Boodskapteks: Jy
skryf: “Die Bybel is egter duidelik daaroor dat alle mense van een
voorvader af stam (Hand 17:26).” Verwar jy nie dalk “nasie” en “ras”
met mekaar nie? Handelinge praat duidelik van nasies, nie alle rasse nie.
Antwoord
Prof Hermie van
Zyl antwoord:
Die aanhaling in ons
vraagsteller se vraag kom uit ‘n bydrae wat ek gelewer het oor ‘n vraag of die
Bybel hom uitspreek teen rasgemengde huwelike (kyk webblad: bybelkennis.co.za,
“Gemengde huwelike”). Daarin het ek die punt gemaak dat daar geen
Bybelse verbod op rasgemengde
huwelike is nie, maar wel ernstige voorbehoude is oor geloofsgemengde huwelike, ongeag die ras van die egliede. Ter
stawing van my standpunt dat die Bybel nie teen rasgemengde huwelike is nie, of,
beter gestel, eintlik niks daaroor sê nie, het ek Handelinge 17:26 aangehaal
waar Paulus in sy toespraak voor die Griekse filosowe in Atene sê dat God alle
mense uit een mens – Adam – gemaak het (Genesis 1-2). So wou hy bevestig dat
alle mense van een mens/ouerpaar af stam, en dat ons dus almal verwant is aan
mekaar; die een kan nie sê dat hy beter of slegter as die ander is nie. Die
Grieke kon dus nie neerkyk op ander mense en hulleself meerderwaardig teenoor hulle
gedra nie (die Grieke het alle nie-Grieke as “barbare” beskou). Want,
sê Paulus, ons is almal gelyk voor God; ons het almal dieselfde voorouer
(Adam). Volgens my argument is dit dus geregverdig om te sê dat daar geen
teologiese beletsel op mense van verskillende rasse is om met mekaar te trou
nie. Ons behoort immers almal tot dieselfde “ras” – die menslike ras.
(Daar mag praktiese oorwegings wees wat in bepaalde kontekste dit nie gewens maak
dat mense van verskillende rasse trou nie, maar ek gaan nie nou daarop in nie.
Die punt is: Die Bybel belet nie rasgemengde huwelike nie. Dit is nie sonde of
teen een of ander skeppingsordening van God nie. Lees verder hieroor in my
genoemde artikel.)
Ons vraagsteller
maak egter ‘n onderskeid tussen ras en nasie, en sê dat Handelinge 17:26 nie
oor ras praat nie, maar oor nasies. Daarmee wil hy vermoedelik sê dat hierdie
vers nie ras insluit nie (met ander woorde, God het nie alle rasse uit een mens gemaak nie) en dat
mens dus nie uit Handelinge 17:26 die afleiding kan maak dat mense van
verskillende rasse mag trou nie. Kom ons neem hierdie vers in oënskou en kyk of
so ‘n argument steek hou.
In die
1983-Afrikaanse Vertaling staan daar inderdaad dat God uit een mens “al
die nasies gemaak” het. Daar
word niks van ras gesê nie. Daar is egter twee baie interessante uitlegkundige kwessies
in hierdie vers wat maak dat die saak nie so eenvoudig staan met die
vertaalkeuse van “nasies” in die Afrikaanse vertaling nie.
Die eerste kwessie
is dat die Griekse woord wat hier met “nasies” vertaal word (ethnos) net so wel met “volke”
vertaal kan word. Trouens, in ander kontekste van die Nuwe Testament word dit
inderdaad so gedoen, byvoorbeeld Lukas 7:5 en Johannes 18:35. ‘n Mens sou dus
in Handelinge 17:26 net so goed kon vertaal met: “het Hy al die volke gemaak”. (Die Bybel vir Almal volg inderdaad hierdie
weg.) Dit hang alles van die konteks af wat bedoel word en hoe mens moet
vertaal. En indien mens hier wel met “volke” vertaal, is ons al baie
nader aan ras, want soos ons weet is ras en volk verwante terme; beide het ‘n
biologiese basis, hoewel “volk” meer ‘n kulturele konnotasie het.
Die tweede kwessie
is dat die frase “het Hy al die nasies gemaak” ook vertaal kan word
met: “het Hy die hele menslike nasie gemaak”, of “het Hy die
hele mensdom gemaak”. Verskeie vertalings kies hierdie opsie, byvoorbeeld
die Nederlandse Groot Nieuws Bijbel:
“het hele mensdom”, die Duitse Gute
Nachricht: “die ganze Menschheit”, en die Luther Bibel (1984): “das ganze Menschengeschlecht”. So vertaal,
word die eenheid van die mensdom baie sterker na vore gebring. Nie net kom
almal van een en dieselfde voorouer af nie, maar alle mense is as gevolg
daarvan ‘n hegte eenheid – een menslike nasie of volk. Hierdie eenheid word ook
deur Paulus benut in Romeine 5:12 as hy sê dat sonde as gevolg van een mens
(Adam) na almal versprei het. Vanweë ons onderlinge verbondenheid via Adam is
almal lotsgebonde met Adam se sonde, en is daar niemand wat kan sê dat hy/sy
sonder sonde is nie. Hierdie teks is daarom een van die sleuteltekste vir die leerstuk
van die sogenaamde erfsonde – die gedagte dat ons almal ons sondige natuur of
geneigdheid van Adam “erf”, weens ons verbondenheid met hom.
