ASASEL – Hermie van Zyl

JOHAN VRA:

In Levitikus 16 word geskryf dat Aäron oor twee bokke moet loot, een vir die Here en een vir Asasel. Wie is Asasel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Levitikus 16 handel oor die inrigting van die jaarlikse Groot Versoendag (Hebreeus: jom kippur). Die agtergrond hiervan is die reëling van die liturgie in die tabernakel, die sentrale (en vervoerbare) heiligdom van die Israeliete gedurende hulle woestyntog van Egipte na Palestina. Tot vandag toe word die dag gevier deur die Jode. Levitikus 16 speel ook ’n belangrike rol in die Hebreërboek in die Nuwe Testament. Daar pas die skrywer die gebeure rondom die offerkultus toe op die eenmalige en beter offer wat Jesus Christus deur sy kruisdood vir ons sonde gebring het.

Die inrigting van die versoendag hou kortliks in dat die hoëpriester ’n jong bul vir sy eie sondes en dié van al die priesters moet offer (v6, 11), en twee bokke vir die sondes van die volk. Wat die twee bokke betref, is een gemerk “vir die Here” en die ander “vir Asasel” (v 8). Eersgenoemde word geslag en die bloed word in die tabernakel gebruik om versoening te doen vir die volk se sondes (v9, 15). Die een “vir Asasel” word egter die woestyn ingejaag nadat die volk se sondes op hom oorgedra is. Dié bok is veronderstel om letterlik en figuurlik die sondes van die volk weg te dra die woestyn in (v10, 20-22).

Die vraag is nou, wie is Asasel? Geleerdes is nie baie seker oor die betekenis van die naam nie, maar stel drie moontlikhede voor:

Eerstens, dit kan “sondebok” beteken, aangesien die sonde van die volk op hom oorgedra word en hy hulle sonde dan letterlik wegdra die woestyn in, om nooit weer gesien te word nie. Dit is dan simbolies daarvan dat God die sonde van die volk ver weg van hulle verwyder, ’n gedagte wat ook in Psalm 103:12 uitgedruk word (God verwyder ons oortredinge van ons so ver soos die ooste van die weste af is).

Tweedens, dit kan verwys na die plek waarheen die bok gestuur is, iets soos “die afgrond”.

Derdens, Asasel kan die naam van ’n demoon wees wat, so is geglo, in die woestyn gewoon het. (Die woestyn is dikwels as die woonplek van demone gesien, vgl Matt 12:43; Luk 8:29.) Dit is die verklaring wat deur die meeste geleerdes vandag aanvaar en deur vertalings gevolg word. Die jukstaverbinding van die name “die Here” en “Asasel” in v8 sou hierdie moontlikheid kon ondersteun, want dan is beide twee name wat teenoor mekaar gestel word.

Indien laasgenoemde moontlikheid aanvaar word, is dit egter ’n vraag hoe dit sin maak in Levitikus 16. Waarom ’n bok vir ’n woestyndemoon met die naam Asasel oormerk? Twee moontlike verklarings word aangebied: (a) Die bok het as ’n soort afweer- of beskermingsmiddel gedien teen die woestyndemoon sodat dié hulle nie sou leed aandoen nie. Dit is vergelykbaar met wat ons in Eksodus 12:13,23 lees van die bloed van die lam wat aan die deurkosyne van die Israeliete in Egipte gesmeer is sodat die Here nie die eersgeborenes se lewe sou neem nie. Hierdie verklaring sou dan aansluit by ’n baie ou tradisie wat Israel in sy woestyntog raakgeloop het, ’n tradisie rakende demone – of ’n spesifieke demoon – in die woestyn wat gevaar inhou vir mense, en die manier om hulle daarteen te beskerm. Verder, dat hierdie demoon ’n naam gehad het, sou kon beteken dat dit ’n baie ou lokale tradisie was van ’n demoon wat gekoppel was aan ’n spesifieke gebied of plek. Die feit dat die naam Asasel nêrens elders weer voorkom nie, ondersteun die gedagte van ’n ou tradisie rondom ’n spesifiek plek maar wat mettertyd vervaag het, hoewel die naam behoue gebly het. En dit bring ons by die tweede verklaring.

(b) In Levitikus 16 word die bok wat vir Asasel geoormerk is spesifiek in verband gebring met die reinigingsrite van die volk se sonde. Die sonde van die volk word oorgedra op die bok en so simbolies die woestyn ingedra. Maar dis interessant dat die naam Asasel nie voorkom in v20-22 waar die rite van die oordrag van die volk se sonde op die bok beskryf word nie. So amper asof dit ’n latere ontwikkeling en toepassing van die vroeër tradisie rondom die bok as beveiliging teen Asasel was.

Dit kan dus wees dat die verklaring in (a) genoem mettertyd, in die oorlewering van die Levitikusboek, vermeng geraak het met dié van (b), laasgenoemde betekenis wat sentraal staan in Levitikus 16. Maar tog het die naam Asasel behoue gebly. Ons sit dus eintlik met twee tradisies in Levitikus 16, die ouer een waar die naam Asasel voorgekom het, en die later een (maar ook oud) wat meer spesifiek afgestem is op die betekenis van die bok as die een wat die sonde van die volk wegdra, wat eintlik nie meer iets met Asasel te doen gehad het nie. In die verstaan van Levitikus 16 behoort die klem dus op (b) te val en nie soseer op die betekenis van die naam Asasel nie, wat in elk geval onduidelik is.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Sonde en die gevalle mens/duiwel – Hermie van Zyl

Andrew vra:

Ek staan vandag met ‘n vriend en gesels oor ons geneigdheid om sonde te doen, al is ons wedergebore Christene. Ons word kwaad, ensovoorts. Net nou die dag raak ek kwaad vir iemand in ‘n winkel en moes na die tyd gaan om verskoning vra vir my optrede. My vriend lewer toe kommentaar en sê iets van die duiwel los mens nie uit nie. Ek wonder toe oor die volgende: i) Die duiwel is seker nie alomteenwoordig nie, hy kan tog nie by al die mense op die planeet uitkom om hulle te versoek, 24 uur van elke dag nie? ii) Is dit nie eerder die mens self, ons gevalle natuur waardeur ons versoek word nie? iii) Word daar nie iewers iets gesê van die duiwel wat “met kettings” gevange gehou word vir die oordeelsdag nie? Dus, het die duiwel nie die mens maar net een keer – in die paradys – versoek nie? Daarna was dit die mens se gevalle natuur wat die sonde veroorsaak en nie die aktiewe versoeking van die duiwel nie. Of loop die duiwel nog steeds rond soos ‘n brullend leeu om mense aktief aan te val?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Bostaande is almal baie relevante vrae, veral as ’n mens van die standpunt uitgaan dat die duiwel ’n persoonlike bestaan het en dit sy besigheid maak om almal “een vir een” by te kom. Dan kan dit nogal ’n taamlik opgaaf word – selfs vir die duiwel – om al die mense op aarde persoonlik in versoeking te lei. Net God is immers alomteenwoordig, soos ons vraagsteller tereg impliseer. Maar nou is die Bybel darem ook baie duidelik daaroor dat die duiwel nie alleen optree nie. Hy is eintlik die aanvoerder van ’n hele ryk van bose geeste (Matteus 12:24). Ons stryd is dus nie net teen ’n enkele “hoofduiwel” nie, maar teen die bose geeste in die lug. Kyk byvoorbeeld hoe Efesiërs 6:11-12 praat van “die duiwel” in die enkelvoud maar ook in die meervoud as dit sê ons stryd is “teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (1933/53 Afr Vertaling). So gesien is daar dus ’n hele klomp bose geeste wat seker oor die vermoë beskik om ten minste op baie plekke tegelyk teenwoordig te wees en hulle verwoestingswerk aan te rig, byvoorbeeld deur mense te verlei. Dus, die Bybel is duidelik daaroor dat die duiwel nie net die mens eenmalig in die paradys versoek het, die saad van vernietiging in sy hart geplant en toe onttrek het sodat die mens vanuit sy eie gevalle toestand homself kan vernietig nie. Die duiwel en sy onderdane is steeds aktief besig met hulle verwoestingswerk. Dit blyk ook uit die keer toe hy in persoon daarop uit was om Jesus te versoek (Matt 4:1-11).

Maar die vraagsteller is reg. Ons moenie alles wat in ons lewe skeefloop en al die versoekings wat daagliks oor ons pad kom op die skouers van die duiwel pak nie. Ons het inderdaad ’n gevalle, sondige natuur en daarom is ons voortdurend in ’n stryd met onsself gewikkel, teen ons ou natuur. Ons is self vir die meeste van ons probleme verantwoordelik, nie die duiwel nie. In Romeine 7 beskryf Paulus hierdie stryd, dat die ou natuur in my stryd voer teen die goeie, in so ’n mate dat ek selfs die goeie wat ek wil doen, nie doen nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, wel doen (Rom 7:19). (Vir meer inligting oor die verstaan van Rom 7, kyk ekskursus aan die einde van hierdie antwoord.) En nou is dit interessant dat as Paulus van hierdie stryd teen die sonde praat, hy nie ’n enkele keer na die duiwel verwys nie. Hoekom nie? Omdat Paulus nie in die bestaan van die duiwel glo nie? Nee, Paulus is wel deeglik bewus van sy bestaan en waarsku die gelowiges ook teen hom en sy bose engele (1 Kor 7:5; 2 Kor 2:11; 11:14-15). Maar Paulus is nie duiwelbehep nie. Dis eintlik merkwaardig hoe min Paulus in sy briewe oor die duiwel skryf. Hy is baie meer begaan daaroor dat ons self deur die Gees beheer sal kry oor ons sondige begeertes en so ’n lewe sal lei wat tot eer van God is. Lees Paulus se aangrypende uiteensetting hiervan in Romeine 8:1-17, waar hy skryf dat die Gees stry teen die ou natuur. Mense wat hulle laat beheers deur die sondige natuur, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle met die dinge van die Gees besig. En so voer ons die stryd teen die sonde wat maar altyd dreig om die oorhand te kry. Paulus skryf ook hieroor in Kolossense 3:2: as ons hierdie stryd teen die sonde wil voer, moet ons ons gedagtes rig op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, omdat ons in Christus gesterwe het vir die sonde en ons lewe nou saam met Christus verborge is in God.

Die oorwig van argumente oor ons stryd teen die sonde lê dus vir seker daarin dat ons nie soseer teen die duiwel baklei nie, maar teen ons eie gevalle natuur. Daarom is daar baie gelowiges wat vandag sê dat ons eintlik maar moet afskeid neem van die gedagte dat daar ’n persoonlike duiwel is. So ’n figuur, tesame met sy bose engele, sê hulle, behoort tot die wêreldbeeld van die antieke tyd en middeleeue. Mense het toe nie van beter geweet nie en het die donker kant van die lewe toegeskryf aan bose magte waaraan die mens uitgelewer is. Maar, word gesê, op voetspoor van die manier waarop veral Paulus die mens se probleem met sonde vanuit die mens self en sy ou natuur hanteer, het ons regtig nie meer ’n letterlike duiwelfiguur nodig nie. Ons kan die konsep “duiwel” hoogstens nog metafories gebruik, as figuurlike verwysing na die boosheid of duiwel in onsself.

Ek het begrip vir hierdie standpunt, maar wil tog ook sê dat ons ons nie te danig slim moet hou oor die transendente werklikheid nie. Soos Shakespeare in sy toneelstuk, Hamlet, deur middel van die karakter Hamlet aan Horatio sê: “There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy.” Die lewe bly ’n misterie, veral as dit gaan oor die ontstaan en bestaan van boosheid in die wêreld. Al is dit so dat die mens self vir die meeste van sy ellendes verantwoordelik is, is dit ook so dat boosheid dikwels so ’n bo-persoonlike vorm aanneem dat ons nie al te haastig van die bose as ten minste ’n mag wat oor die mens heers, moet afskeid neem nie. Inderdaad, ons stryd ís teen ons ou natuur, maar dit sluit nie uit nie dat dit ook ’n stryd is teen die bonatuurlike en bo-persoonlike mag van die sonde wat van die mens besit wil neem en so wil oormeester dat ons soms moet sê ons het met die vleeswording van die bose te doen.

Oor die laaste vraag van die vraagsteller (dat die duiwel met kettings gebind is tot die eindoordeel), kortliks die volgende: Judas vers 6 en 2 Petrus 2:4 praat van die engele wat gesondig het en toe deur God gebind is en in duister dieptes gevange gehou word tot die eindoordeel. In die buite-Bybelse Joodse geskrifte van destyds, soos 1 Henog, wat goed bekend en baie gewild was onder die Jode, word ook melding gemaak van hierdie geeste of gevalle engele wat deur God in gevangenskap gehou word tot en met die oordeel. Die plek van aanhouding is waarskynlik die doderyk, ook genoem die “onderaardse diepte”. En volgens Openbaring 20:1-7 is dit die plek waar die duiwel ook gevange gehou word vir ’n duisend jaar. Volgens die mees waarskynlike interpretasie van hierdie duisend jaar is dit die tyd tussen die eerste koms en wederkoms van Christus.

Die vraag is egter hoe hierdie “binding” van die bose engele en die duiwel verstaan moet word as ’n teks soos 1 Petrus 5:8 sê dat die duiwel steeds rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Die eenvoudige antwoord is dat albei gedagtes – binding én rondloop – waar is. Dit het te make met die struktuur van die bedeling waarin ons leef na Christus se eerste koms. Dis ’n bedeling van “alreeds” en “nog nie”. Ja, die duiwel het soos ’n weerligstraal uit die hemel geval (Luk 10:18); hy het sy besondere status as aanklaer verloor; die ryk van die bose is beslissend oorwin. Christus het selfs in die doderyk hierdie oorwinning oor die bose aan die gevalle engele gaan verkondig (1 Pet 3:19-20). Dit is die “alreeds”. Maar die finale konsummasie van die koninkryk van God het nog nie plaasgevind nie. Dis die “nog nie”. Die laaste hoofstuk van Christus se oorwinning oor die bose word eers geskryf by die wederkoms van Christus wanneer die magte van die duisternis finaal in die poel van vuur gewerp en vernietig word (Op 20:10,14). Maar intussen duur die stryd teen die sonde en die bose nog voort. Ja, laasgenoemde se mag is gebreek deur Christus, maar die finale veldslag moet nog plaasvind.

Ekskursus oor Romeine 7

Die vraag is of Romeine 7 die gelowige of ongelowige se stryd teen die sonde beskryf. Nie net gelowiges nie, maar alle mense het immers kragtens hulle menswees (die algemene genade van God) ’n soort innerlike morele kompas wat hulle in ’n mindere of meerdere mate teen dit wat verkeerd is laat stry. Waaroor dit dus in Romeine 7 gaan, is die mens wat in eie krag probeer om die wet van God volmaak na te kom. Dit beskryf eintlik Paulus se situasie vóór hy Christus leer ken het. Toe het hy probeer om die wet van God volkome uit te leef. En hoewel hy toe gedink het dat hy dit kon doen, het hy agterna besef, ná hy Christus leer ken het, dat mens God nie kan behaag deur die wet volmaak te probeer nakom nie. Jy loop jou elke keer vas teen jou eie onvermoë, jou sonde, sodat selfs die goeie wat jy wil doen, op mislukking uitloop. Mens kan jou net op Christus beroep, wat jou van hierdie doodloopstraat verlos (Rom 7:24-25). Dan kom jy in ’n nuwe verhouding tot God te staan –as iemand wat God nie in eie krag probeer dien nie, maar wat deur Christus se versoening in ’n nuwe verhouding tot God gestel word en deur sy Gees in staat gestel word om die stryd teen die sonde aan te pak. Laasgenoemde weg word dan in Romeine 8:1-17 beskryf. Dus, enigeen – gelowige of nie – wat soos die óú Paulus probeer om God in eie krag te beïndruk met sy/haar voortreflike lewe, is gedoem tot mislukking. Maar elkeen wat God dien vanuit die verlossing in Christus, deur die krag van sy Gees, vind nuwe vryheid (Rom 8:2). Die angs verdwyn en God se vrede word jou deel.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Teofilus – Hermie van Zyl

Johan vra:

Was Teofilus ‘n werklike persoon, of is sy naam ‘n aanduiding dat Lukas se boeke geskryf is aan mense wat God (teos) liefhet (filus)?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die naam Teofilus beteken “geliefde of vriend van God”. Dit het die gedagte by sommige geleerdes laat ontstaan dat Teofilus dalk nie ’n werklike persoon was nie, maar dat die naam eerder simbolies verstaan moet word. Dit sou dan aanduiding wees dat die boek gerig is aan almal wat vir God liefhet of vir wie God liefhet, dit wil sê, alle volgelinge van Christus.

Op hierdie punt net eers ’n taalkundig-tegniese opmerking. “Geliefde/vriend van God” kan op twee maniere verstaan word: a. dat God die persoon liefhet, of b. dat die persoon God liefhet. Daar is nie werklik ’n groot verskil tussen die twee opsies nie, maar daar is tog ’n aksentverskil. In die geval van b. is dit goed moontlik dat Teofilus, indien hy ’n werklike persoon was, ’n sogenaamde Godvereerder of Godvresende was. Dis ’n tegniese term vir heidene wat destyds gesimpatiseer het met die Jode en ook die sinagogale dienste bygewoon het, maar om bepaalde redes (nog) nie formeel oorgegaan het tot die Jodedom nie. (Laasgenoemde is proseliete genoem.) Baie van die eerste Christene het uit hierdie groep van Godvresendes gekom (byvoorbeeld Kornelius, Hand 10:1-2). Indien egter opsie a. gevolg word (dat God die persoon liefhet), wat die waarskynlike bedoeling van die naam Teofilus is, is ons nader aan die simboliese betekenis van die naam en sou dit daarop kon dui dat Teofilus nie ’n konkrete, historiese persoon was nie.

Hoe interessant hierdie moontlikheid ook al is, was en is daar onder geleerdes weinig ondersteuning vir Teofilus as fiktiewe persoon met ’n simboliese naam – aanduiding van almal vir wie God lief is, dit wil sê, alle Christene. Hy was eerder ’n werklike persoon. Die redes is soos volg:

Eerstens was Teofilus ’n baie bekende naam onder die Grieke én Jode van destyds. Mense se eerste gedagte sou dus nie gewees het dat die naam fiktief en simbolies is nie, eerder aanduiding van ’n werklike persoon.

Tweedens is die voorwoord van Lukas (1:1-4) so gestruktureer dat dit duidelik is dat die boek, en so ook Handelinge (kyk Hand 1:1), aan Teofilus opgedra is. Een van die oogmerke van die boek was dan om Teofilus noukeuriger te onderrig in die Christelike geloof, waarmee hy waarskynlik reeds bekend was (Luk 1:4) maar wat nog nie in al die besonderhede vir hom duidelik was nie.

Derdens word Teofilus as “hooggeagte” aangespreek. Dit kan ’n blote hoflikheidsaanspreekvorm wees, maar die feit dat beide Feliks en Festus – Romeinse goewerneurs – ook so aangespreek word (Hand 24:2; 26:25 [“U Edele” = “hooggeagte”]), dui daarop dat dit eerder ’n formele titel was. Teofilus was dus heel moontlik ’n hooggeplaaste amptenaar of sosiaal-hoogaangeskrewe persoon. Dit open ook die verdere moontlikheid dat Lukas vir Teofilus as ’n soort uitgewer gebruik het om sy dubbelwerk te finansier en te versprei. Dit was dikwels die geval in die antieke dat vername en vermoënde persone as finansiële borge en “uitgewers” vir geskrifte gedien het. Dit het ook die bykomende voordeel gehad dat as iemand soos Teofilus die werk ondersteun, die inhoud van die boek – die evangelie van Christus, en dus die Christendom – nie as staatsgevaarlik deur die Romeine beskou sou word nie.

Uiteraard het Lukas sy twee boeke nie net vir Teofilus geskryf nie, maar deur hom ook vir alle gelowiges wat dieper kennis van die evangelie wou bekom. Die leserskring van Lukas-Handelinge was dus nie beperk tot Teofilus nie. Maar die punt is dat Teofilus nie ’n fiktiewe, simboliese naam was nie, maar die naam van ’n werklike persoon – ’n hooggeplaaste nie-Jood, moontlik ’n Godvresende, reeds bekend met die basiese feite van die evangelie, maar nog nie goed genoeg ingelig nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Kerkverskille – Hermie van Zyl

Lucinda vra:

Ek weet dat kerke verskil, ek weet ook dat daar vals profete is. Ek is ‘n lid van die NG Kerk, my aanstaande man is ‘n lid van die Nuwe-Apostoliese Kerk en sy ma is ‘n lid van die Sewende Dag Adventiste Kerk.
Hoe verskil ons drie werklik?
Deur geloof, doop, nagmaal en aanneming?
Ek vra ook omdat ons wil trou, maar ons is bang vir familietwis. Sal die huweliksformulier ook verskil?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Eers net iets in die algemeen oor hoekom daar verskillende kerke is met verskillende geloofsaksente.

Die woord “kerk” is afgelei van die Griekse woord kuriakos, en beteken: “wat aan die Here behoort”. “Here” verwys dan na die Here Jesus Christus. Die gemeenskaplike tussen kerke is dus dat almal bely dat hulle gered is deur die soenverdienste van Jesus Christus aan die kruis, waardeur daar vergifnis van sonde en versoening met God gekom het. Deur hierdie versoeningsdaad het Christus ons syne gemaak en behoort ons aan Hom. (Let egter daarop dat hoewel die woord “kerk” se herkoms is soos bo verduidelik, die Griekse woord wat in die Nuwe Testament vir “kerk” of “gemeente” gebruik word, ekklesia is, wat beteken: “die vergadering van gelowiges”, wat in wese dieselfde is as om aan die Here te behoort.)

Omdat dit ménse is wat aan Christus behoort en mense van mekaar verskil, ten spyte daarvan dat hulle verloste sondaars is, gebeur dit dat verskillende kerkgroeperings (denominasies genoem) ontstaan. Die vernaamste redes vir verskillende kerke is gevolglik taal- en kultuurverskille, maar dikwels ook verskillende sieninge oor bepaalde geloofskwessies wat in sekere kontekste of oor tyd heen ontstaan, gewoonlik as gevolg van die optrede van individue of groepe wat hulle sieninge op die spits dryf en volgelinge rondom hulle versamel. Hierdie toedrag van sake veroorsaak dikwels wrywing, verwydering en wedywering  – selfs wantroue en vyandskap – tussen gelowiges, wat soms lank vat om te oorkom. Die verdeeldheid tussen kerke is ’n groot jammerte, juis omdat ons die basiese eenheid van die kerk bely; ons glo immers almal in dieselfde Here (vgl Efesiërs 4:4-6).

Uit bogenoemde behoort dit duidelik te wees dat ten spyte van kerkverskille ons mekaar nie so mag wantrou dat ons mekaar se integriteit as mense wat aan Christus behoort, in twyfel trek nie. Daar behoort altyd die bereidheid te wees om die ander se goeie trou as gelowiges te aanvaar en met mekaar saam te werk.

Ek het met opset bogenoemde agtergrond gegee omdat ons vraagsteller spesifiek verwys na moontlike familietwis wat kan ontstaan as gevolg van die verskillende kerke in hulle onderskeie families. Maar ek dink eerlik nie dat die verskille tussen die genoemde kerke van so ’n aard is dat dit familietwis behoort te veroorsaak nie. Solank almal net mekaar se goeie trou as Christene aanvaar en nie probeer om mekaar voortdurend tot die ander se sieninge te “bekeer” nie. Daar moet vooraf ooreengekom word of elkeen van die aanstaande egpaar in sy/haar eie kerk bly, of die een na die ander se kerk oorgaan, en of hulle saam by ’n ander kerk gaan aansluit. In laasgenoemde geval maak beide dan “opofferings”.

Voorts wil ek net kortliks die vernaamste verskilpunte tussen die drie genoemde kerke uitlig. Ek wil by voorbaat sê dat daar nie groot verskille is tussen die belangrike geloofskwessies nie, naamlik geloof in God Drie-enig en in Jesus Christus as Verlosser nie. Dit gaan meer oor bepaalde aksente wat in die onderskeie kerke gelê word; ek lê daarom slegs klem op dit wat die kerke regtig van mekaar onderskei.

Die Sewende Dag Adventiste (SDA)

Die SDA plaas groot klem op die Ou-Testamentiese wet. Die wet word dikwels op ’n baie letterlike en wettiese manier toegepas. Vandaar hulle klem op die onderhouding van die sewende dag van die week (Saterdag) as die Sabbat of rusdag (vgl Eksodus 20:8-11), en nie die eerste dag van die week (Sondag), soos die meeste ander kerke nie. Die rede hoekom ander kerke die eerste dag van die week as rusdag vier, is omdat daar sedert die opstanding van Jesus uit die dood ’n geleidelike verskuiwing gekom het van sewende dag na eerste dag as die dag waarop die volgelinge van Jesus bymekaar gekom het. So is die vierde gebod mettertyd verstaan as nie net ’n rusdag nie, maar ook as ’n viering van die oorwinning oor die dood.

’n Volgende tipiese opvatting van die SDA is die voorspellings rondom die wederkoms van Christus. Dit is waarom die woord “adventiste” in hulle naam voorkom; dit verwys na hulle vurige verwagting van die koms (“advent”) van Christus. Aan die begin was daar allerlei voorspellings gemaak oor die presiese datum van Christus se wederkoms, wat op sy beurt weer saamhang met hulle verstaan van die tekens van die tyd. Van tyd tot tyd kry mens nog dat die SDA byeenkomste hou rondom hulle sienings van die boek Openbaring en die eindtyd, wat dan op allerlei hedendaagse gebeure toegepas word, as sou dit die vervulling van die eindtyd wees.

Oor die doop glo die SDA dat mens ná belydenis van geloof onderdompel moet word. Hierdie siening kry mens egter ook by baie ander Christelike kerke wat die kinderdoop verwerp en net in die grootdoop glo.

Die SDA glo ook in die sogenaamde sieleslaap, wat inhou dat ’n mens ná jou dood totaal onbewus is van jou of ander se bestaan. Jy verkeer in ’n slaaptoestand tot en met die wederkoms van Christus. Eers dan staan die ontslapenes op om geoordeel te word.

Die Nuwe Apostoliese Kerk (NAK)

Die grootste enkele onderskeidende kenmerk van die NAK is dat hulle glo in die voortsetting van die apostelamp wat ons in die Nuwe Testament aantref. Volgens die NAK word die onvoltooide werk van die apostel Paulus vandag voortgesit deur die apostels van die NAK. Veral die stam- of hoofapostel geniet groot aansien en gesag. Hy is die draer van die gesag van Christus op aarde; deur hom regeer Christus op aarde, amper soos wat die Rooms-Katolieke Kerk oor die pous glo. Volgens die NAK was die apostel Petrus die eerste stamapostel. Die stamapostel is die hoogste leergesag in die NAK, en kan ook ander apostels aanstel.

Hierdie siening rondom die apostelamp hou in dat die mondelinge uitsprake van die apostels groot gesag dra, eintlik groter gesag as die Bybel. Die stamapostel ontvang direkte openbarings van Christus en dra dit dan aan die ander apostels oor. En so tree hierdie apostels eintlik namens Christus op aarde op. Hulle woord dra groot gesag. Hulle beskik ook oor die Heilige Gees, en deur die sakrament van verseëling (’n derde sakrament wat die NAK toevoeg tot die doop en nagmaal) word die Gees oorgedra aan lidmate. Dit spreek vanself dat Christene wat ’n hoë premie plaas op die sentrale posisie van die Woord van God soos geopenbaar in die Bybel, moeilik aanklank vind by die NAK se klem op die gesag van die stamapostel en ander apostels, waar die woord van die apostel vir alle praktiese doeleindes belangriker geag word as die Bybel.

Die NAK vertoon ongelukkig sektariese trekke. Daarmee word bedoel dat hulle hulleself as die enigste kerk beskou wat die mens na God toe kan lei en wat die ware leer oor Christus en die apostels verkondig. Hulle sê: ander kerke praat óór God, maar in die NAK praat God direk met mense, deur die apostels.

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK)

Die NGK deel met die meeste ander kerke die sentrale geloofsartikels van die sogenaamde Twaalf Artikels. Daarby stam die NGK uit die sogenaamde Gereformeerde tradisie waar die posisie en gesag van die Bybel sentraal staan. Die NGK, soos ander kerke van Gereformeerde inslag, aanvaar ook nog drie ander belydenisskrifte wat as geloofsbasis van die kerk dien, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Lidmate moet by belydenisaflegging bely dat hulle die Bybel as die Woord van God erken en dat die Bybel, saam met die genoemde belydenisskrifte, die ware en volkome leer van die verlossing bevat. Uiteraard is daar talle verskille by lidmate oor hoe die Bybel op sekere punte verstaan moet word, maar dit verander niks aan die basiese belydenis omtrent die status van die Bybel in die kerk nie.

Voorts is die kerkregeringstelsel presbiteriaal, dit wil sê, die kerk word deur ouderlinge (presbiters) bestuur en gelei. Die ouderlinge bestaan uit lerende ouderlinge (opgeleide predikante) en regerende ouderlinge (leke-lidmate wat kragtens hulle voorbeeld en wysheid in die kerkbestuur dien). Hierbenewens is daar ook die diakenamp, wat veral op die ander diensaspekte van die kerk fokus, soos barmhartigheidswerk. Die ouderlinge en diakens vorm saam die kerkraad, wat die bestuur van ’n gemeente behartig.

Daar is twee sakramente, die doop en nagmaal. Die doop word aan kinders van gelowige lidmate sowel as aan volwassenes bedien, lg aan gelowiges wat nie as kinders gedoop is nie. Die NGK doop egter nie mense óór nie, d w s, die NGK aanvaar die doop wat deur ander kerke bedien is, mits dit aan die volgende voorwaardes voldoen: dit moes deur ’n geordende leraar van daardie kerk bedien gewees het, met water geskied het, en in die Naam van die Drie-enige God gebeur het. Sedert enkele jare gelede word die nagmaal ook aan kinders van gelowiges bedien, selfs al het hulle nog nie belydenis van geloof afgelê nie.

Ten slotte: Uiteraard is bostaande verskille nie naastenby al die verskille nie. Elke kerk het ook sy eie tradisies, erediensliturgie en ander rituele wat nie hier bespreek is nie. Dit moet ook bygevoeg word dat baie van die skerp verskille van die verlede deur die jare al hulle skerp kante verloor het en dat daar vandag groter verdraagsaamheid tussen die kerke is. Daar word groter klem geplaas op dit wat ons saambind in Christus as op die verskille.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl