Jesus besoek die doderyk – Hermie van Zyl

Lizette vra

In watter boek van die Nuwe Testament besoek Jesus die doderyk?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die gedeelte wat ter sprake is, is 1 Petrus 3:19-20. Letterlik staan daar: “So het Hy (Christus) gegaan en ook vir die geeste in die tronk gepreek, wat destyds ongehoorsaam was, toe God in Noag se dae geduldig gewag het terwyl die ark gebou is, waarin min, naamlik agt persone, deur die water gered is.” Soms word 1 Petrus 4:6 ook by dié saak betrek. Daar staan: “Want hiervoor is die evangelie ook aan dooies verkondig sodat hulle soos gewone mense geoordeel kan word wat die liggaam betref, maar in die gees kan lewe, soos God lewe.”

Die vraag is hoe dié gedeeltes verstaan moet word. Wat 1 Pet 3 betref, is die verklaring wat vandag deur die meeste Bybelkenners aanvaar word, die volgende: Die “geeste in die tronk” is die gevalle, sondige engele waarvan ook in 2 Pet 2:4 en Judas v6 sprake is. In die buite-Bybelse Joodse geskrifte van destyds, soos 1 Henog, wat goed bekend en baie gewild was onder die Jode, word ook melding gemaak van hierdie geeste of gevalle engele wat deur God in gevangenskap gehou word tot en met die oordeel. En die plek van aanhouding is waarskynlik die doderyk. Daar was destyds die siening dat die doderyk ook ’n plek van aanhouding was (vgl Op 20:1-7; 2 Pet 2:4). Volgens 1 Henog moes Noag aan die bose engele God se oordeel gaan aankondig.

Die agtergrond van hierdie sondige engele lê in Gen 6:1-4, waar gepraat word van die “hemelwesens” wat met die dogters van die mense getrou het, en waaruit die “reuse” ontstaan het. Dit was in die tyd net voor Noag op die toneel verskyn het. Daarom dat 1 Pet 3:20 melding maak van die geeste wat destyds in Noag se tyd ongehoorsaam was toe hy die ark gebou het. God het volgens Joodse denke egter hierdie gevalle engele veroordeel en hulle gevange gehou tot die eindoordeel. Maar tog was daar die vrees by baie Jode en latere Jode-Christene dat hierdie engele of “geeste” steeds gevaar inhou vir gelowiges.

Petrus het waarskynlik by hierdie bekende tradisie aangesluit. Wat hy nou doen, is om te sê dat Christus se oorwinning oor die dood so kragtig en allesomvattend is dat dit selfs gevolge inhou vir hierdie bose engele in die gevangenis. Na sy dood het Christus gegaan en aan hierdie geeste aangekondig dat Hy die oorwinning behaal het oor alle magte, ook oor die dood en bose engele. En die troosboodskap vir die lesers van 1 Petrus is dat hierdie bose engele nou geen gevaar meer inhou vir die gelowiges nie. Hierdie “prediking” van Christus aan die “geeste in die gevangenis” het dus niks te make met die evangelieprediking om hulle tot bekering te bring nie, maar is bloot daarop gemik om Christus se oorwinning oor alle bose magte aan te kondig.

Vervolgens sluit Petrus aan by die vloedwater in die tyd van Noag en laat slaan dit simbolies op die doopwater (v20-21). Net soos wat die vloedwaters vir dié binne die ark redding gebring het, so bring die doopwater vir die huidige gelowiges ook redding, deurdat hulle nou ’n skoon gewete het voor God. Vers 22 sluit dan af met die gedagte dat Christus nou aan die regterhand van God is en dat alle engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is, dieselfde gedagte wat hy in v19 wou belig.

Wat 1 Pet 4:6 betref, moet dit nie met 1 Pet 3:18-19 in verband gebring word nie. Die “dooies” van 4:6 is gewoon die gelowiges wat eens geleef het maar nou dood is. Al wat Petrus hier sê, is dat aan hierdie gelowiges die evangelie verkondig is toe hulle nog op aarde geleef het. En hoewel hulle gesterf het, leef hulle nou by God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Berading – Hermie van Zyl

Fleetwood vra

Wat is die verskil tussen Bybelse berading en Christelike sielkunde? Ek is ‘n student, en moet ‘n taak doen oor die volgende onderwerp: “Gedurende die afgelope paar jaar was daar ‘n sterk invloed wat poog om Bybelse berading te vervang met Christelike sielkunde.” My navorsing moet my tot ‘n gevolgtrekking bring wat die onderwerp betref.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Die verhouding tussen Bybel en sekulêre sielkunde was nog altyd ’n sensitiewe een, net soos die breër verhouding tussen geloof en wetenskap, gewoon omdat dikwels vanuit opponerende standpunte geredeneer word. Byvoorbeeld, sommige Bybelberaders is geneig om te sê: die Bybel is die onfeilbare Woord van God; dit verskaf dus geopenbaarde en onfeilbare Godskennis – die ware feite – omtrent die mens; dis kennis wat op geen ander plek beskikbaar is nie, daarom kan die sielkunde ons niks leer van die mens nie. Daarteenoor sê die sekulêre sielkunde: alle teorieë oor hoe die mens se psige funksioneer, ongeag geloofsoortuigings, moet wetenskaplik ondersoek en getoets word, en daaruit moet sielkundiges kies wat deur die meeste wetenskaplikes as werkbare opsies aanvaar word om pasiënte te help met hulle probleme. Verder word behandeling ook deur ’n statutêr-professionele raad beheer, wat ’n beter kontrole oor die behandeling gee as wat die geval is met Bybelse berading. En laastens beweer sielkundiges dat Bybelse berading ’n baie eng en geslote manier is om mense te begelei; dit dra eerder ’n bepaalde godsdiens se idees oor as wat dit regtig begeleiding is wat mense in staat stel om die kompleksiteit van vandag se lewe te hanteer.

Bogenoemde verteenwoordig so min of meer die uiterste standpunte tussen Bybelse berading, enersyds, en sekulêr-sielkundige begeleiding, andersyds. In die verhouding tussen Bybel en sielkunde is genoemde siening egter nie die enigste opsie nie; daar is ’n hele spektrum van moontlikhede. Daar is ook ’n meer gematigde siening wat Bybel en sielkunde nie so absoluut teenoor mekaar stel nie, maar eerder probeer integreer. Na alles is die God van die Skriftuur ook die God van die natuur. Sielkundige kennis behoort dus nie noodwendig anti-godsdienstig of anti-Bybels te wees nie, dit hang alles af wat hierdie insigte is en hoe en deur wie dit hanteer word. Integrering van Bybelse en sielkundige insigte probeer dus die beste uit die twee wêrelde haal en met mekaar laat praat.

Dit wil lyk of ons vraagsteller se vraag in dié rigting beweeg, want hy/sy praat van Bybelse berading in verhouding tot Christelike sielkunde. Streng gesproke is daar egter nie ’n vakgebied soos Christelike sielkunde nie, maar mens sou kon sê dat dit in “Christelike sielkunde” gaan oor algemeen sielkundige insigte wat vrugbaar gemaak word vir die Christelike beradingskonteks. So gesien beweeg ons in die rigting van wat in die algemene omgang bekend staan as pastorale sielkunde. Laasgenoemde is egter nie ’n erkende vakgebied in die tegniese sin van die woord nie; jy kan nie by ’n universiteit spesifiek opgelei word as ’n pastorale sielkundige nie. Pastorale sielkundiges is gewoonlik dominees of pastore wat eers as teoloë opgelei is, maar wat ook in die kliniese sielkunde studeer het tot op meestersgraad-vlak en dan as kliniese sielkundiges registreer by die Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad. Hulle kan dus óf as privaat sielkundiges praktiseer óf by kerke in diens tree as sogenaamde pastorale sielkundiges waar hulle dan poog om sielkunde en teologie met mekaar te integreer. Sielkundige insigte word dan benut in die pastorale begeleiding van lidmate. Die punt is dat in hierdie werkwyse Bybel en sielkunde nie as vyande van mekaar gesien word nie, maar as vennote om die beste diens aan die lidmaat of pasiënt te lewer. Want dit is dikwels so dat kerklidmate met probleme manifesteer wat meer sielkundig as teologies van aard is, en dan is die pastorale sielkundige in ’n besonder gunstige posisie om so iemand te help.

Dit wil egter vir my voorkom of die vraagstelling waarmee ons vraagsteller in die werkopdrag gekonfronteer is nie heeltemal vrede het met hierdie vennootskaplike verhouding tussen Bybel en sielkunde nie, maar dit as ’n bedreiging ervaar dat Bybelse berading vervang sou word met Christelike sielkunde. Indien dit die geval is, is ons weer terug by die aanvanklike siening dat Bybelse berading téénoor sielkunde staan, selfs teenoor “Christelike” sielkunde; hulle is soos olie en water, hulle meng nie. Maar waarom sou Bybelse berading so gesteld wees op sy unieke, onafhanklike posisie? Dis op hierdie punt dat ons kortliks moet aandag gee aan die tipiese uitgangspunte en benadering van Bybelse berading.

Bybelse berading is daarop ingestel om nie die mens in die sentrum te stel nie, maar God en sy Woord, soos dit in die Bybel na vore tree. In die sielkunde gaan dit eerder oor wat vir die méns belangrik is, wat sy belange en welsyn die beste dien – soos ménse dit sien. Hiervolgens is die mens ’n outonome wese wat self oor sy eie heil besluit; net hy weet wat goed en reg is vir hom. En die terapeut is bloot daar om die innerlike genesingskragte van die pasiënt te ontsluit en te mobiliseer. Maar Bybelse berading is gesteld daarop dat ’n Bybelse mensbeeld sentraal staan, soos dat die mens geskape is na die beeld van God, God dus verteenwoordig in al sy doen en late, en in die laaste instansie aan God verantwoording verskuldig is. Verder word gesê dat die mens nie aan die doel beantwoord waarvoor God hom geskape het nie, maar in eiesinnige en selfgerigte gedrag verval het – in Bybelse taal: in sonde geval het. Die mens het dus nood aan verlossing van hierdie destruktiewe selfgerigtheid. En die enigste manier om daarvan verlos te word, is om dit te bely, die vergifnis van God in en deur die offer van Jesus Christus te aanvaar, en deur die Heilige Gees ’n lewe van heiligmaking te lei – tot eer van God, tot genesing van die self en tot seën van die gemeenskap. Bybelse berading vra dus nie na selfverwesenliking nie, maar het op die oog om die lidmaat met bostaande insigte te begelei na ’n lewe wat God kan verheerlik.

Indien mens Bybelse berading soos hierbo definieer, kan daar nie mee fout gevind word nie. Trouens, dit is inderdaad wat die Bybel ons leer omtrent die mens. Maar ongelukkig vind sommige Bybelse beraders ’n absolute teenstelling tussen bogenoemde siening en wat die sielkunde bied, selfs die sogenaamde Christelike sielkunde. Self vind ek egter hierdie absolute teenstelling vreemd. Waarom sou ons op die ander terreine van die lewe met die insigte van die wetenskappe vrede hê – op byvoorbeeld mediese, kosmologiese, ekonomiese, opvoedkundige, tegnologiese en ander gebiede – maar net dié van die sielkunde verwerp as iets uit die bose? Die benadering van die pastorale sielkunde, soos hierbo verduidelik, maak daarom vir my meer sin: om daardie kennis uit die sielkunde wat nie in stryd is met die Bybel nie, te versoen met Bybelse insigte, en so aan die lidmaat ’n kundige en omvattende diens te lewer wat uiteindelik die lidmaat op dieselfde plek uitbring as waar Bybelse berading dit in elk geval wil doen.

Die probleem met Bybelse berading soos dit in sommige kringe bedryf word, is dat dit dikwels gedryf word deur ’n biblisistiese en fundamentalistiese omgang met die Bybel, ’n oppervlakkige kennis van lidmate se situasie en simplistiese probleemoplossing. Vanuit hierdie benadering is daar soms die opvatting dat ’n probleem reggestel kan word deur bloot uit te gaan van die belydenis dat die Skrif genoegsaam is. En dan verval Bybelse berading soms in die bombardering van die lidmaat met Bybeltekste wat dikwels uit konteks aangehaal word en nie die dieperliggende probleme van die lidmaat hanteer nie.

Dit is egter verblydend om te sien dat baie instellings soos Bybelkolleges, teologiese seminaries, Bybelskole en ander soortgelyke opleidingsinstansies deesdae goed begronde kursusse in Bybelse berading aanbied. In sekere gevalle word daar by universiteite akkreditasie vir hierdie kursusse gesoek, sodat studente sertifikate, diplomas en selfs grade kan behaal. Bybelse berading wat so hanteer word, en deur goed opgeleide en kundige beraders bedryf word, het beslis ’n plek in die son. Maar daar behoort nie ’n vete te ontstaan met die sielkunde nie, veral nie met daardie kennis wat nie in stryd is met Bybelse insigte nie. Die punt is: Bybelse berading moet met genoeg onderlegdheid in beide die aard van die Bybel en van die mens se samestelling en gedrag bedryf word sodat die lidmaat nie net na behore begelei word op die pad van geloofsvolwassenheid nie, maar ook na spesialiteite verwys kan word indien patologie vermoed word.

Hierbo is gesê dat indien Bybelse insigte met pastorale sielkunde geïntegreer word, dit ’n baie vrugbare manier van begeleiding van lidmate kan wees. Ons moet onthou, soos reeds genoem, dat pastorale sielkundiges ook kliniese sielkundiges is wat by die Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad geregistreer is en daarom professionele fooie kan hef, wat verhaal kan word van mediese fondse. Daar is egter nóg ’n kategorie berading wat poog om Bybelse insigte en sielkunde te integreer; hulle is nie kliniese sielkundiges nie maar nogtans professionele beraders. In 2017 het daar ’n liggaam tot stand gekom wat hierdie groep beraders organiseer en registreer, die Council for Pastoral and Spiritual Counsellors (CPSC). (Laasgenoemde is die voortsetting van SAAP, die South African Association of Pastoral Work.) Die CPSC word deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie Owerheid (SAKO; Eng: SAQA) as professionele raad vir geestelike beraders erken. Beraders wat by die CPSC geregistreer is, se kwalifikasies word ook volgens die Nasionale Kwalifikasie Raamwerk (NKR) beoordeel en in verskillende kategorieë van kompetensie en vaardighede geklassifiseer. Beraders wat by die CPSC geregistreer is, doen berading vanuit ’n Bybels-Christelike standpunt maar paar dit ook met sielkundige insigte. Hierdie beraders is ook geregtig om fooie te hef, hoewel dit nie van mediese fondse verhaal kan word nie. Van die beraders het privaat praktyke, maar baie is in diens van kerke of ander instansies wat hulle besoldig.

Die totstandkoming van die CPSC is ’n verblydende ontwikkeling in die organisering van geestelike beraders, want dit bring orde op ’n terrein waar daar voorheen groot variasie in kundigheid en vaardighede voorgekom het. Hierdie beraders is dikwels predikante en pastore wat nagraadse kwalifikasies in geestelike berading behaal het en daarom beskik oor gespesialiseerde kundigheid en vaardighede in berading. Die punt wat ek wil maak, is nogeens: hierdie is net nog ’n ontwikkeling wat Bybelse en sielkundige insigte nie as vyande sien nie, maar op ’n wyse integreer wat die Christelike geloof en die pastorale begeleiding van gelowiges dien.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die apokriewe boeke – Hermie van Zyl

Edna vra

Ek het onlangs die boek Apokriewe: Ou en Nuwe Testament (deur Jan van der Watt en Francois Tolmie) begin lees.
Ek wil graag klarigheid oor die volgende twee punte kry:

  1. Hoekom is die apokriewe boeke nooit in die Bybel soos ons die Bybel vandag ken, opgeneem nie? Of dele daarvan? Want gedeeltes in die apokriewe boeke word tog bevestig deur ’n Skrifgedeelte in die Bybel.
  2. Die apokriewe boek “Die Evangelie van Nikodemus” handel hoofsaaklik oor die handelinge van Pilatus en Christus se besoek aan die doderyk. In hoofstuk 22 van dié boek lees ek die volgende:

Christus vang vir Satan en laat hom vasbind. Doderyk het dadelik uitgeroep: “Ons is verslaan, arme ons! Maar wie is U wat so baie gesag en krag het? Wie is U wat hierheen gekom het sonder enige sonde – U wat klein lyk, maar groot dinge doen, wat nederig én verhewe is, slaaf en heerser, soldaat en koning, wat gesag het oor dié wat dood is en oor dié wat lewe? U is aan die kruis vasgespyker en in ’n graf neergelê, maar nou is U vry en het al ons mag vernietig! Is U Jesus – die Jesus waarvan Satan die hoofleier vir ons vertel het en gesê het dat U deur die kruis en die dood die hele wêreld sou bekom?”

Toe het die Groot Koning vir Satan, die hoofleier, aan sy kop gegryp en hom aan die engele oorhandig. Hy het vir hulle gesê : “Bind sy hande en sy voete en sy nek en sy mond met ysterkettings vas!” Toe gee Hy hom vir Doderyk en sê: “Vat hom en sorg dat hy hier vasgebind bly totdat Ek die tweede keer kom.”