Die gevolgtrekking
wat ons uit hierdie oorsig oor Handelinge 17:26 moet maak, is dat hoe ons ook
al vertaal – met “nasie”, “volk” of “menslike
nasie” – feit van die saak is dat ons almal tot een gemeenskaplike
groepering behoort, naamlik die mensdom, en dat die hele mensdom na een mens
teruggevoer kan word.
Op hierdie punt is
dit nodig om ‘n paar opmerkings te maak oor ras, volk en nasie in die antieke. Die
wetenskaplike onderskeiding wat ons vandag tussen ras, volk en nasie maak, het
destyds nie bestaan nie, in elk geval nie in die mate soos ons dit vandag
verstaan nie. Byvoorbeeld, as ons vandag van “ras” praat, bedoel ons
daarmee normaalweg mense van min of meer dieselfde biologiese herkoms. “Volk” is vir ons meer ‘n kulturele begrip (mense wat dieselfde taal
en kultuur deel), en met “nasie” dink ons aan ‘n staatkundige of politieke
groepering. Kom ons pas dit toe op Suid-Afrika. Ons kan praat van die
Suid-Afrikaanse nasie (staatkundig) wat saamgestel is uit verskillende volke
(kulturele groeperings, soos Zoeloes en Afrikaners), en verder dat hierdie
volke by verskillende rasse ingedeel kan word, soos mense van Kaukasiese
(Westerse) herkoms en mense van Negroïede herkoms. Hierdie onderskeidings het
egter nie in die antieke voorgekom nie, ten minste nie so ver ons kan agterkom
uit die terme wat in die Bybel aangetref word nie. Daarom dat ons vandag moeite
daarmee het om die verskillende terme in die Bybel wat na groter groeperings
mense verwys, so te vertaal dat dit pas op ons moderne verstaan van menslike
groeperings. Dit behels terme soos ethnos
(vertaalterme: nasie, volk, nie-Jood, heiden), laos (vertaalterm: volk), genos
(vertaalterme: familie, nageslag) en fulē
(vertaalterm: stam). Hierdie terme word baie vloeibaar en losweg aangewend deur
die antieke skrywers wanneer na groter groeperings verwys word, soos volk,
nasie, stam, familie, ensovoorts. Dit is dikwels so dat verskillende terme
gebruik word om na dieselfde groep mense te verwys, en andersom: dieselfde term
kan na verskillende groepe mense verwys. Feit van die saak is dat daar onder
die antieke volke rondom die Middellandse See-gebied nie groot rasseverskille was
nie, ten minste nie soos ons vandag daaroor dink nie. Almal het min of meer
dieselfde velkleur gehad. Uiteraard was daar wel verskille in taal, kultuur, gebruike
en godsdiens, maar dit het nie gekeer dat daar byvoorbeeld dikwels ondertrouery
tussen die volke in Palestina en elders was nie. Ook die Israeliete het hieraan
meegedoen, dikwels tot groot ontsteltenis van die geestelike leiers – nie
vanweë rassevooroordele nie, maar weens godsdienstige redes (Neh 13:23-27).
In die lig van
hierdie scenario is dit veelseggend dat die woord “ras” nêrens in die
Afrikaanse vertalings van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebruik word nie,
gewoon omdat dit nie as ‘n toepaslike vertaalterm in Afrikaans beskou word om
die destydse situasie weer te gee nie. Maar dit beteken nie dat wat ons vandag
onder “ras” verstaan nie in Bybelse tye voorgekom het nie. Nee, met
die begrippe wat wel in die Bybel gebruik word – in die oorspronklike tale én
in Afrikaans – om na groter menslike groeperings te verwys, word “ras”,
soos ons dit vandag definieer, wel geïmpliseer of ingesluit. Die verwysing na
ras is net meer indirek teenwoordig in die gebruikte terme in die Bybel. Daarom
dat dit ‘n geregverdigde afleiding is om te maak dat “ras” wel
ingesluit kan word by die ethnos van
Handelinge 17:26.
Die slotsom van bogenoemde uiteensetting is: Ons kan ‘n goeie saak uitmaak daarvoor dat wat ons vandag onder ras verstaan (biologiese herkoms), ingesluit is by die term ethnos wat in Handelinge 17:26 gebruik word. Dit bly dus ‘n geldige afleiding om te maak dat rasgemengde huwelike, soos ons dit vandag en veral in ons Suid-Afrikaanse konteks verstaan, nie verbied word vanuit hierdie teks nie, en ook nie vanuit die breër konteks van Skrifuitsprake nie.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl