mens, Jesus Christus (Matt 24:27-31)
    • Die opstanding van dié wat reeds gesterf het (1 Tess 4:13-18; 1 Kor 15:51-54)
    • Die verheerliking van dié wat nog lewe (1 Kor 15:51-54)
    • Die eindoordeel (Matt 25:31-46; 2 Kor 5:10; Op 20:11-13)
    • Die vernietiging van lyding, die dood en die bose (Op 20:10,14-15; 21:4)
    • Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde (Op 21:1; Heb 12:27; 2 Pet 3:13)
    • God sal dan alles in en vir almal wees (1 Kor 15:28)

Let wel, bogenoemde is slegs ’n relatiewe kronologie wat ons in ’n mate kan sistematiseer uit verskillende Bybelgedeeltes. Geen Bybelboek gee ’n volledige volgorde aan nie, maar beklemtoon slegs daardie aspekte wat vir die betrokke skrywer belangrik was. Dit is ons as Bybeluitleggers wat probeer om uit die ongesistematiseerde gegewens ’n soort volgorde daar te stel. Dis veral die gegewens betreffende die wederkoms waar mens uiters versigtig moet wees met ’n volgorde. Wat ek gegee het, is eerder ’n soort logiese orde, nie ’n absolute kronologiese volgorde nie. Die Bybelskrywers praat immers elkeen verskillend daaroor; elkeen gebruik sy eie metafore, en dis nie hulle oogmerk om ’n presiese volgorde vir die leser te gee nie.

Nietemin, bogenoemde volgorde van gebeure is soos wat die meeste Bybelkenners dit saamstel uit wat ons in die Nuwe Testament oor hierdie sake lees. Daar is egter ook die chiliastiese (of millennialistiese) standpunt wat die verloop van gebeure ietwat anders voorstel. Hoewel ek om goeie redes nie hierdie standpunt ondersteun nie, gee ek dit tog hier onder ter wille van volledigheid. Die vraagsteller kan meer oor die chiliastiese standpunt lees in artikels wat op die webblad van Bybelkennis.co.za verskyn. Die mees uitvoerige artikel is dié van prof Adrio König, met die titel: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/. Dan is daar ook een deur myself geskryf, wat by http://www.bybelkennnis.co.za/eindtyd/ te vinde is. Daar is heelwat ander ook, sleutel net die soekwoord “eindtyd” in en ontdek hulle almal.

Ondersteuners van die chiliasme huldig nie almal dieselfde siening oor presies hoe die eindgebeure kronologies verloop nie. Dit raak spesifiek die inkleding van die tydperke wat ek hierbo as “die tyd van die kerk” en “die wederkoms van Christus” beskryf het. Wat ek hier onder voorhou, is volgens die premillennialistiese standpunt, wat die gewildste chiliastiese voorstelling van die eindtydelike gebeure is. Dit behels die volgende:

Op 20:1-10, waar gehandel word oor die duisendjarige vrederyk, word gepaar met die sogenaamde wegraping wat na bewering in 1 Tess 4:13-18 voorkom. Hierdie twee stelle gegewens word dan so met mekaar verbind dat die “wegraping” van gelowiges eers plaasvind. Hierdie “weggeraapte” gelowiges ontmoet Christus in die lug (dit is die eerste wederkoms van Christus), word geoordeel, en vier saam met Hom die bruilof van die Lam (Op 19). Hierna breek die groot verdrukking aan, wat groot ellende vir die bewoners van die aarde meebring. Vervolgens word die Satan gebind, en dan breek die duisendjarige vrederyk op aarde aan waar Christus die wêreld regeer (Op 20:1-6). Ná hierdie tydperk word die duiwel weer vir ‘n kort rukkie losgelaat om sy verwoestingswerk voort te sit (Op 20:7-9), waarop die finale (tweede) wederkoms van Christus plaasvind, die Satan en die bose magte vernietig word, die opstanding en oordeel van die ongelowiges volg, en die nuwe hemel en aarde aanbreek (Op 20:9-21:8).

Die chiliasme word dikwels ook verbind met die sogenaamde dispensasionalisme. Dit hou in dat die wêreldgeskiedenis in verskillende dispensasies of tydperke ingedeel word, waarvan die laaste tydperk die duisendjarige vrederyk is. Maar waar pas die groot verdrukking in? Dié kom net voor die duisendjarige vrederyk. Die groot verdrukking word afgelei uit Daniël se profesie van die sewentig “jaarweke” of tydperke in Dan 9:20-27, wat opgebreek word in 7 + 62 + 1 tydperke (Dan 9:25-26). Elke tydperk beloop sewe jaar. Volgens die berekening wat begin met die bevel van koning Kores, die Pers, in 538 vC om Jerusalem te herbou, bring die eerste 69 tydperke (7 + 62) ons min of meer uit by die tyd van Christus, wat dan nog een onvervulde tydperk van sewe jaar laat. En dié word gesien as die tyd van die groot verdrukking wat nog êrens in die toekoms moet plaasvind. Laasgenoemde word weer in verband gebring met die profesieë van Jesus in Matt 24 wat praat van die groot verdrukking, ‘n tyd waarin daar natuurrampe sal wees, die Antichris sal optree, mense nie sal kan koop en verkoop as hulle nie die merk van die dier het nie (Op 13:17), en daar in die algemeen groot ellende vir almal sal wees (Matt 24:3-28). Sommige chiliaste sê ook dat dié tyd opgebreek word in twee tydperke van twee en veertig maande (= drie en ‘n half jaar) elk, volgens die woorde van Op 13:5. Vergelyk ook Dan 7:25 se “vasgestelde tyd”, wat letterlik ” ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd” is, wat weer gelyk is aan drie en ‘n half jaar.

Ter opsomming kan mens dus sê dat die chiliastiese standpunt oor die eindtyd die volgende volgorde van gebeure voorstel: Wegraping van gelowiges (eerste wederkoms), groot verdrukking (sewe jaar), binding van die Satan, duisendjarige vrederyk, ontbinding van die Satan ná die millennium, tweede (finale) wederkoms, vernietiging van die bose en sy engele, opstanding van en oordeel oor die ongelowiges, en die koms van die nuwe hemel en aarde.

Die mees verantwoorde standpunt oor die volgorde van gebeure is egter soos aan die begin verduidelik, voor die gedeelte oor die chiliasme.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Jesus se korrekte Naam – Hermie van Zyl

Anna vra

Ek het ’n vriend ontmoet wat glo dat die name “Jesus”, “God”, “Here” afgodsname is wat deur Grieks ingebring en foutiewelik vertaal is in ons Bybel om ons te verlei. Volgens my vriend mag ons nie deur Jesus bid nie, maar wel deur Jeshua Elohim.

Ek is baie verward; ek wil graag die regte name gebruik. My vriend is van die Israel-beweging, of so-iets. Hy verwys na Jesus as “daai ding”.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In William Shakespeare se toneelstuk, Romeo and Juliet, sê Juliet aan Romeo:

“What’s in a name? That which we call a rose
By any other name would smell as sweet”

Die populêre interpretasie van hierdie aanhaling is dat dit nie saak maak wat jy iemand of iets noem nie, dit kan niks verander aan wie of wat daardie iets of persoon in werklikheid is nie. En in ’n sekere sin is dit ook waar van Jesus. Al was Jesus se naam ook iets anders sou dit geen verskil gemaak het aan wie Hy werklik was en wat Hy kom doen het op aarde nie.

Ek haas my egter om te herhaal: “in ’n sekere sin”, want in Jesus se geval (ek beperk my tot die naam “Jesus” in my antwoord) is sy naam inderdaad belangrik, maar nie in die sin wat ons vraagsteller se vriend, en ander wat soos hy dink, dit wil verstaan nie. Vir hulle gaan dit klaarblyklik daaroor om ten alle koste vas te hou aan die oorspronklike Hebreeuse naam van Jesus, asof die saligheid in die Hebreeusheid van die naam opgesluit lê. Ons weet almal Jesus was na sy mensheid ’n Jood, en uiteraard sou Hy ’n Hebreeuse naam ontvang het. Sy Hebreeuse naam was na alle waarskynlikheid Jeshua, wat op sy beurt ’n verkorte vorm van die naam Jehoshua was, dieselfde naam wat Josua, die opvolger van Moses, gedra het, van wie ons veral in die boek Josua in die Ou Testament lees. Hierdie naam – in sy lang én verkorte vorm – beteken letterlik: “Die Here help”. In die meer oordragtelik-teologiese sin van die woord het dit dan die betekenis van “die Here verlos”. Matteus 1:21 koppel juis hierdie betekenis aan Jesus se naam, as daar staan dat die engel aan Josef die opdrag gegee het om die Kind wat sy verloofde, Maria, verwag, Jesus te noem, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”. Jesus se naam is dus ryk aan betekenis. Reeds vóór sy geboorte is sy naam al klaar ’n aanduiding van die werk wat Hy as die Seun van God sou verrig: Hy sal die Verlosser van sy volk, ja, van die wêreld wees. ’n Mens kan dus sê: Jesus het nie net ’n naam nie, Hy is sy naam. Sy naam is inderdaad uitdrukking van wie Hy werklik is – Verlosser of Redder.

Maar nou – en dis die belangrike punt – die belangrikheid van Jesus se naam lê nie primêr in die Hebreeusheid van sy naam opgesluit nie, so asof dit nooit in ’n ander taal vertaal mag word nie omdat die betekenis dan verlore sou gaan en dit dan skielik die naam van ’n afgod sou word. Nee, daar is ’n lang tradisie verbonde aan die vertaling van die Hebreeuse Jeshua in die Grieks. Die aanvanklike naam Jehoshua kom talryk in die Hebreeuse Ou Testament voor, maar na die ballingskap (6e eeu vC) het die verkorte vorm, Jeshua, die meer gebruiklike een geword. En dit is hierdie vorm wat in die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint (gemaak in die 3e eeu vC), met Iēsous weergegee word. Iēsous is dus die Griekse vorm van Jeshua, en indirek ook van die langer vorm Jehoshua. En Iēsous is dan ook die manier waarop Jesus se Hebreeuse naam, Jeshua, in die Grieks van die Nuwe Testament weergegee word. (Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf.) In die Latynse vertaling van die Nuwe Testament is dit later as Iesus/Jesus vertaal, en dít is dan die vorm waarin dit vandag in die meeste vertalings voorkom. Maar hoe die naam Jeshua ook al in vertalings weergegee word, dit bly dieselfde naam met dieselfde betekenis, verwysende na dieselfde Persoon – Jesus van Nasaret, die Verlosser van die wêreld, die naam waardeur ons gered word (Hand 4:12). En dit is in hierdie sin van die woord dat ek na Shakespeare aan die begin verwys het. Dit maak regtig nie saak hoe Jesus se naam in verskillende vertalings weergegee word nie, dit bly steeds dieselfde naam met dieselfde betekenis. By wyse van spreke: Die “roos” het steeds dieselfde geur, dit maak nie saak hoe jy die naam “roos” in ander tale weergee nie.

Mense wat dus daarop aandring dat ons net Jesus se oorspronklike Hebreeuse naam mag gebruik, as sou die verlossingskrag slegs in die Hebreeusheid van sy naam geleë wees, en as sou die vertaling van hierdie naam in ander tale ’n aanduiding wees dat mens dan ’n afgod dien, weet gewoon nie hoe vertaling werk nie. Wanneer iets in ’n ander taal weergegee word, probeer die vertaler(s) nie om die oorspronklike taal te vervals nie, maar juis om die oorspronklike taal so getrou moontlik in die teikentaal weer te gee, maar dan so dat die eie aard van die teikentaal ook behoue bly. Begrippe en name moet immers ook verstaanbaar wees vir die teikentaal-gehoor.

Verder, die bewering dat as jy nie die oorspronklike taal se Godsname presies so hou nie, jy dan verraad pleeg en daar ’n “afgod” ontstaan, is gewoon nie waar nie. Toegepas op Jesus se naam: Dis nie waar dat iemand skielik tot ’n afgod bid net omdat die naam nie meer in Hebreeus uitgespreek of geskryf word nie. Dit hang alles af of die Hebreeuse naam so weergegee word dat dit steeds ooreenstem met die bedoeling van die oorspronklike. En, let wel, die omgekeerde kan ook gebeur: Net omdat iemand tot of deur die naam Jeshua bid, beteken nie dat jy noodwendig tot die regte God bid nie. Selfs al gebruik jy die Hebreeuse Jeshua kan dit met soveel wanvoorstellings gepaardgaan dat dit nie meer die Jesus van die evangelie is nie. Ons kan gerus onthou wat sê Matteus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” Dit help nie jy gebruik die korrekte Hebreeuse naam van Jesus maar jou dade getuig nie daarvan dat jy sy volgeling is nie. So gesien kan die vashou aan die Hebreeuse naam Jeshua ewe goed dui op afgodsdiens, want dan word daar eintlik ’n afgod van die Hebreeuse naam Jeshua gemaak, asof slegs hierdie letters ’n soort magiese krag bo ander weergawes van die naam het. Nee, die beslissende toets is nie of jy die naam van Jesus korrek uitspreek of skryf nie, maar of jy die wil van die Vader doen.

’n Verdere interessantheid is dat die naam Jeshua/Iēsous ’n baie algemene naam onder die Jode van so ongeveer vier eeue vóór Jesus se geboorte tot aan die begin van die tweede eeu ná die geboorte van Jesus was. (Amper soos “Johan” vandag onder Afrikaanssprekendes.) Dit is daarom nie vreemd nie dat ons ook ander mense in die Nuwe Testament aantref met die naam Jeshua/Iēsous. In Handelinge 13:6 staan die Joodse towenaar op Siprus as Barjesus (= seun van Jeshua/Iēsous) bekend. En in Kolossense 4:11 is die helper van Paulus se naam ook Jeshua/Iēsous. Die Ou-Testamentiese Josua, word ook Iēsous genoem (Hand 7:45; Heb 4:8). En selfs Barabbas, wat in Jesus se plek vrygelaat is, het die naam Jeshua/Iēsous gehad (Matt 27:16). Dit alles wys dat daar nie iets besonders aan die naam Jeshua/Iēsous as sodanig was nie. Die besondersheid van die naam is die feit dat dit gekoppel was aan ’n besondere Persoon. Dit is hierdie Persoon en sy werk wat belangrik en uniek was. Dit is Hóm wat ons aanbid en dien, nie sy naam nie. En dit is deur Hóm wat ons tot die Vader nader, maak nie saak hoe hierdie naam in die verskillende tale van die wêreld weergegee word nie.

Ons vraagsteller hoef dus regtig nie verward te wees oor die naam Jesus nie. Sy dien nie ’n afgod met hierdie naam nie, maar die ware Jesus van die Evangelies.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl