Matteus 24 – Francois Malan

Johan vra:

Boodskap Teks:
Van watter generasie praat Jesus in Matteus 24:34?. Is
dit van daardie spesifieke tyd se generasie of is dit vandag se generasie? As
dit vandag se generasie is verduidelik dan asb vir my hoekom dit vandag se generasie
is en nie die generasie van daardie tyd toe Jesus dit gese het nie. As Jesus
van daardie tyd se generasie gepraat het moes dit al gebeur het en hoe is dit
van toepassing op ons vandag. Daar is nog baie sulke gevalle.
Ek is seker dat baie van dit was Jesus gese het miskien
meer van toepassing is in vandag se tye maar die Bybel verwys na spesifieke
generasies en tye.

ANTWOORD

Prof
Francois Malan antwoord:

Mattheus
24:32-36 vorm ’n eenheid wat Mattheus woordeliks oorgeneem het uit Markus
13:28-32 en ingelei is met die voorbeeld van die vyeboom. Daarna het Mattheus
verse 37-44 daarby aangelas wat ingelei word deur die voorbeeld van Noag. Verse
37-44 kom nie in Markus voor nie, maar daar is ooreenkomste met Lukas 17:26-36
en 12:39-49 wat lyk of Mattheus en Lukas van ’n gemeenskaplike bron daarvoor
gebruik gemaak het.

Die
vyeboom se takke wat sag word en blare begin uitstoot vertel dat die somer aan
die kom is. Vers 33 se toepassing is: wanneer julle al
hierdie dinge
sien, moet julle weet dat dit naby is, voor die deur.
Die ‘dit’ verwys na die wederkoms van die Seun van die Mens wat begin met die
verduistering van die son en die maan in 29-31. Maar die tekens wat wys dat die
wederkoms naby is, voor die deur, verwys na die begintekens van die eindtyd in
24:4-28, soos die vyeboom se takke wat begin sag word. En onmiddellik na die groot verdrukking van daardie dae (vers 29) kom die eindtyd. Al hierdie dinge verwys
dus na die tekens dat die eindtyd naby is.

Vers
34 se al hierdie dinge verwys dus nie na die wederkoms
nie, maar na die tekens wat voorafgaan. Oor die tyd van die wederkoms sê vers
36 dat niemand daarvan weet nie, slegs die Vader. Vers 36 is die klimaks van
die gedeelte wat met die vyeboom in vers 32 begin as teken van die naderende
somer. Vers 36 is eintlik die finale antwoord op die dissipels se vraag in vers
3 oor wanneer hierdie dinge sal plaasvind. Daarom verwys vers 34 se al hierdie dinge wat eers moet gebeur, na die
verdrukkings van verse 4-28. Mense van Jesus se tyd belewe nog die verwoesting
van Jerusalem in 70 n.C. en die uitdelging van meeste van die stad se inwoners
en dat dié wat oorgebly het in ballingskap weggevoer word. Dit was die
inleiding tot die hele gesprek in 24:1-2 dat van die tempelgeboue nie een klip
op ’n ander gelaat sal word nie.

Die
Griekse woord geneá ‘geslag’ word gebruik vir
mense wat in dieselfde tydperk lewe, maar ook van mense van dieselfde etniese
groep, ook vir afstammelinge, en van die ganse menslike geslag. Daarom kom
Jesus se waarskuwing vir mense van sy tyd maar ook vir die ganse menslike
geslag tot vandag toe. Vers 35 voorspel dat die hemel en die aarde tot ’n einde
sal kom (met die oordeelsdag), maar beklemtoon dat Jesus se woorde nie tot ’n
einde sal kom nie.

Skrywer: Prof Francois Malan




Eindtyd – Hermie van Zyl

Michele vra

Boodskapteks: Volgens wat die Bybel sê, is ons blykbaar in die laaste sewe jaar tot
Jesus weer kom. Beteken dit dat ons nou al in die tribulasietyd (= groot
verdrukking) is? Kan mos nie wees nie, want die wegraping moet eers plaasvind.
Kan u asb verduidelik?

Antwoord

Prof
Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller gaan klaarblyklik uit van
die sogenaamde chiliastiese of millennialistiese standpunt waarvolgens sekere
Bybeltekste binne ‘n bepaalde skema van eindtydelike gebeure geïnterpreteer
word. Ek skets kortliks die chiliastiese standpunt, en stel dan my eie
standpunt, waarby ek hoop die vraagsteller baat sal kan vind.

Die Chiliasme

Ek wil graag die vraagsteller uitnooi om ons webblad –
www.bybelkennis.co.za – te besoek en daar méér oor die chiliasme te lees as wat
ek hieronder kan gee. Op genoemde webblad is daar ‘n baie goeie stuk van prof
Adrio König wat breedvoerig oor die chiliasme en die wegraping handel. Tik die
volgende woorde in by jou soekenjin: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/.
Dit behoort jou by die betrokke artikel uit te bring. Wat ek hieronder bied, is
‘n baie vereenvoudigde weergawe van die chiliasme en is net afgestem op die
vraag van die vraagsteller.

Die woord chiliasme is afgelei van die Griekse woord chilioi wat 1 000 beteken. En
millennialisme is weer afgelei uit twee Latynse woorde, mille wat 1 000 beteken, en annus, jaar. Beide die begrippe “chiliasme” en
“millennialisme” verwys dus na dieselfde saak. Hiervolgens sal
Christus eers vir ‘n tyd lank (1 000 jaar) op aarde regeer waarna die
finale koms van die koninkryk van God plaasvind. Daar is dus eintlik ‘n dubbele
wederkoms van Christus in hierdie siening vervat: die eerste by die sogenaamde
wegraping van die gelowiges waarop, ná ‘n tyd van verdrukking, die
duisendjarige vrederyk op aarde volg, en daarna wanneer Christus kom om die
bose finaal te vernietig en die koninkryk van God te vestig. My aanvoeling is
dat die vraagsteller haar breedweg by hierdie standpunt skaar.

Ondersteuners van die chiliasme huldig nie almal
dieselfde siening oor presies hoe die eindgebeure chronologies verloop nie. Wat
ek hier onder voorhou, is volgens die premillenniastiese standpunt, wat die
gewildste chiliastiese voorstelling van die eindtydelike gebeure is. Dit kom op
die volgende neer: Openbaring 20:1-10, waar gehandel word oor die duisendjarige
vrederyk, word gepaar met die sogenaamde wegraping wat na bewering in 1
Tessalonisense 4:13-18 voorkom. Hierdie twee stelle gegewens word dan so met
mekaar verbind dat die “wegraping” van gelowiges eers plaasvind.
Hulle ontmoet Christus in die lug, word geoordeel, en vier saam met Hom
die  bruilof van die Lam (Op 19). Hierna
breek die groot verdrukking aan, wat groot ellende vir die bewoners van die
aarde meebring. Vervolgens word die Satan gebind, en dan breek die
duisendjarige vrederyk op aarde aan waar Christus die wêreld regeer (Op
20:1-6). Ná hierdie tydperk word die duiwel weer vir ‘n kort rukkie losgelaat
om sy verwoestingswerk voort te sit (Op 20:7-9), waarop die vernietiging van
die Satan en die bose magte, die opstanding en oordeel van die ongelowiges
volg, en die nuwe hemel en aarde aanbreek (Op 20:9-21:8).

Die chiliasme word dikwels ook verbind met die sogenaamde
dispensasionalisme. Dit hou in dat die wêreldgeskiedenis in verskillende
dispensasies of tydperke ingedeel word, waarvan die laaste tydperk die
duisendjarige vrederyk is. Maar waar pas die groot verdrukking in? Dié kom net
voor die duisendjarige vrederyk. Die groot verdrukking word afgelei uit Daniël
se profesie van die sewentig “jaarweke” of tydperke in Daniël
9:20-27, wat opgebreek word in 7 + 62 + 1 tydperke (Dan 9:25-26). Elke tydperk
beloop sewe jaar. Volgens die berekening wat begin met die bevel van koning Kores,
die Pers, in 538 vC om Jerusalem te herbou, bring die eerste 69 tydperke (7 +
62) ons min of meer uit by die tyd van Christus, wat dan nog een onvervulde
tydperk van sewe jaar laat. En dié word gesien as die tyd van die groot
verdrukking wat nog êrens in die toekoms moet plaasvind. Laasgenoemde word weer
in verband gebring met die profesieë van Jesus in Matteus 24 wat praat van die
groot verdrukking, ‘n tyd waarin daar natuurrampe sal wees, die antichris sal
optree, mense nie sal kan koop en verkoop as hulle nie die merk van die dier
het nie (Op 13:17), en daar in die algemeen groot ellende vir almal sal wees
(Matt 24:3-28). Sommige chiliaste sê ook dat dié tyd opgebreek word in twee
tydperke van twee en veertig maande (= drie en ‘n half jaar) elk, volgens die
woorde van Openbaring 13:5. Vergelyk ook Daniël 7:25 se “vasgestelde
tyd”, wat letterlik ” ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd” is,
wat weer gelyk is aan drie en ‘n half jaar.

Ter opsomming kan mens dus sê dat die chiliastiese
standpunt oor die eindtyd die volgende volgorde van gebeure voorstel: Wegraping
van gelowiges, groot verdrukking (sewe jaar), binding van die Satan,
duisendjarige vrederyk, ontbinding van die Satan ná die millennium,
vernietiging van die bose en sy engele, opstanding van en oordeel oor die
ongelowiges, en die koms van die nuwe hemel en aarde.

Vervolgens stel ek my eie standpunt oor die eindgebeure,
wat ook min of meer die hoofstroomdenke onder Bybelwetenskaplikes
verteenwoordig.

Eie standpunt

  • Die Bybelse gegewens oor die eindtyd verplig my nie om
    iets soos die chiliastiese standpunt te aanvaar nie. Daarom aanvaar ek ook nie
    die wegraping van gelowiges, die sewejarige groot verdrukking of die
    duisendjarige vrederyk soos dit tipies in die chiliasme voorgestel word nie.
  • Die aanname dat ‘n wegraping sal plaasvind, lei
    noodwendig tot die aanvaarding van twee wederkomste van Jesus – eers met die
    wegraping en dan die finale wederkoms. Maar die Bybel praat nêrens van twee
    wederkomste nie. Dit is die chiliaste wat telkens tekste wat handel oor die wederkoms interpreteer as sou dat dit op
    die wegraping slaan. Maar dis
    onnodig, daar is geen uitlegkundige noodsaak om daardie tekste as
    “wegraping” te interpreteer nie; dit handel gewoon oor die een
    wederkoms van Jesus aan die einde van die tyd. (Vir ‘n breedvoeriger hantering
    van die argumente, kyk prof König se artikel waarna aan die begin verwys is.)
  • Die aanvaarding van die sewejarige verdrukking lewer
    eweneens probleme op. Eerstens, dit
    is gewoon willekeurige en spekulatiewe uitleg om Daniël 9 se gegewens te
    gebruik om ‘n uitgebreide en ingewikkelde dispensasieteorie op te stel
    waarvolgens die 69e week saamval met die tyd van Jesus, en dan die laaste
    tydperk van sewe jaar te laat slaan op êrens in die toekoms. In elk geval, dit
    is slegs met taamlik “kreatiewe” berekening dat die 69e week saamval
    met Jesus se tyd. Geleerdes is dit eens dat die 69e week volgens Daniël se eie
    berekenings saamval met die sluipmoord op die hoëpriester Onias III in 171vC,
    en die 70e week op die verdrukking van die Jode onder Antiogos IV Epifanes in
    167 vC. Tweedens, die bymekaarbring
    van ‘n hele klomp tekste (waaronder Matteus 24) as sou dit ‘n aanduiding van
    die sewejarige tydperk van die verdrukking wees, doen ook willekeurig en
    geforseerd aan en hou nie rekening met die betekenis daarvan in Matteus en die
    ander Bybeltekste self nie. Derdens,
    hoe weet mens wanneer hierdie tyd van verdrukking begin? Wie besluit daaroor?
    Chiliaste self is vaag oor wanneer die sewe jaar van eindtydelike verdrukking
    aanbreek. Ons vraagsteller lyk my gaan gewoon uit van die veronderstelling dat
    ons reeds in die sewejarige verdrukking is, en is dan tereg bekommerd daaroor
    dat die wegraping nog nie eens plaasgevind het nie. Dit is geweldig spekulatief
    om so met Bybelse gegewens om te gaan. Mense wat in die verlede hulle hand
    gewaag het aan sulke berekenings het telkemale bedroë daarvan afkom. En dit
    maak net ‘n hele klomp gelowiges onrustig en selfs beangs. In elk geval waarsku
    Jesus ons teen berekenings. Hy sê baie duidelik dat niemand weet wanneer dié
    tyd kom nie (Matt 24:36). Ons moet dus wegbly van berekenings. Die sogenaamde
    tekens van die tyd is nie gegee vir berekenings nie, maar vir bekering, vir
    waaksaamheid, vir altyd-gereed-lewe (Matt 24:42). Dit is daarom beter om hierdie
    voorbeelde van verdrukking wat in die Bybel voorkom, nie te misbruik vir
    eiewillige en willekeurige teorieë oor wanneer en in watter volgorde die
    eindgebeure gaan plaasvind nie. Die verdrukkings waarvan die Bybel praat het
    nog altyd in die wêreld se geskiedenis voorgekom. Wanneer ons dus sien dat die
    tye boos is – en hulle ís boos – moet ons nie begin somme maak nie, maar
    waaksaam lewe. Want die einde kan enige dag kom, soos ‘n dief in die nag. Dís
    die boodskap van hierdie tekens in Matteus 24, en waar dit elders ook voorkom.
  • Om ‘n letterlike duisendjarige vrederyk te
    aanvaar wat nog êrens in die toekoms lê, is eweneens nie die beste manier om
    met hierdie gegewens in Openbaring om te gaan nie. Ons moet onthou dat
    Openbaring deel uitmaak van die sogenaamde apokaliptiese literatuur in die Nuwe
    Testament, wat om spesiale uitlegmetodes vra. Net om een te noem: Openbaring is
    bekend vir sy simboliese taalgebruik. Elkeen wat hierdie boek probeer uitlê,
    moet hiermee rekening hou. Die apokaliptiese kodetaal waarin die boek
    geformuleer is, doen vir ons verstaan vandag vreemd aan, omdat ons nie altyd
    die antieke sleutels het om die kodetaal te ontsluit nie. Juis daarom moet ons
    versigtig wees om Openbaring letterlik te lees; dis bedóél om simbolies en
    figuurlik gelees te word. Verder, Openbaring bring nie radikaal ander insigte
    oor die eindgebeure na vore as die res van die Nuwe Testament nie. Dit is dus
    altyd nodig om wat Openbaring oor die eindtyd sê in verband te bring met wat
    die ander boeke van die Nuwe Testament ook oor die eindtyd sê. So gesien is dit
    beter om die duisendjarige binding van die Satan en die Christusregering op
    aarde nie te sien as iets wat nog in die toekoms lê nie, maar as aanduiding van
    die hele tyd tussen Christus se eerste koms tweeduisend jaar gelede en sy
    wederkoms wat uiteraard nog in die toekoms lê. Ons leef dus nóú in die
    duisendjarige vrederyk. Reeds tydens sy aardse lewe het Jesus gesê dat die
    duiwel gebind en oorwin is (vgl Matt 12:27-29; Luk 17:20-21). Christus het
    inderdaad gekom om die mag van die bose te breek; dit gaan nie eers eendag
    gebeur nie. Maar dan moet ons ook aanvaar – en dis ook die boodskap van die
    Bybel – dat die mag van die bose nog nie volkome en finaal vernietig is nie;
    dié gebeur eers by die wederkoms van Christus. Intussen loop die duiwel rond
    soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind (1 Pet 5:8), al is hy gebind
    aan ‘n ketting, by wyse van spreke. Dus, die bose se mag is tegelyk gebind én
    hy is nog magtig; albei is gelyktydig waar. Dit is die struktuur van die tyd
    waarin die kerk nog altyd geleef het, en ook sal lewe tot by die wederkoms.
    Daarmee moet ons vrede maak. Daar gaan nie ‘n tyd kom op aarde waar die duiwel
    volkome magteloos is nie. Ja, hy is reeds oorwin deur Christus se dood en
    opstanding, en dus gebind. Daarom heers Christus reeds (die vrederyk); die
    duiwel kan nie doen wat hy wil nie, hy word aan bande gelê deur die reddings-
    en versoeningswerk van Christus (vgl Luk 10:17-18; Rom 8:31-39; 1 Kor
    15:54-57). Maar hy is steeds ‘n werklikheid waarmee gelowiges moet rekening
    hou, in hulle persoonlike lewe sowel as in die samelewing. Die verwoesting wat
    die Satan nog kan aanrig, is skrikwekkend en elke dag sigbaar rondom ons. Maar
    die oorwinning is reeds behaal; ons stryd teen die bose is dus nie uitsigloos
    en sonder hoop nie, maar word gevoer vanuit die perspektief van die oorwinning
    oor die bose deur Christus.
  • Waarom praat Openbaring 20:3 van ‘n duisend jaar wat die vredesryk duur? Die
    getal moenie letterlik geneem word nie, maar is simbolies vir ‘n afgeronde en
    beperkte tyd. Die agtergrond hiervan lê in die Joods-apokaliptiese geskrifte
    van die tyd waarin Openbaring ontstaan het. Aanvanklik het die Joodse geskrifte
    gesê dat die messiaanse ryk vir altyd op aarde sou duur. Maar gaandeweg het die
    gedagte ontstaan dat die lewe op aarde nie volmaak is nie en daarom vervang sou
    word deur die Godsryk. Die messiaanse ryk sou dus nie onbepaald wees nie, maar
    beperk, net ‘n duisend jaar. Die Openbaringboek neem waarskynlik hierdie konsep
    oor. Die “duisend” bevat dus beide die gedagtes van afgerondheid –
    die Christusryk is sodanig dat die Satan dit nie kan stuit nie, want hy is
    gebind – maar ook dat dit nie vir altyd sal duur nie. Uiteindelik sal die Satan
    vir ‘n kort rukkie weer sy verwoestingswerk kan voortsit, maar dit sal gou tot
    ‘n einde kom wanneer hy en sy trawante vernietig word en die Christusryk
    uitmond in die ewige Godsryk op die nuwe hemel en aarde.

Ten slotte, ons vraagsteller sal myns insiens daarby baat om gedagtes oor ‘n wegraping en groot verdrukking wat nog voorlê, te laat vaar en eerder te leef vanuit die “eie standpunt” soos hierbo gestel. Dit behoort die angstigheid rondom berekenings van tye en skemas tot rus te bring, maar terselfdertyd haar ook te laat fokus op die dinge waarop dit regtig aankom in ons stryd teen die bose op aarde.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Dié wat die Vader my gee – Francois Malan

 Vraag

Katie
vra:

Ek jan
nie onthou waar ek die vers in die bybel gelees het nie. “Die wat in my
glo EN die wat die Vader my gee…..”
Wie is die EN na wie Jesus verwys. Sal graag die teksvers ook wil weet…

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Joh
3:27 Jesus se voorloper, Johannes die Doper, het reeds gesê: ’n Mens kan niks
ontvang as dit nie uit die hemel aan hom gegee is
nie.

Jesus
het gesê:

Johannes
6:37: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My
toe kom.

Joh 6:39-40 Dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat U My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek. Want dit is die wil van my Vader:     Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê… (vgl. Joh 18:9).

Joh
6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal      hom op die laaste dag laat opstaan.   

Joh
6:65 Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader
aan hom gegee is nie.

Joh
10:29-30 My Vader wat hulle aan My gegee het, is
groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van       die Vader ruk nie.Ek en die Vader is een.

Joh
17:2 …sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het,
die ewige lewe kan gee.

Joh
17:6 Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit
die wêreld gegee het. Hulle het aan U                     behoort, en
U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam.

Joh
17:9 Ek bid vir hulle wat U aan My gegee het,
omdat hulle aan U behoort.

Joh
17:11 bewaar hulle wat U aan My gegee het in u
Naam.

Joh
17:12 Toe Ek by hulle was, het Ek hulle wat U aan My gegee
het, in u Naam bewaar.

Joh
17:24 Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U aan My
gegee het, ook saam met My kan wees…. 

Die
‘trek’ van mense deur die Vader geskied wanneer iemand sy eie oordeel laat
staan en hoor en leer by die Vader deur die Vader se woord, in die Bybel, in
die prediking, deur die getuienis van gelowiges, ens. Die trek deur die Vader
geskied nie buite die mens se geloof nie, maar in jou geloof. Geloof is God se
werk in my. Efesiërs 2:8: ‘Want uit (God se) genade is julle verlos, deur
geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit (geloof in Jesus) is die gawe
van God. Geloof in Jesus Christus, dat Hy God is wat vir al ons sonde aan die
kruis gesterf het en nou die Here is wat die seggenskap het oor ons lewe, is ’n
gawe van God deur die Heilige Gees wat in ons werk en ons oortuig van ons
sonde, van geregtigheid (dat Jesus ons saak met God reggemaak het en ons nou
kinders van God is) en van oordeel (as ons nie in Hom glo nie), vgl. Johannes
14:26; 15:26; 16:8.

Skrywer: Prof Francois Malan




JESUS se doop – Francois Malan

Francois vra:
Waarom moes Jesus gedoop word en waarom het Hy toe eers
die Heilige Gees ontvang ? As drieenige God was die Heilige Gees mos reeds
“by” Jesus gewees.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Johannes
die Doper het dieselfde vraag gehad. Mattheus 3:14-15:  Maar Johannes het Hom probeer teengaan met
die woorde: ‘Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my toe?’ Jesus het
hom geantwoord: ‘Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier
alle geregtigheid vervul.’

‘Laat
dit nou toe,’ nou terwyl Ek praat. ‘Dit is goed’
– gepas en reg. Die woord ‘geregtigheid’ beteken om reg te doen volgens wat God
vereis. Johannes het mense gedoop en ’n doop van bekering met die oog op die
vergewing van sondes verkondig (Markus 1:4). Maar Hebreërs 4:14-15 sê ons
Hoëpriester, Jesus, die Seun van God…is nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met
ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en
dit sonder dat Hy gesondig het. En 2 Korinthiërs 5:21 sê: ‘Hy wat nie sonde
geken het nie, Hom het God sonde gemaak ter wille van ons sonde, sodat ons in
Hom (Jesus) voor God geregverdig kon word.’ Deurdat Jesus met sy doop Hom met die mensdom vereenselwig het en al ons sonde op Hom geneem
het
, sodat ons geregverdig voor God kan lewe en sterwe, word alle geregtigheid voor God met sy doop vervul. Daarom
was sy doop deur sy voorloper Johannes die Doper op daardie oomblik goed, gepas
en reg, want Hy het juis gekom om ons van ons sonde te verlos.

Jesus
se salwing met die Heilige Gees direk na sy doop verbind sy salwing met sy doop
as sy inhuldiging in sy taak as die Kneg van die
Here wat as ons Hoëpriester en as die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem, moes kom sterf volgens die verlossingsplan van God (Joh 1:29). Hy word
ook ingehuldig as die Seun van koning Dawid (Mattheus 1:1), wat oor die mensdom
kom regeer as die nederige Goeie Herder-Koning (Johannnes 10:11; 18:37).

Van
die toekomstige Dawid sê die Here in Jesaja 42:1 ‘Hier is my Dienaar, Ek stel
hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies bekend maak.’ Die woorde word in Mattheus 3:17
aangehaal, en in die aanhaling in Mattheus 12:18. Van die salwing van die Seun
van Dawid deur die Gees word in Jesaja 11:2 gepraat. Jesaja 61:1-2 praat van
die nuwe tyd van die Gees van die Here wat oor hom sal kom om ’n blye boodskap
(evangelie) te bring. In Lukas 4:16-19 lees Jesus in Nasaret se sinagoge Jesaja
61:1-2 voor en verklaar dan ‘Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul
terwyl julle daarna luister.’ Die Gees van die Here het oor Hom gekom en die
Here het Hom gesalf om die blye boodskap te bring. Daarmee verwys Jesus na sy formele salwing met die Heilige Gees met sy doop, al
was Hy verwek uit die Heilige Gees (Mattheus 1:20). Sy formele salwing met die
Heilige Gees by sy doop is sy inhuldiging tot sy openbare bediening nadat Hy ’n
gewone skrynwerker in Nasaret was wat sy familie moes onderhou na Josef se dood
(Mark 6:3).

Jesus se bediening en sy Godheid word bevestig deur die stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun oor wie Ek my verheug’ (Mattheus 3:17). Daarmee word die Drie-eenheid geopenbaar met die Vader se stem, die Seun wat mens geword het ter wille van ons, en die Heilige Gees wat soos ’n duif op Hom neerdaal om Hom te salf vir sy bediening van God se versoening met ons. Die woorde van God oor sy geliefde Seun weerspieël iets van die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees waarvan 1 Johannes 4:8,16 sê: ‘God is liefde.’  Dat die Vader Hom oor sy Seun se bevestiging verheug, wys dat God bly is dat sy Seun Hom met die mensdom kom vereenselwig het om God se verlossingsplan vir die wêreld te kom deurvoer met sy liefdesoffer van Homself. Na Jesus se eerste aankondiging van sy lyding, dood en opstanding (Lukas 9:22) praat hy en Moses (verteenwoordiger van die Wet) en Elia (verteenwoordiger van die profete) op die berg van verheerliking oor sy uittog wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring (Lukas 9:31). Toe kom daar weer ’n stem uit die wolk wat sê: ‘Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.’ Hy is uitverkies vir sy uittog om aan die kruis te sterf vir die sonde van die wêreld.

Skrywer: Prof Francois Malan