My vraag: Jesus gee opdrag aan die engele om Satan vas te bind. Hy sê Satan sal vasgebind wees tot en met Jesus se wederkoms. Maar, dan lees ek in die Bybel (1 Petrus 5:8) dat ons moet nugter en wakker wees want die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu. Loop die duiwel rond of is hy vasgebind?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Wat die eerste vraag betref, kan ons soos volg antwoord: Ons moet onderskei tussen Ou-Testamentiese (OT) en Nuwe-Testamentiese (NT) apokriewe. Onder die OT apokriewe word gewoonlik gelys: Tobit, Judit, Barug, die Brief van Jeremia, Toevoegings tot Ester, Toevoegings tot Daniël, die Wysheid van Ben Sirag, die Wysheid van Salomo, en 1 en 2 Makkabeërs. Hulle het almal in die periode 300 – 100 vC ontstaan, enkeles dalk eers so laat as in die twee eeue direk voor en na Christus se geboorte. Van die boeke is vermoedelik oorspronklik in Hebreeus geskryf (Ben Sirag beslis), maar hierdie Hebreeuse kopieë het verlore geraak met die gevolg dat die apokriewe van vroeg af slegs in Grieks beskikbaar was. Ander is weer oorspronklik in Grieks geskryf (bv Wysheid van Salomo).

Toe die Joodse kanon (ons huidige Ou Testament) sy afsluiting in ongeveer 100 nC gehad het, is bogenoemde boeke nie deur die Jode ingesluit nie. Die redes daarvoor was waarskynlike die volgende: die Jode het net boeke wat in Hebreeus geskryf is of beskikbaar was, ingesluit; baie van hierdie boeke vertoon sinkretistiese trekke (vermenging van godsdienstige sienings, veral vanuit die Griekse kultuur) wat nie vir die Jode aanvaarbaar was nie; en hulle gewildheid onder die Christene van die eerste twee eeue het veroorsaak dat die Jode ’n kanon verkies het wat nie sulke boeke insluit nie. Op dié manier het die Jode hulle van die vroeë Christene afgegrens. Baie Christelike kerkvaders het immers hierdie boeke as gesaghebbende geskifte aangehaal, met die gevolg dat die OT apokriewe deel van die Christelike OT kanon geword en gebly het tot en met die aanbreek van die kerklike Reformasie in die 16e eeu nC. Eers toe het die reformatore verkies om wat die OT betref terug te keer na die Joodse kanon, sodat die Protestantse kanon vandag nie die OT apokriewe bevat nie. Maar in die Rooms-Katolieke Kerk is hulle steeds amptelik deel van die OT kanon. Die Roomse Kerk verkies egter om na hulle as die deutero-kanonieke boeke te verwys, dit beteken: die tweede kanonieke boeke. Die res van die OT is dan die proto-kanonieke boeke, dit wil sê: die eerste kanonieke boeke. Op hierdie manier tref ook die Roomse Kerk ’n onderskeid tussen die twee kategorieë boeke in die OT.

Daar is ook ’n ander groep boeke wat bekend staan as die pseudepigrafiese literatuur. Die naam beteken “vals opskrifte” omdat baie van die boeke voorgegee het om deur ’n Bybelse figuur geskryf te gewees het, maar wat in werklikheid nie die geval was nie. Die pseudepigrawe is boeke soos Die brief van Aristeas, 3 en 4 Makkabeërs, 1 en 2 Henog, Testament van die Twaalf Patriarge, Psalms van Salomo; en nog ander. Hierdie boeke dateer min of meer uit dieselfde tyd as die OT apokriewe, sommige ’n bietjie later, en is ook wyd gelees deur die Jode en vroeë Christene. Maar anders as die OT apokriewe is hulle nie opgeneem as deel van die Christelike kanon nie.

Waarom het die reformatore teruggekeer na die Joodse OT kanon? Daar is ’n paar redes hiervoor: a. die algemene tydsgees van die tyd, b. die manier waarop die OT apokriewe deel geword het van die kanon, en c. die stryd met Rome.

  1. Die tydsgees van die Reformasie is gekenmerk deur ’n terugkeer na die oorspronklike bronne van die Christendom, om so die outentieke Christelike leer en lewe weer te ontdek, teenoor die dwalinge wat in die Roomse Kerk van die tyd voorgekom het. Dit het ’n hernude belangstelling in Hebreeus en Grieks, die oorspronklike tale waarin die Bybel opgeteken is, tot gevolg gehad. Die amptelike taal van die Bybel in die Middeleeue was Latyn, en die reformatore het ’n beweging op tou gesit om die Bybel uit die oorspronklike tale, Hebreeus en Grieks, in die volkstale van daardie tyd te vertaal. Die OT apokriewe was weliswaar in Grieks beskikbaar, maar Grieks is deur sommige as die “sekondêre” taal van die apokriewe beskou omdat van hierdie boeke oorspronklik in Hebreeus geskryf is. Die oorspronklike Hebreeuse manuskripte het egter verlore geraak. Om hierdie rede is die apokriewe met ’n mate van agterdog bejeën. Dit was presies ook die rede waarom die Jode aan die einde van die eerste eeu nC hierdie boeke nie ingesluit het in die Joodse kanon nie. Daarby was dit ook bekend dat Hieronimus, die groot Bybelvertaler uit die vierde en vyfde eeu nC wat aan die kerk van die daaropvolgende eeue die sogenaamde Vulgaat-vertaling (Latynse vertaling) van die Bybel gelewer het, ook bedenkinge oor die OT apokriewe geopper het, waarskynlik omdat hy hulle nie in Hebreeus beskikbaar kon kry nie. (Hy het die OT uit die oorspronklike Hebreeus in Latyn vertaal, en nie uit die Septuagint, die Griekse OT, nie.)
  2. Verder, tot op die tyd van die Reformasie was daar nog nooit regtig in die kerk debat gevoer oor die status van die OT apokriewe nie. Geen kerklike vergadering het ooit amptelike uitsprake gemaak oor die gesaghebbendheid, al dan nie, van die OT apokriewe nie. Hulle is gewoon “aanvaar” as deel van die Christelike kanon, op sterkte van die gewildheid van hierdie boeke in die vroeë kerk en die uitsprake van sekere kerkvaders wat die waarde en gesag daarvan hoog geag het. ’n Pseudepigrafiese boek soos 1 Henog 1:9 word selfs in die NT aangehaal (Judas v14-15), wat ’n aanduiding is van die gewildheid van die apokriewe en pseudepigrawe in die vroeë kerk. Weens die kerk se “stilswye” oor die status van die apokriewe het daar dus nog altyd ’n skaduwee van onsekerheid oor hierdie boeke gehang.
  3. Daarby het die reformatore in hulle stryd met Rome nie vrede gehad met dwaalleringe wat na hulle mening in die apokriewe voorgekom het nie, soos bv die Roomse leer oor die vagevuur (waarvolgens mense eers ’n tyd lank gesuiwer moet word voor hulle toegelaat word in die hemel). Laasgenoemde leer sou dan in ’n boek soos 2 Makkabeërs (12:45) voorgekom het.

Die Reformasie het nou al hierdie sluimerende tendense en bedenkinge rondom die OT apokriewe na vore gebring. Martin Luther het gevolglik die standpunt gehuldig dat hierdie boeke wel gelees kan word vir die algemeen informerende en selfs opbouende aard daarvan, maar dat geen kerkleerstuk daarop gebou mag word nie. Luther se weerstand teen die apokriewe het gou deel van die Protestantse tradisie van Bybelvertaling geword met die gevolg dat die apokriewe nie meer by Protestantse Bybelvertalings ingesluit is nie.

Oor die Nuwe-Testamentiese apokriewe kan ons korter wees. Dit is boeke wat ontstaan het om veral ontbrekende inligting te probeer voorsien oor Jesus en die apostels. Byvoorbeeld, die NT gee baie min inligting oor Jesus se kinderjare. En uiteraard was gelowiges nuuskierig hieroor, en oor ander dinge. Wat het Jesus as kind alles gedoen? Hoe is Petrus en Paulus dood? Wat het in die doderyk gebeur toe Jesus daar gaan preek het? Hoe lyk dit in die hemel en die hel? Verskeie NT apokriewe gee uitvoerige inligting oor hierdie sake. Maar dit was van die begin af vir die kerk duidelik dat dit nie outentieke, gesaghebbende inligting is waarop mens jou geloof kan bou nie. Dit was eerder “vrome duimsuiery” wat meer daarop gemik was om die nuuskierigheid van mense te bevredig as wat dit die egte evangelie bevat en die geloof opgebou het. By die lees van hierdie boeke kom mens gou agter dat dit ’n heel ander toonaard adem as die boeke van die NT kanon. Daarom was hierdie boeke van die begin af nooit deel van die NT kanon nie. Tog is hulle wyd gelees in die vroeë kerk – om verstaanbare redes – en het hulle om daardie rede behoue gebly. Maar al kan ons hulle vandag nie ernstig neem vir ons Christelike leer en lewe nie, gee hulle nogtans vir ons waardevolle godsdienshistoriese inligting oor die kerk van die eerste paar eeue, dit wil sê, inligting oor hoe NT gelowiges in daardie tye gedink het, waarin hulle geïnteresseerd was, en watter godsdienstige konsepte vir hulle belangrik was.

Oor die tweede vraag – of die duiwel los rondloop en of hy vasgebind is – kan ons kort wees. Beide stellings is waar. Met die eerste koms van Christus lees ons dat hy soos ’n weerligstraal uit die hemel geval het (Lukas 10:18) en dat die sterk man (Jesus) die duiwel uitgedryf en gebind het (Matteus 12:25-29). En indien ons die binding van Satan in Openbaring 20:2 as die huidige tyd van die kerk op aarde interpreteer, dan leef ons inderdaad ná Jesus se eerste koms in die tyd waar die duiwel gebind is. Hy kan nie doen wat hy wil nie; hy kan slegs doen wat hy toegelaat word om te doen. Maar laasgenoemde is ongelukkig nog skrikwekkend baie, en dis die perspektief wat ’n teks soos 1 Petrus 5:8 bied. Hierdie teks, soos baie ander, is realisties daaroor dat hoewel die mag van Satan met Christus se eerste koms gebreek is, hy nog listig rondloop en soek wie hy kan verslind. Ons moet daarom op ons hoede wees en op die regte manier weerstand bied (Efesiërs 6:13-20), want, soos Efesiërs 6:12 sê, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug. Dis eers met die wederkoms van Christus dat die duiwel en sy engele finaal vernietig sal word (Openbaring 20:9-10).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Boodskap van God – Hermie van Zyl

Annetjie vra:

My vraag is moeilik om te verwoord, maar ek gaan probeer. Ek en my man is getroud vanaf 2001 en het 2 kinders aangeneem, een op ouderdom 5 en die ander een op ouderdom 4. Ek en my man gaan nou skei, want hy het reeds by sy vriendin ingetrek. Ons het deur baie moeilike tye gegaan omdat my man baie verhoudings gehad het en ook by prostitute gekuier het. My man glo egter dat ek die skuldige is of die oorsaak is vir sy rondkuier. Hy sê die Here het vir hom gesê hy moet by hierdie vriendin intrek. Hy wys na verskeie maniere en verse uit die Bybel wat hy sê God vir hom gesê het.

Ek is so onseker want ek het ook baie foute gemaak, veral dat ek nie vir ons gesin en veral vir my man genoeg gebid het nie, nie by verre nie. Ek het ook nie na God se stem geluister nie, want ek het gedink dit is my eie gedagtes. Ek wil nie skei nie, want ek glo God het vir ons 2 kinders gegee omdat Hy ons huwelik as bindend beskou. Ek sal so dankbaar wees as my man werklik na God toe kan gaan en sy wil soek.

Ek skryf die dinge hierbo omdat ek iets gelees het oor God wat vir ons boodskappe gee vir ander. Maar is dit God of onsself? Ek het al so 2-3 keer boodskappe gekry wat ek nie seker is of dit van myself of van God is nie – wat ek vir my man moet stuur. Ek het een gestuur maar is so bang, want ek is nie seker of dit ek is wat dink dit is van God en of dit werklik van God is nie.

My man gaan niks wat ek stuur, lees of as ernstig beskou nie. Maar hoekom voel dit of die Here my sê om dit te stuur?

Help asseblief. Ek wil net die wil van die Here doen. Ek het lank genoeg in my eie krag probeer.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kern van die saak wat ons vraagsteller aan die orde stel, is hoe ons van God se wil bewus en oortuig raak, en hoe ons dit aan mekaar kommunikeer.

Laat ek begin deur iets te sê oor die kwessie van ’n “boodskap van God”. Ek dink nie in hierdie situasie is dit die aangewese pad om in terme van “boodskappe van God” te opereer nie. Daarin lê ’n mynveld van misverstande opgesluit. Want hoe beweer ons gewoonlik dat ons van so ’n boodskap bewus en oortuig geraak het? Dikwels klim ons op die karretjie van drome of stemme wat met ons praat, of ’n goeie vriend(in) of kollega se opinie, of ’n teks uit die Bybel wat ons konteksloos en op die klank af van toepassing wil maak in ons eie lewe. En dit stel ons dan sommer so sito-sito gelyk aan ’n direkte boodskap van God. Oortuig hiervan, wil ons dan dié boodskap aan die ander party(e) oordra as die wil van God.

Daar is egter twee haakplekke in dié soort van optrede. Eerstens is daar geen waarborg dat dit wat ek gehoor of gelees het, wel ’n egte boodskap van God is nie. Ons vraagsteller is self bewus van dié moontlike slaggat as sy sê: “want ek is nie seker of dit ek is wat dink dit is van God en of dit werklik van God is nie.” Inderdaad, ons bly feilbare mense; ons kan nie sommer ons oortuigings – hoe edel dit ook al is – gelykstel aan “God se boodskap” vir ons nie. Ons moet baie meer beskeie oor ons idees, opvattings en oortuigings wees. Dikwels moet daar baie aan geskaaf en getimmer word voor ons hulle kan deurgee as “God se boodskap”. En dit lei na die tweede haakplek: “Boodskappe van God” is dikwels ’n manier om ander mee te manipuleer. Want as ek die ander een met my “boodskap van God” konfronteer, dan wil ek eintlik daarmee sê: ek staan so ’n bietjie op ’n hoër vlak as jy; jy het eintlik niks te sê oor my insigte nie, want hulle kom direk van God af; jy moet hulle sonder enige verdere debat aanvaar en uitvoer. Maar, soos ons weet, is dit selde die einde van die storie. Want wat dikwels gebeur, is dat die ander een met ’n teen-boodskap van God kom, soos dit inderdaad by ons vraagsteller die geval is. Haar man maak daarop aanspraak dat God vir hom gesê het om te skei en by die ander een in te trek. En nou sit hulle met ’n skaakmat-situasie: dis boodskap teen boodskap, en wie s’n is nou die egte een?

Dus, die “boodskap van God”-roete is nie die aangewese manier om die soort probleem op te los waarmee ons vraagsteller sit nie. Dis inderdaad ’n jammerlike situasie, en ’n mens se hart gaan uit na hulle. As die situasie inderdaad so is soos die vraagsteller dit beskryf, dan is haar man besig met allerlei drogredenasies om sy eie optrede te regverdig. Hy is kennelik hard besig om uit die huwelik te probeer stap, maar nogtans met ’n mate van godsdienstige “aansien”. Hy probeer hom daarom aan God se kant stel en sy vrou as die skuldige party brandmerk. En ons vraagsteller het vir seker haar bedenkinge en wil graag die huwelik red, maar weet nie mooi hoe om haar man terug te wen en te oortuig van sy dwase optrede nie. Verder is sy ook sensitief vir die wil van die Here, want sy weet dat egskeiding teen God se wil is.

Hoe nou gemaak? As die boodskap-roete nie die aangewese een is nie, wat staan ons vraagsteller te doen? Gewone, eerlike gesprekvoering! Sê hoe jy voel; stel gewoon jou saak soos jy dit sien, sonder om aanspraak te maak op ’n buitengewone boodskap van God. En vra jou man om dieselfde te doen. En laat die krag van God se Woord en Gees die oortuigingswerk doen, na weerskante toe. As daar werklik die bereidheid by beide partye is om die verhouding (weer) te laat slaag – dit wil sê: as daar welwillendheid (“goodwill”) is – kan ’n mens ’n ver pad met die ander loop. Maar as dít nie teenwoordig is nie, is die kanse baie skraal dat die verhouding herstel kan word, selfs al kom jy met die aanspraak dat jy ’n boodskap van God ontvang het.

’n Laaste gedagte: Wat bring jy in so ’n eerlike gesprek na die tafel toe? Jou volle menswees. Alles wat jy tot hiertoe in jou lewe geleer het  – oor die Bybel, die wil van God, jou ervaring van die lewe en die huwelik, hoe jy dink ’n mens behoort te lewe, hoe ’n egpaar in die huwelik behoort op te tree, jou persoonlikheid – speel ’n rol in so ’n gesprek. En wat ook baie kan help, is as ’n mens so ’n gesprek saam met ’n professionele persoon kan voer; iemand wat jy vertrou, soos jou dominee, pastoor, sielkundige of huweliksberader. Want so iemand is opgelei om die gesprek tussen jou en jou man nie te laat vasval nie maar in die rigting van ’n oplossing te stuur. Op hierdie manier, dink ek, raak ons gaandeweg van die wil van God vir ons lewe bewus en kommunikeer ons dit ook op die regte manier aan die ander een.

Ek hoop van harte daar kom ’n uitweg.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl